Silwer vir Tatjana, en ’n nuwe opsie vir enkelma’s

WOENSDAG MET WILLEM

Silwer vir Tatjana, en ’n nuwe opsie vir enkelma’s

WILLEM KEMPEN wonder of daar iets te leer is by 'n nuwe soort gesin wat in die VSA gewilder word, en ook of Afrika enigsins gaan baat vind by die beraad met Rusland wat môre in St. Petersburg begin. Soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 26 Julie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre


1. Tatjana Schoenmaker het Suid-Afrika se eerste medalje by die Wêreld- Akwatiese Spele in Fukuoka, Japan, verower deur tweede te eindig in die 100 m-borsslag vir vroue.

2. Nomaindiya Mfeketo, Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA, gaan in Augustus haar pos ontruim, meer as 'n jaar voordat haar geskeduleerde termyn sou eindig. Sy is glo ernstig siek.

3. Minstens vier mense is dood in 'n skietery by 'n taxistaanplek in Port Shepstone in KZN. Nog 'n persoon is in 'n kritieke toestand, en verskeie ander is stabiel. Die meeste van hulle het beserings opgedoen terwyl hulle probeer weghardloop het.

4. Die Türkiyiese maatskappy Karpowership het toestemming gekry om aansoek te doen vir omgewingsgoedkeuring vir twee skeepsgemonteerde kragsentrales in Suid-Afrika nadat Barbara Creecy, minister van omgewingsake, besware daarteen van die hand gewys het.

5. Shadrack Kojoana, een van die agt lede van die polisie se presidensiële beskermingsdienste wat op video vasgevang is waar hulle na bewering mense op die N1-hoofweg in Gauteng aangerand het, het Maandag getuig dat hy die een was wat 'n motoris uit 'n blou Volkswagen Polo getrek het. Hy het egter ontken dat die gebeure op 'n aanranding neerkom en sê hulle het gedink die Polo hou 'n bedreiging vir adj.pres. Paul Mashatile in.

6. Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, sê ongemagtigde stakings het dienste in die stad tot stilstand gebring. Munisipale kantore in Centurion is gesluit nadat werkers daar eergister begin staak het.

7. Jacques Nienaber het verskeie veranderinge aangebring aan die Springbokspan wat Argentinië Saterdag op Ellispark pak. Die agtsteman Duane Vermeulen is terug as kaptein om die Bokke te lei.


Gauteng, Limpopo en Mpumalanga is vandag deels bewolk. Buie kan in Bloemfontein en Kimberley verwag word. Die Wes-Kaap is meestal deels bewolk tot bewolk en buie kan ook in dele van die Oos-Kaap verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 21°C • Johannesburg 18°C • Mahikeng 19°C • Mbombela 19°C • Bloemfontein 23°C • Polokwane 19°C • Kimberley 25°C • Upington 24°C • Kaapstad 15°C • Gqeberha 23°C • Oos-Londen 24°C • Durban 25°C.


Willem Kempen | Skyn versus werklikheid oor Putin en Afrika

Die mantra van “Afrika-oplossings vir Afrika-probleme" gaan waarskynlik nie juis gehoor word by die tweede Rusland-Afrika-beraad wat van môre tot Sondag in St. Petersburg plaasvind nie. Die atmosfeer waarin die beraad plaasvind, herinner meer aan 'n koloniale heerser wat sy onderdane na sy paleis ontbied as aan 'n samekoms van gelykes met gedeelde belange.

Dis ook nie 'n verrassing dat die Russiese owerhede Maandag die akkreditasie van Daily Maverick se Peter Fabricius teruggetrek het om oor die beraad verslag te doen nie, nadat dit verlede week skriftelik goedgekeur is. Fabricius skryf gereeld oor die interne magspolitiek in die Kremlin, en spesifiek oor Putin se verhouding met Yevgeny Prigozhin, leier van die Wagner-groep, en die destabiliserende rol wat hulle telkens in Afrika speel.

So byvoorbeeld het Fabricius gister geskryf:

“Mercenary groups are officially prohibited in Russia and for many years Putin had denied that Wagner had any connections with the Kremlin. However, since the mutiny, Putin has claimed that Wagner had been financed by the defence ministry from the state budget.

“The upkeep of the entire Wagner Group was fully provided for by the state,” [Putin] announced, adding that the group had received 86 billion roubles (sowat R17 biljoen) in funding from state coffers just over the past year."

Putin het dus nou die skyn laat vaar dat die Wagner-groep in die verlede selfstandig van die Russiese Federasie opgetree het, en dus ook oor die groep se betrokkenheid – en vergrype – in verskeie Afrikalande, waaronder die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR), Mali en Libië. Die tipiese patroon is dat die Wagner-groep 'n diktatuur help om aan die bewind te bly in ruil vir 'n deel van die opbrengs uit mynbou en ander hoogs winsgewende bedrywighede. 

Nou lyk dit boonop of Alexander Lukashenko, president van Belo-Rusland en 'n bondgenoot van Putin sowel as Prigozhin, óók planne het om die Wagner-groep tot sy voordeel in te span. Belo-Rusland is reeds betrokke by Zimbabwiese goudmyne, en het ook sy oog op litiummyne daar.

En waar pas dit in die prentjie dat die “mediese vlugteling" Jacob Zuma, wat tans nog in Moskou is, klaarblyklik deesdae 'n raadslid is van die Belarus Africa Foreign Trade Association?

Olayinka Ajala, senior lektor in politiek en internasionale betrekkinge aan die Leeds Beckett-universiteit, skryf in The Conversation dat daar vyf dinge is wat die Afrikaleiers in St. Petersburg moet probeer regkry:

Eerstens, om met een stem te praat ondanks die verskille tussen hulle. Tweedens, hulle moet aandring op 'n alternatief vir die  betrokkenheid van private militêre kontrakteurs soos Wagner. Derdens moet hulle uitwys watter verwoestende effek duurder graan en kunsmis weens die einde van die Swartsee-ooreenkoms op verskeie Afrikalande se interne lewenskoste en politieke stabiliteit kan hê, en aandring op vergoeding vir Rusland se onttrekking aan die ooreenkoms. Vierdens moet die balans tussen invoer en uitvoer veel sterker in Afrika se guns geswaai word. En laastens moet Afrikalande vra vir spesifieke maatreëls om die impak van die oorlog in Oekraïne op hulle eie lande te verminder.

Die kans dat enige van hierdie dinge gaan gebeur, is maar skraal. Daarenteen kan Putin die beraad reeds as 'n sukses beskou: Hy kan die skyn van normaliteit en volgehoue Russiese invloed handhaaf, en hy kan steeds as 'n weldoener van Afrika gesien word.

Aan die werklikheid dat Rusland se betrokkenheid in Afrika hoofsaaklik tot voordeel van 'n bitter klein elite is, gaan die beraad niks verander nie. 


Deel ’n kar, deel ’n huis, deel sommer ’n ma of twee ook

'n Mens hoor gereeld een of ander wysneus verkondig “it takes a village" om 'n kind reg groot te maak, maar omtrent niemand van ons bly meer in 'n village nie, of hoe? En selfs al bly ons in iets wat kan deurgaan vir 'n village, sal dit 'n baie ander soort plek wees as die idilliese gemeenskappie wat mense hulle verbeel die voorbeeld moet wees van hoe dinge gedoen kan word.

Dalk bedoel mense met dié “village" eintlik 'n uitgebreide familie, in teenstelling met die taamlik moderne idee van 'n kerngesin met een ma en een pa en X aantal kinders wat onder een dak saamwoon. En as een of ander politikus van “family values" praat, is dit gewoonlik die kerngesin wat ter sprake is.

Image: © SHUTTERSTOCK

Maar dié soort huishouding is op min plekke nog die norm. Beslis nie in hierdie land nie. Ek het onlangs weer deur 'n klomp van die land se streekskoerante gewerk met die oog op die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste se jaarlikse toekennings. As mens op grond hiervan 'n tipiese Suid-Afrikaanse huishouding moet beskryf, dan bestaan dit waarskynlik uit iets soos 'n ouma en 'n ma en vier kinders wat saam in 'n shack bly, en waarvan die oudste reeds 'n baba van haar eie ook het. Die oupa is lank reeds oorlede, die pa werk ver weg iewers op 'n myn, of is werkloos en daag net een keer 'n maand in sy dronkenskap op om te kom deel in die maatskaplike toelaes wat dalk uitbetaal is. Minstens een van die huishouding is MIV-positief of het tuberkulose, minstens een van die vroue is al verkrag, en almal is al van iets beroof, gewoonlik 'n selfoon. Een of meer van hulle moet elke oomblik van die dag tuis wees om te probeer keer dat die bietjie wat daar is nie ook nog deur tsotsi's weggedra word nie.

Aan die ander kant van die werklikheid, in die verre VSA, is 'n nuwe soort gesin van 'n heel ander aard besig om baie gewild te word: sogenaamde “mommunes", waar twee of meer enkelma's 'n huishouding en die verantwoordelikhede deel van kinders versorg, rekeninge betaal, kos op die tafel kry, en mekaar ondersteun.

In die beste Amerikaanse tradisie het minstens een so 'n enkelma al hierin 'n geleentheid raakgesien. Carmel Boss het ná haar egskeiding ander vroue in 'n soortgelyke posisie as sy in 'n advertensie genooi om haar huishouding te kom deel, en nie minder nie as 17 enkelma's het daarop gereageer, het sy aan Maria Shriver van die Amerikaanse TV-program TODAY gesê. Sy het toe besluit om die res ook te help om die regte pasmaat te vind, en hieruit is die onderneming CoAbode begin.

Dis nie vreemd dat CoAbode oorval word met belangstelling nie, want daar is na raming sowat 15 miljoen enkelma's in die VSA, en almal soek na maniere om stygende lewenskostes te hanteer. Die organisasie se lede spaar glo gemiddeld 40% aan huishoudelike uitgawes wat gedeel kan word, en het gemiddeld 56 bykomende ure elke maand beskikbaar wat hulle nie vroeër gehad het nie. En dalk die belangrikste van alles is dat daar iemand anders onder dieselfde dak is wat volkome begrip het vir jou situasie. Alles van speelgoed vir die kinders tot by die huur van 'n oppasser of karweier skool toe kan gedeel word.

Nou wonder ek: Is daar iewers hierin dalk 'n model wat aangepas kan word om ook in die Suid-Afrikaanse werklikheid vir 'n klompie mense die lewe net 'n bietjie makliker te maak?


Vetplant

Meneer Buys van die Knersvlakte
kweek in sy vetplanthuis:
bababoudjies en kindervogeltjies,
ook ouvrou-se-stêre.
Hy pak kwartsklippertjies
wat die hitte terugblits
om die wortels te beskerm,
die nattigheid te bêre.

– Trienke Laurie

(Uit: Sonskyf)


♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.