Die gees wat ons saambind

DONDERDAG MET MERCY

Die gees wat ons saambind

ANNELIESE BURGESS sê haar bloed is geel, MERCY KANNEMEYER praat oor iets wat haar trigger, en soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 03 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Banyana Banyana ding hierdie naweek vir die eerste keer mee in ’n uitspeelkragmeting in die Wêreldbeker-sokkertoernooi vir vroue. Hildah Magaia en Thembi Kgatlana het gister in die wedstryd teen Italië elkeen ’n doel behaal en só verseker dat hulle span met 3-2 seëvier. Italië het ook ’n tuisdoel aangeteken. Die volgende kragmeting is teen Nederland. En in die Wêreldbeker-netbaltoernooi het die Proteas se Nichole Taljaard in die laaste paar sekondes van die wedstryd gisteraand 'n doel behaal om met 48-48 gelykop met die Silwer Varings van Nieu-Seeland te eindig. 

2. Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump verskyn na verwagting vandag in die hof in verband met pogings om die uitslag van die 2020-verkiesing om te keer. Aanklaers meen Trump het die VSA bedrieg deur onder meer onwaarhede te versprei, druk op amptenare te plaas om die uitslae te verander, en ondersteuners aan te hits om die Amerikaanse Kongresgebou in 2021 aan te val.

3. Die Nasionale Vervolgingsgesag het besluit om nie die ANC sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, te vervolg op grond van ’n verslag deur die openbare beskermer dat die Sedgars Sports-groep in 2016 vir sy familie se vakansie in Dubai betaal het terwyl hy nog die minister van sport was nie. Die NVG sê ’n polisie-ondersoek het geen bewyse van misdadige optrede gevind nie.

4. Die polisie ondersoek vyf sake van diefstal wat aangemeld is deur drie verskillende spanne wat aan die Wêreldbeker-netbaltoernooi in Kaapstad deelneem. Die toernooi se hoof van sekuriteit sê niemand is nog in hegtenis geneem nie. Kontant en ’n kredietkaart is van die items wat blykbaar verdwyn het.

5. Die minister van polisie sê soveel as 20 vermeende onwettige mynwerkers is in Riverlea in Johannesburg aangekeer. Inwoners het vroeër die week die strate ingevaar uit protes nadat die lyke van vyf vermeende onwettige mynwerkers gevind is.

6. Nog iemand is strafregtelik aangekla in verband met korrupsie tydens die bou van die Kusile-kragstasie. Johannes Mutchinya is op R100 000 borgtog vrygelaat en sal weer in September saam met 17 medeverdagtes in die hof verskyn. Ander beskuldigdes sluit in Thabo Mokwena, voormalige uitvoerende hoof van die SA Vereniging vir Plaaslike Regerings, asook Matshela Koko, voormalige tussentydse uitvoerende hoof van Eskom.

7. Sakeleiers waarsku dat Suid-Afrika se amptelike werkloosheidsyfer teen 2030 tot bo 38% kan styg indien die regering nie probleme rondom krag, logistieke en misdaad kan oplos nie. Business for South Africa (B4SA) het ook op ’n vergadering met pres. Cyril Ramaphosa gesê indien die krisisse wel opgelos kan word, kan ekonomiese groei met soveel as 5% styg en werkloosheid na 28% afneem.


Daar is waarskuwings oor 'n baie hoë brandgevaar oor dele van die Noord- en Wes-Kaap. Mistige toestande word in dele van Gauteng, Mpumalanga, Limpopo asook die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal verwag. Ligte reën word ook in Mpumalanga en Limpopo verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 19°C • Johannesburg 18°C • Mahikeng 18°C • Mbombela 17°C • Kaapstad 25°C • Durban 24°C • Kimberley 19°C • Bloemfontein 18°C • Polokwane 17°C • Upington 24°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 26°C.


Anneliese Burgess | Banyana! Julle beauts!

Daar wen Banyana Banyana, die Afrika-vrouekampioene, hulle eerste Wêreldbekerwedstryd (tot nog toe) en dring daarmee deur na die laaste 16 spanne in die 2023-Wêreldbekertoernooi vir vroue. Wat 'n hoenderveloomblik!   

Die wedstryd ontvou op die mees dramatiese manier denkbaar. Italië teken die eerste doel aan, maar volg dit daarna op met 'n tuisdoel! Die  gesigte van die Italiaanse vroue-in-blou (en die afrigter) wys rou skok.

Die spanne staan uiteindelik op twee doele elk. En dan, in die 92ste minuut, teken die Suid-Afrikaanse kaptein, Thembi Kgatlana, met 'n manjifieke, vloeiende beweging tussen haar en Hildah Magaia (wat die eerste doel aangeteken het), 'n derde doel aan wat hulle oor die Italianers laat seëvier. 

Suid-Afrika ontplof van trots. Op Twitter sê Breyton Paulse: “Now that was some class and some real South African spirit."

Ek kyk agterna na die spelers in die kleedkamer. Hulle sing en dans. En dit roer my op 'n manier wat ek nie kan beskryf nie.

Al ken ek nie die woorde nie en al ken ek nie die melodie nie, is daar iets so diep en universeel Suid-Afrikaans daaraan dat dit iets in my loswikkel wat ek vergeet het ek kan voel: trots. Nie noodwendig trots omdat ons span die wedstryd gewen het nie, maar trots op wat Suid-Afrikaners kan verrig wanneer ons op ons beste is.

Ons lewe in donker tye, en tog is daar hierdie ongelooflike gees wat ons saambind, en wat 'n mens nie in woorde kan vasvat nie. Jy voel dit.

Banyana kom nou teen Nederland te staan in 'n tweede-rondewedstryd in die Sydney-sokkerstadion. En wat ook al gebeur, ons vroue in geel het 'n lang pad gekom sedert hulle eerste Wêreldbekertoernooi in Frankryk vier jaar gelede toe hulle al drie hulle wedstryde verloor het.

My bloed is geel. 


Image: ANGELA TUCK

Speel die bal, nie die man nie

Die EFF het op Saterdag 29 Julie hulle 10de verjaardagvieringe in die FNB-stadion hier in Johannesburg gehou. Van my kollegas moes dit bywoon. Die stadion was stampvol, mense was in ’n feestelike luim, die rooi barette het gesing en gedans en Julius Malema se lof besing.

Sommige EFF-lede het gepraat oor hoe Malema hulle uit hulle verdrukking sal red. Malema for president. Hulle het gesels oor hoe daar in die byna 30 jaar van Suid-Afrika se demokrasie nog niks vir hulle gedoen is nie. Basiese dienslewering, bemagtiging, opvoeding, beurtkrag. Alles kwessies wat Malema sal oplos … Minderjariges het onwettig gedrink; EFF-leiers wat nie hulle buskwota van ondersteuners kon volmaak nie, is by die funksie verbied; die ANC het die skuld gekry vir alles wat in ons land skeefloop; blink konfetti is die lug in geblaas; en ’n koek is gesny. ’n Properse party. “Kill the boer kill the farmer” is luidkeels gesing. Vir my wit kollega is gesê “one settler one bullet”.

En natuurlik. Natuurlik freak mense al weer uit.

Oukei, ek moet bieg. Ek moet 1 000% eerlik wees met wat ek nou hier wil sê. En ek sê dit in die hoop dat ek nie alleen is nie. Hier kom dit. Ek voel erg ongemaklik wanneer wit mense, veral diegene wat as Afrikaners identifiseer, wegval met beskuldigings, gesprekke, hulle gevoelens van slagofferskap, oor die EFF se “kill the boer kill the farmer”.

My ongemak is nie nuut nie. Dit is amper dieselfde tipe ongemak wat ek ervaar het toe die land verlede jaar geplunder is met die shutdown, dieselfde toe daar protes teen Zuma aangeteken is … En die middelpunt van my vrese as ’n bruin persoon is dat wanneer wit mense oor swart mense soos Malema praat, ek bang is dat hulle iets rassisties gaan sê wat my dalk kan (en ek haat die volgende woord) “trigger”.

Kortom – ek is bang mense se rassisme glip uit. Want kyk, ons kan krities wees teenoor Malema en Zuma sonder om rassisties te wees. Ons kan swart politici kritiseer sonder om hulle menswees te verkleineer.

Image: ANGELA TUCK

Daar is vir seker groot fout met iemand se menswees wanneer hulle feesvier en “kill the boer” sing, so dit maak dit moeilik om hulle nie te wil beledig nie. Dit sal baie beter met ons almal gaan as ons net aanhou om die bal te speel, en nie die man nie. Sodoende sal ons menigte uitdagings ook dalk die nodige aandag kry.

Hoe wonderlik sou dit nie wees as ons vir almal die voordeel van die twyfel kon gee nie? Ons is op ’n bitter gevaarlike plek in hierdie land waar daar nie meer ruimte vir nuanses, gesprek, verskil en vrae is nie. Ons hoor ’n proteslied en besluit dis nag. Daar is sprake dat Malema deur sy optrede geweld aanhits. Geldig. Ek dink egter nie dis wat hy doen nie. Hy doen wat politici ten beste kan doen – opswepery.

Julle sal onthou dat die gelykheidshof verlede jaar beslis het dat die sing van “Kill the boer kill the farmer” nie ongrondwetlik is nie. Die feit dat dit dus grondwetlik is, maak dit steeds nie regverdig nie. Die lied is onnodig verdelend in ’n land waar ons probleme en uitdagings byna mens word so tasbaar is hulle.

My gevoel is dat Malema presies weet wat hy doen. Hy weet presies watter knoppies om te druk vir mense om uit te freak. Hy weet presies hoe om sy lede op te sweep sodat hulle dinge soos “one settler one bullet” vir mense kan skree. Politieke teater op sy beste.


The Caseworker speaks of a good fit

Morning laps at its bowl of water.
The lake eagerly greets the shore.
A man in his bathrobe does the daily puzzle,
the smell of coffee—six across.

A boy upstairs lingers in bed.
The warmth of the sheets envelops him.
“How many letters?” “Does it fit?”
The promise of pancakes—four across.

He had dreamt forever of a scene like this:
family, food, a true-green home.
(Violence: that’s a cross word puzzle.
The way he’d cry—eleven down.)

Late afternoon. The wind picks up.
A single blank remains.
“I think I’ve got it. Everything fits!”
His heart billows like a sail.

– DJ Savarese


VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.