’n Belasting-opstand in SA, ‘historiese’ vloede in Griekeland

WOENSDAG MET WILLEM

’n Belasting-opstand in SA, ‘historiese’ vloede in Griekeland

WILLEM KEMPEN wonder wat gaan gebeur as 'n YouTuber met die naam MrBeast politieke ambisies sou ontwikkel, en hoop Suid-Afrika kan 'n slag vorentoe boer. Soos altyd is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet

  • 06 September 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre


1. Die DA het Maandag ’n aansoek by die Gautengse hooggeregshof in Pretoria ingedien om te vra dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank se bevinding dat pres. Cyril Ramaphosa en sy Ntaba Nyoni-wildsplaas nie valutabeheermaatreëls oortree het deur te versuim om $580 000 kontant te verklaar nie, ongrondwetlik is en omgekeer moet word.

2. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, meen die Eskom-kragsentrales wat onverwags onklaar geraak en gisteroggend opnuut tot fase 6-beurtkrag gelei het, sal teen die einde van die week weer krag lewer.

3. Die Westville-belastingbetalersvereniging het begin om betalings aan munisipale heffings van die eThekwini-metroraad te weerhou uit protes teen swak dienslewering en hoë tariefverhogings, het News24 berig. Lede van die vereniging het glo reeds sowat R1,2 miljoen se betalings wat na die metroraad sou gegaan het, in ’n afsonderlike bankrekening gedeponeer.

4. Verskeie staatshoofde en ander wêreldleiers is tot môre in Nairobi, Kenia, byeen vir die Afrika-klimaatberaad, met die doel om ’n gedeelde visie vir groen-ontwikkeling vir die vasteland en sy 1,4 biljoen mense te formuleer. Die beraad dien ook as voorbereiding vir die COP28-beraad later vanjaar in die Verenigde Arabiese Emirate.

5. China gaan nog ’n nuwe staatsondersteunde beleggingsfonds begin wat daarop gemik is om sowat $40 biljoen vir investering in die land se vervaardiging van halfgeleiers in te samel, het Reuters berig. Dit is deel van China se pogings om meer mededingend teen Amerikaanse en ander vervaardigers te wees.

6. Kuba het ’n misdaadsindikaat blootgelê wat sy burgers onder dwang vir Rusland in die oorlog in Oekraïne laat veg het, het die Kubaanse ministerie van buitelandse sake gister gesê. Kubaanse owerhede is nou glo besig om die netwerk te “neutraliseer en af te takel”.

7. Die storm Daniel het tot ongekende swaar reën en geweldige vloedskade op verskeie plekke in Griekeland gelei. In Zagora het 754 mm reën binne 24 uur geval. Weerkenners sê dit is vloede van historiese omvang, en dat dit boonop erger kan word in die dae wat kom.


Limpopo en Mpumalanga is vanoggend mistig en deels bewolk met ligte reën wat langs die platorand verwag word. Die Kaapprovinsies verwag ook oggendmis, en die Wes- en Oos-Kaap is deels bewolk tot bewolk. Dit reën en daar is vanoggend miskolle in sommige dele van KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 28°C • Mbombela 21°C • Bloemfontein 21°C • Polokwane 27°C • Kimberley 20°C • Upington 21°C • Kaapstad 15°C • Gqeberha 18°C • Oos-Londen 20°C • Durban 20°C.


Willem Kempen | Nie so sleg soos gister nie

Pres. Cyril Ramaphosa het die afgelope naweek twee dinge uitgewys as laagtepunte van sy termyn: die korrupsie in die staat tydens die Covid-pandemie, en die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng in Julie 2021. “Our security forces were not prepared, and we did not manage the unrest well, and that to me was a dark dot.”

Die laaste paar dae was daar kleiner maar ewe donker kolle: die nasionale tesourie se brief aan staatsdepartemente om te waarsku dat uitgawes ernstig ingekort moet word en dat daar “unprecedented challenges” is; beurtkrag wat terugkeer na fase 6; nogmaals ’n kwaai styging in brandstofpryse van vandag af.

Alexandra in Johannesburg op 13 Julie 2021.
Alexandra in Johannesburg op 13 Julie 2021.
Image: GALLO IMAGES/DINO LLOYD

Daar is darem goeie nuus ook, al moet mens so bietjie harder daarna soek. Die ekonomie het van die eerste tot die tweede kwartaal van vanjaar met 0,6% gegroei, wat baie sterker is as wat verwag is. Vervaardiging en mynbou het goed herstel ondanks Transnet se gesukkel; nog meer so die landbou wat met 4,2% gegroei het ná ’n skokkende inkrimping in die eerste kwartaal.

Dit lyk of die ergste diplomatieke wrywing met die VSA weens die Lady R-debakel vir eers agter die rug is, wat die rand kans gee om te herstel en rentekoerse om verder te stabiliseer. En die keersy van Eskom is dat kapitaalinvestering in masjinerie en toerusting mooi aan die styg is danksy nuwe projekte om hernubare energie op te wek. Selfs Prasa is op koers – of so sê hulle – om al Gauteng se passasierstreine weer aan die loop te hê teen einde Maart volgende jaar.

Die jongste jaarresultate van die kleinhandelsgroep Shoprite is ook vandeesweek uitgereik. Dit wys tegelyk hoe moeilik dit is om in Suid-Afrika sake te doen én dat selfs die donkerste tye geleenthede bied. Checkers se Sixty60-afleweringsdiens is byvoorbeeld ’n Suid-Afrikaanse fenomeen wat die afgelope boekjaar met meer as 80% gegroei het, maar die groter groep moes in dieselfde tyd R1,3 biljoen aan diesel bestee om winkels oop en yskaste koud te hou.

“Hulle” sê dis beter dat dinge sleg maar al hoe beter gaan, as dit dat goed maar al hoe slegter gaan – en met ’n bietjie geluk is eersgenoemde waar ons nou is.


Skaam jou as jy nie weet wie MrBeast is

Ek is eerste op die lys van skames – ek het die ander dag vir die eerste keer gehoor van dié outjie van Noord-Carolina wie se regte naam Jimmy Donaldson is.

Rede? Wel, soos 'n krimpende aantal mense steur ek my nie gewoonlik veel aan die wêreld van “influencers” en “content creators” nie, en ook nie aan mense wat afwykend spel of punkteer wanneer hulle besluit onder watter naam hulle beroemd wil word nie.

Dis 'n fout, want mense soos Donaldson maak wel saak, al is dit net omdat baie ander mense so dink: MrBeast is nommer twee op die lys van gewildste YouTube-kanale, met 181 miljoen intekenare laas toe ek gekyk het, en hy het ook nog 'n paar kleiner kanale. Hieruit het hy al klaar 'n fortuin gemaak, en toe het hy boonop sy winste slim belê om 'n sakeryk op te bou wat volgens sommige ramings meer as $1,5 biljoen werd is. Dit sluit in MrBeast Burger en 'n eetgoed-besigheid genaamd Feastables, waar jy gevra word om te TASTE DEEZ NUTZ, want hulle is DELICIOUS AF.

Donaldson weet hoe om homself te bemark, hy verstaan wat sy kykers wil sien, en hy is bereid om enorme bedrae geld te belê om die een skouspel ná die ander te vervaardig en kykers te laat deel in sy fortuin.

In 2021 het hy byvoorbeeld sy eie weergawe van die Suid-Koreaanse reeks Squid Game gemaak. Real Life Squid Game” se enkele aflewering is 25 minute lank, maar het $3,5 miljoen gekos om te vervaardig (insluitend prysgeld van meer as $456 000). Daarenteen het Netflix 'n totaal van $21,4 miljoen betaal vir die werklike Squid Game se nege episodes, wat uitwerk op net sowat $1,2 miljoen per halfuur.

'n Paar van die titels op MrBeast se kanaal vertel die verhaal: “Lamborghini versus Schredder"; “Train versus Giant Pit"; “Last to leave Circle wins $500 000".

Maar so twee weke gelede het hy ook een gemaak met die titel “Every Country on Earth Fights for $250 000", wat uit 'n paar ongewone oorde aandag getrek het. Die TechCrunch-joernalis Morgan Sung sê dié video is 'n “geopolitieke nagmerrie" wat wys hoe onkunde dit kan laat lyk of jy kant kies in 'n internasionale dispuut. Onder die verteenwoordigers van “elke land in die wêreld" is daar byvoorbeeld iemand uit Hongkong, wat deel van China is, maar niemand van Taiwan en Tibet nie – albei dié lande is volgens MrBeast se kaart van die wêreld óók deel van China.

Sy kaart beeld plekke soos Amerikaanse Samoa, Bermuda en Puerto Rico as onafhanklike state uit, om nie te praat van selfs groter flaters met Palestina en die Wesoewer of die twis oor Wes-Sahara nie. En hoewel hy net een deelnemer uit die afsonderlike twee Koreas genooi het, wys die kaart duidelik die 38ste breedtegraad as die grens tussen die twee lande.

Die selfs groter probleem, soos Sung ook uitwys, is dat mense soos MrBeast en besighede soos Google Maps belangriker word in die internasionale politiek. Maps het byvoorbeeld net ses weke ná Putin se anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014 reeds aan gebruikers in Rusland en Oekraïne twee verskillende grense tussen die twee lande gewys – elkeen soos dit plaaslik die gewildste sou gewees het.

En as 'n laaste (en moedswillige) gedagte: MrBeast is beslis nie net in die VSA gewild nie, maar 181 miljoen (intekenare) is meer as die aantal Amerikaners wat in 2020 vir Biden en Trump sáám gestem het.

SCARY AF, sou ek sê.


Wail

for the young who ask, “How did you learn to like yourself?”

There are glaciers, imposing, yet shrinking.
There is the iris, violet sky cradling shards of sun.
The white Bengal tiger, snow and black ink.
Infinite reasons I could give for gladness,

though none may salve the wound from which
your question arises, how to be glad to be alive?
Stitch your heart’s fissure: recall family, friends,
a slap, cigarette burn, the rod, something smashed 

down, or welled up in your darkened pupil.
Turn outward: two A.M. streets, the creeps in cars,
the chaos of human folly delivered by calm,
coiffed news anchors. The wound is within you

and not. The answer within you and not.
Want, comfort, desire, love ought not be wounds.
We pine for them from our first wail,
what you must give and take, till no voice is left.

– Johnson Cheu

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.