Kom ons sit álles op die tafel en maak hierdie ding werk

MAANDAG MET MAX

Kom ons sit álles op die tafel en maak hierdie ding werk

MAX DU PREEZ sê dis nie nou die tyd om oorsensitief te wees nie, en deel opwindende nuus oor VWB 3.0. Soos gewoonlik is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 24 Julie 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiedag!

1. Banyana Banyana glo steeds hulle kan nog die volgende ronde van 16 spanne haal nadat hulle hul openingswedstryd in Groep G in die Wêreldbekertoernooi in Wellington, Nieu-Seeland, met 2-1 teen die veel meer gerekende Swede verloor het, het Desiree Ellis, die Suid-Afrikaners se afrigter, gister gesê. 

2. Agt vermeende lede van die polisie se BBP-beskermingseenheid wat vroeër vandeesmaand afgeneem is waar hulle motoriste op die N1-hoofweg in Johannesburg aangerand het, sou gister formeel aangekla word en sal vandag in die Randburgse landdroshof verskyn.

3. Spanjaarde het gister gaan stem in 'n algemene verkiesing wat 'n nederlaag vir premier Pedro Sanchez se regerende Sosialiste kan inhou. Meningspeilings toon dat Alberto Núñez Feijóo se sentrum-regse Partido Popular (volksparty) die beste kan vaar, maar 'n koalisie sal moet aangaan met Santiago Abascal se verregse Vox om 'n regering te kan vorm. As dit wel gebeur, sal dit die eerste keer wees dat 'n verregse party deel van 'n Spaanse regering uitmaak sedert Francisco Franco se diktatuur in die 1970's geëindig het.

4. 'n Hoëvlak- Suid-Afrikaanse afvaardiging het sedert Maart nie minder nie as 97 keer met verteenwoordigers van die Internasionale Strafhof (ISH) vergader om 'n uitweg te vind uit die verpligting om Vladimir Putin in hegtenis te neem as hy hierheen sou reis, het City Press berig. Putin het verlede week oplaas aangekondig dat hy nie self die Brics-beraad in Johannesburg gaan bywoon nie.

5. Konflik het gister nogmaals opgevlam op die 100ste dag van die oorlog in dele van Soedan, wat ondanks bemiddeling deur verskeie streeks- en internasionale moondhede steeds voortduur. Meer as 3 miljoen mense is volgens Reuters al deur die oorlog ontwortel, insluitend meer as 700 000 mense wat na buurlande gevlug het.

6. Meer as 19 000 mense, baie van hulle buitelandse toeriste, is uit huise en hotelle op die Griekse eiland Rhodes ontruim nadat veldbrande verwoesting gesaai het te midde van die versengende hitte in groot dele van Europa.

7. Die swaarste reën in meer as 50 jaar in die Kanadese provinsie Nova Scotia het vloede veroorsaak wat “ondenkbare” skade aangerig het, het Reuters berig. Die storm het Vrydag begin en in net 24 uur meer as 25 cm reën in sommige dele laat val – normaalweg die ekwivalent van drie maande se neerslae.


Mpumalanga is deels bewolk in die ooste. Oggendmiskolle in Limpopo, die Noord- en die Wes-Kaap. Geïsoleerde buie word in dele van die Oos-Kaap verwag en verspreide buie in KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 23°C • Johannesburg 23°C • Mahikeng 26°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 15°C • Durban 17°C • Kimberley 18°C • Bloemfontein 18°C • Polokwane 27°C • Upington 21°C • Gqeberha 16°C • Oos-Londen 18°C.


Max du Preez | Afrika moet ophou om agter die noorde aan te hol

As Suid-Afrika en die res van Afrika vir die res van die wêreld wil wys dat hulle ’n eie stem in internasionale sake het en dat na dié stem geluister behoort te word, moet hulle die suggestie van Volodymyr Zelensky, president van Oekraïne, dat hy hier op die vasteland met Afrikane oor die oorlog en vrede in sy land wil gesels, ernstig opneem en so ’n ontmoeting reël.

Afrika-leiers trek in die komende week weer na Rusland op vir ’n beraad oor onder meer globale verandering, beleggings en postkolonialisme.

Dit is nou dieselfde gasheerland wat ’n soewereine buurstaat onwettig binnegeval het, van oorlogsmisdade aangekla staan en ’n voedselkrisis in die globale suide ontketen het.

Ek stem heelhartig saam met wat Mondli Makhanya, redakteur van City Press, gister geskryf het: “Why are African leaders so content with being summoned to foreign capitals and being treated by their peers as a visiting school group?”

Makhanya skryf dat daar gereeld bilaterale spitsberade gehou word waar Afrika deur Amerika, China, die VSA en Brittanje genooi is.

“Imagine if the president of South Africa invited all the leaders of Asia to Pretoria to make deals with them as a collective. Or if the president of Nigeria summoned European heads of state to Abuja as a collective,” skryf hy.

Zelensky het verlede week tydens ’n ontmoeting met ’n groep joernaliste uit Afrika gesê hy stel ’n ontmoeting met Afrika-staatshoofde in Afrika voor.

“Because it is important for the societies of your countries to see us, listen to us – hear us, I mean hear – and be able to ask questions and get answers, talking then analysing what is happening.”

So ’n uitnodiging gaan Afrika nooit van Vladimir Putin kry nie.

Zelensky het ook die mite uitgewys dat Afrika Rusland skuld weens die steun van die destydse Sowjetunie. Oekraïne was een van die lidlande van die Sowjetunie, en baie Afrika-studente het daar gestudeer of is daar opgelei. Oekraïne het ’n sterk verhouding met Afrika, insluitende die ANC in Suid-Afrika, gehad.

’n Beraad in Afrika oor die oorlog in Oekraïne, en Rusland se blokkering van graan en kunsmis vir uitvoer na onder meer Afrika, sou ’n goeie begin wees as Afrika haarself meer op die internasionale terrein wil laat geld.

Weer Makhanya: “They will argue that their collective secures better deals than if they were to go as individuals. But it is an admission of inferiority. And it is humiliating.”

Spyker op die kop, Mondli.


Reguit praat en politieke selfbewustheid

Ek skryf dié brief van Clarens in die yskoue Vrystaat af waar ons pas ’n heerlike, baie suksesvolle boekefees gehou het.

Dit het my laat nadink oor wie en wat Vrye Weekblad nou eintlik is en waarheen ons gaan.

Ons het nie vir Kurt Darren of Nicholis Louw gehuur om by ons fees te sing nie. Ons het ook nie ’n biertent met sokkie-sokkie-boeredans aangebied nie.

Ons feeste – Stilbaai, Cullinan en nou Clarens – is gemik op Vrye Weekblad-lesers en potensiële lesers wat in boeke, skrywers en aktuele gesprekke belangstel.

Gister was daar ’n bespreking oor die ontwerp van boek-omslagte. By watter groot nasionale kunstefees in enige taal sou dit meer as 100 mense getrek en ’n lewendige gesprek ontlok het?

Ons rock star is nie Bok van Blerk nie. Dit is Antjie Krog.

Waar in Suid-Afrika – die wêreld – kry jy ’n geesdriftige, oorvol saal mense wat ’n gedigvoorlesing met ’n staande ovasie begroet?

Max du Preez en Antjie Krog gesels by VWB se Clarens-boekefees.
Max du Preez en Antjie Krog gesels by VWB se Clarens-boekefees.

Ons idee is om aan mense iets te gee wat ander nie aanbied nie. En mag ek byvoeg: die effens meer kieskeurige mense; mense wat nie net hulle vooroordele bevestig wil hê nie, wat kultureel dieper as TV-sepies en celebrity-skinder wil ploeg.

Dit is wat ons koerant ook probeer doen. Ek hoop julle lees almal Huisgenoot, Sarie en Netwerk24 of selfs Maroela Media, maar by ons kry jy ’n effens meer substantiewe dieet van betroubare inligting, ontleding, menings, boeke en leefstyl wat niemand anders op so ’n goed geskrewe en goed ontwerpte manier aanbied nie.

En ons het nie ’n internasionale korporasie of ’n drukgroep wat oor ons skouer loer nie.

Ons is soos daardie bottel onverwags goeie wyn wat jy ontdek het en nou hoef jy nie meer middelmatige bokswyn te drink nie.

Dit werk. Sedert ons 10 maande gelede op ons eie bene begin staan het, het Vrye Weekblad 3.0 beduidend gegroei; in die getal lesers, maar ook in aansien in die mark en die samelewing en in die gehalte van ons produk.

Daar is nou in die mediabedryf geen twyfel meer nie: Vrye Weekblad het sy staanplek gekry en is ’n gesaghebbende, vrye, nugter stem in ’n wêreld vol lawaai, disinformasie, propaganda, kulturele oorloë en vooroordeel. Dit is sonder twyfel ook ’n kommersieel lewensvatbare produk.

Ons het onlangs begin om ons volledige uitgawe ook in Engels beskikbaar te maak vir dié Suid-Afrikaners (en waarnemers van Suid-Afrika) wat nie Afrikaans kan lees nie. Dit werk ook.

Ons moes eers ons merk behoorlik maak en ons voetspoor verbreed, in Afrikaans en Engels, voor ons lesers kon vra om te betaal om Vrye Weekblad te lees.

Dié oomblik breek binnekort aan: in Oktober, wanneer Vrye Weekblad 3.0 sy eerste verjaardag vier. Ons sal in die weke wat kom, jou volledig daaroor inlig.

Ek kan net nou al sê ons hou die intekengeld so laag as moontlik – julle gaan verras wees dat ’n hele uitgawe minder as ’n cappuccino by jou geliefkoosde koffieplek gaan kos.

Maar ons gaan ook vir lesers die geleentheid gee om premium-intekenaars te word. Dit gaan ’n bietjie meer kos, maar bring ook vele ander voordele.

Vrye Weekblad word vandag nie net meer gelees deur ’n klompie mense wat hulleself as ‘progressief’ of dalk ‘linkserig’ beskou nie.

Vrye Weekblad 1.0 van die rowwe laat-80’s het ’n relatief klein maar toegewyde leserskorps gehad. Ons eerste aanlyn weergawe in 2019 het dié leserstal gesien groei, maar dit was 3.0 wat die deurbraak was, toe ons ’n eie houermaatskappy gestig het.

Vrye Weekblad word vandag nie net meer gelees deur ’n klompie mense wat hulleself as “progressief” of dalk “linkserig” beskou nie. Mense van oor die hele politieke, sosiale, kulturele en ekonomiese spektrum het ons as voorkeur-lees op Vrydae en naweke aangegryp. Ons het ook ’n groot aantal lesers in die diaspora.

Die lekker daarvan is dat ons redaksionele inhoud nou meer gereeld gekritiseer word, van “links” en van “regs”.

Ons verwelkom dit en publiseer graag dié kritiese menings.

Ek het al hier geskryf dat ons nie ideologies ingestel is nie; dat ons ’n markplein vir idees wil wees; dat ons geen ander agenda het nie as om in te lig, te help sin maak en te verryk. Moenie verbaas wees as jy stemme uit die Vryheidsfront Plus-, EFF-, Solidariteit- of ANC-kamp op ons blaaie raakloop nie.

Ons basiese beginsels wat vanaf Vrye Weekblad 1.0 in 1988 gegeld het, bly steeds ons DNS: menseregte en menswaardigheid, demokrasie, ’n oop gemeenskap, vrye spraak, skoon en verantwoordbare regering en ’n onverdraagsaamheid teenoor rassisme, seksisme en homofobie.

Maar die vele krisisse waarin ons land haar bevind, is te ernstig vir politieke korrektheid en oorversigtigheid. Dis tyd vir reguit praat; sit alles op die tafel en dink dan vir jouself.

Ons gaan nié, soos een leser ons dié week en verlede week aangeraai het, Cyril Ramaphosa se weeklikse elektroniese brief as ons handleiding gebruik oor hoe om ons land te verstaan nie.

Ek self gaan nié my teleurstelling in hom en sy party wegsteek omdat ek wit, Afrikaans, manlik en “progressief” is nie.

Ek verwag nie minder van Ramaphosa en die ANC omdat hulle swart is nie. Ek is daagliks bewus van die soft bigotry of low expectations.

En nee, swaer, ek het nie in my latere dekades skielik reaksionêr geword nie. Inteendeel, ek vind dat my denke vandag oper is, dat van my idees oor regstelling en gelykheid meer radikaal is as toe ek ’n angry young man en anti-apartheidaktivis was.

Ek kom ’n baie lang pad, so vier dekades al, saam met Ramaphosa en byna al sy senior ANC-kollegas en het steeds oop lyne van kommunikasie met die meeste van hulle.

Daarom is ek geseënd dat ek nie selfbewus hoef te wees om reguit te praat nie.

Ek kan ook nie anders nie.

Gegroet
Max


my ma in C-majeur

sy het net haar stem
wat uit haar hande sing
die nette stitch
do
re
mi
fa
never-ending
so
la
ti
do
sing sy uit haar hande
my ma laat my dink aan see-majeur
sonder sharps of flats
die maklikste die mooiste
omdat dit so skoon is
sy fluit die vis tot byt
haar vel gee ’n kernstemming op A vir die son
vir die golwe want haar seun fluit êrens
sy hoor sy do re mi fa woorde geskepe vir haar

– Jolyn Phillips

(Uit: Radbraak)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.