Ware vriende doen nie súlke dinge nie

DONDERDAG MET MERCY

Ware vriende doen nie súlke dinge nie

WILLEM KEMPEN hoop die president hou op om aan Vladimir Putin as ’n vriend van Suid-Afrika te dink, en MERCY KANNEMEYER sê die toekoms is in óns hande. Soos gewoonlik is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 20 Julie 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Eskom het fase 4-beurtkrag heringestel vanaf gistermiddag 16:00 tot 05:00 vanoggend, en daarna weer fase 3 tot 16:00 vanmiddag, nadat agt opwekkingseenhede glo weer onklaar geraak het.

2. Gebaretaal is nou amptelik Suid-Afrika se 12de landstaal nadat pres. Cyril Ramaphosa gister die wet onderteken het wat dit bekragtig. Hy het om verskoning gevra dat die proses so lank gesloer het.

3. Die DA het klagte ingevolge die Wet op die Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terrorisme en Verwante Aktiwiteite ingedien in verband met die 21 vragmotors wat die afgelope weke in Mpumalanga, Gauteng en KZN aan die brand gesteek is.

4. Die eThekwini-munisipaliteit het meer as 'n halfbiljoen rand se tenders toegeken aan die omstrede sakeman Hlenga Sibisi, 'n bondgenoot van oudburgemeester Zandile Gumede en 'n medebeskuldigde in haar R320 miljoen-korrupsiesaak, nádat hy reeds aangekla was, het eNCA berig.

5. Krieket Suid-Afrika hoop steeds om 'n oplossing te vind vir die botsende skedules van volgende jaar se toetsreeks teen Nieu-Seeland en die plaaslike SA20-reeks, het die organisasie se uitvoerende hoof, Pholetsi Moseki, gister gesê.

6. Opposisiegroepe sê Zimbabwe se Criminal Law Codification and Reform Amendment Bill, wat deur pres. Emmerson Mnangagwa bekragtig is, is ongrondwetlik en kwaadwillig. Die nuwe wet voorsien onder meer strafmaatreëls vir Zimbabwiërs wat 'n negatiewe beeld van hulle land uitdra. Zimbabwe se presidensiële en parlementêre verkiesings vind op 23 Augustus plaas.

7. Donald Trump sê hy is “not frightened" deur die derde moontlike reeks strafregtelike aanklagte teen hom. Trump het vroeër onthul dat hy 'n brief van die spesiale aanklaer Jack Smith ontvang het waarin hy meegedeel is dat hy “die teiken" is van 'n voorverhoor oor pogings om die uitslag van die 2020-presidentsverkiesings te ondermyn.


Sneeu en reën word oor dele van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verwag. Geïsoleerde buie en koue toestande word oor die grootste deel van die binneland verwag. Die Kaapprovinsies sal ook vandag deels bewolk en meestal koud wees.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 20°C • Johannesburg 18°C • Mahikeng 19°C • Mbombela 17°C • Kaapstad 15°C • Durban 16°C • Kimberley 14°C • Bloemfontein 16°C • Polokwane 21°C • Upington 17°C • Gqeberha 15°C • Oos-Londen 12°C.


Willem Kempen | Met vriende soos Putin

Cyril Ramaphosa kan gerus ophou klou aan die idee dat Vladimir Putin ’n vriend van Suid-Afrika is.

’n Ware vriend hoef nie maande lank gesmeek te word om nie jou land te kom besoek nie sodat jy ’n diplomatieke verleentheid kan vermy. ’n Ware vriend laat jou nie voel jy “verklaar oorlog” teen hom as jy hou by die aanvaarde reëls nie. ’n Ware vriend besef watter gevoelige slag dit vir miljoene mense hier en elders op die vasteland is om te onttrek aan die ooreenkoms wat volgehoue graan- en kunsmisuitvoere via die Swartsee moontlik gemaak het terwyl die oorlog in Oekraïne woed.

Ramaphosa se kantoor het gister uiteindelik aangekondig dat Putin ingevolge ’n “wedersydse ooreenkoms” nie volgende maand se Brics-beraad in Suid-Afrika persoonlik sal bywoon nie. Uit die verklarings wat uitgereik is nadat Ramaphosa en Putin Saterdag telefonies oor die beraad gepraat het, blyk egter nie veel sprake van eensgesindheid nie. Vrydag het adj.pres. Paul Mashatile, voorsitter van die komitee wat deur Ramaphosa aangewys is om die kwessie te hanteer, erken dat die Russe “nie gelukkig” is dat Putin tuis moet bly nie: “Hulle wil hê hy moet kom.”

Wel, nou kom hy inderdaad nie meer nie. En die lomp hantering van die hele sage van die begin af beteken Suid-Afrika se verhouding met die Weste én met Putin se Rusland het ’n knou gekry. Net mooi niemand het gewen nie. Die VN het trouens gister gewaarsku dat die einde van die Swartsee-ooreenkoms veral in Afrika en Asië tot stygende lewenskoste en hongersnood kan lei. Rusland is onversetlik dat die ooreenkoms net kan herleef as aan sy eise voldoen word om sy eie uitvoer van voedsel en kunsmis te vergemaklik.

Ramaphosa het ook niks om te wys vir sy kamtige vredesinisiatiewe nie. Genl. Mark Milley, voorsitter van die Amerikaanse weermag se gesamentlike stafhoofde, het gister volgens Reuters oor die oorlog gesê: “I think there’s a lot of fighting left to go, and I’ll stay with what we said before: This is going to be long. It’s going to be hard. It’s going to be bloody.”


Image: ANGELA TUCK

Die toekoms lê in jóú hande – ja, joune!

Het julle vandeesweek julle 67 minute van liefdadigheid in die naam van Nelson Mandela gedoen? Iets vreemds was aan die gang hierdie Mandela-dag. Gewoonlik is 18 Julie gevul met foto’s en video’s van sopkombuise, toebroodjies, klerebanke, rommel wat opgetel word, strate wat gepolitoer word, geboue wat nuwe lae verf kry en dies meer. Maar vanjaar was hierdie gebeure minder sigbaar. Ek is seker daar is nog daai paar goeie Samaritane wat hulle landsplig voltooi het. Ongelukkig het dit my laatmiddag bygeval dat dit 18 Julie was …

Vir diegene wat soos ek nie geweet het wat om op hierdie dag te doen nie, Daily Maverick bied ’n omvattende lys van liefdadigheidsorganisasies of instansies waar jy betrokke kan raak. Hulle skryf onder meer dat jy ’n skoonmaakdag in jou gemeenskap kan reël, broodjies vir haweloses kan uitdeel, bloed skenk, of ’n bed vir iemand in ’n shelter kan koop.

Image: ANGELA TUCK

Die tema vir vanjaar se Mandela-dag was “it is in your hands”. Heelwat gepas, veral hier naby aan die verkiesing. Die toekoms van ons land lê in gewone burgers se hande. Die gewone burgers wat uit hulle eie uit ’n goeie daad sal doen.

Adj.pres. (toekomstige president dalk?) Paul Mashatile was glo Dinsdag heelwat besig in Soweto met sy Mandela-dagaktiwiteite. Mashatile het ook, volgens EWN, gesê elke dag moet ’n liefdadigheidsdag wees. Ons moet nie vir een dag uit die jaar uit wag om goeie dade vir ons medemens te doen nie. Hy klink nou soos daai mense wat pessimisties is oor Valentynsdag: “Elke dag is liefdesdag bla bla bla.”

Oor die algemeen ervaar ek dat daar ’n mate van politieke ontnugtering onder menige Suid-Afrikaner heers. Dis natuurlik nie nodig om hier alles te lys wat nié in hierdie land van ons werk nie. Regdeur die bank voel landsburgers dit aan hulle basse en hulle beursies. Dis ’n goeie ding.

Dis hoog tyd dat die klappe van ons almal se oë afval sodat ons ingeligte besluite by die stembus kan neem. In hierdie stadium – ek moet bieg – het ek steeds geen idee vir wie ek gaan stem nie. Dit kan vir seker nie die ANC wees nie, want – ongeag enige gevoelens oor Mandela – dis nie meer dieselfde party wat vir vryheid, gelykheid en regverdigheid geveg het nie. Aan die opposisiekant van sake lyk dit asof die DA net alles wat die ANC verkeerd doen, uitwys sonder om wérklik iets te doen. Die ACDP is homofobies. Die PA is xenofobies. Almal is iets! So, vir wie stem ’n mens? Dit voel asof ons maar sal moet kies tussen the lesser of several evils.

Op daardie sombere noot, tot volgende keer. Ek sal bietjie gaan dink oor vir wie ’n mens kan stem en volgende week aan julle terugrapporteer.

Mooi bly
MK (dit staan vir Mercy Kannemeyer, nie uMkhonto we Sizwe nie)


OM HEEL TE WORD

Openbaring 6

ek het vanaand gaan loop
wind-af
verby die botsing in Maitland
verby die prediker op Hoffmanplein
verby die 10c maan teen Navalhill
en daar was weerlig in die noorde

en 'n wit perd

– Antjie Krog

(Uit: Januarie-suite)


Dit behoort op jou emmerskoplys te wees: om Antjie Krog wat haar verse voorlees, minstens een maal te beleef. Daarna is sy in gesprek met ons redakteur, Max du Preez. Dis 'n ervaring waarvoor jy die koue kan trotseer. Kom ons raak hoenderkop op digkuns en skink 'n dop op letterkunde. Koop sommer nou jou naweekkaartjie vir Vrye Weekblad se Clarens-boekefees teen R600, of kaartjies vir hierdie en enige ander gesprek teen R90 elk.

Hier is die volledige program.

Bespreek nou jou naweekkaartjie teen R600 by Quicket.

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.