As ou wit mans (soms met ’n baard) geskenke moet bring

DONDERDAG MET MERCY

As ou wit mans (soms met ’n baard) geskenke moet bring

MERCY KANNEMEYER wonder wie presies dit is wat moet ‘terugkom' om die land te red, WILLEM KEMPEN verstaan nie die ding met 'n nuwe staatsbank nie, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 22 Junie 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Verbruikersprysinflasie het in Mei op ’n jaarbasis tot 6,3% verlangsaam vergeleke met April se 6,8%. Mei se syfer is die laagste sedert April 2022, het Statistieke SA gesê, en dis ook laer as die konsensus vooraf onder ekonome.

2. Standard Bank het gister gesê inflasie en stygende rentekoerse veroorsaak dat ’n groeiende persentasie van sy kliënte sukkel om hulle maandelikse skuldbetalings te kan doen. Nedbank het vroeër ’n soortgelyke waarskuwing gerig.

3. Die Nasionale Raad van Provinsies het ’n wetsontwerp goedgekeur wat die weg berei dat die nasionale tesourie ’n gedeelte van Eskom se skuld oorneem. Die wetsontwerp sal nou aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur word om te bekragtig.

4. Popo Maja, die nasionale departement van gesondheid se direkteur van kommunikasie, het gister in die Pretoriase gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn op aanklagte wat verband hou met sy beweerde rol in die korrupte toekenning van ’n kontrak ter waarde van meer as R140 miljoen aan Digital Vibes.

5. Hunter Biden, seun van pres. Joe Biden, gaan as deel van ’n pleitooreenkoms skuld erken op twee aanklagte wat verband hou met opsetlike versuim om inkomstebelasting te betaal, asook weens die onwettige besit van ’n vuurwapen terwyl hy ’n dwelmgebruiker was, het Reuters berig. Die ooreenkoms beteken hy sal waarskynlik tronkstraf vryspring.

6. ’n Duitse hof het ’n lasbrief uitgereik vir die inhegtenisname van Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff International Holdings, nadat hy weer nie vir verhoor in Oldenburg opgedaag het nie. Jooste se prokureur, Bernd Gross, het in April aan die hof gesê sy kliënt kon nie na Duitsland reis nie omdat hy ingevolge ’n reëling met Suid-Afrikaanse owerhede nie toegang tot sy paspoort het nie.

7. ’n Kaliforniese restaurantgroep moet meer as $140 000 aan skadevergoeding aan werknemers betaal nadat die Amerikaanse departement van arbeid bevind het hulle het iemand gehuur wat hom as ’n priester voorgedoen het om hulle te laat bieg oor oortredings by die werk.


Dis vandag koel in die sentrale en noordelike dele van die land, en later bewolk met moontlike ligte reën en mis langs die platorand in Limpopo en Mpumalanga. Die Noord-Kaap kan vanoggend miskolle verwag, terwyl die Wes- en Oos-Kaap deels bewolk en koud sal wees. KwaZulu-Natal kan oggendmis in die sentrale gebiede verwag en geïsoleerde buie langs die kus.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 21°C • Mahikeng 24°C • Mbombela 19°C • Kaapstad 20°C • Durban 19°C • Kimberley 20°C • Bloemfontein 19°C • Polokwane 20°C • Upington 26°C • Gqeberha 18°C • Oos-Londen 16°C.


Willem Kempen | Liewe Kersvader, kan ons asseblief ’n staatsbank kry?

Die nuutste inskrywing op ANC-LP’s se briefie aan Kersvader is ’n staatsbank.

Dis nie ’n nuwe idee nie; dit word al minstens ’n dekade lank gereeld op die regerende party se beleidskonferensies genoem en word gewoonlik voorgehou as die oplossing van probleme soos die miljoene Suid-Afrikaners wat hoegenaamd geen bankdienste het nie, of nie by die handelsbanke finansiering kan kry vir allerhande ontwikkelingsprojekte nie. Die president het vroeër vanjaar in sy staatsrede weer daarna verwys.

Nou het die Nasionale Raad van Provinsies pas die Wysigingswetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Posbank goedgekeur. Die plan is dat dié wet uiteindelik ’n afsonderlike beheermaatskappy vir die Postbank tot stand sal bring sodat laasgenoemde nie meer ’n filiaal van die Suid-Afrikaanse Poskantoor sal wees nie en ’n volwaardige bank in staatsbesit kan word.

Dis nou dieselfde Poskantoor wat op die rand van sakeredding is en wat maand ná maand sukkel om ’n baie basiese bankdiens te lewer in die vorm van die uitbetaling van die staat se maatskaplike toelaes. En neem jy Postbank weg uit die Poskantoor, het laasgenoemde nóg minder kans op oorlewing. Dit was trouens oor einste dié punt dat Mark Barnes opgegee het om die Poskantoor te probeer red: “Oor die wêreld heen bied poskantore wat oorleef almal finansiële dienste binne ’n geïntegreerde model aan ... Ek kan nie ’n poskantoor bedryf as dit nie ’n bank as ’n integrale aanbod [het] en toegang tot die nasionale betalingstelsel het nie.”

Die staat besit reeds finansiële instellings soos die Land Bank, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die Nasionale Bemagtigingsfonds. In KwaZulu-Natal word Ithala Bank deur die provinsiale regering besit, en daar is nog die provinsiale ontwikkelingskorporasies ook. Met al dié instellings wat reeds (met wisselende sukses) deur die staat bedryf word, waar gaan ’n nuwe staatsbank inpas, hoe gaan dit gekapitaliseer word, en wie gaan dit laat werk?

En die belangrikste vraag: Waarom is nóg ’n nuwe staatsprojek ’n groter prioriteit as om al die bestaandes te red wat op die rand van ineenstorting is?


Image: ANGELA TUCK

Wie weet wat ou wit mans kan doen?

Ideologie en pragmatisme. Die rol van sogenaamde “ou wit mans” in Suid-Afrika vandag. Dit was die onderwerp van die afgelope Dinsdagaand se regstreekse uitsending van Prontuit op kykNET. Die gaste op die program was Andries Bezuidenhout, lektor in sosiologie aan die Universiteit van Fort Hare, die joernalis Echbert Boezak, en Flip Buys, die hoof van die Solidariteit Beweging.

Die gesprek is ingelei deur melding te maak van Carla Lewis se rubriek van 24 Mei op Netwerk24: “Vra ou wit mans om in SA te help”. In die rubriek skryf Lewis oor ’n ingenieursvriend wat langs die braai gesê het: “Ek wens hulle wil net ou wit mans terugbring.” Lewis skryf oor die gebrek aan institusionele kennis in staatsbeheerde groepe, en dat ’n moontlike oplossing vir die gebrek sal wees om ou wit mans in mentorsposisies te gebruik sodat jonger swart ingenieurs daardie kennis kan aanleer en toepas. Dis nou as ek Lewis se stuk reg verstaan.

Op Prontuit het Bezuidenhout onder meer gesê dat ideologie soms gebruik word om iemand op hulle plek te sit, en dat iemand wat hulleself nie as ideologies ervaar nie, kan aanvoer dat hulle die “norm” is.

Verfrissende punt. Veral omdat ek al in sommige kringe bestempel is as te ideologies, en te Stellenbosch, en te Afrikaans.

’n Mens kan maar sê dat Solidariteit ’n pragmatiese organisasie is. Hulle dóén. Buys het aangevoer dat ons dikwels op die verkeerde dinge fokus. “Ons moet die land regruk,” sê hy. Ek stem saam. Ons moet hierdie flippen land regruk! Die alewige gepolitiekery, polarisasie en ’n ander p-woord wat ek nie hier mag skryf nie, maak dat ons afdwaal van die probleme reg voor ons. Daarmee sê ek nie dat daar geen plek vir die bostaande p-woorde moet wees nie, maar ons moet op ’n manier ’n balans probeer vind.

Die hele witmansgesprek fassineer my. Wie is die ou wit mans van wie gepraat word? En gaan húlle die land kan regruk?

Image: ANGELA TUCK

Die gebruik van “wit mans” dui op ’n ideologiese sienswyse wat dikwels sonder konteks weergegee word. Dis so asof die ou wit mans die vorige bedeling verteenwoordig, en so asof die ou wit mans weet hoe die land werk, want hulle het immers hierdie land gebou.

Onwaar. Of dalk semi-waar. Hierdie land is deur my voorsate gebou. Die eerste mense. Ou wit mans het dalk stelsels geïmplementeer, maar om alles wat in hierdie land reggemaak moet word voor wit mans se deur te gooi, vat agency weg van die res van ons.

Daar is natuurlik ou wit mans wat in die vorige brutale regime 'n rol gespeel het. Menige van hulle loop ook nog hier tussen ons. Hiermee ontken ek ook nie wit bevoorregting nie. Die punt is: Ou wit mans is nie ons land se probleem nie. Ou wit mans wat in die apartheidstyd ou wit mans was, is byna almal nou al dood. Vandag se ou wit mans was daai tyd jong wit mans. Steeds wit, maar beslis nie daai tyd die besluitnemers en uitvoerende hoofde van groot maatskappye nie.

Ons moet wyer kyk en nie toelaat dat retoriek gesprekke oor identiteit en ons land eendimensioneel maak nie.

Dis laat in die dag as ons toelaat dat ideologie in die pad van nuanse staan.


Openbare besit

Die wye tuine van my kindertye
het tot 'n broeiende balkon gekrimp
waar g'n rose blom, g'n boontjie spruit
en katte sukkelende kruie kou.

Maar gaandeweg leer ek die grense
van die res publicae beproef:
groet daagliks al die bome van die stad
en eien elke park my toe.

– Martjie Bosman

(Uit: Landelik)

Jy wil die redaksie ontmoet en saam met hulle kuier, en die rektor van Kovsies! Ons almal het hoop nodig, en 'n positiewe woord of twee. Bespreek nou jou kaartjies by Quicket. Sien jou daar!

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.