Soms is goeie wheel bearings al wat nodig is vir ’n kampioen...

WOENSDAG MET WILLEM

Soms is goeie wheel bearings al wat nodig is vir ’n kampioen van Afrika

WILLEM KEMPEN vertel die storie van sammajoor Von Münchhausen en die Mirage met net twee wiele (en meen ook Enoch Godongwana het sy eie party presies reg hanteer). Soos altyd is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 19 Julie 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre


1. Pres. Cyril Ramaphosa het in 'n beëdigde verklaring aan die hooggeregshof in Gauteng gesê vir Suid-Afrika om Vladimir Putin in hegtenis te neem indien hy volgende maand vir die Brics-beraad hierheen reis, sou 'n “oorlogsverklaring" teen Rusland wees. Die DA het die hof gevra om die regering te dwing om Putin in hegtenis te neem, en betoë word eers Vrydag aangehoor. Die hof het wel gister reeds beslis dat die regering se reaksie op die DA se aansoek openbaar gemaak moet word, wat Ramaphosa se beëdigde verklaring insluit.

2. Die AA voorsien hoër brandstofpryse in Augustus, het eNCA berig. Dié voorspelling is gegrond op voorlopige data van die Sentrale Energiefonds, wat internasionale oliepryse en die waarde van die rand in berekening neem.

3. Die Suid-Afrikaner dr. Graham Dickason het “herhaaldelik gegil" nadat hy sy drie kinders gevind het wat in hulle beddens by hulle huis in Timaru, Nieu-Seeland, vermoor is, na bewering deur sy vrou, die kinders se ma, Lauren Dickason. Graham Dickason het die tweede dag van die verhoor in Nieu-Seeland gister virtueel vanuit Pretoria bygewoon.

4. 'n Derde groep Suid-Afrikaanse brandbestryders het gister na Kanada vertrek om te help in die stryd teen die vernietigende veldbrande daar.

5. ’n Vlieënier van British Airways wat glo met ’n vuurwapen aangehou en met 'n mes gesteek is terwyl hy Vrydag buite Melrose Arch in Johannesburg saam met ’n kollega gedraf het, is terug na Brittanje gestuur. Die kollega het saam met hom teruggekeer, het die lugdiens aan News24 bevestig, hoewel die polisie in Gauteng sê geen so 'n voorval is aangemeld nie.

6. Die Valke het ’n 49-jarige man wat van Mosambiek af op pad was, Sondag in Mpumalanga in hegtenis geneem nadat versteekte heroïen met 'n straatwaarde van sowat R75 miljoen in sy vragmotor gevind is.

7. 'n Amerikaanse toeris wat “per ongeluk" die grens tussen die twee Koreas na die noorde oorgesteek het terwyl hy op 'n toer was, word waarskynlik in Noord-Korea aangehou, het Reuters berig.


Waar dit nie vandag in die Kaapprovinsies sneeu nie, kan dit moontlik reën, maar dit gaan ongetwyfeld koud wees. Gauteng en Noordwes kan sonnige weer verwag. Limpopo en die Vrystaat is deels bewolk. Mpumalanga kan ligte reën in sommige gebiede verwag en miskolle langs die platorand. KwaZulu-Natal is deels bewolk met moontlike geïsoleerde buie later.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 23°C • Mahikeng 23°C • Mbombela 27°C • Bloemfontein 19°C • Polokwane 25°C • Kimberley 18°C • Upington 18°C • Kaapstad 13°C • Gqeberha 17°C • Oos-Londen 16°C • Durban 21°C.


Willem Kempen | Hou in julle baan, sê minister vir sy eie party

Enoch Godongwana, minister van finansies, het weer gewys dat hy een van die blinker ligte in die kabinet is deur hom klaarblyklik nie te steur aan versoeke deur die ANC dat hy met die Reserwebank “samesprekings" voer oor die land se amptelike uitleenkoers nie.

Selfs in gevorderde ekonomieë is daar maar altyd 'n mate van spanning tussen die regering en die regerende party aan die een kant, en die sentrale bank aan die ander, want hulle opdragte (of dan mandaat) is dikwels op kort termyn teenstrydig. Dis in Suid-Afrika ook nou weer die geval. In die ANC en elders gaan vele stemme op dat die Reserwebank nie soos wat verwag word wéér môre die rentekoers moet opstoot nie. Hoë rentekoerse help nie as jy 'n verkiesing het om te wen nie, maar op langer termyn is dit belangriker dat die ruilwaarde van die rand en inflasie so stabiel moontlik gehou moet word.

Dié debat is nodig en gesond en die Reserwebank moet luister wat daaroor gesê word, maar uiteindelik berus die besluit daaroor by niemand anders nie; nie by die regering nie en beslis ook nie by die regerende party nie.

Die ANC weet baie goed dit was 'n onbehoorlike versoek Sondag aan Godongwana dat hy met die Reserwebank praat oor maniere om die stygende lewenskoste te bestry op “'n ánder manier as om rentekoerse te verhoog". Volpunte dus aan die minister dat hy gister gesê het hy “is nie in gesprek met die sentrale bank oor daardie saak nie”. Dis 'n beleefde manier om vir sy eie party te sê: Hou in julle baan.

Godongwana en Lesetja Kganyago as president van die Reserwebank is in elk geval gereeld in gesprek, want die Grondwet skryf konsultasie voor – maar Kganyago sou enigiets meer as dit waarskynlik van die hand gewys het, net soos hy in die verlede ook druk van die regering weerstaan het.


Die keer toe Laboesjaan die Mirage se noodlanding laat werk het

Met die aanloopbaan reeds in die verte in sig, werk lt. Rocco de Wet soos altyd deur die stiplys om sy Dassault Mirage III vir 'n suksesvolle landing in te bring. Alles is in orde, totdat hy die onderstel wil laat sak. Die twee agterste wiele kom uit en sluit in posisie soos dit hoort, maar 'n waarskuwingsliggie in die kajuit wys dat die voorwiel steeds opgetrek is.

Dis nie die eerste keer dat die Mirage dié laai uithaal nie, en De Wet is dus nie dadelik bekommerd nie. Hy trek weer die onderstel in, en laat dit dan weer sak. Maar nee, selfde storie. Probeer nog 'n paar keer, sonder sukses. Hy gaan weer deur al die prosedures om seker te maak sy lugspoed is nie dalk nog te hoog nie, of dat hy iets anders gemis het. Steeds verseg die voorwiel om uit te kom, of minstens is dit wat sy instrumente vir hom sê.

Tyd om die noodprosedure in werking te stel, en De Wet laat weet die beheertoring van sy probleem.

Die toring laat weet: Doen 'n lae verbyvlug met jou onderstel uit sodat ons 'n visuele inspeksie kan doen om seker te maak daar is wel 'n probleem en dis nie net 'n fout met die instrumentasie nie.

'n Paar minute later laat dreun De Wet die Mirage so stadig as wat hy kan verby die toring, wat dadelik bevestig: Ons kan jou agterwiele sien, maar nie die voorwiel nie.

De Wet weet onmiddellik: Dis sulke tyd. Al opsie is 'n noodlanding met die onderstel opgetrek, want met slegs die agterwiele uit gaan die vliegtuig se neus dadelik in die grond duik die oomblik dat hy neerstryk.

Maar in die beheertoring besef sammajoor Lourens “Spekkies" Labuschagne – hy dring aan op die uitspraak “Laboesjaan" – daar is ook 'n ander opsie. Daar móét wees, want die kans is skraal dat De Wet 'n noodlanding sal oorleef. Met sy kalmste stem klim hy op die radio en sê vir die vlieënier wat sy plan is.

“Is. Jy. Van. Jou. Fokken. Kop. Af?" is De Wet se eerste reaksie, maar Spekkies laat hom nie afsit nie: “Het jy 'n beter idee, luitenant?"

De Wet is hierdie kant toe en daardie kant toe, en vra herhaaldelik of Labuschagne verstaan dat sy eie lewe ook met dié plan in gevaar is. Ja, sê Spekkies, hy verstaan dit maar te goed, maar hy is bereid om dit te waag. Dit kan nie anders nie.

'n Goeie 20 minute later, terwyl die Mirage steeds sirkels om die aanloopbaan vlieg en De Wet oor en oor kyk of die voorwiel nie tóg wil uitkom nie, stap Labuschagne met die radio oor sy skouer na waar sy bakkie 'n entjie van die beheertoring af geparkeer staan. Dis sy trots en sy kosbaarste besitting: Stouterd, sy roomkleurige 1978-model Nissan 1400, onberispelik skoon en beslaan met die nuutste Smith's Pro-White-wiele. Die Kanniedood, die Kampioen van Afrika.

Image: ANGELA TUCK

“Vandag gaan ons hulle wys, Pappie, vandag gaan ons hulle wys," fluister Spekkies in Stouterd se kantspieëltjie. Hy klim in en skakel die enjin aan, ry dan stadig verby die brandweerwaens wat nou reeds langs die aanloopbaan gereed staan. Hy sien uit die hoek van sy oog hoe van die brandweermanne vir hom hande klap, maar sy fokus is nou net op die taak wat voorlê.

Hy bring die bakkie tot stilstand aan die begin van die aanloopbaan en laat weet vir De Wet oor die radio: “Ek is in posisie, luitenant."

“As hierdie ding werk, is jy 'n hero, Spekkies, antwoord De Wet. “Ek kom nou in vir die landing. Jy kan wegtrek."

Die bakkie begin beweeg langs die aanloopbaan af. Deur die ratte tot in vierde, dan vyfde totdat Stouterd op sy vinnigste voortsnel. In sy truspieëltjie hou Labuschagne die naderende Mirage fyn dop; op net die regte oomblik haal hy vir Stouterd uit rat uit en hou dan die stuurwiel so styf vas as wat hy kan.

Met die voortsnellende Nissan nou net 'n paar honderd meter voor hom, sit De Wet eers die Mirage se agterwiele neer voor hy geleidelik ook die vliegtuig se neus laat sak. Hy verminder soveel spoed as wat hy kan teen die tyd dat hy die bakkie inhaal, laat sak dan die voorkant sta-a-a-a-dig totdat dit op Stouterd se bak tot rus kom.

'n Landende straalvegter op sy stadigste is nog steeds dramaties vinniger as 'n Kanniedood op topspoed, en dit vat al die sammajoor se bestuursvernuf om sy voertuig se wiele reguit te hou terwyl die vliegtuig se gewig nog boonop die bakkie se wielboë tot gevaarlik naby aan die tollende bande druk. En die einde van die aanloopbaan kom steeds heeltyd nader.

Labuschagne weet van beter as om die Nissan se remme te probeer gebruik, en laat dit aan De Wet oor om die twee voertuie saam geleidelik tot stilstand te bring, slegs meters van waar die teer van die aanloopbaan ophou.

Terwyl die straalmotore van die Mirage nog oorverdowend in sy ore raas, skakel Spekkies sy enjin af, klim uit en begin inspekteer die  voertuig vir skade.

En toe die eerste brandweerman by hom uitkom, wys hy trots na die bakkie se een voorwiel en sê:

“Wragtag, daai bearings makeer nog fokkol!"

* Hierdie verhaal is jare gelede as die reine waarheid aan my oorvertel, en ek het geen rede om 'n woord daarvan te betwyfel afgesien van die Münchhausiaanse sammajoor se pynlike rendisie van “Rhinestone Cowboy" wat ek by geleentheid moes aanhoor nie. Die rolspelers se name is wel fiktief.


Snow Globe of Denver

where disabled activists lived and loved
and fucked and fought and fucked again
after fighting and made all the public buses

across the nation accessible and were
arrested and were arrested again
this time for asking the question 

“May we speak to Senator Gardner?”
and were jailed for three days and three nights
and we stayed for three days and three nights 

and I was so in love with your brain
and we scissored and ate popsicles at dawn
and I lazed in the hotel bc you had work to do

important work, more important than —
damn, I have not forgiven you.

– The Cyborg Jillian Weise


Image: ANGELA TUCK

Oormôre kuier ons in Clarens, gestewel en gejas, en gesels kopstukke en boekdele. Hier is al die deelnemers wat wag om jou te vermaak – 'n versameling begaafde individue. Kom klink 'n glasie op ons skrywers. Kliek hier om kaartjies te bespreek.

En hier is die volledige program.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.