Wie en wat is ’n patriot?

MAANDAG MET MAX

Wie en wat is ’n patriot?

MAX DU PREEZ mymer oor landverlaat, moederlandsliefde en sy voorvaders wat Boesmans gejag het. Hy spoel ook sy mond uit oor die ANC-regering wat eers die middelvinger vir die VSA wys, en dan probeer gatkruip dat SA nie uit die Agoa-skema geskop moet word nie. En soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 17 Julie 2023
  • Daagliks
  • 12 min om te lees

Goeiedag!

1. Gaan Jacob Zuma ooit uit Rusland terugkeer as daar ’n kans is dat hy moet tronk toe gaan? Zuma het, kort voordat die Konstitusionele Hof hom verlede week toestemming geweier het om te appelleer teen ’n beslissing van die appèlhof dat sy mediese parool ongeldig is, na Rusland vertrek, volgens sy woordvoerder vir mediese behandeling. Die kommissaris van gevangenisdienste moet nou besluit of sy maande op (onwettige) parool moet geld en of hy vir nog twee maande moet tronk toe. En dan begin sy korrupsiesaak van meer as ’n dekade gelede ook binnekort.

2. Nóg ’n mafia in Suid-Afrika is blootgelê: die trokdrywermafia, ook bekend as die All Truck Drivers Forum (ATDF). Vyf lede van die ATDF is nou in hegtenis geneem en gaan daarvan aangekla word dat hulle deel van die georganiseerde veldtog was wat die afgelope twee weke 23 vragmotors op hoofweë uitgebrand het. Hulle verskyn vandag in die hof in Ermelo. Gesprekke op van die ATDF se WhatsApp-groepe het ook in die media uitgelek. Die meeste ATDF-lede is glo Zoeloesprekend en volgens City Press is hulle Zuma-ondersteuners.

3. Die staat het al sowat R100 miljoen aan dienste, onderhoud en herstelwerk aan pres. Cyril Ramaphosa se ampswonings in Kaapstad, Pretoria en Durban bestee sedert hy vroeg in 2018 president geword het, sê die minister van openbare werke, Sihle Zikalala, in ’n geskrewe antwoord in die parlement. Ramaphosa gebruik dié wonings meestal net vir vergaderings so nou en dan, want hy verkies om in sy luukse privaat huise in Hyde Park in Johannesburg en Fresnaye in Kaapstad te bly.

4. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die ANC het die minister van finansies, Enoch Godongwana, opdrag gegee om dringend met die Reserwebank te beraadslaag om verdere verhogings van die rentekoers te keer. Hoë rentekoerse het ’n negatiewe invloed op lewenskoste en ekonomiese groei, sê hy.

5. Ekstreme hittegolwe woed in Amerika, Europa en Japan. Minstens 43°C word môre in Rome verwag en 48°C in Sicilië en Sardinië.

6. Die DA soek nie na vennote vir hulle Moonshot Pact van opposisiepartye nie, sê Good se sekretaris-generaal, Brett Herron. “It’s looking for a subservient crew. To get on to the crew list, parties must share the DA’s anti-transformation agenda and hatred of the ANC, and agree to be led by Helen Zille and John Steenhuisen. Beyond that, policies don’t seem to matter,” skryf hy in die Sunday Times.

7. Vier swemmers is by ’n strand in Japan beseer nadat hulle deur dolfyne aangeval is. Een se ribbes is gebreek nadat ’n dolfyn hom herhaaldelik gestamp het. Drie ander het bytwonde opgedoen.


Sonnige en koel weer word vir die grootste deel van die land voorspel. Dele van die Oos- en Wes-Kaap sal deels bewolk wees en mis kan vanoggend daar verwag word. Dis vandag warm in die ooste van KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 19°C • Mahikeng 23°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 18°C • Durban 25°C • Kimberley 23°C • Bloemfontein 20°C • Polokwane 24°C • Upington 27°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 25°C.


Max du Preez | Eers die middelvinger, nou gatkruip by Amerika

Dis ’n duur les vir pres. Cyril Ramaphosa en sy regering: Woorde en dade het gevolge. Om ’n land te regeer, is nie dieselfde as om Luthulihuis te bestuur nie.

Die regering het pas sy derde afvaardiging, dié keer met swaargewigte, na Washington gestuur om Pretoria se kameraadskap met Vladimir Putin te probeer wegverduidelik.

Wat het Ramaphosa en sy kabinet gedink sou gebeur het as hulle, anders as alle ander demokrasieë, weier om Rusland se inval in Oekraïne te veroordeel, gereeld op ministeriële en generaalsvlak in Moskou kuier, vlootoefeninge met Rusland onderneem en deurgaans teen enige VN-besluite oor die oorlog stem of buite stemming bly?

Het hulle werklik gedink hulle kan al dié goed doen en dan gaan die wêreld hulle glo dat Suid-Afrika bloot “onverbonde” is?

Het hulle nie voorsien dat Suid-Afrika se ooglopende affiniteit vir Putin vir Amerika en ander Navo-lande, wat Oekraïne met baie biljoene dollars en wapentuig help, gaan omkrap nie?

Het Ramaphosa en sy kabinet nie verlede jaar al ’n paar sommetjies gemaak oor die Agoa-voordele uit Amerika en die sterk handelsbande met die Weste teenoor die amperse afwesigheid van handel met en hulp uit Rusland nie?

Nou sit ministers Enoch Godongwana, Khumbudzo Ntshavheni en Ebrahim Patel saam met vakbond- en sakeleiers in Washington en smeek dat Suid-Afrika asseblief tog nie uit die Agoa-skema geskop moet word nie, want dit kan die ekonomie erg skaad.

Amerika en Navo is die eintlike aggressors in Oekraïne, is steeds die ANC se amptelike standpunt. En nou staan hulle verteenwoordigers bakhand en op hulle knieë voor die Amerikaners? Wat ’n verleentheid.

Vir meer as ’n jaar nadat die oorlog begin het, het Ramaphosa geen kontak met Oekraïne se pres. Volodymyr Zelensky gehad nie. Eers toe hy en ses ander Afrikastate hulle kastige vredesending na Kyiv en Moskou wou stuur, het hy met Zelensky kontak gemaak. Nou is hy so desperaat dat Washington hom moet glo dat hy verlede week weer met Zelensky gepraat het.

Putin is duidelik nie geamuseer nie. Hy weet hy sal in hegtenis geneem móét word as hy volgende maand vir die Brics-beraad hier aankom en Ramaphosa het hom glo self al gevra om liewers nie te kom nie. Maar Putin laat Ramaphosa sweet: Hy is teen ’n virtuele deelname aan die konferensie en nie geneë dat dit elders moet plaasvind nie.

Die kans dat hy wel na Suid-Afrika gaan vlieg, is natuurlik uiters skraal, maar dit gaan meer oor sy eie paranoia oor sy eie veiligheid ná die onlangse mislukte insurreksie as enigiets anders.

As hy wel kom en word nie, soos ’n lasbrief van die internasionale strafhof eis, in hegtenis geneem nie, sal dit beteken Ramaphosa het die Grondwet by die venster uitgegooi.

Dit sal dan waarskynlik onafwendbaar wees dat die Konstitusionele Hof hom ook tronk toe moet stuur soos hulle met Jacob Zuma gedoen het wat dié hof geminag het.

Volgens adj.pres. Paul Mashatile sal uitsluitsel oor Putin se besoek dié week gegee word.


Die skobbejak se laaste uitweg

Twee dinge het dié week met my gebeur wat my laat nadink het. Eers het twee jare lange vriende aangekondig dat hulle en hulle gesinne die land gaan verlaat. En toe, Saterdag, vind ek trane in my eie oë waar ek voor die televisiestel op aandag staan toe Nkosi Sikelel’ iAfrika voor die Springbokke se toets teen die All Blacks gesing word.

Patriotisme is ’n begrip wat deur die eeue veel misbruik is, onder meer deur ’n verskeidenheid diktators die wêreld oor.

Dit was die Engelse skrywer Samuel Johnson wat in 1775 gesê het: “Patriotism is the last refuge of a scoundrel.”

Die oudminister van verdediging Magnus Malan het my in 1989 in die openbaar daarvan beskuldig dat ek onpatrioties is – en oor die jare was hy nie die enigste een nie, van die ou Afrikanernasionaliste tot die ANC en die EFF.

As patriotisme beteken “my land, reg of verkeerd”, is ek dalk nie ’n patriot nie.

Dié stelling is die eerste keer op rekord geplaas deur ’n Amerikaanse vlootoffisier, kommodoor Stephen Decatur, ’n nasionale held in die vroeë 1800’s. In 1816 het hy by ’n banket in sy eer ’n heildronk ingestel: “Our country! In her intercourse with foreign nations may she always be in the right; but our country, right or wrong!”

Dit is eerder jingoïsme: dweepsieke, nasionalistiese chauvinisme.

(Waar kom die woord jingo vandaan? Die woord self is in ou Engels ’n eufemisme vir Jesus, maar die moderne gebruik kom uit ’n gewilde liedjie wat daar in 1880 rond gesing is om Britse aggressie teen Rusland aan te wakker: “We don’t want to fight, but by Jingo! if we do, we’ve got the ships, we’ve got the men, we’ve got the money too.”)

My patriotisme is eerder vaderlandsliefde, lojaliteit en toegewydheid teenoor die mense van die land van my geboorte.

My eie siening is nader aan dié van die welsprekende Amerikaanse senator Carl Schurz, wat die slagkreet in 1871 effens gewysig het: “My country, right or wrong; if right, to be kept right; and if wrong, to be set right.”

My patriotisme is eerder vaderlandsliefde, lojaliteit en toegewydheid teenoor die mense van die land van my geboorte.

Hoekom vaderlandsliefde en nie moederlandsliefde nie? Die Franse en Spanjaarde praat tog van die moederland en die Russe verwys na Moeder Rusland. Afrikaans volg die Germaanse voorbeeld, soos in Duits, Nederlands en Noorweegs.

Die woord “patriotisme” se wortel is die Latynse pater (vader) en patria beteken dan vaderland. Die Grieks patriotes verwys na ’n landgenoot.

Miskien moet ek myself eerder ’n moederlandsliewende noem.

Soldate word in die geskiedenis as die voorste patriotte gesien. Die oeroue Latynse spreuk lui dan ook dulce et decorum est pro patria mori (dit is soet en reg om vir jou land te sterf).

Magnus Malan en Kie het vele Pro Patria-medaljes om soldate se nekke gehang wat op “die grens” teen swart landgenote en vryheidsvegters van buurstate geveg het of binnelands op ANC-aktiviste jag gemaak het.

Umkhonto we Sizwe en Swapo het hulle soldate ook patriotte genoem.

Net voor die MK-vegter Solomon Mahlangu op 6 April 1979 as “terroris” gehang is, het hy gesê: “Tell my people that I love them and that they must continue the fight; my blood will nourish the tree that will bear the fruits of freedom.” Hy word deur die ANC as een van ons land se grootste patriotte geëer.

Ek dwaal af, soos ek graag op ’n Sondagmiddag doen.

My emosionele reaksie by die aanhoor van ons nasionale lied (as die strofes uit Die Stem begin, hou ek op sing en gaan sit) laat my telkens wonder wat dié sentiment beteken.

Ek het in my lewe al baie tyd in baie lande op al die vastelande (buiten Antarktika) en groot eilande deurgebring. Daar is nie een nasie waar ek nie wonderlike mense en kulture teëgekom het nie. Ek het geen renons in enige ander nasionaliteit nie. (Ek het selfs Saterdag so op my eentjie hande geklap vir die briljante rugby wat die All Blacks gespeel het, al het ek die Springbokke se nederlaag pynlik gevind.)

Maar ek is nogal ’n vurige en trotse Suid-Afrikaner. Ek reageer skerp as mense my land beledig of verkleineer.

Ek vermoed as iemand sy/haar eie land (let wel, nie regering of staatsbestel nie) minag, is dit meer ’n refleksie op dié persoon as op die land.

Ek neem nie my twee vriende (of enigiemand anders) kwalik wat nou emigreer nie. Die een het ’n baie senior internasionale pos gekry en die ander een is bang vir sy kinders se veiligheid en wil hulle aan Europese universiteite laat studeer.

Ek dink nie dit is outomaties “onpatrioties” om Suid-Afrika te wil verlaat nie. Dit is van die vroegste tye in die mens se natuur om te wil swerf. As dit nie so was nie, sou alle lede van die spesie Homo sapiens nog in Afrika gebly het, sou my vroeë Franse, Duitse en Hollandse voorsate nie meer as 300 jaar gelede na die suidpunt getrek het nie, sou Amerika nie vandag ’n supermoondheid gewees het nie.

Dit is baiekeer die dapperstes en avontuurlustigstes wat emigreer, want dit vat nogal guts. Van die beste talent in plekke soos Noord-Amerika en Brittanje is eerste- of tweedegeslag-immigrante – soos Brittanje se eerste minister.

As ek regtig gedink het Suid-Afrika is gedoem en ek en my gesin het geen toekoms hier nie, sou ek dit seker ook oorweeg het. Ek glo dit vir geen oomblik nie, en ek is g’n Pollyanna nie.

Ek het 14 jaar gelede ’n baie aanloklike aanbod van ’n pos in Nederland van die hand gewys, sonder om veel daaroor na te dink.

My baie persoonlike gevoel hieroor is in my sterk bewussyn van geskiedenis gewortel.

My Europese voorsate alhier was slawe-eienaars en gronddiewe, en in die geval van die Kruger-kant, ook voorste uitwissers van Boesmans in die Tankwa-Karoo.

Maar ek het ook die bloed van slawe uit Oos-Asië en van die Khoekhoen in my are.

Dit voel so half vir my as ek nou sou oppak en trek, wys ek ’n middelvinger vir die geskiedenis.

My Afrikaner-voorvaders het baie en verskriklike onregte gepleeg, maar hulle het ook op soms indrukwekkende maniere ons land ontwikkel en opgebou.

Dit voel so half vir my as ek nou sou oppak en trek, wys ek ’n middelvinger vir die geskiedenis.

Ek noem myself twee keer na my vasteland: Afrikaner en Afrikaan.

Ek het in my 2009-memoires, Dwars (die Engelse titel is Pale Native), geskryf: “As jy ’n 50 jaar oue kameeldoringboom wil uithaal en elders oorplant, sal dit beslis stadigaan kwyn en uiteindelik vrek.”

Ek het van my destydse bergplaas in die Oos-Vrystaat af geskryf dat ek nie ’n bywoner of halfgebakte setlaar is nie, maar inheems is: “Die energie wat ek hier op die berg deur my voetsole voel bruis, sê vir my wie ek is. Die oeroue berge en valleie om my fluister vir my dat ek is waar ek behoort te wees. Kragte veel sterker as grootbek-politici en my eie vrese en onsekerhede het my nou juis hier geplaas. Ek is wie ek behoort te wees en ek is waar ek behoort te wees. Dis nie ’n straf nie, dis ’n voorreg.”

Plus: Jy kan mos nie soveel geraas gemaak en kak aangejaag het soos ek in die jare voor (en ná) 1994 en dan die pad vat as die bestel waarvoor jy baklei het, begin skeefloop nie?

Of hoe sê ek?

Groetnis van huis tot huis.

A luta continua.

Max


Oregon State Hospital

Wandering in the museum
I came across a woman’s story.

Let us conjure her up
in the form of a fist.

First, they knocked her head
and they said, Tsk-tsk.

Next, they zapped her
and they said, Huh.

Next, they shone lights in her face
and they said, Phooey.

Finally, they bored a hole here
and another here.

Her head tilted gently to the side
and they said, Aha.

– Roberto Cabrera


Image: ANGELA TUCK

Hier is 'n gesprek wat jy beslis nie wil misloop nie! Kom luister na Max en Antjie wat 'n hond uit 'n bos praat oor hulle jeugjare, Kroonstad en die Waarheid-en-versoeningskommissie. Skuur skouers met legendes by ons eerste VWB-Clarens-boekefees. Het jy al verblyf bespreek? Koop jou naweekkaartjie teen R600 of koop 'n paar kaartjies teen R90 per gesprek. Kaartjies by Quicket.

Hier is die volledige, opwindende program.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.