Om te gaan studeer net sodat jy iets kan hê om te eet ...

WOENSDAG MET WILLEM

Om te gaan studeer net sodat jy iets kan hê om te eet ...

WILLEM KEMPEN skryf oor die frustrasie van arm studente en die mense van Riverlea, en soos altyd is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 02 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre


1. Banyana Banyana speel vanoggend (SA tyd) in Wellington in Nieu-Seeland teen Italië in 'n Groep G-wedstryd in die Wêreldbekertoernooi vir vroue. Die Suid-Afrikaners moet wen om na die uitkloprondes deur te dring.

2. Borgtog van R10 000 elk is toegestaan aan agt lede van adj.pres. Paul Mashatile se beskermingseenheid. Hulle is in hegtenis geneem nadat hulle afgeneem is waar hulle na bewering motoriste op die N1-hoofweg aanrand. Mashatile het gister weer gesê hy was nie self teenwoordig nie en het eers later die voorval op video op sosiale media gesien.

3. 'n Skietery het gistermiddag in die Kaapstadse middestad uitgebreek nadat verskeie minibustaxi's deur verkeersbeamptes geskut is. Ontevrede taxibestuurders het later by 'n staanplek 'n verkeersbeampte aangerand, waarna skokgranate op hulle afgevuur is. Van die taxibestuurders het glo met regte ammunisie teruggeskiet, maar sover bekend is niemand raak geskiet nie. 

4. Die Stad Johannesburg se kredietgradering is van A+ na A afgebring deur GCR Ratings, 'n filiaal van Moody's Investors Service, het eNCA berig. Die stad se vooruitsigte is van stabiel na negatief verander. Die belangrikste gevolg is dat die metroraad toekomstige lenings teen 'n hoër rentekoers sal moet terugbetaal.

5. Die departement van sport, kuns en kultuur het in April by 'n galadinee R250 000 aan elkeen van die land se plaaslike Grammy-wenners oor die jare toegeken, het minister Zizi Kodwa in antwoord op 'n parlementêre vraag van die DA gesê. Die begunstigdes is Miriam Makeba, Ladysmith Black Mambazo, John Lindemann, Soweto Gospel Choir, Black Coffee, Nomcebo Zikode, Wouter Kellerman en Zakes Bantwini.

6. Vloede weens swaar reën het minstens 11 sterftes in Beijing in China veroorsaak. Verskeie paaie was onbegaanbaar weens water en modder.

7. Unesco het aanbeveel dat Venesië gevoeg word by die lys van wêrelderfenis-punte wat in gevaar is. Die VN se kultuuragentskap het Italiaanse owerhede gevra om meer te doen om die historiese stad met sy kanale en omliggende meer te beveilig.


Mistige toestande word in dele van Gauteng, Mpumalanga en Limpopo verwag. Dit sal andersins deels bewolk in dié provinsies wees met moontlike ligte reën in Limpopo en Mpumalanga. Soortgelyke toestande word in die Vrystaat, Noordwes en KwaZulu-Natal verwag met moontlike buie langs die noordkus.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 18°C • Johannesburg 17°C • Mahikeng 19°C • Mbombela 18°C • Bloemfontein 17°C • Polokwane 17°C • Kimberley 19°C • Upington 23°C • Kaapstad 22°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 20°C • Durban 21°C.


Willem Kempen | Wat van ’n bordjie om die nek wat sê: ‘Ek is ’n zama-zama’?

Teen gister het daar nog nie veel gekom van die minister van polisie se onderneming vroeër vandeesweek om die situasie in Riverlea in Johannesburg te probeer stabiliseer nie.

Bheki Cele was self Maandag daar om vreesbevange inwoners te probeer gerusstel dat die polisie wél opgewasse is vir die zama-zamas se skrikbewind in die omgewing. Hy het 'n groter polisieteenwoordigheid  belowe, en volgens News24 ook met sy gebruiklike bravade gesê:

Image: ANGELA TUCK

We need to go and find them where they are hiding. We need to flush them out of their holes. We need to ensure that they don't interfere with the community. From the next day, we will wipe it [illegal mining] off." (Dalk hét hy bedoel iets gaan “afgevee" eerder as “uitgewis" word, maar dalk ook nie.)

Cele het ook volgens die SAUK gesê “most of the people that are causing trouble here are the Ba-Sotho".

Watter moontlike doel kan dié stelling dien, anders as om 'n sein aan vigilantes te stuur dat die polisie anderpad sal kyk as hulle probeer doen wat die polisie duidelik nié regkry nie? En om onskuldige mense ook die teikens daarvan te maak?

Selfs as ál die zamas inderdaad van Lesotho is, gaan dié wete niemand help om die probleem op te los nie. Dit het ook nie die inwoners van Riverlea gekeer om weer gister paaie in die omgewing uit protes teen die polisie se onvermoë te versper nie. Nou moet die polisie wat wel in die omgewing is, hulle boonop hiermee bemoei pleks van die onwettige myners te probeer vasvat.

Cele gaan veel meer bereik as hy toegee dat die polisie teen 'n oormag te staan gekom het, nie 'n werkbare strategie teen die zamas het nie, en hard en duidelik vra vir die hulp van die privaat sektor – veral dié wat daardie tonnels en skagte ken omdat hulle voorheen wettig daar gemyn het.

Maar blykbaar is die minister nie bereid om die politieke prys te betaal wat hy vrees so 'n pleidooi hom sal kos nie. Nou karring hy maar aan van belofte tot belofte, totdat ons almal uiteindelik 'n veel duurder prys gaan betaal.


En sê nou dis net die EFF wat sal verstaan?

Ek moes eergister versigtig tussen die smeulende as in die straat deur ry om by die hoofingang van die NWU se Potch-kampus uit te kom. Teen daai tyd was daar geen ander tekens meer van die studente wat vroeër daar betoog het nie.

By die toegangshek is 'n man besig om vies by die veiligheidsmense te wil weet hoekom die gemors op die pad nog nie skoongemaak is nie. Hulle verduidelik: Dit was deel van die ooreenkoms met die oproermakers; in ruil vir een of ander toegewing sou die betogers self die pad skoonmaak waar hulle die vure gemaak het, maar dit was al 'n rukkie terug en nou lyk dit nie of dit gaan gebeur nie. Maar die man is kwaad en trap die mense by die hek uit asof dit húlle skuld is.

Op die kampus gekom, gaan laai ek my vrou by haar kantoor op. Was dit die EFF, wil ek weet oor wie betoog het, gedagtig aan Malema se dinge oor die naweek. Nee, sê sy, dit was studente wat kwaad is oor hulle NSFAS-geld nog nie inbetaal is nie. En met reg, sê sy; sy sou óók betoog het as sy in daardie posisie was. Baie van daardie studente kan letterlik nie 'n bord kos bekostig as die geld nie betyds inbetaal is nie.

Wat maak mens dan nou ook anders as jy klaar gekla het by almal wat dalk iets daaraan kan doen, en steeds gebeur niks nie?

Dalk is daar niemand wat iets daaraan kan doen nie, in elk geval nie dadelik nie, want die NSFAS-proses is op die beste maar 'n burokratiese nagmerrie. En tog, daarsonder sou derduisende studente glad nie op universiteit kon gewees het nie, en waarskynlik ook geen ander heenkome gehad het nie.

Ek wonder hoeveel mense beland in tersiêre studies nie omdat dit die beste opsie is gegewe hulle eie aanleg en talente nie, maar omdat dit die enigste hoop is wat hulle het om hulleself en dalk selfs ook die familie by die huis aan die lewe te hou.

Image: ANGELA TUCK

As jy so desperaat is, help dit nie iemand probeer verduidelik dat dié of daai individu binne “die stelsel" by die universiteit of by NSFAS besig is om alles moontlik te doen om die geld oorbetaal te kry nie. Al wat jy sien, is dat “die stelsel" jou in die steek laat. En dan soek jy iemand buite daardie stelsel om namens jou te baklei vir 'n oplossing, selfs al is daar geen oplossing nie. Iemand wat nie dadelik gaan sê “dis maar soos die stelsel werk", of “wees net geduldig" nie.

Ek was effens verbaas om te hoor dat die EFF nie die betoging by die universiteit se hek gereël het nie, maar ek sal ewe verbaas wees as hulle heeltemal niks daarmee te doen gehad het nie. Want die EFF is omtrent die enigste “iemand" wat na jou sal luister as niemand anders wil nie. Die EFF sal na jou luister selfs al het jy sélf ook nie dinge reg hanteer nie, of as die stelsel glad nie te blameer is nie.

En dis presies ook waarom 90 000 mense Saterdag in die FNB-stadion was om die EFF se tiende bestaansjaar te vier.


Sonder wortels

Deur Kirliaanse fotografie word bewys:
selfs al verloor die roos 'n blaar,
word die verlore ledemaat op film bewaar.

So ook die verminkte:
'n arm of been jare reeds uit sy plek
word deur die filmplaat van geheue ontdek

Ek klem my kake ná jare nog
om pyn met pyn te besweer oor jou:
herinnerings lê toegegroei maar skiet
deur onsigbare wortels na bo,
na verskuilde teenwoordigheid van 'n niet.

– H.J. Pieterse

(Uit: Die burg van hertog Bloubaard)


♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.