Trotseer die tye en laat Dans die geskiedenis

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Trotseer die tye en laat Dans die geskiedenis

JOAN HAMBIDGE bring hulde aan die literêre reus en geskiedkundige Dan Sleigh. WILLEM KEMPEN dink die publiek is ’n behoorlike verduideliking verskuldig oor waarom ’n senior polisiebeampte by die EFF se gala-dinee was. En soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 01 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre

1. Die DA wil Julius Malema en die EFF by die VN se Menseregteraad verkla oor die sing van “Kill the farmer, kill the Boer" by Saterdag se saamtrek op die FNB-stadion. John Steenhuisen, DA-leier, het gesê omdat die Gelykheidshof in Johannesburg in Oktober verlede jaar beslis het die lied is nie haatspraak nie, wend die party hulle nou tot die internasionale gemeenskap.

2. Die prys van alle oktaan petrol sal Woensdag met 37 sent per liter styg. Diesel word 71 sent per liter duurder.

3. Niemand het die polisie of nooddienste gebel onmiddellik nadat die voormalige Bafana-kaptein Senzo Meyiwa op 26 Oktober 2014 in 'n huis in Vosloorus doodgeskiet is nie, het kol. Lambertus Steyn, data-ontleder van die polisie, gister in die hof getuig.

4. Die junta wat die mag in Niger oorgeneem het, beweer die omvergewerpte regering het Frankryk magtiging gegee om aanvalle te loods om die ontsette pres. Mohamed Bazoum uit aanhouding te bevry. Frankryk het nog nie die beskuldiging bevestig óf ontken nie.

5. As alles volgens plan verloop, sal die parlement teen November 2025 ten volle gerestoureer wees, het Xolile George, sekretaris van die parlement, gister gesê.

6. Die Mededingingskommissie het 'n aantal aanlyn platforms, insluitende Google en Takealot, opdrag gegee om stappe te doen om kleiner ondernemings te help om meer mededingend te wees. Die stappe sluit in advertensiekrediete en laer pryse vir onafhanklike agentskappe en handelaars.

7. Die Johannesburgse hooggeregshof het G7 se aansoek om 'n interdik van die hand gewys om Eskom te keer om privaat maatskappye se toegang tot die kragnetwerk volgens nuwe reëls te beheer. Die uitspraak sal Eskom en die nasionale energiekrisiskomitee hopelik in staat stel om nuwe projekte vinniger aan die gang te kry.


Daar is weer waarskuwings oor sterk wind en golwe tussen Saldanhabaai en Plettenbergbaai. Dis vandag deels bewolk in die Wes-Kaap en Limpopo. Dis ook deels bewolk in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga met reën of buie wat in sommige gebiede verwag kan word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 18°C • Johannesburg 17°C • Mahikeng 19°C • Mbombela 18°C • Kaapstad 16°C • Durban 21°C • Kimberley 16°C • Bloemfontein 15°C • Polokwane 19°C • Upington 18°C • Gqeberha 17°C • Oos-Londen 18°C.


Willem Kempen | Só Khan dit nie aangaan

Nou wat nou met Julius Malema en die EFF?

Malema doen wat hy wil, sê wat hy wil, en vat geld van wie ook al hy wil. Sy ondersteuners het die FNB-stadion Saterdag maklik volgemaak, iets wat geen ander politieke party in die land deesdae sommer sal waag om te probeer doen nie. Hy steur hom nie aan die Grondwet en demokratiese beginsels nie wanneer hy die beloftes inryg oor alles van gratis onderwys tot by die einde van beurtkrag en korrupsie (ander mense s'n, nie sy eie nie) tot by die kansellering van studieskuld tot by “samewerking met Kuba" vir beter gesondheidsorg.

Sy ondersteuners gee klaarblyklik nie om dat dié leë beloftes almal al oor die jare ook deur die ANC gemaak is nie. Die groot verskil is dat die ANC al agtergekom het jy kan selfs nie die haalbaarste van dié mooi beloftes bereik sonder bekwame administrateurs en burokrate nie. Die EFF kom nie eens verby die retoriek tot by die punt van beleidsformulering nie.

Daar is nie veel wat enigiemand daaraan kan doen as Malema kies om mense soos sy finansier en selferkende sigaretsmokkelaar Adriano Mazzotti te trakteer soos verlede week by die EFF se gala-dinee nie, maar die teenwoordigheid van genl.maj. Feroz Khan van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid aan dieselfde tafel, soos deur News24 berig, is 'n heel ander saak. Mazzotti het glo selfs ten duurste vir Khan se kaartjie betaal.

Image: ANGELA TUCK

Khan se verweer dat hy vir “werk" daar was, is sommer nonsens. Om te wat? Inligting in te samel oor wat met die VBS-geld gebeur het? Van die verdagtes as informante te werf?

Dat Khan hoegenaamd nog by die polisie se mees omstrede eenheid betrokke is, is reeds verregaande. Hy is deel van die ou garde daar wat terugstrek tot die dae toe die verrotting onder Jacob Zuma se toesig vererger het, en hy is allermins nou deel van die oplossing. Inteendeel. Dit maak boonop 'n bespotting van Cyril Ramaphosa se pogings om die intelligensiegemeenskap reg te ruk.

Khan se eie uitgebreide sakebelange op dieselfde tyd dat hy in die polisie se topleierskap dien, soos berig deur onder andere Daily Maverick en in Jacques Pauw se 2022-boek Our Poisoned Land, maak die botsing van belange nóg groter.

Sonder 'n bevredigende verduideliking van Khan se teenwoordigheid by 'n EFF-geleentheid word die indruk maar net nogmaals versterk dat die staatskapers se dae nog lank nie getel is nie.


Image: ANGELA TUCK

Beleefd en belese: Ons groet Dan Sleigh 

Daniel Sleigh: 1938-2023. Sy vriend Wium van Zyl het oor hom geskryf: “Mense sê altyd wanneer iemand sterf, is dit soos 'n biblioteek wat afbrand. In Sleigh se geval is dit soos 20 biblioteke wat afgebrand het."

Ek het Joan Hambidge, wat hom geken het, gevra om iets oor hierdie literêre reus te skryf.

Image: ANGELA TUCK

Ode aan ’n jintelman

My taal is kuns én gereedskap: my tjello, my palet, al my fyn beiteltjies, ek word bang wanneer dom mense daarmee speel …
(Uit: Wals met Matilda, 2011)

Hoewel Dan Sleigh vertrek het, sal lesers nog vir baie jare sy historiese navorsing en historiografiese romans kan lees. Soos dié van Gabriel García Márquez en Hilary Mantel.

Jare gelede is ons saam by die Vrystaatse Kunstefees en hierdie leser was geïmponeer met sy kennis en hoe hy fiksie en geskiedenis kan navigeer met ’n komplekse verteller.

Tydens hierdie fees help hy my vriendelik reg oor Leipoldt. Op RSG, een middag, praat hy oor feitefoute in ’n skrywer se beskrywing van skepe uit ’n vergange era. Maar respekvol en akademies.

Gesiene literatore het deur die jare sy werk bespreek en bekroon. Die verskillende registers van sy werk as romanskrywer is opvallend.

Wars was hy van politiek korrekte interpretasies van die geskiedenis. As hy gemeen het die argiewe is nie besoek nie, was hy vinnig om daarop te wys.

Digter en romanskrywer. Kenner van die geskiedenis. Besoeker van argiewe. In 2004 word die gesogte Helgaard Steyn-prys aan hom oorhandig.

Ander bekronings sluit in:

  • Sanlam/Insig/Kwela Groot Romanwedstryd 2001
  • W.A. Hofmeyr-prys 2003
  • RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk 2003
  • M-Net-prys vir Skeppende Werk in Afrikaans 2004
  • Akademie-medalje 2007
  • Wenner: Sanlam Groot Romanwedstryd 2009
  • W.A. Hofmeyr-prys 2012
  • Universiteit van Johannesburg-prys 2012
  • ATKV-prosaprys 2012
  • K. Sello Duiker-prys 2012
  • SALA-prys 2018

Hy skryf ook jeugverhale: Tussen twee vlae (1974), Onder die bittervaan (1975) en Anselm en die jut (1976).

Vir sy digbundel Duif oor water ontvang hy in 1971 die C. Louis Leipoldt-prys.

’n Veelkantige skrywer wat veral lof verdien het vir Eilande (2002) en Afstande (2010). Ook 1795 (2016) is belangrik.

Op ’n keer het hy opgemerk dat hy eers geskiedkundige is en dan skrywer. Tog verweef hy die twee uitstekend.

Buitelands is hy ook erken. Eilande is in 2004 deur André P. Brink vertaal as Islands en dit haal selfs die lys van 10 beste boeke van die Seattle Times in 2005. Selfs die Booklist het dit in die VSA uitgesonder as uitmuntend en Stemmen uit zee het eweneens lof in Nederland ontlok.

Michael Pye se uitspraak in The Scotsman (2004) kan op al sy historiese tekste van toepassing gemaak word:

“I can only beg you: make time for this brisk, dense and entirely fascinating book. Its scale is exhilarating, not exhausting. Dan Sleigh has made a whole history dance and has defied time to bring back, like some sorcerer, the beat and blood of lives that would otherwise be only traces in the documents of an old colony.”

Hy was een van min skrywers en navorsers wat nog die dokumente in die oorspronklike taal van die VOC kon lees. Elke roman lewer bewys van hóé belangrik dit is om hierdie soort optekening in romans te lees waarvan die meeste lesers beskamend min weet, soos oor rouborde en wapens. Van “fraaije gestreepte woudezels” (kwaggas) en Van Steelant se joernaal. Of die oorsprong of bron van die 1713-pokke-epidemie.

’n Mens deel sy sentimente oor die verwaarlosing van die Kasteel en die verloedering van Kaapstad.

Oor die ontstaan van Afrikaans kon hy gesaghebbend praat: Hy het immers argiewe besoek.

Hy was ’n jintelman wat my altyd as “u” aangespreek het ondanks mý versoek om informeel te wees.

Dis die einde van ’n era. 

– Joan Hambidge


Johannesburg

Die seisoen se eerste reën
het vanmiddag blitsend geval
die lug was onweersblou
en die jakarandas bewerig en nou
kort ná skemer sweer ek ek hoor
katjiepieringknoppe konkel:
Watter een gaan die eerste
welriekende karbonkel
die nag in stuur?

– Johan Myburg

(Uit: Uittogboek)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.