Wat het ons gedoen om dit te verdien?

WOENSDAG MET WILLEM

Wat het ons gedoen om dit te verdien?

Die vlakke van korrupsie in die Ramaphosa-era is dalk meer subtiel, maar duidelik ewe ernstig as toe Zuma aan die bewind was, sê MAX DU PREEZ. Oppas dat jy nie met jou KI-vertaling ook ‘by opportunity completely in the gate dive’ nie, maan WILLEM KEMPEN. En soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 28 Junie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre


1. Die hoogs aansteeklike H7-voëlgriep het op twee pluimveeplase in Mpumalanga uitgebreek. H7 verskil van H5N1, die variant wat die laaste paar maande meer as ’n miljoen voëls in die Wes-Kaap uitgeroei het. Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging sê al twee uitbrake is deur wilde voëls veroorsaak, wat dit moeilik maak om te beheer.

2. Die DA het gister gevra dat die minister van energie, Gwede Mantashe, afgedank word weens sy “voortdurende tartende houding jeens Ramaphosa”. Dit kom nadat hy nie opgedaag het om ’n akte van samewerking te onderteken met die premiers van Denemarke en Nederland wat ’n Europees-gefinansierde groen-energie-inisiatief tot gevolg sou hê nie. (Nodeloos om te sê sal dit nie gebeur nie.)

3. Die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, dr. Naledi Pandor, het gister die minister van buitelandse sake van Duitsland, Annalena Baerbock, by die 11de vergadering van die Suid-Afrika-Duitsland Bi-Nasionale Kommissie, ontvang. Baerbock het die geleentheid gebruik om sê dat Rusland sy bombardering van Oekraïne moet staak en sy soldate moet onttrek. “Hierdie oorlog is ’n aanval op die reëls wat ons almal saambind en beskerm.”

4. Blade Nzimande wil nou weet hoekom prof. Tawana Kupe, die vise-kanselier van die Universiteit van Pretoria (UP), skielik twee weke gelede sonder verduideliking bedank het. Daar is onlangs berig dat Kupe in 2016, toe hy die vise-rektor van Wits was, aan seksuele teistering skuldig bevind is, maar desondanks in ’n topposisie by die UP aangestel is.

5. Altesame 51 renosterhorings is buitgemaak in ’n rooftog wat met militêre presisie uitgevoer is by die hoofkantoor van die Noordwes Parkeraad.

6. Die eerste minister van Israel, Benjamin Netanyahu, het die land se veiligheidsagentskappe geloof nadat hulle ’n vermeende Iranse komplot om Israeli’s in Ciprus te teiken, gestuit het. Luidens mediaberigte het van die teikens blykbaar gewilde toeristeplekke ingesluit.

7. Vladimir Putin het in ’n televisietoespraak gesê hy wil sien dat die kringleiers van die Wagner-rebellie gestraf word, maar dat die leier toegelaat sal word om in ballingskap in Belarus te woon. Hy het gesê die huursoldate sal drie keuses hê: om na Belarus te verhuis, by die Russiese leër aan te sluit of na hulle families terug te keer. Hy het nie ’n woord gerep oor die meer as 12 Russiese soldate wat hulle lewe tydens die opstand verloor het nie.


Waarskuwings is uitgereik oor donderbuie, weerlig en hael langs die Weskus en oor die Kaapse Wynlande. Swaar reën kan voorkom oor dele van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, veral langs die kus en in die aangrensende binneland. Daar is vandag 'n hoë brandgevaar in die noordooste van die Noord-Kaap. Dit gaan deels bewolk wees in dele van die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap met buie en donderbuie wat verwag kan word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 21°C • Johannesburg 19°C • Mahikeng 19°C • Mbombela 20°C • Bloemfontein 18°C • Polokwane 20°C • Kimberley 19°C • Upington 15°C • Kaapstad 16°C • Gqeberha 19°C • Oos-Londen 20°C • Durban 23°C.


Max du Preez | Staatskaping Thuma Mina-styl – Senzeni na?

As “staatskaping” bloot na die Broers Gupta en hulle kaping van oudpres. Jacob Zuma verwys, is dit seker geskiedenis.

Maar ons sien al hoe meer inligting dat die vlakke van korrupsie op regeringsvlak en in die ANC eintlik maar net dieselfde ná meer as vier jaar van Cyril Ramaphosa se presidensie is.

Verlede week het hoofregter Raymond Zondo in ’n verdoemende oordeel oor die ANC gesê staatskaping kan maklik weer gebeur, want dit is onwaarskynlik dat die ANC-meerderheid in die parlement dit sal stuit.

Die ANC het woedend daarop gereageer en wil hom dringend daaroor ondervra.

Regter Zondo se verslag oor staatskaping is al ’n jaar gelede openbaar gemaak. Al wat eintlik met die verslag en al sy aanbevelings gebeur het, is dat dit stof vergader het.

Image: ANGELA TUCK

Maandag het News24 ná ’n deeglike ondersoek wat maande lank geduur het, berig dat die adjunkpresident van die land en van die ANC, Paul Mashatile, in groot weelde lewe, danksy die gunste en gawes van sakelui wat uit staatstenders skatryk geword het. Soos Edwin Sodi, wat onder meer van korrupsie rakende ’n tender om asbesdakke in die Vrystaat te vervang, aangekla staan.

Gister het GroundUp berig dat die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, R3 miljoen van die gediskrediteerde gewese hoof van die nasionale lotery, Philemon Letwaba, en sy vrou geleen het om ’n luukse huis in die rykmansbuurt Bryanston te koop. ’n Spesiale tribunaal het op die Letwabas se eiendomme beslag gelê omdat dit waarskynlik gekoop is met geld wat by die lotery gemelk is. 

Intussen hang die skandaal waarin Ramaphosa self gewikkel is, oor die groot bedrag buitelandse valuta wat op sy plaas, Phala Phala, gesteel is, steeds in die lug, ’n volle jaar nadat die eerste beweringe daaroor gemaak is. Die Valke het onlangs gesê hulle ondersoek is nog nie heeltemal klaar nie.

News24 skryf dat dit ’n reeks artikels oor Mashatile gaan publiseer. “This is just the beginning of the unmasking of Mashatile’s vast network of benefactors who sponsor him to live like a king. It is clear from our investigations his so-called Alex Mafia had expanded rapidly since he became a prominent player on the national political scene.”

Mashatile was tot dusver tjoepstil oor die bewerings.

Met Ramaphosa wat duidelik sy aptyt om te regeer verloor het en dalk verder deur Phala Phala gewond gaan word, is daar ’n goeie kans dat Mashatile in die afsienbare toekoms die president van Suid-Afrika gaan word.

Die Guptas was kru en het hulle rykdom en beheer oor Zuma op vulgêre wyse ten toon gestel.

Die kaping van senior ANC-politici en die vlakke van korrupsie in die Ramaphosa-era is dalk meer subtiel, maar duidelik ewe ernstig.

Suid-Afrikaners kan met reg vra: Senzeni na? Wat het ons gedoen om dit te verdien?


Kies vir jou ’n pik vir die beste kans om by die Pool uit te kom

In die Noord-Kaap is daar 'n ou met die naam Piet met thick-wheeled bicycle calves. He is something between Uncle Kaspaas, a peasant hippie and a country kid with the kind of touchy-feely smartness to be able to replace a wheel bearing in the middle of the Kalahari. 

[...] Piet drove a series of Isuzu, Toyota and Nissan vans behind such towers. When I met him, he was the proud owner of two 60s Series Land Cruisers from the 1980s, as legendary as Johann's 80s series. Just older, with more farts.

Image: ANGELA TUCK

As jy tot hier gelees gekry het: Die bostaande is wat jy soms kry as jy 'n robot soos ChatGPT kry om Afrikaanse kopie na Engels te vertaal. En, yielded, ek het hier en daar so 'n bietjie on-ge-thick om my punt te maak.

Die teks kom uit Ali van Wyk se heerlike “Soms is die Hel die Hemel" van ons uitgawe van verlede week, met die vertaalde Engelse weergawe hier.

Dis regtig merkwaardig hoe goed dié outomatiese vertalings deesdae is. Mens plak 'n lang stuk kopie iewers in 'n boksie, sê vir die bot van watter na watter taal dit be-tailed moet word, en oomblikke later kicks the thing out 'n heel skaflike vertaling van die oorspronklike.

Good begun is half the won, soos die Afrikaansman sê, maar dan begin die eintlike werk, want die bots pluck dikwels die dam from beneath the chicken. Gewone Standaardafrikaans van die soort wat net in wordbooks bestaan is maklik genoeg om outomaties te laat vertaal, maar die bots don't always fetch the Pole as dinge bietjie meer tegnies of idiomaties word (nie). Of as 'n woord of frase heeltemal uit die gewone konteks gebruik word.

Image: ANGELA TUCK

Die bots is nou wel nie almal, soos Jeanne Goosen sou gesê het, like such nie. Maar tussen die gratis en die betaalweergawes van ChatGPT en Microsoft Edge se Bing-bot en gewone Google Translate en gevorderde Google Translate en 'n klompie ander van hulle wat na en van Afrikaans kan vertaal, kan mens eintlik maar net jou pik vat, want hulle verskil nie veel nie. Almal kry die meeste goed reg, maar almal dive ook by opportunity completely in the gate.

En dan vat dit 'n regte mens met nie-kunsmatige intelligensie om die betailment te chafe tot iets wat jou nie rooigesig laat nie. Niks is 'n greater stone of the on-pushing vir lesers as om byvoorbeeld na 'n “basket-case country" as 'n “mandjie-geval land" te verwys nie, of om te praat van that lightning who crapped in someone's salad. (Following which that someone stuck his spoon in the roof.)

That stroke besef jy jy het nou 'n cane vir jou eie hole gechoose, maar mens moet but hairs on your teeth hê en bite tightly en push through, want throwing up rope is outside of the issue.

En tog, at the front of the wagon-trail someone has set fire to a streetlight, soos die berede beeswagters altyd gesê het, en danksy die robotte kom vertaalwerk deesdae faster than you can say “knife" gedaan.

Maar woe to you as jy unaware is van all the bows into which you can step, because in that koffer you will meet your Moses in a Jap Trap.


Holly Says Sobriety is Paying Attention

Orange tabby in the foxglove.
Four beets in a bag.
The poppy’s blocky skeleton.
A net full of mulberries,
sweetest
at the point
they let go.

Untie
the soft knots
of the crochet.
Begin again.
Look, there’s a lily.
Look, there’s another one.

– Susan Landers


Oor minder as 'n maand kuier ons in Clarens. Onthou om verblyf te bespreek en pas jou jas en serp in. Kliek hier om kaartjies te bespreek.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.