Brug tussen ’n dronk regter en afwesige Bokke

WOENSDAG MET WILLEM

Brug tussen ’n dronk regter en afwesige Bokke

WILLEM KEMPEN hoop Nkola Motata kry uiteindelik wat hom toekom, en dink weer daaraan om te leer brug speel. Soos altyd is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 09 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre


1. Suid-Afrika herdenk vandag die 29ste jaarlikse nasionale Vrouedag.

2. Die Springbokke sal sonder Handré Pollard, Lukhanyo Am en Lood de Jager moet klaarkom wanneer hulle die Web-Ellis-trofee oor 'n maand in Frankryk begin verdedig. Jacques Nienaber het gister sy groep van 33 spelers vir die toernooi aangekondig. Siya Kolisi sal die span aanvoer en sal hopelik teen dan ten volle van sy besering herstel wees.

3. Die nasionale minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, het gevra dat die Stad Kaapstad onmiddellik alle geskutte taxi's aan die eienaars vrystel, en gesê die metroraad het die verordeninge geskep om dit te kon doen sonder die nodige wetlike basis. Die raad ontken dit.

4. Die Santaco-geleide staking het veroorsaak dat 92 skole in die provinsie gister gesluit was, en 852 259 leerders van die skool af weggebly het, het David Maynier, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, gesê.

5. Soos dinge teen gister gestaan het, wag 'n geweldige styging in brandstofpryse in September op motoriste, het Hanlie Stadler van Netwerk24 berig. Petrol kan met tot R1,13 en diesel met tot R2,43 per liter duurder word, blyk uit syfers van die Sentrale Energiefonds. 

6. Amerikaanse aandelepryse het gisteraand (SA tyd) skerp gedaal nadat Moody's verskeie Amerikaanse banke se kredietstatus afgegradeer het.

7. China het die Filippyne weer gevra om 'n ou oorlogskip uit die Tweede Wêreldoorlog wat nou as 'n militêre buitepos gebruik word nadat dit in 1999 in 'n betwiste gebied gestrand het, te verwyder. Die regering in Manila het reeds 'n vroeëre eis hieroor verwerp en die twee lande het mekaar van provokasie beskuldig.


Die grootste deel van die land is vandag deels bewolk. Buie word in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verwag en ligte reën oor die platorand van Mpumalanga vanaand.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 23°C • Mbombela 20°C • Bloemfontein 23°C • Polokwane 19°C • Kimberley 25°C • Upington 29°C • Kaapstad 24°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 21°C • Durban 22°C.


Willem Kempen | ’n Nugter oomblik in ’n besope sage

Nkola Motata weef nou al 16 jaar lank deur die Suid-Afrikaanse regstelsel soos 'n dronk regter in 'n duur motor deur die strate van 'n voorstad op soek na 'n muur om teen tot stilstand te kom.

Dit het al die elemente: Daar is die besope regsgeleerde wat keer op keer uitgevang is dat hy gelieg en bedrieg het om homself uit die moeilikheid te kry, en desondanks toegelaat is om met volle voordele af te tree. Daar is die proses teen hom wat keer op keer in sy guns bekook is. Daar is die destydse verslag van die Regterlike Dienskommissie (RDK) wat bevind het dat Motata se dronkenskap 'n versagtende faktor was, al het die regter aanvanklik volgehou dat hy vooraf net tee gedrink het. Daar is die beskuldigings dat die k-woord op die toneel van die botsing teenoor Motata gebruik is, maar later teruggetrek is nadat iemand se reputasie reeds geskend was. Daar is die video wat wyd versprei is waaruit dit duidelik geblyk het dat die regter ver van nugter was. En les bes is daar die vrae oor die rol van Dali Mpofu, loshande Suid-Afrika se mees onreëlmatige advokaat, en Mogoeng Mogoeng as destydse hoofregter.

Nou het die hele ding oplaas ook 'n muur gevind om teen tot stilstand te kom. Die RDK het wyslik besluit om nie 'n beslissing van die appèlhof te betwis dat Motata aan growwe wangedrag skuldig is nie, wat beteken 'n proses kan nou begin wat van hom die eerste regter in die geskiedenis van Suid-Afrika sal maak wat deur die parlement in 'n staat van vervolging geplaas word – impeachment – waarna hy van sy titel en voordele soos sy lewenslange pensioen gestroop kan word.

Image: ANGELA TUCK

Karyn Maughan van News24 het gister berig dat hoofregter Raymond Zondo nou aan die speaker van die Nasionale Vergadering sal skryf om dié proses te begin. Helaas word alles dan nogmaals 'n politieke proses pleks van die wetlike een wat dit van die begin af veronderstel was om te wees, maar selde regtig was.

Die laagtepunt was toe die RDK destyds die ergste van die gedragstribunaal se bevindinge oor Motata tersyde gestel het. Dit sluit in dat die regter skuldig was aan growwe wangedrag, dat hy aangekla moes word oor sy beledigende gedrag teenoor Richard Baird, dat dié nooit die k-woord teenoor hom gebruik het nie, en dat hy doelbewus 'n rasgemotiveerde strategie gekies het om die  polisiebeamptes op die toneel aan sy kant te kry en hulle van Baird te vervreem.

Appèlregter Nathan Ponnan het in sy striemende beslissing oor Motata gesê:

The public watched him conduct a dishonest defence during his trial and on appeal. They watched him dishonestly accuse Mr Baird of using the k-word, only to thereafter withdraw the accusation. They watched him lie under oath to the Tribunal about his level of intoxication, as the video of him slurring his words and stumbling went viral. His conduct is inimical to his office. For as long as he is entitled to be called ‘Judge Motata’, the judiciary continues to be stained in the eyes of the public.

Die vraag is nou of die vereiste twee-derdes van LP's formeel hiermee gaan saamstem, of nogmaals gaan toelaat dat politieke oorwegings harder praat.

Wrong answers only ...


Blokkiesraaisel? Sudoku? Of wat van ...

Lank gelede was daar altyd hier na die agterkant toe van die meeste koerante en tydskrifte 'n versameling gereelde goedjies wat gemik was op allerhande gewilde tydverdrywe: 'n blokkiesraaisel, 'n strokiesverhaal of twee, 'n raaisel of iets soos join-the-dots vir die kinders, dalk selfs die dag se skuiwe in 'n skaakwedstryd. 'n Perdeblad vir die omies wat hulle dae in plekke soos 'n Tattersalls deurgebring het in die hoop om die boerpot of die trifecta of die kwinpot te wen.

En dikwels ook 'n brugrubriek, gewoonlik onder die naam van die Egiptiese akteur Omar Sharif, wat vir lank een van die wêreld se voorste spelers was. Agt jaar ná sy dood leef sy naam steeds voort in verskeie produkte wat met kontrakbrug te doen het.

Blokkiesraaisels is waarskynlik die enkele ding wat nooit lekkerder sal wees om op jou foon of aanlyn te doen as met 'n pen of 'n potlood op 'n stuk papier nie, maar die res is meestal deesdae elektronies. Digitale Sudoku en Scrabble werk ook lekker.

Weddenskappe op “die perdjies" is nog 'n ding, maar nie eens amper so groot soos in die dae toe dit nog die naaste was wat ons aan wettige dobbelary gekom het nie; toe tabakreklame nog wettig was en sigaretvervaardigers tougestaan het om groot wedrenne soos die Durban July te borg. Is daar enige plaaslike koerant wat nog 'n perdeseksie het?

Maar terug by brug – dié kaartspel en die mitologie daarom fassineer my nog altyd, hoewel ek dit nooit self leer speel het nie (ek is wel hopeloos verslaaf aan harte, wat maar 'n erg afgewaterde weergawe is). Al daardie praatjies oor wie al weer hulle brugmaat in die steek gelaat het by die weeklikse wedstryd, of die beroering in Huis Herfsblaar omdat Ouma nie vanaand kan speel nie. En al die eksentrieke karakters, nie net Sharif nie maar ook mense soos Harold Vanderbilt van die beroemde Amerikaanse nyweraarsfamilie aan wie baie van die moderne reëls van die spel te danke is.

Brug is steeds die wêreld se gewildste kaartspel, of so beweer minstens een bron op die internet, al is dit nie so glamorous soos al die variasies van poker met sy superster-spelers en sy cowboy-erfenis en miljoene aan prysgeld in groot toernooie soos in Las Vegas nie. Brug is ook nie onlangs van voor af gewild gemaak soos wat met skaak gebeur het deur Netflix se The Queen's Gambit nie, en dis ook nie heeltemal so uitdagend vir 'n superrekenaar om te bemeester soos Go nie.

En tog, steeds speel miljoene mense minstens een keer 'n week brug. Miskien moet ek weer 'n slag bietjie moeite doen om ook te leer.


Bespreek sommer nou dadelik jou kaartjies vir Vrye Weekblad se eerste Melkbos-boekefees hier.


Being Independent 

“i do not want to have you
to fill the empty parts of me.
i want to be full on my own.
i want to be so complete
i could light a whole city
and then
i want to have you
cause the two of us combined
could set it on fire.”

– Rupi Kaur


♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.