Ons kort die durf van die UDF van die 80’s

MAANDAG MET MAX

Ons kort die durf van die UDF van die 80’s

Die ANC het vir mag vir homself en die swart meerderheid geveg; die UDF wou al die mense vrymaak en in ’n oop demokrasie laat gedy, skryf MAX DU PREEZ by geleentheid van die 40-jarige viering van die UDF se stigting dié week. Hy sê ook Zanu-PF gaan weer hierdie week die Zimbabwiese verkiesing ‘wen’. En soos altyd is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 21 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 12 min om te lees

Goeiedag!

1. Die positiewe bui van die Suid-Afrikaanse burgery en die hoop op ’n beter toekoms is stelselmatig ondermyn en die vertroue in openbare verteenwoordigers het skerp gedaal namate dienste aan die publiek verswak en die een ná die ander munisipaliteit begin ineenstort het, het die oud-sekretaris-generaal van die UDF en oud-premier van Noordwes, Popo Molefe, op die UDF40-vieringe gesê. Pres. Cyril Ramaphosa het by die geleentheid gesê baie mense is teleurgesteld dat die nierassigheid waarvoor die UDF gestaan het, gekwyn het.

2. Die minister van elektrisiteit, Sputla Ramokgopa, sê die groeiende bedrag geld wat plaaslike owerhede aan Eskom skuld, staan reeds op R63,2 biljoen en ondermyn Eskom se potensiaal om te ontwikkel en dienste te lewer.

3. Rusland se Luna-25 ruimtetuig is verwoes toe dit op die maan neergestort het. Dit sou die eerste tuig gewees het wat op die maan se suidpool land, waar daar moontlik water is. Rusland se maanprogram was ’n prestige-projek vir die Kremlin eerder as dat dit groot wetenskaplike waarde inhou. Ná Rusland se inval in Oekraïne het die staatskorporasie Roscosmos gesukkel om die projek sonder Westerse tegnologie te voltooi, maar daar is nogtans deurgedruk. Dit gaan ’n groot verleentheid wees as Indië se Chandrayaan-3-tuig oormôre suksesvol in dieselfde omgewing van die maan land en ’n maantuig die oppervlak verken.

4. Gemeenskapsaktiviste glo die sterftesyfer ná die brande op Maui in Hawaii staan op minstens 480, hoewel die amptelike syfer 114 is. Honderde mense is nog nie opgespoor nie. Intussen is sowat 50 000 huishoudings in die weste van Kanada weens onbeheerde groot brande ontruim. Erge vloede het die Mexikaanse deelstaat Baja Kalifornië getref nadat die orkaan Hilary verwoesting gesaai het. Die orkaan was gister op pad na die Amerikaanse deelstaat Kalifornië.

5. Die kerk waar die voorsitter van Eskom, Mpho Makwana, ’n prediker en senior bestuurslid is, die Pentecostal Holiness Church in Zuurbekom net buite Johannesburg, skuld Eskom meer as R2 miljoen in agterstallige rekenings. Die kerk het onlangs ’n Mercedes Benz Maybach van meer as R5 miljoen vir sy leier, Leonard Modise, gekoop en besit ook ’n Bentley ter waarde van meer as R7 miljoen. Die kerk gebruik FLG Security Services om geld in te samel. Dit behoort aan Modise. Die kerk bevestig die Eskom-skuld, maar hou vol dit val buite Makwana se verantwoordelikhede.

6. Die omstrede mediabaas van die Independent-groep, Iqbal Survé, het ontpop as die mede-voorsitter van Brics se Media Forum. Hy het in ’n toespraak by die forum uitgevaar teen banke wat sy maatskappy Sekunjalo se rekenings weens reputasierisiko’s wil sluit. Die Independent-groep is die enigste mediagroep wat aan die Persraad onttrek het en word gereeld uit joernalistieke geledere van waninligting en propaganda beskuldig. Dit is gesien as ’n mondstuk vir die ANC se RET-faksie. “The upcoming BRICS Media Forum in South Africa is a pivotal moment to emphasise press freedom, combat misinformation, promote media diversity, foster technological cooperation, and address global challenges. In so doing, BRICS countries can collectively shape the future of global journalism,” het Survé in sy toespraak gesê.

7. Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, eis ’n openbare apologie van die nuutverkose leier van die ANC-jeugliga, Collen Malatji, na dié verklaar het dat Gordhan Eskom en ander openbare ondernemings wil privatiseer. Pres. Cyril Ramaphosa het dit self weer die afgelope naweek duidelik gemaak dat Eskom herstruktureer word, maar altyd aan die staat sal behoort.


Daar is waarskuwings oor 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord- en Oos-Kaap, Noordwes, Vrystaat en KwaZulu-Natal, asook oor sterk wind en golwe tussen Langebaan en Plettenbergbaai. Dis vandag warm in verskeie dele van die land. Die Wes-Kaap is bewolk en kan buie in die suidweste verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 30°C • Mbombela 32°C • Kaapstad 15°C • Durban 28°C • Kimberley 25°C • Bloemfontein 22°C • Polokwane 29°C • Upington 23°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 23°C.


Max du Preez | Die ‘P’ in Zanu-PF staan vir ‘permanent’

Zanu-PF gaan waarskynlik weer dié week die verkiesing in Zimbabwe “wen”, nes hulle in 2002, 2008, 2013 en 2018 “gewen” het – deur geweld, intimidasie en ’n gekonkel met uitslae.

Gaan die ANC en die Suid-Afrikaanse regering en die Afrika-unie dit weer kondoneer? Waarskynlik.

Woensdag se verkiesing sou die terugkeer na grondwetlikheid en die oppergesag van die reg kon beteken, die uitsluiting van die soldate uit die politieke proses en die herstel van ’n onafhanklike regbank.

As Zanu-PF weer toegelaat word om die verkiesing te steel, gaan die verval in Zimbabwe selfs versnel. En Suid-Afrika en ander buurstate gaan ook die prys daarvoor betaal.

Sowat 6 miljoen Zimbabwiërs, insluitende rondom driekwart van die land se beroepslui en opgeleide mense, het reeds die land verlaat. Hiperinflasie woed en vakbondleiers raam die werkloosheidsyfer op 90%. Klinieke, hospitale en skole val uitmekaar en plaaslike dienslewering is so swak as in die swakste munisipaliteit in Suid-Afrika.

Die polisie het die laaste paar maande verskeie verkiesingsvergaderings van die Citizens Coalition for Change (CCC) van Nelson Chamisa opgebreek. Verlede week is 40 CCC-aktiviste in hegtenis geneem en twee weke gelede is die CCC-leier Tinashe Chitsunge vermoor. Die CCC se onderleier, Job Sikhala, is al langer as ’n jaar in die tronk, kastig weens dwarsboming van die gereg.

Oudpres. Thabo Mbeki moet heelwat van die skuld vir die ineenstorting van Zimbabwe dra. Sy eie span verkiesingsmonitors onder regters Dikgang Moseneke en Sisi Khampepe het verklaar dat die 2002-verkiesing alles behalwe vry en regverdig was, maar Mbeki het dit geïgnoreer en die uitslae aanvaar. Hy het boonop die Khampepe-verslag vir 12 jaar daarna geheim gehou. Hy het ook die chaotiese verkiesing van 2008 as vry en regverdig verklaar.

Daar is goeie rede om te dink dat as die opposisie die regering in 2002 by Zanu-PF oorgeneem het, die land vandag aansienlik beter daaraan toe sou gewees het.

Die gerespekteerde Zimbabwiese akademikus, skrywer en sakeman Ibbo Mandaza het gister in die Suid-Afrikaanse Sunday Times geskryf: “By all accounts, Robert Mugabe lost to Morgan Tsvangirai in the presidential elections of 2002, 2008 and 2013. Closer scrutiny of the 2018 elections would appear to confirm the view of a number of analysts that Emmerson Mnangagwa likewise lost to Nelson Chamisa.” Hy sê dit is duidelik dat dié week se verkiesing “will neither be free, fair nor credible”.

Die regbank is al van Mugabe se dae af in Zanu-PF se sak en die 80-jarige Mnangagwa het seker gemaak dit duur voort. Die kans dat ’n hof ’n uitdaging van die verkiesingsuitslae objektief sal oorweeg, is baie skraal.


ANC, UDF het nie vir selfde ideale geveg

“Ons moet die gees van die UDF laat herleef.” “Ons het ’n nuwe soort UDF nodig om ons demokrasie te red.”

Hoeveel mense het dít nie al die laaste paar maande met groot gewag verklaar nie? Dit sluit mense in wat destyds gretig was dat die UDF deur die staat vermorsel word, selfs mense wat teen die onderhandelde skikking van 1994 gekant was.

Ja-nee, mense, ek hoor julle versugting en desperaatheid. Maar soos ons die stigting van die UDF 40 jaar gelede, op 20 Augustus 1983, herdenk, moet ons darem ook reg onthou wie en wat die UDF was.

Dit was ’n beweging van miljoene Suid-Afrikaners en honderde gemeenskaps-, beroeps-, arbeids- en geloofsorganisasies wat gemobiliseer is om apartheid onwerkbaar te maak.

Dit was ’n onwrikbaar nie-rassige “broad church”, ’n konglomerasie van mense oor ideologiese, etniese, geloofs- en klasgrense heen met één doel: om wit heerskappy te beëindig en die mense, ál die mense, hulle self te laat regeer.

Tienduisende UDF-aktiviste is in die sewe jaar van die beweging se bestaan tronk toe gestuur, die oorweldigende meerderheid sonder verhoor. Honderde het met hulle lewe geboet. Dit was die destydse veiligheidspolisie se nasionale sport om UDF-aktiviste te ondermyn, lastig te val en hulle lewe te ontwrig, omtrent altyd op onwettige maniere.

Die UDF was noodwendig ’n radikale, soms militante beweging – hoe kon dit anders wees as die doel was om die status quo van meer as drie eeue met ’n een-mens-een-stem-demokrasie in ’n eenheidstaat te vervang?

Alewige soek na mandaat

Ek onthou hoe gefrustreerd ek destyds soms was met die UDF se obsessie met raadplegende demokrasie: die alewige soek na ’n mandaat van die ondersteuners, die uitstryk van verskille, die soeke na konsensus oor strategie, die aansteek en doodslaan van vure.

Daar is in dié sewe jaar meer werksessies en klein en groot vergaderings gehou as in die vorige 100 jaar in Suid-Afrika.

Frustrerend, ja, maar dit was wat die UDF gemaak het wat dit was: ’n werklik nasionale beweging met sy wortels diep in die gemeenskappe. Die UDF het aan die mense behoort, nie aan ’n leier of leiers of partystrukture nie.

Ek het dit al van vele verhoë af gesê en in baie artikels geskryf: Dit is seker nie iets wat forensies meetbaar is nie, maar ek het in my eie gemoed geen twyfel nie dat die UDF in sewe jaar baie meer gedoen het om apartheid te laat verbrokkel en die Nasionale Party na die onderhandelingstafel te dwing as wat die ANC en Umkhonto we Sizwe in die twee dekades voor 1990 gedoen het.

Die UDF, soos ek dit persoonlik ervaar het en soos dit deurgaans deur leiersfigure verwoord is, was nié die “binnelandse vleuel” van die ANC nie. Dit was nie ’n ANC-inisiatief nie. Dit is nie uit Lusaka bedryf nie.

Dit was natuurlik ook darem nie heeltemal los van die ANC nie. Daar was ’n breë begrip dat die twee organisasies dieselfde einddoel het en ’n hele klompie klipharde ANC’s was altyd in die UDF woelig. Daar was onder baie selfs ’n oorromantisering van die “vryheidsvegters in ballingskap” en van die UDF-leiersfigure het by geleentheid in Lusaka gaan flikflooi.

Image: ANGELA TUCK

Ontkenning van politieke realiteite

Die enigste warm argument wat ek ooit met my gewaardeerde ou vriend Van Zyl Slabbert gehad het, was in die maande toe hy en Alex Boraine die Dakar-beraad met die ANC in 1987 beplan het. Ek het dié inisiatief sterk gesteun en aktief daaraan deelgeneem, maar ek het vir Van Zyl gesê dat om net met die ANC te gaan praat en nie ook ’n soortgelyke simboliese ontmoeting met die interne UDF te hê nie, ’n ontkenning van die politieke realiteite is.

ANC-leiers soos Thabo Mbeki, Mac Maharaj en Pallo Jordan het tydens ons gesprekke in Dakar die UDF inderdaad tot ’n soort “plaaslike ANC-inisiatief” afgemaak, ’n slim taktiek van die Politburo en die Kommunisteparty. Dit was presies wat die apartheidsregering en die veiligheidspolisie ook gesê het.

En toe word die verbod op die ANC in 1990 opgehef en die leierskap keer terug Suid-Afrika toe.

Die UDF is gou onseremonieel en sonder veel teenstand van die UDF-leiers ontbind en in die ANC ingelyf.

Ingesluk en uitgekots.

Ek blameer myself vandag nog dat ek toe, as die redakteur van ’n struggle-koerant wat na aan die UDF gestaan het, nie hard en duidelik hierteen geprotesteer het nie.

Dalk, en dis nie lekker om dit te sê nie, was ek ook effe verblind deur die romantiek en glamour van die brawe bannelinge wat ná drie dekades huis toe kom.

UDF keelaf gesny

En dalk is ek verblind deur Nelson Mandela die Heilige, onder wie se leierskap die UDF keelaf gesny is.

Ek het die meeste ANC-leiers toe al geken en was ’n gereelde besoeker aan Lusaka tussen 1984 en 1989. Ek het gewéét die politieke kulture van die ANC en die UDF het hemelsbreed verskil; dat die Sowjet-styl en “demokratiese sentralisme” en die UDF se gemeenskapsgebaseerde weerstand moeilik versoenbaar was.

Dit was, as ek terugkyk, ’n fenomenale groot historiese fout waarvoor Suid-Afrika duur betaal.

Hier is UDF-voorbok Allan Boesak daaroor: “So now, some in the ANC realise the enormity of that mistake, for it is the ‘spirit of the UDF’ you are now all looking for. That, however, is the very spirit you have tried to banish, 32 years ago.”

Boesak het onlangs ook onthul dat die ANC die ontbinding van die UDF met ’n partytjie in die ou Carlton-hotel gevier het. “How fitting, and how ineffably sad. So I have to ask myself, are these the same people who are now calling for the revival of the UDF?”

Die bruin gemeenskap, wat na aan die hart van die UDF was, se reaksie was om vier jaar later in groot getalle vir die ou Nasionale Party te stem.

Ek het groot respek vir mense in die ANC en Umkhonto we Sizwe wat hulle lewe vir die bevrydingstryd gegee het.

Politieke mag

Maar in 2023 kyk ek terug en kan nie anders nie as om tot die gevolgtrekking te kom dat die ANC in sy wese eintlik vir politieke mag vir die swart meerderheid en die ANC as beweging geveg het eerder as vir ’n waarlik vrye en demokratiese Suid-Afrika.

ANC-leiers vandag en oor die jare heen het baie ander praatjies gemaak, maar die bewind van Jacob Zuma as president het dié werklikheid duidelik en dramaties gedemonstreer.

As iemand wat die UDF as sy enigste werklike politieke tuiste gesien het, glo ek dat Suid-Afrikaners wat die UDF se ideale gekoester het en werklik in ’n Suid-Afrika glo waar burgers se menswaardigheid en welstand die hoogste waarde is, finaal met die ANC moet breek.

En hulle moet die durf van die UDF van die 1980’s aan die dag lê en dit sigbaar doen en sê.

Die ANC is nie meer rehabiliteerbaar nie. Die ANC het drie dekades gehad om Suid-Afrika uit die as van kolonialisme en apartheid te help opstaan, maar kyk hoe lyk ons nou.

Die hef aan lê voor.

Max


herinnering jongensfontein

ses wit fonteine breek uit die kalkrand
en loop deur some bronkors af see toe,
en verdwyn
so soetjies in die sout soos 'n man in 'n vrou
of 'n vrou in 'n man
en nóg kom die meisiekinners in die oggend verby
en pluk hande vol groen af vir die aandkos
en noem die
name op, die onbeplandes:
bromkors, pepergras
                ja, wat nog?
seeseleie,
kalkslaai
kres

– Petra Müller
(Uit: om die gedagte van geel)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.