Dis elke ou vir homself, of hoe?

MAANDAG MET MAX

Dis elke ou vir homself, of hoe?

MAX DU PREEZ skryf oor die onderneming van topmaatskappye om die ekonomie te help red, en oor hoekom hy ’n (amateur-)prepper is. En soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 31 Julie 2023
  • Daagliks
  • 11 min om te lees

Goeiedag!

1. Vladimir Putin sê die vredesplanne van China en Afrika kan as ’n basis vir vrede in Oekraïne dien, maar dat daar nie sprake van ’n skietstaking kan wees nie. Hy het na afloop van die spitsberaad met Afrikaleiers ook die aanhouding van Russiese burgers wat die oorlog kritiseer, verdedig deur te sê dit is elemente wat Rusland van binne bedreig.

2. Die linkse, sosialistiese president van Chili, Gabriel Boric (37), het aan Stephen Sackur van die BBC-program HARDTalk gesê die Russiese oorlog in Oekraïne is in stryd met internasionale reg en Rusland behoort sy troepe te onttrek. ’n Ander linkse Suid-Amerikaanse president, Lula da Silva van Brasilië, het ook onlangs gesê sy land veroordeel Rusland se verbreking van Oekraïne se territoriale integriteit, maar bygevoeg dat hy nie wil kant kies nie.

3. ’n Nuwe skandaal in die weermag oor persoonlike beskermingstoerusting (PPE) van sowat R200 miljoen het op die lappe gekom. Volgens die Sunday Times het amptenare groot tenders aan legitieme maatskappy toegeken op voorwaarde dat hulle dit (vir ’n fooi) aan voorafbepaalde middelmanne sedeer. ’n Vorige PPE-skandaal in die weermag wat in 2020 ontbloot is, het R237 miljoen beloop.

4. Die leier van die ANC se veteraneliga, Snuki Zikalala, sê die EFF eerbiedig nie die oppergesag van die reg nie en die koalisies wat die ANC in Gauteng met die EFF het, ondermyn die ANC se waardigheid. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het dié week gesê dié koalisies moet heroorweeg word.

5. Julius Malema se weergawe van Donald Trump se dramatiese aankoms op ’n roltrap voor sy verkiesing in 2016, “the escalator ride that changed America”, was Saterdag om hoog deur ’n meganiese platform opgelig te word voordat hy meer as 90 000 ondersteuners in die FNB-stadion toegespreek het. Hy het onder meer gesê: “When we take over, we are going to give you free education, fight corruption and lock up corrupt ANC leaders. Me and you are going to destroy load shedding. Only the EFF can stop load shedding. When we take over as the EFF, all of you who are unemployed and you who don’t have your results because you owe fees, you must know we are going to cancel all your debt and give you your results free of charge. We want a child from a shack to go to the best of the best university. We will work with Cuba to establish quality primary healthcare.”

6. “The era of global boiling has arrived,” sê die sekretaris-generaal van die VN, António Guterres. Dit was ’n woeste week van ekstreme weer in vele wêrelddele, met ongewoon hoë temperature, verwoestende brande en vloede. Wetenskaplikes sê Julie was die warmste maand wat tot nog toe aangeteken is.

7. Banyana Banyana sal Italië oormôre moet klop om in die Sokkerwêreldbeker, die grootste vrouesporttoernooi in die geskiedenis, te bly. Banyana het hulle eerste wedstryd teen Swede 2-1 verloor en toe 2-2 gelykop teen Argentinië gespeel.


Daar is waarskuwings oor sterk wind en golwe tussen Saldanhabaai en Port Edward, asook sterk wind oor die suide van die Oos-Kaap. Dis koud oor die grootste deel van die land vandag met miskolle wat oor dele van die Noord-Kaap verwag word. Dit sal deels bewolk tot bewolk wees in dele van die Vrystaat, Noord-Kaap en KwaZulu-Natal, asook in die Wes- en Oos-Kaap waar reën verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 15°C • Johannesburg 13°C • Mahikeng 17°C • Mbombela 19°C • Kaapstad 13°C • Durban 21°C • Kimberley 12°C • Bloemfontein 11°C • Polokwane 17°C • Upington 15°C • Gqeberha 15°C • Oos-Londen 18°C.


Max du Preez | Wat rym met pakt?

Die onderneming wat die hoofbestuurders van 115 van Suid-Afrika se topmaatskappye pas onderteken het om die regering te help om die ekonomie te red kan ’n uiters belangrike ontwikkeling wees – mits die ANC en dus die regering dit nie gaan ondermyn of sink nie.

Die pakt maak baie sin. Suid-Afrika is gestraf met ’n grootliks onbeholpe, korrupte regering en staatsdiens en geseënd met ’n energieke, innoverende privaat sektor.

Al die grotes is daar: Remgro, Vodacom, Toyota, BP, Naspers, Anglo American, Massmart, Sibanye-Stillwater en meer, maatskappye met gesamentlik meer as 1,2 miljoen werknemers.

Die idee is ’n ingryping deur die sakesektor om veral die krisisse met energie, logistiek, misdaad en korrupsie te help verlig. Dit is die kwessies wat die sakesektor die meeste ondermyn.

Die voorsitter van Business for South Africa, Martin Kingston, glo die pakt kan die bruto nasionale produk met tot 3% opstoot as dit goed gekoördineer word. Op die oomblik is die ekonomiese groei laer as die bevolkingsaanwas.

Ek is skepties genoeg om nie te dink dié maatskappye wil uit altruïsme by die staat betrokke raak nie, maar dit maak nie saak dat hulle dit in eie belang wil doen nie.

Dit is in alle Suid-Afrikaners se belang dat die privaat sektor uitreik en hand bysit, nie net omdat dit die ekonomie gaan baat nie, maar ook omdat dit stabiliteit en ons demokrasie gaan bevorder. Die gevaarlik hoë werkloosheidsyfer is veral ’n bedreiging hiervoor.

Die meer siniese onder ons sou dalk sê die nuwe inisiatief gaan bloot help om die ANC beter te laat lyk voor volgende jaar se algemene verkiesing.

My teenargument sou wees: Suid-Afrika is net te na aan ’n inploffing om ons aan die partypolitiek te steur. Ons durf nie passief te bly net omdat ’n verdere insinking dalk die opposisie oor ’n jaar van nou af gaan help nie.

Image: ANGELA TUCK

Ons het ’n nugtere en bekwame minister van finansies, Enoch Godongwana, en direkteur-generaal van die nasionale tesourie, Ismail Momoniat. Maar daar hou dit min of meer op.

Ek kon Saterdagaand my kop net verwese skud toe ek na ’n BBC-dokumentêr oor ons elektrisiteitskrisis kyk en die minister van minerale en energie, Gwede Mantashe, verklaar dat hy trots is daarop dat hy ’n steenkoolfundamentalis en ’n fossielbrandstofdinosourus genoem word. Hy het ook geweier om te erken dat die gewese hoofbaas van Eskom, André de Ruyter, in die Eskom-hoofkantoor vergiftig is.

Terwyl pres. Cyril Ramaphosa op ’n hoëspanningsdraad balanseer om Amerika en die Weste van Suid-Afrika se onverbondenheid te verseker en suutjies ál meer druk op Rusland toepas, storm sy kabinetskollega Nkosazana Dlamini-Zuma laas week in en sê Brics moet die “downfall of an unjust imperialist world order” versnel. Amerika is Satan, viva Moskou.

Die ANC kan homself maar net nie help nie. Daar is ’n tragiese onvermoë om van die ou struggle-politiek na ’n pragmatisme te beweeg wat noodsaaklik is om die ekonomie te red.

Die sakesektor se beste pogings gaan nie veel help as die ANC se instinktiewe voorkeur vir staatisme (die konsentrasie van ekonomiese beheer en beplanning in die hande van ’n hoogs gesentraliseerde regering) en renons in die privaat sektor nie getemper word nie.

Stemme gaan nou op dat die pakt tussen die openbare en privaat sektore net kan werk as ’n nuwe visie vir die ekonomie en veiligheid behoorlik uitgespel word.

Wat, soos die Nasionale Ontwikkelingsplan van 11 jaar gelede wat ’n goeie padkaart was om armoede en ongelykheid teen 2030 uit te wis en toe op die ashoop beland het?

Die sakeleiers van die 115 maatskappye sal dié keer hardball moet speel.


Hallo. My naam is Max en ek is ’n prepper

Ek is besig om ’n bietjie van ’n prepper te word.

’n Prepper, sal die Collins Dictionary vir jou sê, is “a person who believes a disaster is likely to occur in the near future and makes preparations for it, esp. by stockpiling food and other supplies”.

Dit is veral ’n Amerikaanse verskynsel, en baie preppers vrees ook ’n “new world order” waar ’n handjievol ryk Jode die hele wêreld gaan oorneem en ons almal se vryhede gaan beperk. (Kenneth Meshoe se ACDP glo ook daarin.)

Daar is ’n man in my straat wat ’n volbloed-prepper is, met sonkrag, genoeg water in tenks vir drie maande, ’n paar ernstige gewere en ’n garage vol blikkieskos. Hy glo vas ons word deur ’n burgeroorlog en anargie in die gesig gestaar.

Nee, ek is ’n amateur-prepper en my vrees is ekstreme weer.

Ek gaar niks op nie, maar ek het al bestek opgeneem van wat orkaanwinde, erge vloede of wegholbrande, alles produkte van die ontstellende klimaatsverandering wat ons beleef, aan my huis sou kon aanrig.

Daar is een ry huise tussen my en die natuurreservaat van die suidelike Kaapse skiereiland, en boonop is daar net fynbos, niks bome nie. So die brandgevaar is nie hoog nie – die bure se huise sal in elk geval eerste afbrand – niks wat my twee brandblussers nie kan hanteer nie.

Vloedwater is ’n ander situasie. Ons het al 30 mm op een dag hier gehad en die water het by my verby gehou, maar wie weet wat gaan gebeur as dit 200 mm op een dag is, soos al dié seisoen elders in die wêreld gebeur het?

Sandsakke is die antwoord. As die water nie ophou val nie, kan ek binne 15 minute 30 sakkies sand plaas om die water wat van die berg af kom, by my eiendom verby te stuur (reg op my bure af – wat de hel, dis elkeen vir homself, kry julle eie sakkies).

Image: ANGELA TUCK

Die ry huise tussen my en verder op in die berg beteken ook ek is relatief veilig in geval van grondstortings – dié huise sal eers platgevee moet word voor dit by my uitkom.

Die wind hier by my kan klaar rof word, so erg jy kan nie in die straat af loop nie. Die grootste gevaar as dit ’n wind van, sê nou maar, 120 km per uur is, weer soos ons dit die laaste maand of wat elders gesien het, is dat jou dak afgewaai word.

Uitgesorteer, dankie. Kort oorhange, heelwat ekstra skroewe in die dakplate en ’n dek wat op dik sementkolomme gebou en stewig geanker is.

Ek het nou self ook ’n watertenk onder my geut laat insit, so ek het altyd 1 000 liter water as die toevoer ontwrig word.

Ek het twee sterk stroomwisselaars en ’n paar stewige batterye wat my enige dag deur agt uur se beurtkrag help, maar my vriend Theuns Venter, Vrye Weekblad se bestuurder, vertel gister vir my hy het pas sonpanele op sy dak laat opsit wat in sy kragbenodighede voorsien, en hy betaal dit af teen iets soos R1 800 per maand. My rekening is klaar rondom R2 500, so dis dalk ’n goeie idee.

Ek sorg darem altyd dat daar ’n ekstra bottel Bushmills- Ierse whiskey in my kas is, en ons het ’n laai met blikkies tuna en ’n vrieskas met ’n paar spaar-tjops en ’n hoender.

Dit klink dalk alles baie selfsugtig en selfbehep, maar dit is ’n goeie ding om jou gesin, huis en haard, te beveilig. Ek wil nie een van die vele mense van oraloor wees wat ek gereeld op TV-nuus sien wat huilend sê hulle het alles in die brand/vloede/orkaanwinde verloor nie.

Dit alles, sal die klimaataktiviste met ’n rol van die oë vir jou sê, is mitigation, nie prevention nie.

Dit is waar. Dis net dat ek nie man-alleen kan sorg dat Gwede se steenkoolkragstasies en dié in China en Indië ophou koolstof die lug instuur nie.

Ek probeer hard om my eie koolstofvoetspoor so klein as moontlik te hou, maar ek skiet tekort want ek ry ’n vyf jaar oue dieselaangedrewe Land Rover. Ek wil maar wag vir elektriese motors om eers ’n bietjie goedkoper te word voor ek die Landy inruil, want ek betaal g’n R1,5 miljoen vir ’n kar nie.

Wat ek wel doen, is om so min as moontlik te vlieg en te ry. En vir wat dit werd is, in my huis geld die beginsel van reduce, reuse en recycle sonder kompromis.

As dit klink of ek ’n effe lighartig oor dié onderwerp is, laat my onomwonde sê: Die mensgemaakte klimaatsverandering wat die wêreld tans beleef – Julie was die warmste maand sedert temperature gemeet word – is die ernstigste eksistensiële krisis wat die mensdom in vele millennia beleef het.

Ek kry ’n beklemming om my hart as ek my probeer indink hoe ons planeet oor twee of drie geslagte gaan lyk.

En nou, hier op ’n Sondagagtermiddag, het ek ’n keuse: Sal ek nog ’n paar sakkies vol sand gaan maak of sal ek ’n dubbel-Bushmills op my stoep gaan drink en oor die (verwarmende) oseaan uitkyk?

Groetnis
Max


Herfswind

die wind speel 'n spel met blare
    wasgoed
                        rokke
                                     en hare

–Emmie Bedeker

(Uit: Die grondgeitjie roep)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.