Ons het helde en presteerders nodiger as ooit tevore

DONDERDAG MET MERCY

Ons het helde en presteerders nodiger as ooit tevore

MERCY KANNEMEYER sê protes is goed en wel, maar dit maak saak hóé dit gedoen word, WILLEM KEMPEN dink ons kan uitsien na nog Suid-Afrikaners wat op die sportveld presteer, en soos gebruiklik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 27 Julie 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Fed het gisteraand (Suid-Afrikaanse tyd) soos verwag Amerikaanse rentekoerse met 0,25 persentasiepunte verhoog, die 11de en moontlik laaste verhoging ná die afgelope 12 vergaderings van die beleidskomitee wat daaroor besluit.

2. Die privaat onderwysgroep Crawford International sê 'n 82-jarige plaasvervanger-onderwyser wat verfilm is waar sy rassistiese terme op 'n witbord skryf terwyl sy klas gegee het, is afgedank en by die SA Raad vir Opvoeders aangemeld. Crawford gaan self ook stappe teen haar doen.

3. Eskom het weer die implementering van beurtkrag in Ekurhuleni  oorgeneem nadat die munisipaliteit nogmaals nagelaat het om dit self reg te doen. Eskom sê dié versuim veroorsaak verdere druk op die reeds oorlaaide netwerk.

4. Die Suid-Afrikaanse joernalis, rubriekskrywer, skrywer en uitsaaier Jani Allan het aan kanker beswyk, drie maande nadat sy gediagnoseer is. Haar jare lange vriend Herman Lategan het aan News24 bevestig dat die 70-jarige Allan Dinsdagaand in die VSA oorlede is. Allan het in die VSA gaan woon nadat bewerings van ’n verhouding met die AWB-leier Eugène Terre’Blanche opslae gemaak het.

5. Die 23-jarige Siphesihle Tatsi is tot 241 jaar tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die moord op vyf polisiebeamptes in eNgcobo in 2018. Tatsi het skuld beken, maar sy medebeskuldigdes, Phumzile Mhlatywa, Phandani Monco, Kwanele Ndlwana en Siphosomzi Tshefu, ontken skuld.

6. Frankryk sal “vir seker” gereed wees om volgende jaar die Olimpiese Spele aan te bied, het pres. Emmanuel Macron gesê. Met net 'n jaar oor voor die openingsplegtigheid is daar heelwat kommer oor 'n reeks kwessies, soos of genoeg hotelkamers beskikbaar gaan wees en of veiligheidsmaatreëls voldoende gaan wees.

7. Steinhoff se aandeelhouers het oorweldigend gestem ten gunste van die maatskappy se ontbinding en sy denotering van die Johannesburgse en Frankfurtse aandelebeurse. Die besluit was eintlik net 'n formaliteit omdat 'n Nederlandse hof vroeër reeds Steinhoff se plan goedgekeur het om oor te skakel van 'n openbaar genoteerde maatskappy wat deur die aandeelhouers besit word na 'n gedenoteerde groep onder die beheer van sy krediteure.


’n Intense afgesnyde laagdrukstelsel sal na verwagting môreaand oor die Wes- en Noord-Kaap beweeg wat die dagtemperature van Saterdag na Sondag beduidend sal laat daal. Baie koue, nat en winderige toestande kan oor die suidelike hoogliggende gebiede van die Namakwa-streek in die Noord-Kaap en oor die binneland van die Wes-Kaap verwag word, gepaardgaande met sneeu op die berge.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 21°C • Mahikeng 24°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 15°C • Durban 24°C • Kimberley 28°C • Bloemfontein 20°C • Polokwane 19°C • Upington 23°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 19°C.


Willem Kempen | Voorwaarts, land van kampioene!

Gits, dit wil-wil lyk of Suid-Afrika se sportmense dit op hulle geneem het om die nasionale somberheid oor Putin en rampe en korrupsie en beurtkrag en kouefronte 'n lekker skop onder die fondament te gee.

Skielik kan mens weer opgewonde raak oor wat 'n Manie Libbok en 'n Grant Williams daar langs mekaar vir die Bokke kan doen wanneer hulle een van die dae hulle wêreldtitel in Frankryk verdedig, of uitsien na Christo Lamprecht se volgende gholftoernooi, of nog medaljes en rekords vir almal van die swemmer Tatjana Schoenmaker tot by die naellopers Marioné Fourie en Taylon Bieldt en die Para-atletiekhelde Simone Kruger, Mpumelelo Mhlongo, Louzanne Coetzee en  Kerwin Noemdo. Wayde van Niekerk is vir die eerste keer sedert 2017 vry van beserings en kan dalk net een van die dae weer die 400m-wêreldkampioen wees. Brad Binder is tans in die vierde plek in die stryd om die MotoGP-wêreldkampioen te word. Heinrich Klaasen het eergister die eerste speler geword wat 'n honderdtal in die Amerikaanse Major League Cricket (MLC) aanteken toe hy 'n onoorwonne 110 van 44 balle vir die Seattle Orcas teen MI New York in Morrisville geslaan het. Banyana Banyana het nou wel die afgelope naweek hulle openingswedstryd in die Wêreldbekertoernooi verloor, maar die Swede kwaai laat swoeg in die proses.

En môre begin die 16de Wêreldbeker-netbaltoernooi in Kaapstad, met die Proteas as die tuisspan wat tans vyfde op die internasionale ranglys is en 'n goeie kans het om te verbeter op hulle vierde plek vier jaar gelede in Liverpool. Soos heeltemal te dikwels die geval in Suid-Afrikaanse sport is, is Australië die span om te klop, maar dit kán gedoen word – Go Proteas! 


Image: ANGELA TUCK

Dis nie wát jy sê nie, maar hóé jy dit sê

Millenniërproteskultuur is so irriterend. En hierby sluit ek myself natuurlik in. Party van julle dink nou seker ugh, hoe geweldig lastig om mense se manier van protes aanteken aan te val. Wel, hier is ek. En sommige punte sal duideliker gedryf kan word as ons kyk na hóé ons kies om iets sê. It’s mos not what you say, it’s how you say it, my bru …

So vaagweg onthou ek… ek was in graad 9. Niks van wiskunde gehou nie. Die juffrou het ook hopeloos te veel huiswerk gegee. Dis toe my idee dat die hele klas moet bank. Ons het nie ver weggeloop of enigiets werklik rebels gedoen nie. Ons het bloot buite die klaskamer onder die vensterbank weggekruip. My klein protesaksie het gewerk, want toe die juffrou in die klas aankom en ons is nie daar nie, hoor ons so ’n paar oomblikke later oor die interkom: “Graad 9Sc, graad 9Sc, meld asseblief vir julle wiskundeklas by Juffrou Odendaal aan.” Ons het so gelag. Ek kekkel natuurlik mos toe nou die hardste. Gelukkig het niemand geglo dat ék, onskuldige jong Mercy, die baasbrein agter ’n wiskunde-gedrossery was nie.

’n Jong groep protesteerders wat die laaste paar maande heelwat (oorsese) nuusopskrifte gehaal het, is Just Stop Oil, ’n Britse groep omgewingsaktiviste. Hulle is in Februarie 2022 gestig en word gekenmerk deur oranje verf wat hulle op regerings- en ander geboue gooi. Vir hierdie groep is daar nie ’n Planeet B nie, en geniet klimaatskwessies deur die bank nie genoeg aandag nie.

Die groep probeer bewusmaking deur middel van protes, burgerlike onrus en vandalisme skep. Hulle voer aan hulle is nie-gewelddadig.

In November verlede jaar is bevind dat twee Just Stop Oil-aktiviste, Louis McKechnie en Emily Brocklebank, ’n misdaad gepleeg het toe hulle hulleself in ’n Londense kunsgalery aan ’n Van Gogh-skildery vasgegom en dit sodoende beskadig het. Sop is ook glo op ’n Van Gogh uitgegooi. McKechnie het homself ook ’n maand voor die Van Gogh-voorval tydens ’n premierliga-sokkerwedstryd met kabelbinders aan ’n doelpaal vasgemaak. Vir laasgenoemde protesaksie het hy ses weke tronkstraf ontvang. McKechnie, net soos ander protesteerders, hou egter voet by stuk dat ekstreme bewusmaking nodig is vir mense om aan Just Stop Oil se klagtes gehoor te gee.

As jy ’n climate denialist is, sal jy dalk met Just Stop Oil verskil wanneer hulle sê dat mense, en veral groot besighede, nie genoeg doen om hulle koolstofvoetspoor te verminder nie. Die groep wil veral ook die produksie van nuwe olie stopsit.

Image: ANGELA TUCK

Kyk, dis alles goed en wel. Ja, die aarde word warmer. Die osoonlaag is in sy moer. Maar is daar nie ’n ander manier om dinge te sê nie? Protes is natuurlik nie nuut nie, maar hoekom op dees aarde sal jy Wimbledon-wedstryde ontwrig omdat mense nie na jou luister nie? In plaas daarvan dat jy nou jou punt suksesvol gemaak het, is mense net geïrriteerd met jou. En gaan hulle hulle gatte afvee aan wat ook al jy besig was om voor te protesteer.

Ja, jy’s dalk beroemd vir so 15 sekondes as jy jou gat nou aan ’n Van Gogh vasgegom het, maar mense se aandagspan is deesdae net 10 sekondes lank.

Ha-a, man.


Otters

in a documentary
they dove in
into the burble
of river, braiding
around each other
their combed fur
shining in the sun
their eyes twinkling
watching them
I wished my hearing siblings
had been more like them
always pulling me in
to cavort with them

– Raymond Luczak


VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.