Oor 16 000 sake deur die krake, skaam lippe en ’n beloning as jy trou

WOENSDAG MET WILLEM

Oor 16 000 sake deur die krake, skaam lippe en ’n beloning as jy trou

WILLEM KEMPEN skryf oor die chaos by 'n forensiese laboratorium in Pretoria, en wonder waar ‘calling a spade a spade’ vandaan kom. Soos gewoonlik is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 30 Augustus 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre


1. Regter Leona Theron het gister aan die Vereniging van Onafhanklike Kandidate van Suid-Afrika gesê die Konstitusionele Hof is huiwerig om moontlik inbreuk te maak op die skeiding van magte tussen die parlement en die regbank. Die vereniging wil hê die bepaling in die gewysigde Kieswet wat die aantal setels vir onafhanklike kandidate beperk, moet as irrasioneel en dus ongrondwetlik verklaar word. Tans bepaal die wet dat net 200 van die 400 setels in die nasionale vergadering deur onafhanklike kandidate beklee mag word.

2. Die nasionale vergadering sal Kholeka Gcaleka oorweeg as die land se volgende openbare beskermer nadat die parlement se ad hoc-komitee oor die aanstelling gister vergader het om 'n voorkeurkandidaat aan te wys. Gcaleka neem tans waar as openbare beskermer. Die DA, EFF en die VF Plus het nie haar benoeming ondersteun nie, het eNCA berig.

3. @PresidencyZA het gister op X gesê: “The Republic of South Africa congratulates the government and the people of The Republic of Zimbabwe for organizing and holding the harmonized elections to elect the President, National Assembly and Local government representatives."

4. Terwyl veral ActionSA en die DA mekaar steeds aan die keel beet het oor die pad wat die opposisie-koalisie in Johannesburg moet inslaan, het die DA se Mpho Phalatse, wat twee keer as die burgemeester van die stad gedien het, as raadslid bedank en gesê sy kan 'n beter bydrae lewer deur haar loopbaan as mediese dokter te hervat. Phalatse het benadruk dat sy nie uit die DA bedank nie en ook nie uit die politiek tree nie.

5. Die begrafnis van Valery Chekalov, een van die Wagner-grootkoppe wat verlede week saam met Yevgeny Prigozhin dood is toe hul vliegtuig noord van Moskou neergestort het, het gister in St. Petersburg plaasgevind. Reuters het verskeie prominente Wagner-huursoldate en werknemers van Prigozhin se sakeryk onder die begrafnisgangers geïdentifiseer. Dis steeds onduidelik wanneer Prigozhin se eie begrafnis gaan wees, maar die Kremlin het reeds gesê “dit word nie in die vooruitsig gestel" dat pres. Vladimir Putin dit sal bywoon nie.

6. Toyota, die wêreld se grootste motorverkoper, hoop om vandag bedrywighede by sy 12 monteeraanlegte in Japan te hervat nadat 'n kuberaanval glo gekeer het dat nuwe komponente bestel word en produksie tot stilstand gebring het. Die betrokke aanlegte is saam verantwoordelik vir sowat 'n derde van Toyota se totale internasionale produksie.

7. ’n Provinsie in die ooste van China bied nou 'n beloning van 1 000 yuan (sowat R250) aan egpare wat trou as die bruid jonger as 25 jaar is. Chinese owerhede is bekommerd oor die land se dalende geboortesyfer en 'n stygende gemiddelde ouderdom.


Daar is waarskuwings oor 'n hoë brandgevaar vir dele van die Noord-, Wes- en Oos-Kaap wat saam met 'n hittegolf tot môre sal duur. Oggendmis kan tot verswakte sigbaarheid lei in dele van Limpopo, Mpumalanga en Gauteng. Die Noord- en Wes-Kaap kan ook mis verwag en sal soos Limpopo en Mpumalanga by tye bewolk wees.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 23°C • Mahikeng 24°C • Mbombela 23°C • Bloemfontein 24°C • Polokwane 24°C • Kimberley 26°C • Upington 29°C • Kaapstad 23°C • Gqeberha 34°C • Oos-Londen 30°C • Durban 24°C.


Willem Kempen | 16 047 sake na die maan?

Die probleme by die polisie se forensiese laboratoriums kom al jare aan. Omtrent ewe lank al vertel Bheki Cele gereeld vir ons die agterstande word ingehaal, dinge word omgedraai, daar is nuwe maniere van doen, daar is weer geld, van hier af sal dit beter gaan, gee net kans.

Die foto's van die polisie se chemie-laboratorium in Visagiestraat in Pretoria wat gister deur News24 gepubliseer is, is daarom nie soseer skokkend omdat dit ’n deurmekaarspul wys nie, maar eerder omdat dit lyk of dit reeds as onredbaar afgeskryf is. Selfs al daai bokse vol vertroulike dokumente in Donald Trump se badkamer by Mar-A-Lago lyk of dit met meer sorg en dissipline daar opgestapel is as waarvan daar by dié laboratorium sprake is.

Hoe kan enige staatsaanklaer hoop op ’n suksesvolle vervolging gegrond op 'n ontleding van bloedalkoholvlakke, dwelmgebruik of toksikologie wat in sulke chaos gedoen is? Tussen bokse gemerk as “mediese afval” wat oral rondstaan, stowwerige bottels met sensitiewe chemikalieë wat lyk of dit maande laas van die rak af gehaal is, en na bewering ook nie veilig gestoor word nie? Watter prokureur wat ’n oortreder uit die moeilikheid moet kry, gaan nie wegspring met ’n verdagmakery van enige bewysstuk wat uit ’n laboratorium soos dié kom nie?

Die gebou in Visagiestraat word sedert April verlede jaar deur die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) bestuur nadat dit vroeër die departement van gesondheid se verantwoordelikheid was. Die NHLS het in antwoord op News24 se vrae gesê hulle het “immediately [began] looking at alternative accommodation for expanding the Pretoria laboratory due to challenges with the current facility. As such, the NHLS is on the verge of acquiring a larger, more modern building to expand toxicology and blood alcohol testing”.

Die NHLS het ook bevestig dat die Visagiestraat-laboratorium ’n agterstand van 16 047 sake het, en: “[We are] committed to resolving this issue and implementing a turnaround strategy.”

Goed om te hoor, maar moet ons nou maar net aanvaar dat daai 16 047 sake eens en vir altyd deur die krake geval het?


Om met ’n skop-graaf of ’n spit-graaf onder die kluite te beland, dít is die vraag


Daai ou is dood. Bokveld toe.

Hy het vir oulaas uitgeklok, lepel in die dak gesteek, die tydelike met die ewige verwissel. Hy het die emmer geskop en sy gat gesien. Hy is van die gras af gemaak, nou is hy so dood soos 'n mossie. 

Ons hou daarvan om nuwe maniere uit te dink om dinge te sê wat dikwels gesê moet word, soos wanneer iemand sterf of oor die dood nadink.

Soms is dit oorwoë en diepgaande, soos Shakespeare:

To be, or not to be, that is the question:
Whether 'tis nobler in the mind to suffer
The slings and arrows of outrageous fortune,
Or to take arms against a sea of troubles

Soms spot dit met al dié swaarwigtigheid, soos Spike Milligan:

Said Hamlet to Ophelia,
I’ll draw a sketch of thee.
What kind of pencil shall I use?
2B or not 2B?

Of John Cleese se karakter in Monty Python se papegaai-skets:

'E's not pinin'! 'E's passed on!
This parrot is no more! He has ceased to be!
'E's expired and gone to meet 'is maker!
'E's a stiff!
Bereft of life,'e rests in peace!
If you hadn't nailed 'im to the perch, 'e'd be pushing up the daisies!
'Is metabolic processes are now 'istory!
'E's off the twig!
'E's kicked the bucket,'e's shuffled off 'is mortal coil, run down the curtain and joined the bleedin' choir invisible!!
THIS IS AN EX-PARROT!!

Of Richard Curtis en Ben Elton in Blackadder Goes Forth oor die dag toe Lieutenant George (Hugh Laurie) besef hy is die enigste oorlewende lid van Cambridge se tiddlywinks-span van voor die oorlog:

Edmund Blackadder: Yes, and how are all the boys now?

Lieutenant George: Well, er, Jacko and the Badger bought it at the first Ypres front, unfortunately – quite a shock, that. I remember Bumfluff’s housemaster wrote and told me that Sticky had been out for a duck, and the Gubber had snitched a parcel Sausage-end and gone goose-over-stump Frog-side.

Edmund: Meaning…?

George: I don’t know, sir, but I read in the Times that they’d both been killed.

Edmund: And Bumfluff himself…?

George: Copped a packet at Gallipoli with the Aussies – so had Drippy and Strangely Brown. I remember we heard on the first morning of the Somme when Titch and Mr Floppy got gassed back to Blighty.

(Mens moet natuurlik versigtig wees om dié soort ding nie te ver te vat nie; om nie, soos die Franse sê, “vir Ouma tussen die brandnetels in te stamp nie". Soos die keer toe 'n koerant by die afsterwe van 'n beroemde Suid-Afrikaanse skilder glo amper verklaar het: “Haar kwas is nou vir altyd droog.")

Soms is dit inderdaad beter om die ding op sy naam te noem, “to call a spade a spade and not a shovel".

Maar waar kom dié uitdrukking vandaan, “to call a spade a spade"? En hoekom sou iemand van 'n skopgraaf (shovel) wou praat as hy eintlik 'n spitgraaf (spade) bedoel? Die een is tog nie dieselfde as die ander nie, en ook nie meer beleefd of minder ongeskik nie. En waarom praat ons in Engels van spades in speelkaarte, maar in Afrikaans van dieselfde goed as skoppens?

Die beste verklaring wat ek kon opspoor, is dat die uitdrukking sy oorsprong het in die klassieke Griekse filosoof Plutargos (Plutarch) se Moralia, waarin hy sê “noem 'n vy 'n vy en 'n trog 'n trog”. Albei dié terme is in Plutargos se tyd glo algemeen gebruik as kras sleng vir die vagina, bedoelende nie een van die twee sou sommer in beleefde geselskap geuiter word nie. Toe die Nederlandse humanis en filosoof Desiderius Erasmus in die 16de eeu Plutargos se werk uit die klassieke Grieks na Latyn vertaal het, en dit van daar af weer in Engels opgeneem is, het dit op 'n manier “spades" en “shovels" geword. Dalk was dit 'n vertaalfout, of dalk wou Erasmus self ook nie aanstoot gee deur van 'n vy of 'n trog te praat nie.

As laasgenoemde wel waar is, dan is die uitdrukking “calling a spade a spade" mos juis 'n goeie voorbeeld van “not calling a spade a spade", of hoe?

Of steek die vurk op 'n ander manier in die hef?


Chopin

Frederich Chopin hoes bloed
Hy staan by die venster
Hy skryf 'n prelude
Buite reën dit
Drie-vierslag gly die druppels af teen die glas
George Sand saal 'n mal perd op
sy jaag al om, al om die eiland.

– Jeanne Goosen
(Uit: Het jy geweet ek kan toor?)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.