Goeiemôre
1. Ses mans wat skuld erken het aan die moord twee jaar gelede op die fluitjieblaser Babita Deokaran is gister in die Johannesburgse hooggeregshof skuldig bevind en gevonnis. Hulle is Phakamani Hadebe, Nhlangano Ndlovu, Sanele Mbhele, Siphakanyiswa Dladla, Zitha Radebe en Siphiwe Mazibuko. Tronkstraf wat wissel van ses tot 22 jaar is aan hulle opgelê.
2. Die joernalis Derek Watts is gisteroggend in die ouderdom van 74 in Johannesburg oorlede. Die velkanker wat vroeër by hom gediagnoseer is, het later na sy longe versprei. Sy kollega Ruda Landman, wat sedert die begin van Carte Blanche in 1988 dié aktualiteitsprogram saam met hom aangebied het, was een van die vele joernaliste wat gister aan Watts hulde gebring het.
3. China en Suid-Afrika het gister by die Uniegebou in Pretoria 11 samewerkingsooreenkomste onderteken, maar die handel in Amerikaanse dollar tussen die twee lande is “here to stay”, het die minister van finansies, Enoch Godongwana, aan News24 gesê. China het onder meer R167 miljoen se noodkragtoerusting aan Suid-Afrika geskenk en sy markte vir Suid-Afrikaanse avokado’s geopen. Pres. Xi Jinping van China is op 'n staatsbesoek aan Suid-Afrika wat saamval met die Brics-beraad in Sandton, en pres. Cyril Ramaphosa het gister ook die Orde van Suid-Afrika aan hom toegeken.
4. Die Brics-beraad in Sandton is gister deur onder andere pres. Vladimir Putin van Rusland (via video) en pres. Lula da Silva van Brasilië toegespreek.
5. Die parlementskomitee wat Busisiwe Mkhwebane se geskiktheid as openbare beskermer ondersoek het, het ’n finale verslag oor die saak aanvaar en aanbeveel dat sy uit haar amp verwyder word. Die saak is nou na die nasionale vergadering geëskaleer, hoewel Mkhwebane se termyn in elk geval op 14 Oktober verstryk.
6. Die eerste twee van Donald Trump se medebeskuldigdes het hulle gister by ’n sheriff in Atlanta aangemeld om tereg te staan op ’n reeks strafregtelike aanklagte wat die staat Georgia teen hulle gebring het. Hulle is die voormalige Trump-prokureur John Eastman en die Republikeinse strateeg Scott Hall. Trump sal homself na verwagting môre op dieselfde manier aanmeld.
7. Die oorskot van 18 slagoffers van die afgelope dae se verwoestende bosbrande is gister in ’n afgeleë dorp in die noordooste van Griekeland gevind. Groot dele van die suide van Europa loop tans weer onder hittegolwe deur.
Daar is waarskuwings oor sterk wind en golwe langs die Wes- en Oos-Kaapse kus, asook 'n hoë brandgevaar in dele van die Vrystaat, Noordwes en die Oos-Kaap. Dis vandag matig tot warm oor die grootste dele van die land, maar die Wes- en Oos-Kaap en KwaZulu-Natal kan buie verwag.
Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 30°C • Mbombela 31°C • Bloemfontein 20°C • Polokwane 32°C • Kimberley 20°C • Upington 20°C • Kaapstad 15°C • Gqeberha 18°C • Oos-Londen 20°C • Durban 26°C.
Willem Kempen | Van die liggies brand weer in Sandton
’n Ligte histerie het onder inwoners van Johannesburg posgevat. Veral uit die omgewing van Sandton rapporteer mense die vreemde verskynsel van straat- en verkeersligte wat ná maande en selfs jare weer werk. Strate is reggemaak en padstrepe weer ’n slag opgeverf, en die polisie is oral te sien. En wat het van al bedelaars en rondlopers geword?
Is dit alles net danksy die Brics-beraad dat die Stad Johannesburg skielik weer lewe gekry het?
Die sakejoernalis Giulietta Talevi wil op X van @CityPowerJhb weet:
Was dit maklik om al die ligte aan te skakel wat vir so lank af was? As dit was, hoekom het julle dit nie lankal gedoen nie? Gaan julle die ligte weer afskakel as die gaste weg is?
Maar goed, dis sekerlik beter so as dat alles net gelos is soos dit was. En die Brics-beraad is ’n groot geleentheid vir die land, en meer spesifiek vir ons president. Dit was so amper of die verleentheid oor Vladimir Putin wat ook wou kom saamgesels, het die partytjie bederf, maar die Russiese president se afwesigheid kan Cyril Ramaphosa dalk net in ’n gunstiger posisie plaas om homself te laat geld. Maar gaan hy die geleentheid gebruik?
Dis lastig dat Suid-Afrikaners so ver van seker is of hulle ons president en sy party kan vertrou met samesprekings op dié vlak. As besluite geneem word oor ’n groter Brics, of as die soms gespanne verhouding tussen China en Indië of tussen China en Rusland ter sprake kom, of as gepraat word oor hoe groot projekte gefinansier gaan word, hoe seker kan ons wees dat wat goed is vir die land meer gaan tel as wat goed is vir die ANC? Waar gaan Suid-Afrika staan as die sentiment op die beraad verder teen die Amerikaners draai juis noudat dit lyk of ons verhouding met die VSA effens herstel het van die fiasko met Oekraïne en die Lady R?
Dit gaan heelwat moeiliker wees om al die gate in ons diplomatieke paaie heel te kry as wat dit was om ’n klompie slaggate in Johannesburg reg te maak.
Kietsie en die Nazi met die een-yster: wat regtig daardie dag gebeur het
As enige lesers hiervan dalk 'n eksemplaar van James A. Yannes se baanbrekerboek Collectible Spoons of the 3rd Reich (eerste uitgawe in 2009) iewers op 'n rak het, laat weet my asseblief.
Dis nie dat ek self een wil hê nie, ek is eintlik net nuuskierig om te weet hoe groot die universum is van genoegsaam toegewyde versamelaars van Nasionaal-Sosialistiese eetgerei. (Yannes is ook die outeur van die meer omvangryke The Encyclopedia of Third Reich Tableware.)
Amazon sê oor eersgenoemde publikasie:
These spoons, unlike most other collectibles from this period, were actually owned and used daily by the people and organizations of those times. The book includes many spoon types, for example: Hitler’s personal silverware, Red Cross, SS, the U-47 etc. With over 200 photos and graphics and over 19,000 words of text, the book extensively explores the relevant historical highlights which in turn illuminate this unique period in history as reflected by the spoons.
Ek sou aanneem Yannes se moontlike sukses as skrywer het meer te doen met Nazi's as met lepels en messe en vurke, want die Derde Ryk is nou eenmaal 'n onderwerp waarmee mense se fassinasie geen einde ken nie. Die Britse humoris en skrywer Alan Coren, wat onder meer vir meer as 'n dekade die redakteur van Punch was, het in 1975 'n bundel artikels uitgegee met die titel Golfing for Cats en 'n swastika op die voorblad, al gaan dit g'n niks oor enige van die drie nie. Want, het hy gereken, dis die drie temas wat gewaarborg is om by die Britse koperspubliek aanklank te vind: gholf, katte en Nazi's.
Ons praat gereeld hier op die redaksie oor maniere om mense lus te maak om ons stories te lees. 'n Prikkelende opskrif met 'n bietjie spanning of suggestie of misterie kan die verskil maak tussen 'n artikel wat almal by verbygaan en een wat wyd gelees word.
In 'n vorige lewe was dit deel van my werk by 'n dagblad om saans drie of vier plakkate te skryf wat die volgende dag op lamppale en by plekke soos kafees en die CNA die koerant sou help verkoop.
Die trick met 'n goeie plakkaat (en opskrifte in die algemeen) is om mense nuuskierig te maak sonder om te veel weg te gee, want anders gaan hulle mos nie die moeite doen om die koerant te koop of die res van die artikel te lees nie.
Die plakkate is saans vroeër as die koerant self na die fabriek gestuur sodat dit betyds gedruk en versprei kon word. En as daar die dag 'n probleem is wat maak dat die plakkate nie gedruk kan word nie, dan kan mens dit later in die verkoopsyfers sien.
Omdat rolperse ewe dikwels breek as wat hulle werk (daai tyd, in elk geval), kom vra 'n ou van bemarking my op 'n dag vir 'n spesiale plakkaat wat hulle vooraf kan laat druk en versprei as die gewone plakkate dalk nie beskikbaar is nie. Soos in: een wat voor die tyd geskryf is, sonder om te weet wat daardie dag in die koerant sou wees.
Ek het nie geval vir sy voorstelle van iets flou soos “VANDAG IN DIE NUUS" nie, toe skryf ek in my slimmigheid 'n plakkaat wat sê:
WAT
REGTIG
GEBEUR
HET
Dié bewoording, dag ek, sal sekerlik waar wees van minstens een of twee stories in daardie dag se koerant. Dis mos wat koerante doen, om mense te vertel wat regtig gebeur het ...
En toe gebeur dit inderdaad op 'n dag dat niks anders behalwe dié een plakkaat die pale haal nie.
Op die flouste nuusdag denkbaar.
Daar was net mooi geen enkele storie daai dag in die hele koerant wat op énige manier die belofte van “wat regtig gebeur het" gestand gedoen het nie. Lesers het op 'n rits ingebel om te vra waarvan ons dan praat. Wat hét regtig gebeur?
En dan kan mens dié kant en daai kant toe nes jy wil, maar uiteindelik moes ek maar bieg: Nee, ek weet ook nie wat regtig gebeur het nie. Maar lees gerus môre se koerant, dan vind ons almal saam uit.
AUBADE I
Deur die nag
is daar met duisend hande
aan krakende dakke gegryp.
'n Rooi ysoggend
het die wind ingesluk.
Populiere en vliere krap mekaar
se rûe; is stiller nou
en drup soos geslagte osse.
Boere sterf in hul slaap
of te vroeg op ongeploegde lande.
Alles beur uit 'n droom
na bo. Lê en wag
op die eerste sug
van asem bo 'n landskap.
– Henning Pieterse
(Uit: Die burg van hertog Bloubaard)
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.