Ek hou nie van reëls nie

MAANDAG MET MAX

Ek hou nie van reëls nie

Die aaklige brand in Johannesburg is 'n metafoor vir die verval in die land. Dit is tyd vir 'n gebreekte-venster-strategie, skryf MAX DU PREEZ.

Goeiedag!

1. Die Russiese vragskip Lady R wat in Desember onder geheimhouding in die vlootbasis in Simonstad vasgemeer het, het geen wapens uit Suid-Afrika na Rusland vervoer nie, maar bloot 'n ou bestelling van die weermag van 2018 kom aflewer, het die ondersoekpaneel van regter Phineas Mojapelo bevind. Pres. Cyril Ramaphosa het gisteraand gesê die beweringe dat Suid-Afrika wapens na Rusland uitgevoer het, het die land se reputasie en ekonomie ernstig geskaad. Die eerste om dié bewering te maak, was die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Reuben Brigety. Ramaphosa het gesê net 'n opsomming van die verslag sal openbaar gemaak word omdat die inligting oor wapentuig geheim gehou moet word in die belang van die veiligheid van die veiligheidsmagte. Die vrae oor hoekom die Lady R sy transponders afgeskakel het voordat dit Valsbaai ingevaar het en hoekom die vrag in die nag afgelaai is en watter privaat maatskappye se vragmotors gebruik is, sal nou waarskynlik nooit beantwoord word nie.

2. Die staatskas is amptelik leeg. Die nasionale tesourie sê in 'n brief aan staatsdepartemente dat uitgawes ernstig ingekort moet word, geen nuwe poste geadverteer moet word nie en salarisverhogings tot die minimum beperk moet word. Die swak vertoning van die ekonomie en die heelwat kleiner inkomste uit belasting het “unprecedented challenges” meegebring.

3. Cyril Ramaphosa sê die grootste teleurstelling van sy ampstermyn was dat hy nie die grootskeepse korrupsie met die aankoop van persoonlikebeskermingstoerusting tydens die Covid-19-pandemie voorsien het nie. Dié aankope moes eintlik, soos die geval met entstof was, sentraal aangekoop gewees het. Sy ander teleurstelling was die swak wyse waarop die veiligheidsmagte die anargie van Julie 2021 hanteer het. “Our security forces were not prepared, and we did not manage the unrest well, and that to me was a dark dot."

4. Die ANC besef hy is in die knyp met die kiesers, skryf die redakteur van City Press, Mondli Makhanya. “So now it is committing to spend the next months until the elections focussing on key interventions. These include considerably reducing load shedding and community blackouts, speeding up public infrastructure provision, fixing the railways, intervening decisively in the most dysfunctional municipalities, saving the SA Post Office and the SABC, and speeding up financial sector transformation. All of this heavy lifting, and other complicated legislative processes, to be done in just nine months.”

5. Die eerste minister van Israel, Benjamin Netanyahu, wil alle migrante uit Afrika uit sy land laat verwyder. Sowat 170 mense is beseer toe asielsoekers uit Eritrea teen hulle eie regering betoog en deur die polisie verjaag is.

6. Noord-Korea het aangekondig dat dit die naweek 'n taktiese kernbomaanval gesimuleer het, met twee langafstandmissiele met nagemaakte kernplofkoppe wat afgevuur is.

7. Die omstrede hoof van die apartheidsregering se chemiese en biologiese oorlogvoeringsprojek, Wouter Basson, lewer vanoggend in Gqeberha 'n lesing vir skoolhoofde oor hoe om stres te hanteer. Basson (73) praktiseer as 'n kardioloog in Kaapstad. Die simposium word deur die Suid-Afrikaanse Onderwysunie gereël.


Daar is waarskuwings oor 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord-Kaap, Noordwes en die Vrystaat. Dis warm tot baie warm oor die grootste deel van die binneland. Die Vrystaat kan wel donderbuie verwag. Die Wes- en Oos-Kaap en KwaZulu-Natal kan ook reën verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 32°C • Johannesburg 29°C • Mahikeng 32°C • Mbombela 29°C • Kaapstad 14°C • Durban 24°C • Kimberley 32°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 31°C • Upington 26°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 23°C.


Max du Preez | Laat die sweep klap

Ek hou nie van reëls nie. Ek hou nie van roetine nie. Ek hou nie daarvan dat ander mense vir my dink of my aansê om iets te doen of te sê nie. Ek verpes die alledaagse takies.

Ja, ek is 'n onafhanklike gees, 'n vrydenker, 'n rebel.

Dís hoe ek oor baie jare myself aan myself verkoop het. Ek het my swakhede verromantiseer.

Nes ek in my jonger dae en veral die moeilike tye van die oorspronklike Vrye Weekblad my konstante kontantvloeiprobleme tot 'n waarde verhef het. Dit is edel om arm te wees, was my rasionalisering, my beskermende mondering. Sjym, hulle arme ryk mense leef net vir geld.

Ek hou steeds nie van te veel reëls nie en breek dit graag. Ek ly steeds aan wat sielkundiges 'n demand avoidance disorder noem.

En ek voel steeds half jammer vir mense met vreeslik baie geld vir wie geld belangriker geword het as wat dit vir jou kan koop: vryheid; om vry te wees van die daaglikse bekommernis oor of jou begroting jou maand-uit gaan hou, om goed te kan doen wat jou en die mense om jou se lewe verryk.

Maar die krisisse waardeur ek in my lewe is, persoonlik en werksgewys, het my geleer dat wanneer dinge skeefloop, reëls, roetine en dissipline belangrik raak. Dit geld ook die krisisse in die land waarin ek leef.

In 'n krisis is daar nie plek vir die luukses van eksentriekheid, ideologie, nostalgie of die vertroeteling van persoonlike voor- en afkeure nie.

'n Krisis eis daadkragtigheid. Fokus. Gatskop, as dit moet. Die opskort van alewig nice wees, van oordadige raadpleging met ander, van mooipraatjies en oor-filosofering. Soek hard en eerlik na oplossings en implementeer dit genadeloos. Jy kan agterna weer nice wees.

Ek wens ek kon Ramaphosa, sy kabinet en die ANC se nasionale uitvoerende komitee in 'n kamer vaskeer en vir hulle 'n TED-talk daaroor gee. Want ons liewe land, ons stede en dorpe is in 'n ernstige krisis.

Ek sou begin deur James Wilson en George Kelly, twee Amerikaanse akademici van die 1980’s, se broken windows-teorie te verduidelik; gebreekte vensters synde 'n metafoor vir verval in 'n gemeenskap.

Die idee is dat ernstige misdaad en wetteloosheid grotendeels uit wanorde en plaaslike verval groei. Mense voel onveilig en onttrek, en so verswak die sosiale kontroles wat misdadigheid in toom hou. Dit lei tot 'n kettingreaksie.

In 1994 het William Bratton die hoof van die polisie in New York geword en die broken windows-teorie begin toepas – hy het dit net die “quality of life initiative” genoem. Onder Bratton is bedelary, openbare drankmisbruik, prostitute op die strate, anti-sosiale leeglêry en mense wat sonder kaartjies trem gery het, vasgevat. Binne twee jaar is die misdaadsyfer byna gehalveer.

'n Studie wat in 2018 in die Journal of the American Medical Association gepubliseer is, het voorts bevind dat die opruim van leë erwe in Philadelphia tot 'n betekenisvolle toename in die geestesgesondheid en selfrespek van inwoners gelei het. Verskeie ander studies, ook uit Europa, het al bewys dat gemeenskappe in skoon omgewings hulle buurte skoon hou, maar mense in buurte met vullis op straat maak dit net nog vuiler.

In Marshalltown in Sentraal-Johannesburg het 75 mense Donderdag 'n aaklige vlammedood gesterf toe die gebou waarin hulle geplak het, uitgebrand het. Daar is honderde sulke geboue in Johannesburg en 'n hele klompie in Durban en Pretoria.

Ek het in die 1970’s en 1980’s graag in die Johannesburgse middestad uitgehang en in klein, outentieke restaurante in die agterstrate geëet. Ek het lank in Yeoville gebly en baie in Hillbrow gekuier. Vrye Weekblad se kantoor was in Breëstraat in Newtown, naby die Markteater. Dit was my hood.

Maar die laaste drie dekades het ons opgehou om die reëls toe te pas, gedragsreëls én munisipale ordonnansies. Mense wat dit geëis het, is weggeklap met die beskuldiging dat hulle nostalgies vir die ou orde is – julle moet vrede maak dat dit Afrika is, is vir hulle gesê. (Gaan sê dit tog vir die stadsvaders en -moeders van Windhoek en Kigali.)

En nou is die binnestede van al ons metro’s – buiten Kaapstad – plekke wat so gevaarlik en chaoties is as die berugte onderdorpe van Tijuana in Mexiko, Lagos in Nigerië of Caracas in Venezuela.

Dié verval is 'n metafoor van wat regdeur ons land gebeur: skole, hospitale en klinieke, rioolwerke, strate, paaie en ander infrastruktuur, treinpendeldienste, spoorvragvervoer en hawens, watervoorsiening, openbare ondernemings, stadsrade en staatsdepartemente.

Ons pas lankal nie meer die reëls toe nie. Amptenare en polisiemanne/-vroue vee hulle aan hulle take af en hulle base speel politieke magspeletjies of bestee hulle energie aan selfverryking.

Hoekom lyk Kaapstad en die Wes-Kaap anders? Omdat die stad en die provinsie se regeerders die wet en die reëls toepas. Omdat hulle die gebreekte vensters regmaak. Ver van volmaak, maar strate beter as enige ander owerheid.

Suid-Afrika is na aan bankrot – die nasionale tesourie het dit die naweek self in 'n omsendbrief bevestig.

Ons kan dus nie ons vele probleme en krisisse met groot bedrae geld oplos nie. Wat ons wel kan doen, is om elke rand twee keer om te draai en te sorg dat elke amptenaar doen waarvoor ons as belastingbetalers hom/haar betaal om te doen. Om die algemene effektiwiteit van die staat met 200% te verbeter.

En die wette van die land meedoënloos toe te pas.

Dis gatskop-tyd. No-more-Mr.-Nice-guy-tyd. Reg-of-weg-tyd.

Laat die sweep klap!

Max


Doef-doef-bokkie-bybie, ons is Afrikaans

Musiek is 'n baie belangrike faset van taal, selfs meer so vir 'n jong en klein taal soos Afrikaans.

Radio Sonder Grense is ons openbare uitsaaier se radiodiens vir Afrikaanse luisteraars, 'n groot en nogal suksesvolle radiostasie.

As openbare uitsaaier het RSG 'n groter verantwoordelikheid as net om luisteraars te plesier, om die laagste gemene deler te dien. 

Ek is so Afrikaans soos wat 'n mens maar kan wees. En musiek is 'n uiters belangrike deel van my lewe.

Maar die Afrikaanse musiek wat ek meestal op RSG hoor, het daartoe gelei dat ek net 'n paar Afrikaanse sangers op my stroomdienste of speellyste het, en dit is boonop kunstenaars wat jy byna nooit op RSG hoor nie. Eintlik luister ek 99% van die tyd na musiek in ander tale, natuurlik veral Engels.

(O, daar is darem 'n hele klomp tradisionele boeremusiek en selfs die Baardskeerdersbos Boereorkes in my versameling.)

Dit behoort nie so te wees nie.

Afrikaanse musiek word oorheers deur 'n neerdrukkende middelmatigheid, voorspelbaarheid en formulematigheid. En te dikwels kommingeit. En dié soort Afrikaanse musiek domineer op RSG en van die ander Afrikaanse of half-Afrikaanse radiostasies.

My taal verdien beter as dit.

Waar is Afrikaans se Joan Baez’e, Bob Dylans, Tupac Shakurs, Nicki Minaj’e, Johnny Cash’e, Willie Nelsons, Cat Stevense, Pink Floyds, Jim Morrisons, Sineád O’Connors, Paul Simonse, Neil Youngs, Tracy Chapmans, John Fogertys, Carole Kings, Joe Cockers, Bruce Springsteens, David Bowies, Chris Isaaks, Freddie Mercurys, Tom Waitse, Eminems?

Hoe meer die radiostasies op die doef-doef-bokkie-bybie soort musiek fokus, hoe minder gaan Afrikaanse luisteraars bodder om na Afrikaanse musiek van gehalte en substansie te soek. En hoe armer word Afrikaans.

Wie by RSG kies die musieklyste? Die deurwag by AfriForum se kantore?

Antjie Krog het Vrydagaand by die ontvangs van haar Hertzogprys tot my gespreek toe sy die volgende gesê het:

“Nou nie dat die musiek op die Afrikaanse kanale enigsins 'n bron van troos of hoop is nie – dikwels niks meer nie as 'n smagtende (hoekom smag jong Afrikanersangers tog so?) wat soos Jesus in die middel van die pad knikkebol met hempsmou-spiertjies of skerppunt-tietietjies en songs met Graad R-rympatrone in geknypte of fried voices voortbring.

“Te oordeel hieraan moet Afrikaans eintlik ten volle uitgedelg word.

“Om nie te praat van regse donsgesigkenners wat skielik oral oppop soos pop-up-winkeltjies en hul pas ontdekte liefde vir menseregte selfgeregtig met donshael oor ons skiet nie.”

Net so.


Voices in the air

People do not pass away. 
They die
 and then they stay.

– Naomi Shihabnye (uit die bundel Voices in the Air)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.