Busisiwe onder die jis geskop, en nuwe vrae oor Deokaran

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Busisiwe onder die jis geskop, en nuwe vrae oor Deokaran

DEBORAH STEINMAIR vra dat die Springbokke weer in groen en goud speel, asseblief. WILLEM KEMPEN wonder of nabye of verre krisisse hom die meeste pla, en soos altyd is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 12 September 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre

1. LP’s het gistermiddag met 318 stemme teen 43 ’n mosie aanvaar dat Busisiwe Mkhwebane uit haar amp as openbare beskermer verwyder word. Dit sal nou na pres. Cyril Ramaphosa verwys word vir bekragtiging.

2. Eskom het aangekondig dat fase 5-beurtkrag vanoggend tot 5:00 ingestel sou word, waarna met fase 4 hervat word “tot verdere kennisgewing”.

3. Die hooggeregshof in Pietermaritzburg het aan Jacob Zuma verlof tot appèl geweier teen die beslissing dat sy privaat vervolging van die aanklaer Billy Downer en die joernalis Karyn Maughan nie mag voortgaan nie.

4. ’n Ondersoek deur News24 dui daarop dat die ondersoekbeampte in die Babita Deokaran-moordsaak kritieke bewyse geïgnoreer het wat sou kon onthul wie agter die korrupsie by die Tembisa-hospitaal gesit het – en dus ook wie die sluipmoord op haar beplan en gefinansier het. Deokaran se selfoon en rekenaar is volgens News24 op die dag van haar moord deur die polisie gekonfiskeer, maar nooit vir moontlike leidrade nagegaan of deursoek nie.

5. Pres. Emmerson Mnangagwa het sy seun, David Mnangagwa, as Zimbabwe se adjunkminister van finansies aangestel – as deel van ’n parlementêre kwota wat ’n jonger kabinet vereis. Die aktivis Hopewell Chin’ono (@daddyhope) het dié en ander aanstellings beskryf as “probably the worst cabinet in Zimbabwe’s history”.

6. Die dodetal in Marokko se dodelikste aardbewing in meer as ses dekades het gister tot sowat 2 700 gestyg terwyl reddingswerkers steeds tussen die puin na oorlewendes soek.

7. Dit was gister die 22ste herdenking van wat as Nine-Eleven bekend geword het, die dag op 11 September 2001 toe Islamitiese fundamentaliste passasierstralers gekaap en in die World Trade Center in New York en die Pentagon in Virginia laat vasvlieg het. Meer as 3 000 mense het in die aanvalle gesterf.


Sneeuwaarskuwings is uitgereik vir die suide van die Drakensberge in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Amper die hele land is vandag kouer en dit sal deels bewolk wees oor verskeie dele oor die land heen. Ryp word vanoggend in die sentrale gebiede van die Kaapprovinsies verwag. Buie word vir die Oos-Kaap voorspel. KwaZulu-Natal sal mistig wees en kan buie verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 20°C • Johannesburg 17°C • Mahikeng 22°C • Mbombela 14°C • Kaapstad 16°C • Durban 17°C • Kimberley 18°C • Bloemfontein 20°C • Polokwane 18°C • Upington 20°C • Gqeberha 17°C • Oos-Londen 19°C.


Willem Kempen | Dinge wat pla daar ver, en dinge wat pla hier naby

Wat bekommer jou vanoggend die meeste? Die staat se geld wat op is? Jou eie geld wat op is? Dalk dat daar die laaste paar weke omtrent elke dag iewers ’n vernietigende storm of rekordtemperature of ’n veldbrand of ’n vloed iewers op die planeet was?

Jy is waarskynlik een van die bevoorregtes as jou grootste krisis lekker ver van jou eie agterplaas is. Kyk net hoe lyk Griekeland of Hongkong of Shanghai of Libië, die arme mense. Maar daar’s niks wat ons dááraan kan doen nie, is daar?

Ek self, ek weet nie. Dit pla my meer dat die vergaderings oor die staatskas wat leeg is in die geheim gehou word as dat die staatskas leeg is. Nie juis ’n verrassing dat die staat se geld op is nie, is dit?

Dit pla my dat die president van die ANC se jeugliga (Collen Malatji, ingeval jy, soos ek, sy naam vergeet het) in dieselfde naweek van die geheime vergadering gevra het dat die staat se maatskaplike noodtoelae van R350 na R1 500 per maand opgestoot word, en sommer ook dat werklose gegradueerdes ’n maandelikse toelae van hulle eie moet kry, ’n stewige R4 500 per maand. Maar dit pla my nóg meer dat ek weet van ’n hele klompie mense wat glad nie sonder hulle bestaande toelae geld sal hê om vir hulle kinders kos te koop nie.

Dit pla my dat Fikile Mbalula verlede week by Zanu-PF gaan gatkruip het, maar dit pla my veel meer dat die redes daarvoor waarskynlik te doen het met wie elke maand die ANC se salarisse betaal, en nie soseer met die volgende vlaag vlugtelinge wat na Suid-Afrika gaan stroom as Zimbabwe verder agteruitgaan nie.

Dit pla my wat die nasionale regerende party als bereid is om te doen om tog net nog ’n verkiesing te wen, maar dit pla my nóg meer dat ’n onstabiele koalisie selfs swakker as die ANC gaan vaar as dit kom by die bestuur van ’n tipiese plaaslike regering.

Hier in my woonbuurt naby die universiteit kla twee inwoners gister op ons WhatsApp-groep oor ’n man wat alewig op ’n spesifieke straathoek sit. Is hy ’n bespieder vir ’n bende inbrekers, of net ’n rondloper? Twee ander inwoners sê naby ’n sekere woonstelblok waar heelwat studente woon, “is daar dames wat baie gewillig in motors klim”.

Dalk pla dít my selfs meer as die moontlikheid van grootskaalse oorstromings of nog ’n vernietigende droogte of ’n staat wat nie meer geld het nie, of enige van daai dinge.


Image: ANGELA TUCK

Trek dit uit, trek dit uit

Die Bokke het in die Wêreldbekerrugbytoernooi oor Skotland geseëvier en die land juig. Maar ek voel beroof. Watter wetter het besluit ons helde moet in pajamas op die veld draf? Soos Jan Barend Wolmarans op Facebook gesê het, dit lyk asof hulle deur Craven A Menthol geborg is.

Ek voel dit gaan veel dieper as voorkoms. Die klere maak wel die voël. Faf lyk opeens soos ’n tuindwerg uit Benoni wat ’n haarsny makeer. Siya lyk soos ’n liefdevolle, macho pappa in ’n advertensie vir Pep Stores se speelkleertjies. Op die mat met sy bulletjies.

Dis eenvoudig nie dieselfde nie.

Die skare juig, almal trots getooi in groen en goud, en op die veld hardloop en pypkan ons manne beskaamd in pastelkleure. Stel jou voor die All Blacks speel opeens in lila en beige – dit sal eenvoudig nie dieselfde wees nie. Die haka sal platval. Wie kan aggressief lyk in poeieragtige skakerings?

Moenie my verkeerd verstaan nie; ek glo glad nie seuntjies mag net blou dra nie. Mans in pienk en pers hemde lyk vir my besonder handsome. Maar kleur het sielkundige waarde en ons praat hier van ernstige sake. Dis oorlog.

Ons land is so lief om te peuter aan iets wat werk. Daar was al talle inkarnasies van die Springboktrui, maar ten minste meestal in groen en goud.

Ek verstaan die hele ding met kleurblindheid en kontras, maar was hierdie pajamagroen regtig die enigste opsie?

Rugbykleure is internasionaal sterk, donker kleure: swart, rooi, oranje, blou. Waar val ons uit? As jy my vra, is dit tekenend van die trauma waaraan ons almal onderwerp is. Dis onaanvaarbaar. In ons koppe leef ikoniese oomblikke soos Madiba in ’n Springboktrui saam met Francois Pienaar toe ons in 1995 die Wêreldbeker gewen het. Nou moet ons kyk na krygers in ’n verbleikte seegroen en wit.

Ek voel soos Tom Waits wat gesê het “The world is a hellish place, and bad writing is destroying the quality of our suffering.” Die wêreld is hel en daar is nog een ding wat werk in ons land, maar ’n swak kleurkeuse ruïneer die kwaliteit van ons vreugde.

Of lees ek dit te vlak? Is dit dalk ’n slim sielkundige slenter sodat die ander spanne vergeet dat hulle teen die Springbokke speel? Niemand sien hulle aankom in hierdie kleertjies nie.

Miskien werk dit, maar ek is nie beïndruk nie. Sit hulle terug in groen en goud, asseblief.


Tropical Town

For Miss Eugenia L.V. Geisenheimer

Blue, pink, and yellow houses, and, afar,
The cemetery, where the green trees are.

Sometimes you see a hungry dog pass by,
And there are always buzzards in the sky.
Sometimes you hear the big cathedral bell,
A blindman rings it; and sometimes you hear
A rumbling ox-cart that brings wood to sell.
Else nothing ever breaks the ancient spell
That holds the town asleep, save, once a year,
The Easter festival ...                                                
I come from there,
And when I tire of hoping, and despair
Is heavy over me, my thoughts go far,
Beyond that length of lazy street, to where 
The lonely green trees and the white graves are.

– Salomón de la Selva

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.