Daar moet gevolge vir dade wees

MAANDAG MET MAX

Daar moet gevolge vir dade wees

Veiligheid, aanspreeklikheid en die oppergesag van die reg is waar ons moet begin as ons ’n Nuwe Republiek wil begin bou, skryf MAX DU PREEZ. En eise vir ‘afstigting’ van die Wes-Kaap is sommer verspotte praatjies. Soos gewoonlik is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 10 Julie 2023
  • Daagliks
  • 11 min om te lees

Goeiedag!

1. Daar is ’n komplot om van hom ontslae te raak, sê adj.pres. Paul Mashatile. Hy het aan City Press gesê daar is ’n veldtog om hom voor volgende maand uit sy pos te verwyder, maar hy wou nie sê wie daaragter sit nie. Hy het herhaal dat die onthullings dat hy vrye gebruik van die luukse huise van twee vermoedelik korrupte sakelui, Edwin Sodi en Ndavhe Mareda, het, niks met korrupsie te make het nie. Albei is ou vriende van hom, sê hy.

2. Dit is onwaarskynlik dat daar enige verkope van buffels by Phala Phala was wat tot die berging van sowat R11 miljoen gelei het wat later gesteel is, sê Rise Mzansi se leier, Songezo Zibi. Hy het pres. Cyril Ramaphosa se weergawes van wat gebeur het, as “flimsy” beskryf. “Ramaphosa’s testimony shows why we must not engage in the fantasy of the ANC’s renewal. By failing to provide a credible explanation, the only credible theory is that there was a crime here, and he was involved.”

3. Joe Biden het gisteraand in Brittanje aangekom vir vergaderings met die eerste minister en die koning te midde van sterk kritiek van verskeie van die VSA se bondgenote oor die verkoop van trosbomme aan Oekraïne. Altesame 123 lande het die Konvensie oor Trosmunisie onderteken wat die vervaardiging van trosbomme verbied.

4. Die ou ballies in die Springbokspan het Saterdag teen die Wallabies hulle kant gebring, maar dit was die jonger knape wat geskitter het. Die telling was 43–12. Onder die ouer bene het Willie le Roux, André Esterhuizen en Marco van Staden hulle gehalte gewys, maar dit was Kurt-Lee Arendse (drie drieë), Canan Moodie, Manie “Le Bok” Libbok en Grant Williams wat die kollig gesteel het. Die klompie dronkgatte wat op die pawiljoen onder mekaar baklei het, was ook goeie vermaak. #KlippiesEnCoke

5. Threads, Mark Zuckerberg se alternatief vir Elon Musk se Twitter, het binne 48 uur nadat dit verlede week van stapel gestuur is, meer as 70 miljoen intekenare gewerf. Threads is aan Meta se Instagram gekoppel. Musk was dadelik suur. Eers het hy laat weet dat hy sy Instagram-rekening gesluit het, en toe het hy getweet: “It is infinitely preferable to be attacked by strangers on Twitter, than indulge in the false happiness of hide-the-pain Instagram.”

6. Landdros Arvin Chaitram het bevind dat die prokureurs van ’n vrou wat vir laster gedagvaar het, kunsmatige intelligensie in hulle voorleggings gebruik het. Die name en sake waarna verwys is, is fiktief. “When it comes to legal research, the efficiency of modern technology still needs to be infused with a dose of good old-fashioned independent reading,” sê Chaitram.

7. Die oud-DA-burgemeester van Midvaal wat kortstondig ’n lid van ActionSA was, Bongani Baloyi, se nuwe politieke party, Xiluva, is pas by die onafhanklike verkiesingskommissie geregistreer en gaan aan die 2024-verkiesing deelneem. Baloyi het gister gesê: “We undertake to write a new chapter in the book of our beloved country by introducing and practicing a different kind of politics underpinned by our Ubuntu ideology, where meritocracy and stability are embedded in our norms and practices.”


Daar is waarskuwings oor moontlike sneeu in dele van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, asook sterk wind langs die kus en swaar reën wat tot oorstromings kan lei in die noordooste van KwaZulu-Natal. Dit sal ook baie koud wees in die Noord-Kaap en die Vrystaat. Buie kan verwag word in Limpopo, Mpumalanga, die Vrystaat en die Oos-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 13°C • Johannesburg 10°C • Mahikeng 13°C • Mbombela 11°C • Kaapstad 14°C • Durban 15°C • Kimberley 12°C • Bloemfontein 12°C • Polokwane 12°C • Upington 15°C • Gqeberha 15°C • Oos-Londen 15°C.


Max du Preez | Die Wes-Kaap: nee vir afstig, ja vir meer magte

Die Wes-Kaap is onlosmaaklik deel van Suid-Afrika. Daar is nie ’n kans dat dit in jou of my leeftyd ’n afsonderlike entiteit gaan word nie. Eise vir “afstigting” is sommer net verspotte praatjies in die wind.

Maar dit beteken nie die provinsie moenie dalk meer magte en seggenskap kry nie. Dit is onbetwisbaar dat dit baie beter as enige ander provinsie regeer word. En gewone logika sê as iemand iets beter as jy kan doen, gee hom/haar daardie verantwoordelikheid.

Solank dit nie ’n vorm van kruipende afstigting probeer wees nie.

Daar is geen historiese of demografiese basis vir die Wes-Kaap om weg van die res van Suid-Afrika te beweeg nie. Dit is nie ’n Skotland of ’n Katalonië nie. Dit is bloot ’n geval van beter administrasie.

Die DA-beheerde Wes-Kaapse wetgewer sit nou met ’n wetsontwerp voor hom wat die provinsie groter jurisdiksie oor onder meer polisiëring, spoorvervoer, hawens, handel en energie wil gee.

Objektief gesproke moet dit duidelik wees dat die Wes-Kaapse regering al dié sektore baie beter as die nasionale regering sou bestuur.

As die DA-administrasie byvoorbeeld beheer oor pendeltreine en hawens gehad het, sou miljoene mense en die ekonomie baie daarby baat gevind het. Die DA bestuur hospitale, klinieke en paaie beter as enige ander provinsie.

Ons moet net besef dat die wetsontwerp eintlik net simboliek, politieke teater is, ten minste vir nou.

Solank die ANC die nasionale regering beheer, sal geen devolusie van magte geduld word nie.

Die ANC is baie kleinsielig oor die Wes-Kaap wat beter regeer word as die provinsies waar hulle regeer, want dit wys aan kiesers dat die DA ’n beter opsie as die ANC is. Daarom die stortvloed van histeriese beskuldigings dat die DA ’n “wit republiek” wil vorm en apartheid wil terugbring.

Die onlangse besoeke aan Washington deur die DA-leier, John Steenhuisen, en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die ANC ook woedend gemaak. Die feit bly staan dat dié twee afvaardigings veel beter georganiseer was en meer invloedryke mense gesien het as die verskeie onlangse ANC- en regeringsafvaardigings.

Dit is legitiem vir die DA om die wetsontwerp in te dien en te aanvaar, al het dit nie veel van ’n impak op die devolusie van magte nie.

Dit maak ’n sterk politieke punt – die kloof tussen die regeerkunde in die Wes-Kaap en dié in ander provinsies kan nie sommer weggepraat word nie. En as die ANC dalk in volgende jaar se verkiesing uitgestem gaan word, kan dit selfs in die een of ander vorm ’n werklikheid word.

Die argument dat dit ’n presedent kan skep, is nie juis geldig nie. Zoeloe-nasionaliste praat ook soms oor die afstigting van en meer magte vir KZN, maar die provinsie word hopeloos regeer en kan nie eens sy huidige verantwoordelikhede nakom nie.

Die beste belang van die burgers, nasionaal en in die Wes-Kaap, moet die enigste oorweging wees.


Aanspreeklikheid en onaantasbaarheid is waar ons moet begin

My huis en my kantoor is halfpad teen die berg op in Simonstad. Ons het dit vier jaar gelede gekoop vanweë die pragtige uitsig oor die hele Valsbaai en die nabyheid aan die natuur en wildlewe – pikkewyne, bokkies, dassies, ystervarke, troppe tarentale en selfs rooikatte. Die bobbejane kom elke week ’n draai in my tuin en op my dak maak.

Van my stoep af sien ek van Hangklip af na Gordonsbaai, Strand, Somerset-Wes, Khayelitsha, Muizenberg, St. James, Kalkbaai, Vishoek en Glencairn. Ek sien ook gereeld walvisse en dolfyne, so nou en dan selfs orkas.

Maar ek kyk ook uit oor die hawe en die vlootbasis. Daar gebeur niks in die basis wat ek nie raaksien nie, soos die aankoms en aktiwiteite van die Russiese vragskip Lady R.

As ek in die oggend wakker word en my kop oplig, is dit die eerste wat ek sien. Die ou voorraadskip wat nie meer seewaardig is nie, drie fregatte, waarvan net een dit so nou en dan uit die hawe waag, ’n paar kuspatrolliebote wat oproes en ’n enkele duikboot wat nou net ’n boot is, want dit kan nie meer duik nie.

Maar soggens vroeg is daar ’n verkeersknoop soos min wanneer honderde Vlootwerknemers in hulle karre na die basis toe ry, en smiddae van halfvier af weer as hulle huis toe ry.

Dit breek ’n mens se hart.

Ek het al ’n slag of wat met dienende en afgetrede vlootoffisiere gesels. Van hulle is kwaad, ander weer na aan trane. Goeie mense. “Ons is seemense; ons is beroepsoldate,” sê die een vir my. “Maar nou kom ons soggens op kantoor aan, speel Solitaire of praat twak of skuif dokumente rond die hele dag, en dan gaan ons huis toe. Daar is nie eens genoeg diesel vir die paar vaartuie wat nog kan vaar om die hawe te verlaat nie.”

Met ’n geknypte ekonomie is dit korrek dat die begrotingsprioriteite van verdediging af wegbeweeg. Maar dit is nie die hele storie nie.

Gister lees ek in die Sunday Times dat die militêre polisie al vyf jaar lank aanklagte van korrupsie en bedrog van meer as R100 miljoen teen twee maatskappye ondersoek wat van die vlootvaartuie in Simonstad moes herstel en onderhou. Die tenders was glo korrup en senior offisiere is glo betrokke.

Dié R100 miljoen sou ver gekom het om die vloot aktief en trots te kon gehou het en hulle toegelaat het om hulle mandaat uit te voer. Hier op my dorp is daar nog vele skinderstories van ander korrupsie en diefstal by die vlootbasis, so dalk is daar nog ’n R100 miljoen wat verkwis is.

Ek sien ’n oudredakteur skryf gister in Rapport oor die vergrype en wanbestuur van die gesondheidstelsel en kom tot dié konklusie: “Dis die ou, ou lied van Afrika.”

Dit klink vir my al te veel na ’n sagte manier om te sê: Die swartes fok alles op.

Ag nee, man.

As daar nie effektiewe polisiëring en vervolging is nie, gaan geen ander hervorming veel effek hê nie.

Die meeste Afrikastate sukkel, ja, en baie is korrup. Daar is geen verskonings daarvoor nie, maar daar is verduidelikings hoekom dit die geval is. Dit is nié omdat die leierskap in dié lande swart velle het nie.

My ou kollega kan gerus met van die jong intelligentsia, entrepreneurs en beroepsmense van lande soos Kenia, Ghana en Senegal gaan kennis maak. Of sommer met plaaslike wyses soos Malegapuru Makgoba, Barney Pityana, Mamphela Ramphele, Dikgang Moseneke en Njabulo Ndebele gaan sit en gesels.

Dit gaan nie oor ras nie, dit gaan oor geskiedenis, politieke kultuur en leierskap.

Dit beteken noodwendig die wanbestuur en korrupsie wat tans hier by ons hoogty vier, is nie onafwendbaar nie.

As mense met ’n swart vel inderdaad inherent korrup en onbekwaam was, sou daar geen hoop vir ons en vir Afrika wees nie.

Ons as Suid-Afrikaners kan wel die politieke kultuur en leierskap verander – ons het sommer volgende jaar al ’n goeie kans om dit te doen.

Die eerste faset van ons nasionale lewe wat ingrypend sal moet verander, en gou, is wetstoepassing: die polisie en die hele strafregstelsel.

As daar nie effektiewe polisiëring en vervolging is nie, gaan geen ander hervorming veel effek hê nie.

Elke liewe een van ons vele probleme het wetteloosheid – korrupsie, bedrog en diefstal – en ’n gebrek aan aanspreeklikheid as wortel: ons hospitale en klinieke, ons vervoerstelsels, Eskom en ander staatsondernemings, waterverskaffing, munisipaliteite, die uitreik van dokumente deur binnelandse sake, en duidelik ook die Suid-Afrikaanse Vloot.

Geen wonderlike beleid, plan of projek kan regtig slaag nie, want tenders word bekook, baantjies gaan aan boeties, geld word gesteel en bedrog word gepleeg.

Suid-Afrika sit vandag met konstruksie-, steenkool- en ander mafias, georganiseerde misdaadsindikate wat die ekonomie en entrepreneurskap kwaai ondermyn en weens politieke konneksies byna onaantasbaar geword het.

Skelms en misdadigers gedy, want daar is nie gevolge vir hulle dade nie.

Op ’n meer basiese vlak word almal van ons se gehalte van lewe weggekalwe omdat ons onveilig voel.

Veiligheid, skoon regering, aanspreeklikheid en die oppergesag van die reg is waar ons moet begin as ons ’n Nuwe Republiek wil begin bou.

Sterkte
Max


Klein fuga

Waarom het Jehova Sy volk kasty?
Net die lydendes weet hoe ander ly.

Verneder, verminder, verdwaas van wee?
Net die minstes kan medelye gee.

Waarom het Hy ons uit ons land ontslaan?
Dat ons onder die volke in sou gaan.

Vader en Moeder en seun verspreid?
Om die mense te maan tot broederlikheid.

– Olga Kirsch

(Uit: Nou spreek ek weer bekendes aan)


Kom ontmoet ons redaksie en sommer ook die rektor van die Universiteit van die Vrystaat. Kom luister hoe hierdie wakker breine gesels oor die stand van die land, universiteite en die media. En hopelik gee hulle ons hoop. Het jy al bespreek vir ons boekefees op Clarens? Kliek hier vir Quicket en hier vir die volledige program. Bespreek sommer nou verblyf ook, want die dorp raak vol! 

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.