’n Minagtende mentaliteit wat herhaaldelike vergrype vergemaklik

DONDERDAG MET MERCY

’n Minagtende mentaliteit wat herhaaldelike vergrype vergemaklik

Hou maar jou selfoonkamera gereed, want ek of jy kan vandag of môre óók aangerand word, skryf MAX DU PREEZ. Die ding met Maties se rektor voel soos ’n onder-die-bus-gooi-situasie, as jy haar vra, sê MERCY KANNEMEYER. En soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 06 Julie 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die polisie se onafhanklike ondersoekdirektoraat (Opod) het bevestig lede van die polisie se BBP-eenheid is van onder meer aanranding met die doel om ernstig te beseer, opsetlike saakbeskadiging en die rig van 'n vuurwapen aangekla nadat 'n video van 'n aanranding langs 'n Gautengse hoofweg sedert die naweek wyd op sosiale media versprei is.

2. Die DA wil hê 'n nuwe weergawe van die destydse Skerpioene moet as 'n artikel 9-instelling gestig word om korrupsie te beveg. Die party wil 'n wysiging aan die Grondwet in die parlement ter tafel lê om die “Skerpioene 2.0" moontlik te maak, het Netwerk24 berig.

3. 'n Staking van die Gautrein is afgeweer nadat Numsa ’n  loonverhoging van 8% vir alle werknemers asook verhoogde toelaes vir behuising en vervoer aanvaar het. Die Gautrein-personeelkaart sal ook in gebruik bly.

4. Die DA sê die ontbinding van die Johannesburgse metroraad se interne forensiese ondersoekdiens is 'n blatante poging om korrupsie toe te smeer. Dit sluit volgens News24 in dat 'n nuwe vierjaarkontrak onlangs gesluit is met Litshani Matsila, finansiële hoof van die afval-eenheid Pikitup, ten spyte van 'n ondersoekverslag wat hom met grootskaalse korrupsie daar verbind.

5. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), Media Monitoring Africa en die sosialemediamaatskappye Google, Meta en TikTok het 'n samewerkingsraamwerk onderteken om disinformasie te bekamp voor volgende jaar se verkiesings. Die betrokkenes sal onder meer saamwerk om ’n platform te bedryf waar klagtes aangemeld kan word.

6. Oudpres. Jacob Zuma gaan Belarus glo verteenwoordig by 'n Zimbabwiese konferensie oor die handel in Afrika-koolstofkrediete, het Bloomberg berig. Zuma sal volgens die amptelike agenda vir die Africa Voluntary Carbon Credits Market Forum Vrydag by die Victoria-waterval 'n “spesiale aanbieding" namens die Belarusian African Trade Organisation doen. Hy is volgens News24 by die lokaal gesien waar die konferensie plaasvind.

7. Twitter-gebruikers sal binnekort geverifieer moet word om die  TweetDeck te gebruik. Dié toepassing was voorheen gratis, maar word nou ook geraak deur Elon Musk se pogings om die platform winsgewend te maak.


Dis vanoggend mistig in dele van Mpumalanga, Limpopo, KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Noord- en Oos-Kaap. Dis ook deels bewolk in die noorde van Gauteng, KwaZulu-Natal, die Oos- en Wes-Kaap, asook Limpopo en Mpumalanga, waar ligte reën langs die platorand verwag kan word. 

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 19°C • Johannesburg 17°C • Mahikeng 20°C • Mbombela 20°C • Kaapstad 21°C • Durban 21°C • Kimberley 23°C • Bloemfontein 22°C • Polokwane 18°C • Upington 26°C • Gqeberha 19°C • Oos-Londen 19°C.


Max du Preez | Heersers en onderdane

Suid-Afrikaners is kwaad en ontsteld oor die wrede aanranding van drie mense deur adj.pres. Paul Mashatile se lyfwagte, maar teen volgende week is die voorval weer vergete en is ons oor iets anders verontwaardig.

Dít is hoekom sulke vergrype oor en oor gebeur.

Die drie slagoffers is hopelik nie te erg beseer of getraumatiseer nie. Maar dit gaan oor meer as net drie mense wat sinneloos aangerand is.

Die voorval is ’n metafoor vir die minagtende houding van te veel mense in die regering, die regerende ANC en die veiligheidsmagte teenoor die burgers van die land.

Dit is ’n kultuur van héérs, eerder as dien. Die burgers is onderdane.

Die boewe wat Mashatile oppas, bestaan nie in ’n vakuum nie. Hulle is deel van ’n denkpatroon, ’n waardestelsel. Hulle gaan daagliks in ’n intieme ruimte om met die politici wat hulle “bewaak”.

Dit is nie onbillik nie om hulle mentaliteit te vergelyk met dié van die polisiemanne wat Andries Tatane in Ficksburg vermoor of 34 mynwerkers by Marikana afgemaai het.

Dit is gevaarlik om verskynsels en houdings in demokratiese Suid-Afrika met dié van die apartheidsera te vergelyk. Maar toe ek gister Mashatile se kliniese afkeur in die gebeure lees, het dit my laat dink aan die politici en generaals van die Nasionale Party wat voor die Waarheidskommissie “geskok” was oor hulle polisiemanne en soldate se wreedaardigheid en onwettige optredes.

Daardie polisiemanne en soldate het geglo hulle doen wat hulle politieke leiers van hulle verwag het.

Dit is die mentaliteit van heerser en onderdaan wat staatskaping, tenderpreneurskap en kaderontplooiing moontlik gemaak het en steeds moontlik maak; wat regeerders op al drie vlakke op staatsonkoste in uiterste weelde laat leef terwyl miljoene Suid-Afrikaners in ekstreme armoede leef en kinders se ontwikkeling deur honger en wanvoeding gestrem word.

Dit is die mentaliteit wat maak dat daar geen skaamte is oor ou en gestremde mense en verwagtende vroue wat vir ure, soms dae, in toue op straat sit en wag vir hulle maatskaplike toelaes nie.

Dit is hoekom die regering vanjaar R1,9 biljoen aan die beskerming van BBP’s bestee uit ’n totale beskermingsbegroting van R3,7 biljoen, en ons eerste linie teen misdaad en korrupsie, die Valke, net ’n begroting van R2,2 biljoen het. Die R1,9 biljoen is vir 62 nasionale en 124 provinsiale “hoogwaardigheidsbekleërs”.

Wat Sondag met die drie mense op Johannesburg se M1 gebeur het, gaan weer en weer gebeur soos dit die laaste dekade of meer oor en oor gebeur het waar daar nie ’n selfoonvideo was om op sosiale media te plaas nie.

Dit kan vanmiddag of môre met jou of my gebeur.

Die louwarm, formulematige reaksie van die adjunkpresident, die regering en die polisie op die brutaliteit op die M1 maak dit baie duidelik.

Hou maar jou selfoonkamera en dashcam gereed.


Image: ANGELA TUCK

SlimWim kort ’n bruin vrou met ’n lekker bek en ’n vuil kyk as sy nuwe adviseur

My alma mater – die Universiteit Stellenbosch – sorg vir gereelde vermaak.

Op Dinsdag 4 Julie reik die rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers, ’n verklaring uit ná afloop van die Lewiskomitee se bevindings rakende die rektor se diskresionêre plasings. Vir diegene wat vergeet het: nefiegate. Dit het vroeër vanjaar aan die lig gekom dat SlimWim, soos die rektor in sommige kringe bekendstaan, familielede van sy vrou vir mediese studies aan die US gekeur het … Klink omtrent na ’n telenovela!

Die kort van die lank is dat Wim van alle aanklagte vrygespreek is.

Wim skryf in sy verklaring: “Ek is innig spyt oor die omstandighede en gebeure wat tot dié vergadering gelei het. Ek erken openlik dat ons universiteit ’n besonder uitdagende tyd beleef het weens die aantygings teen my. Dit was ’n baie moeilike, spanningsvolle tydperk vir almal wat die beste belange van die Universiteit op die hart dra; ek besef alte goed watter enorme hoeveelheid tyd, moeite en energie dit geverg het.”

Die “enorme hoeveelheid tyd, moeite, en energie” is natuurlik aangepor deur al die media-aandag wat nefiegate ontvang het. Die media het “wyd berig”, soos Wim skryf.

Toe Wim se verklaring in my inboks beland, het ek verwag om weereens vermaak te word. Maar nie hierdie keer nie. Hierdie keer sien ek, soos wat die Lewiskomitee ook gesien het, dat Wim ’n eerlike en betroubare man is. Die paar kere wat ek vir Wim al op die universiteitsterrein raakgeloop het, was hy vriendelik en gereed om geselsies aan te knoop. He’s not a bad guy.

Ek onthou daai jaar toe aangekondig is dat Wim ons nuwe rektor en visekanselier gaan word, hoe opgewonde menige student was. ’n Foto van Wim in sy wit doktersjassie het op sosiale media die rondte gedoen, en studente het so ewe gespot dat hulle nou nie weer met hulle vervalste doktersbriewe sal kan wegkom nie.

Wim aanvaar volle verantwoordelikheid vir die foute wat met nefiegate gemaak is, en hy vra om verskoning. Sy verskoning lees werklik asof dit uit die hart uit kom. In die era waarin ons nou leef waar universiteite brand, is dit werklik ’n ligpunt om te sien dat ’n rektor verantwoordelikheid vir sy foute neem, en dat daar planne in werking gestel word vir soortgelyke foute om nie weer gemaak te word nie.

Wim gaan nou op sy healing journey. “Ek aanvaar verantwoordelikheid hiervoor en verbind my voluit daartoe om aan die helingsproses mee te werk. Dit sal nie weer gebeur nie – minstens nie solank ek in beheer is nie – want hierdie beleide sal óf afgeskaf óf hersien word volgens die toepaslike wigte en teenwigte wat geld”.

’n Paar belangrike punte uit die verslag wat Wim ook in sy verklaring aanhaal, is die volgende:

  • Wat bewerings van oneerlikheid betref: Die Rektor het sy verbintenis met die twee kandidate aan ’n senior kollega verklaar voordat plekke aan hulle toegeken is. Die advies aan hom was dat hy op grond van die diskresie wat aan hom verleen is, wel die plasings kon maak. Daar is geen bewys – ook nie op ’n oorwig van waarskynlikheid nie – dat die Rektor oneerlik opgetree het met die bedoeling om te mislei of ’n wanvoorstelling van ’n posisie te maak nie.
  • Die feit dat die Rektor nie kon voorsien dat enige diskresionêre plasing van 'n familielid kon of sou lyk soos gunsbetoon nie, is bejammerenswaardig en dui op ’n gebrek aan etiese insig.
  • Die plasing van die twee familielede van sy vrou en die Rektor se hantering van die plasings, asook die aandag wat hierdie aangeleentheid gelok het, het kollegas se vertroue in hom geskaad. Die Rektor het bevestig hy sal daaraan werk om die vertroue te herstel.

Hierdie hele situasie is amper-amper perfek. Ja, Wim is vrygespreek, betroubaar, nederig en hy neem verantwoordelikheid. Ek het net ’n paar vrae. Wie is die senior kollega aan wie Wim alles verklap het? Is dit die registrateur Ronel Retief? En hoekom is die senior kollega dan stil? Voel soos ’n onder-die-bus-gooi-situasie, as jy my vra. Ek glo nie die “gebrek aan etiese insig” nie. Die man is ’n mediese dokter! Hy’s ’n navorser! Hy ken van etiek, man! Of vlieg etiek by die venster uit wanneer familie betrokke raak? Twyfel. Wim het sy kollegas se vertroue in hom skade gedoen. Dis vir seker.

In menige opsig verskil ek van Wim se visie vir die Universiteit Stellenbosch. Maar hey, ek is g’n rektor nie. Ek is bloot passievol. Ek wens Wim wou Afrikaans en moedertaalonderrig aan die US werklik prioritiseer. Ek wens Wim wou bietjie meer raakvat met kwessies wat met diskriminasie en rassisme en ongelykheid verband hou. Ek wens Wim kon ’n fermer hand hê op politieke belangegroepe wat hulle stempel so kwaai op die universiteit afdruk.

Hopelik is Wim se nuwe senior regsadviseur (dis op aandrang van die Lewiskomitee dat hy een kry) ’n bruin vrou met ’n lekker bek en ’n vuil kyk. Die toekoms van ons universiteite lê myns insiens in die anties wie se hande vir niks verkeerd staan nie.


die keiser sonder klere

die keiser sonder klere
gaan soek sy heil in groot gewere
soos die man wat sonder onderbroek
sy redding in geweld gaan soek

– Emma Bekker

(Uit: Skryn)


Hier is al die deelnemers aan ons VWB-Clarens-boekefees. Kom ontmoet jou gunstelinge, kom luister na bekroondes, ja selfs 'n driedubbele Hertzogpryswenner, Antjie Krog. Ons klets die Oos-Vrystaat warm en skink 'n dop op die letterkunde. Hier is die volledige program.

Bespreek nou jou naweekkaartjie teen R600 by Quicket.

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.