Van Hunter Biden tot Fikile en Sai Baba

WOENSDAG MET WILLEM

Van Hunter Biden tot Fikile en Sai Baba

Wen of verloor, WILLEM KEMPEN hou van die Bokke se gesindheid en benadering, en wonder of nog 'n land dalk op die punt is om 'n nuwe naam te kry. Soos gewoonlik is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 13 September 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre


1. Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) bekyk meer as 50 maatskappye wat aanvanklik in ’n privaat ondersoek na korrupsie by Eskom geïdentifiseer is. Die hoof van die SOE, Andy Mothibi, het volgens eNCA gesê die ondersoek sluit in wat hy beskryf het as die “sindikaatgedrag” van sekere maatskappye. Mothibi het egter ook aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê André de Ruyter, voormalige bestuurshoof van Eskom, is dalk aan wanbestuur skuldig omdat hy nie die raad se toestemming gekry het om die ondersoek te laat doen nie.

2. Kevin McCarthy, Republikeinse Speaker van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, het onder klaarblyklike druk van sy party se regterflank formeel gevra vir ’n vervolgingsondersoek (impeachment inquiry) na pres. Joe Biden. ’n Voormalige sakevennoot van Hunter Biden, die president se seun, het vroeër aan lede van die Kongres gesê die jonger Biden het geld gemaak deur die skyn van toegang tot sy pa te verkoop toe dié nog visepresident was.

3. Pres. Vladimir Putin het by ’n ekonomiese forum in die Russiese hawestad Vladivostok gesê die vervolging van Donald Trump is “polities gemotiveer” en wys hoe verrot die Amerikaanse stelsel is. Hy het ook gesê die VSA sal Rusland as ’n vyand beskou, ongeag wie die Amerikaanse verkiesing in 2024 sou wen.

4. Jacob Zuma het nogmaals ’n geregtelike bloedneus gekry toe die hooggeregshof in Gauteng sy aansoek om verlof tot appèl teen die tersydestelling van sy privaat vervolging van Cyril Ramaphosa geweier het. Die presidensie het die uitspraak verwelkom.

5. Minstens 10 000 mense word steeds in Libië vermis nadat die storm Daniel vloede veroorsaak het wat damme laat breek, geboue platgevee en soveel as ’n kwart van die oostelike stad Derna uitgewis het. Die bevestigde dodetal in Derna was teen gistermiddag reeds meer as 1 000, en dit sal na verwagting nog drasties styg.

6. Kim Jong-un sal waarskynlik op die uitkyk wees vir geleenthede om Noord-Korea in die geopolitiek te herposisioneer wanneer hy in Rusland aankom vir gesprekke met Vladimir Putin. Waarnemers meen dis betekenisvol dat Kim Rusland bo China gekies het vir sy eerste buitelandse besoek sedert voor die Covid-pandemie. ’n Herstel in die verhouding tussen die twee leiers kan implikasies inhou vir die oorlog in Oekraïne, die spanning tussen Noord-Korea en Suid-Korea, Noord-Korea en Japan, en die mededinging tussen die VSA en China.

7. ’n Skildery deur Vincent van Gogh wat in 2020 gesteel is, is vandeesweek in ’n kussingsloop en ’n Ikea-sakkie aan ’n Nederlandse kunsspeurder by sy voordeur oorhandig. Die dief is reeds in 2021 gevonnis, maar die skildery, De pastorie in Nuenen in het voorjaar uit 1884, was tot nou toe vermis. Die huidige “eienaar” van die skildery het dit glo teruggegee omdat dit ’n oorlas geword het.


Daar is waarskuwings oor 'n hoë brandgevaar in dele van Noordwes, die Vrystaat en die Noord- en Wes-Kaap. Die grootste deel van die land is deels bewolk tot bewolk en dis vanoggend mistig in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Vrystaat. Ligte reën word vanoggend langs die platorand in Limpopo en Mpumalanga verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 19°C • Johannesburg 16°C • Mahikeng 22°C • Mbombela 13°C • Bloemfontein 23°C • Polokwane 15°C • Kimberley 26°C • Upington 26°C • Kaapstad 23°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 23°C • Durban 20°C.


Willem Kempen | Miskien is Fikile in coupler days meer verstaanbaar


Dis seker gevaarlik om so vroeg te praat, maar die Springbokke toon in Frankryk al die tekens van 'n geoliede masjien waar elkeen weet wat sy rol is en spanlede mekaar aanvul sodat hulle saam 'n beter kans op sukses het.

So what, dis mos net rugby? Jip, maar ons het mos al baie kere gesien hoe sukses op die sportveld 'n bietjie bons in die nasionale gemoed sit. En sekerlik kan ons politieke leiers 'n paar lesse leer oor goeie en oop kommunikasie en deeglike beplanning en voorbereiding. Dan is daar nie paniek as 'n sleutelspeler skielik seerkry nie, of as 'n ander een sukkel met een of ander aspek van sy spel nie.

Siya Kolisi
Siya Kolisi
Image: STEVE HAAG

Dis die soort atmosfeer waar jy nie wonder of Rassie Erasmus weer in die sop gaan wees oor sy ligte nie, want jy weet hy ken die reëls minstens net so goed soos die ouens wat dit gemaak het. En jy kan lag as Jacques Nienaber op 'n nuuskonferensie gevra word of hy bekommerd is oor Manie Libbok se stelskopwerk, en hy klits die antwoord netjies tussen die pale deur: “Not if he wins Man of the Match." En as Siya Kolisi dan ook inspring: “We play as a team, and sometimes you're not good at one thing on the day, but the way he attacked today, the way he took control of the team, how he is a general amongst us – people forget that, but they remember the stuff he did [wrong]."

As ons nou maar net dieselfde gesindheid en benadering in ons regering of ons koalisiepolitiek gesien het; van opmaak vir mekaar se swak punte, van saamwerk vir die groter beswil. Maar pleks daarvan kry ons pogings soos hierdie gistermiddag deur Fikile Mbalula op X:

ANC SECRETARY GENERAL | Cde Mbalula @MbalulaFikile Afternoon good people of Mzantsi (sic) in coupler days i will explain why we removed Mkhwebane as the public protector we supported when others did not and accused her of been a spy. OTHERS JOINED FOR THEIR OWN REASONS BUT ANC WILL SPEAK FOR ITSELF.

Ek wonder hoeveel mense het daai boodskap gelees en gedink: “Ja, nou verstaan ek wat aangaan," of: “Nou weet ek waarheen ons op pad is."

Nagenoeg niemand nie, as ek moes raai.


Bharat lyk gereed om die wêreld aan te vat

As jy my tot onlangs gevra het watter beelde in my kop kom as ek aan Indië dink, sou ek mooi moes nadink as ek verder wou kom as Gandhi en Salman Rushdie, tikka masala, oorvol treine, Sachin Tendulkar en MS Dhoni, en daai funky blou olifantkop-goddelikheidjie met die boepensie en die vier arms.

Ek sou ook die naam Sathya Sai Baba noem, want ek vermoed min ander lande ter wêreld kan iemand soos hy oplewer. En ou Baba laat my nou weer dink aan Moeder Teresa, want ek dink die twee van hulle het op ’n manier nogal heelwat gemeen.

Image: SONIKA AGARWAL

Nog iemand uit Indië wat ek nie maklik sal vergeet nie, is wie dit ook al was wat daai slag vir Edwill van Aarde langs die krieketveld (Eden Gardens?) met ’n lemoen teen die kop gepot het dat ons dit al die pad tot in Suid-Afrika kon hoor.

Sedert verlede maand is daar nog iets op my lysie: Indië se suksesvolle maanlanding as deel van die Chandrayaan-ruimtesending. Nog net drie ander lande kon dit regkry: die VSA, die destydse Sowjetunie, en China. Putin se Rusland het dit ook onlangs probeer, maar dit was ’n flop; Japan het ook sulke planne.

Op X vertel ’n Indiër van die eerste keer toe hy ná sy land se maanlanding deur doeanebeheer op Heathrow moes gaan, en pleks van die verwagte “What is the reason for your visit?” waaraan hy as ’n gereelde besoeker aan Brittanje gewoond geraak het, is hy begroet met “Congratulations on your country’s successful lunar landing, sir!”

Soos altyd is daar ’n dun lyn tussen nasionale trots en nasionalistiese chauvinisme, en premier Narendra Modi lyk gewoonlik of hy na laasgenoemde neig. En dan gebeur dinge soos toe die Daily Maverick onlangs onder ’n massiewe kuberaanval uit Indië deurgeloop het net ure nadat hulle berig het oor Modi se vloermoer omdat die minister wat hom vir die Brics-beraad op die Waterkloof-lugmagbasis sou gaan ontvang het, glo nie senior genoeg na sy sin was nie.

Verlede naweek by die G20-beraad in Nieu-Delhi het Modi en die Indiese president, Droupadi Murmu, albei heel ongewoon na hul land as “Bharat” verwys – ’n prekoloniale naam wat tevore hoofsaaklik net binnelands gebruik is. Beteken dit Indië oorweeg ’n naamsverandering, soos Türkiye en Eswatini gedoen het met Turkye en Swaziland?

Indië sit met heelwat probleme wat vir Suid-Afrikaners bekend sal klink: eens uitstekende infrastruktuur wat besig is om in duie te stort, werkloosheid, ongelykheid, besoedeling en gebrekkige sanitêre infrastruktuur, swak onderwys, hoë vlakke van ongeletterdheid. Is dit die soort land wat geld aan ruimteprojekte behoort uit te gee?

Dít is ’n vraag wat ook in Brittanje as die ou koloniale heerser gevra word, veral teen die agtergrond van die handelsooreenkoms wat Rishi Sunak se Konserwatiewe regering nou al amper twee jaar lank met Indië probeer onderhandel. Lawaaimakers soos Nigel Farage en andere aan die regterkant van die Tories beskuldig graag vir Sunak daarvan dat hy te veel toegewings aan Indië wil doen oor dinge soos visums vir besoekende studente, maar vergeet gewoonlik dat so ’n ooreenkoms soveel makliker sou gewees het as dit nie was vir die historiese flater bekend as Brexit wat hulle self veroorsaak het nie. Dit sterk nie noodwendig sy saak in dié geledere nie dat Sunak ’n Hindoe is met voorsate wat maar ’n generasie of drie gelede uit Indië geëmigreer het (via Kenia en Tanzanië in sy ouers se geval).

Ook in die VSA is daar ’n jong politikus aan die regterkant van die spektrum wie se ouers uit Indië geëmigreer het: Vivek Ramaswamy, ’n woelwater wat gaan probeer om die Republikeinse party se benoeming vir die stryd om die presidentskap te wen.

Waarmee ek eintlik maar net wil sê: My lysie word al hoe langer.


beeld

hoe godloos stil het die nag geword
alleen opgekrul
in die dubbelbed die lakens klamkoud
teen my kaal boude
sou wou vaar na 'n vreemde landskap
waar die rivier die digte rye bome
met sy hande oop van mekaar trek
sit jou hut soos 'n prostaatklier
die baai 'n rektum
wat oopplooi
voor my skip vol in mas
met proviand

– Marius Crous

(Uit: Brief uit die kolonies)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.