Oor fobies en -ismes

DONDERDAG MET MERCY

Oor fobies en -ismes

MAX DU PREEZ skryf oor waardevolle Afrika-kuns wat amper verlore gegaan het, en MERCY KANNEMEYER wil net nie ’n ‘dametjie’ genoem word nie. En daar’s sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 29 Junie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het gister in ’n onderhoud met Bloomberg TV gesê inflasie het langer hoog gebly as wat hulle verwag het en dat rentekoerse waarskynlik sal moet aanhou styg om inflasie terug te bring na die teiken van 4,5% (dit staan tans op 6,3%).

2. Adj.pres. Paul Mashatile het sy stilte verbreek oor ’n News24-ondersoek waarin beweer word dat hy by staatskaping betrokke was. In ’n mediaverklaring het hy gesê: “I have never awarded, influenced, or in any way caused any state or public sector contract to be awarded to the individuals and companies mentioned by News24. Nor does the Deputy President have ownership or permanent use of any properties bought by these people and companies. The Deputy President would challenge anyone to prove otherwise.”

3. Die raad van die Nelson Mandela-stigting het sy uitvoerende hoof, Sello Hatang, afgedank nadat ’n interne ondersoek na sy “persoonlike gedrag in die werkplek” afgehandel is. Geen besonderhede is bekend gemaak oor wat tydens die ondersoek bevind is nie. Die voorsitter, prof. Njabulo Ndebele, sê daar sal onmiddellik na ’n plaasvervanger vir Hatang gesoek word.

4. Pres. Joe Biden het gister gesê die Russiese president, Vladimir Putin, is “uitermate verswak” deur die kortstondige muitery van die Wagner-groep. Maar “dit is onduidelik wat dit beteken vir Putin se magsgreep soos wat die oorlog met Oekraïne voortsleep”, het hy bygevoeg. “Dit is moeilik om te sê. Hy is duidelik besig om die oorlog in Irak te verloor,” het Biden gesê (hy het Irak met Oekraïne verwar). “Hy verloor die oorlog by die huis en is besig om ’n bietjie van ’n verstoteling in die res van die wêreld te word.”

5. China is besig om ’n ambisieuse program van diplomasie en vredesinisiatiewe in die Midde-Ooste en Oekraïne van stapel te stuur in ’n duidelike poging om sy geloofwaardigheid as ’n verantwoordelike globale mag te vestig en om verskille tussen Amerika en sy vennote uit te buit. Israel is China se jongste teiken. Die eerste minister, Benyamin Netanyahu, het aangekondig dat hy genooi is om ’n staatsbesoek aan Beijing te bring – dít terwyl die verhouding tussen Israel en die VSA gespanne is.

6. Kort ná sy stryd oor pensioenhervorming wil pres. Emmanuel Macron nou ’n ambisieuse hervorming van Franse skole se lang somervakansies aanpak – tot groot ontsteltenis van onderwysers wat hulle voorberei op “les grandes vacances”. Macron sê die vakansie van twee maande of langer moet verkort word om te voorkom dat skole tyd probeer inhaal met oormatige lang lesdae wat kinders uitput.

7. Verwronge dele van die oorskot van die Titan-duikboot is 10 dae ná ’n “katastrofiese inploffing” sowat 4 000 m onder die see-oppervlak van die Atlantiese Oseaan naby die wrak van die Titanic in Kanada na die oppervlak gebring. Al vyf mense aan boord is in die inploffing dood. Die Amerikaanse Kuswag lei die missie om die oorblyfsels van die Titan-duikboot te herwin en die oorsaak van die ramp te ondersoek.


Daar is waarskuwings oor sneeu in die suidelike Drakensberge van die Oos-Kaap en sterk wind in die noordweste van KwaZulu-Natal. Dit sal deels bewolk en koel wees in die noorde van die land, insluitende Gauteng. Geïsoleerde buie en donderbuie kan in die Vrystaat, die Kaapprovinsies en KwaZulu-Natal verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 16°C • Johannesburg 14°C • Mahikeng 16°C • Mbombela 22°C • Kaapstad 15°C • Durban 23°C • Kimberley 14°C • Bloemfontein 14°C • Polokwane 22°C • Upington 16°C • Gqeberha 19°C • Oos-Londen 19°C.


Max du Preez | Kastig trotse Afrikane, maar eintlik traak Afrika ons g’n niks

#Witmonopoliekapitaal tot die redding. Weereens. Dié keer deur waardevolle Afrika-kuns te red.

Dis nie ’n mooi storie nie, en dit lê die retoriek van liefde vir en trots op Afrika bloot as net woorde.

Die storie begin toe die bekwame museumontwerper Christopher Till 40 jaar gelede hoof van die Johannesburgse kunsgalery (JAG) geword het. Daar was wonderlike kunswerke uit Europa, maar niks uit Afrika nie. Hy het toe ’n versameling Afrika-kuns by ’n versamelaar in Londen laat aankoop en later nog ’n versameling by die nasate van ’n ou sendeling.

Maar ná 1994 het sake by JAG begin skeefloop. Die pragtige, geskiedkundige ou gebou en die besonderse versameling kuns van oraloor wat baie miljoene rande werd is, is só verwaarloos dat reënwater die kuns en die struktuur begin skade aandoen het.

Till sê hy was onlangs weer in die museum. Daar was niemand daar nie en hy kon kom en gaan soos hy wou, selfs op plekke waar die kennisgewing op die deur gesê het niemand word toegelaat nie.

Die foyer van die JAG.
Die foyer van die JAG.

“There was just pure devastation behind those doors,” sê hy vir Business Day. Die water stroom orals in, daar is rotmis en dooie voëls oral en kunswerke word sommer opmekaar gestapel. “The condition and neglect of the building was an absolute disgrace.”

Till het nou gereël dat die Afrika-artefakte na die Brenthurst-biblioteek in Parktown verskuif word. Dit het ’n waardevolle versameling Africana en is in 1984 deur Harry Oppenheimer gebou.

’n Mens sou op ’n manier nog half kon verstaan as die politici en amptenary van Johannesburg half ongeërg oor die kunsversameling in JAG is as dit die kuns van ou wit mans uit Europa was.

Maar wat Till en die Oppenheimers nou gered het, is kunsskatte wat aan die wêreld wys dat Afrika ’n fyn, kreatiewe kultuur het. Dit is goed wat ons as Afrikane moet trots maak en ons selfvertroue gee.

Maar toe was dit nie Meneer African Renaissance Thabo Mbeki of die groot Pan-Afrikanis Julius Malema of die stinkryk swart nyweraars wat die Afrika-kuns moes red nie, dit was die verguisde Oppenheimers.

Dalk is die tragiese episode ’n soort metafoor van wat die afgelope twee dekades in Suid-Afrika aan die gebeur is.


Image: ANGELA TUCK

Die giertjies van sekere gardes

Haai. Laas week skryf ek toe mos oor ou wit mans. Maar weet julle wie moet ook na die gesprek toe nader skuif? Ouer bruin mans. Bruin mans moenie dink hulle kry ’n free pass nie. Hier sluit ek my pa en my broer en my oupa en ons hond Kleintjie in. Sien? Geen free passes nie.

Voordat ek wegval, herinner ek myself net dat veralgemening ’n dodelike siekte is. ’n Pes. So, ek waak daarteen. Maar ek sal my job baie swak doen as ek nie bietjie na ouer bruin mans ook kyk nie. Hulle is nie ’n homogene groep nie. Maar tog is daar ’n sekere tipe ouer bruin man wat gereeld my bors warm maak.

Kom ek wees spesifiek.

Toe ek op laerskool was, het ’n OBM-onderwyser ná afloop van ’n wiskundetoets in my oor kom fluister: “Jy’s toe after all nie so slim nie, nè, Kannemeyer ...” Ek kon sy drankasem ruik en ek het sulke koue rillings gekry. Ek het daai middag vir my ma gesê wat gebeur het. My ma sê toe sommige mense is maar net so venynig. Ek moes met die hele sak patats uitkom en aan my ma bieg dat hierdie spesifieke onderwyser my al byna die hele jaar boelie. Verbeel jou! ’n 50-something jaar oue man wat beef met ’n meisie van skaars 14?! Weird. My ma was nie lui nie en sy is skool toe om hom op sy plek te sit. Hy vra toe vir my ma hoekom het my pa nie eerder skool toe gekom nie, want my pa sou verstaan. Soos ek hierdie nou hier oorskryf, voel dit so bietjie soos ’n koorsdroom.

Image: ANGELA TUCK

En dan my eie pa. Julle. Ek is baie lief vir die man. Maar wow! Dit het my ure gevat om hom aan nuwe dinge voor te stel! Toe ek hom van homofobie vertel, het hy volgehou hy het ook fobies. Hy is bang vir spinnekoppe, so wat maak dit hom? ’n Spinnefobie?! En dan is daar net giertjies wat manne van daai garde nie maklik geskud kry nie. My pa kan nie sonder sy brille sien nie. Maar dra hy sy bril gereeld? Nee.

Dan is daar natuurlik die tipes wat ’n jong vrou “jong dametjie” noem, of die tipes wat jou gereeld sal onderbreek, gereeld jou intelligensie sal onderskat, gereeld jou sal herinner dat jy ’n sekere rol in die samelewing speel (gewoonlik sluit dit voortplanting in!), en daai tipes wat maak asof hulle aandele in die vorige bedeling gehad het, so almal moet tog net regop sit en luister wanneer hulle praat.

Ja ja ja. Dis dalk nie ’n raskwessie nie, dis dalk net chauvinisme. Dis dalk ook net ’n geval waar niemand al ooit vir sommige mans gesê het om bietjie stil te bly nie. Niemand het dalk al ooit vir die spanne gesê om bietjie wyer as hulle adamsappels te dink nie. Die onus rus op ons almal om die mense in ons lewe gereeld op te voed. Moet my net nie “dametjie” noem nie.


Spinnekoppie

'n Soetrissie-rooi stippie
snel oor die boek op agt wimpertjies
ongehinderd deur die wind.
Amper-nie raak ek hom aan
en sien 'n pienk smeerseltjie
op die jammer papier.

– Sheila Cussons

(Uit: die asem wat ekstase is)


Kom kuier jy saam in Clarens? Dit gaan koud wees, maar poësie sit vuur in die are en verwarm die hart. Kom luister hoe vier digters hulle verse voorlees. Wyn of sjerrie opsioneel. Bespreek nou by Quicket.

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.