Winnie verdien nie om vereer te word

WOENSDAG MET WILLEM

Winnie verdien nie om vereer te word

MAX DU PREEZ wonder hoe familielede van onder andere Stompie Seipei sal voel oor die nuwe naam vir William Nicol-rylaan in Johannesburg, WILLEM KEMPEN twyfel oor mans en die Romeinse ryk, en soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 27 September 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre


1. Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) is deur 'n meerderheid van die ANC- en EFF-LP's in die portefeulje-komitee oor basiese onderwys aanvaar, ondanks heftige teenkanting deur die DA, VF Plus en ACDP. Die Wetsontwerp sal nou voor die nasionale vergadering dien.

2. Die Amerikaanse dollar het gister tot 'n nuwe hoogtepunt oor 10 maande teen 'n mandjie van ander groot geldeenhede gestyg en die opbrengs op Amerikaanse staatseffekte het hulle hoogste vlak sedert Oktober 2007 bereik. Dit was nadat Neel Kashkari van die Federale Reserweraad gesê het die Amerikaanse ekonomie is so sterk dat rentekoerse waarskynlik weer sal styg en vir langer “hoër” gehou kan word totdat inflasie terugsak tot 2%. Die rand het gister op 'n kol teen R19 per dollar verhandel en het die afgelope jaar sowat 6% in ruilwaarde verloor.

3. Die verwerping van 'n voorgestelde opvolger vir André de Ruyter as uitvoerende hoof van Eskom deur Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, beklemtoon die probleme met hoe ondernemings in staatsbesit (SOE's) bestuur word, het prof. Parmi Natesan, uitvoerende hoof van die Instituut van Direkteure in Suid-Afrika (IoDSA), gister gesê. Die verklaarde rede vir die verwerping van die genomineerde kandidaat is dat Eskom se direksie veronderstel was om drie name aan die minister voor te lê en nie net een nie. Natesan het gesê aanvaarde beste bestuurspraktyk is dat die uitvoerende hoof deur die direksie aangestel word, en nie deur die aandeelhouers (die minister) nie.

4. Chris Pappas, burgemeester van uMngeni en die DA se premierskandidaat in KZN in volgende jaar se verkiesings, sê hoewel hy 'n volslae oorwinning in die provinsie sal verkies, is 'n koalisie met die IVP die moeite werd om te oorweeg. Hy het ook gesê die DA sal nie met die EFF of die ANC saamwerk nie, het eNCA berig.

5. Een van die drie eenhede van die Kusile-kragstasie wat sedert Oktober 2022 nie gebruik is nie, sal dalk vroeër aangeskakel kan word nadat 'n appèl deur omgewingsgroepe teen Eskom se aansoek om van omgewingsregulasies vrygestel te word, van die hand gewys is. Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en die omgewing, moet die herverbinding van Kusile aan die nasionale netwerk ook nog goedkeur.

6. Admiraal Viktor Sokolov, bevelvoerder van Rusland se Swartsee-vloot, is gister op Russiese staatstelevisie gewys waar hy 'n videovergadering van verdedigingsleiers bywoon, 'n dag nadat Oekraïniese spesiale magte gesê het hulle het hom in 'n aanval doodgemaak. Reuters het egter berig dis onduidelik wanneer die vergadering plaasgevind het.

7. Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, waar die Republikeine in die meerderheid is, en die Senaat, waar die Demokrate in die meerderheid is, is steeds op drasties verskillende paaie om besteding te besnoei, met net vyf dae oor voordat verskeie federale regeringsagentskappe gedwing sal word om vir die vierde keer die afgelope dekade te sluit.


Daar is waarskuwings oor sterk wind en golwe langs die kus in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Buie en donderbuie word oral oor die sentrale gebiede verwag, asook oor die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Die Wes-Kaap kan ligte reën verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 18°C • Johannesburg 15°C • Mahikeng 23°C • Mbombela 18°C • Bloemfontein 19°C • Polokwane 16°C • Kimberley 21°C • Upington 23°C • Kaapstad 22°C • Gqeberha 18°C • Oos-Londen 18°C • Durban 23°C.


Max du Preez | Winnie Mandela-rylaan is ’n morele doodloopstraat


Ek voel goed as ek op die OR Tambo-lughawe in Johannesburg of die Dawid Stuurman-lughawe in Gqeberha land, of as ek strate gebruik wat na Steve Biko, Beyers Naudé, Desmond Tutu of Philip Kgosana vernoem is.

Dit herinner my daaraan dat ons as ’n nasie apartheid verslaan en ’n oop demokrasie geword het.

Ek gaan nie dieselfde gevoel kry as ek volgende keer in Johannesburg Winnie Mandela-rylaan, soos wat die ou William Nicol nou heet, gebruik nie.

Ek sal daaraan dink dat die families van onder andere dr. Abu-Baker Asvat, Lolo Sono, Stompie Seipei, Kuki Zwane en Siboniso Shabalala met ’n swaar hart na die nuwe padnaam gaan kyk.

Cyril Mbatha, wat Asvat op 27 Januarie 1989 in sy spreekkamer in Soweto doodgeskiet het, het aan die Waarheid-en-versoeningskommissie gesê Winnie het hom betaal om dit te doen. Asvat het vroeër gedreig om haar en haar moorddadige bende, die sogenaamde Mandela United Football Club, se wrede aanrandings op jong seuns bekend te maak.

Image: ANGELA TUCK

Een van die klub se lede, Katiza Cebekhulu, hou vandag nog vol hy het self gesien hoe Winnie vir Stompie doodsteek. Winnie is later weens die ontvoering van en aanranding op Stompie skuldig bevind. Sono, Zwane en Shabalala is onder die ander slagoffers van Winnie se klub, met vele wat al beweer het sy was self vir hulle dood verantwoordelik. Haar lyfwag, Jerry Richardson, het onder meer getuig dat hy Zwane in opdrag van Winnie vermoor het.

Ja, die laat 1980’s was rowwe tye. Ja, die veiligheidspolisie het Winnie se lewe hel gemaak. Maar Asvat was ’n geliefde struggle-dokter en die ander slagoffers was almal in hulle vroeë tienerjare, geen vyande van die bevrydingstryd nie.

Winnie is boonop in 2003 weens diefstal en bedrog skuldig bevind.

In my boek verdien so ’n mens nie om vereer te word nie, hoe dapper sy ook al in die eerste helfte van haar lewe was.

AfriForum is kwaad oor die naamsverandering van die pad. Maar hulle aanklag, dat die ANC die geskiedenis wil uitvee, werk nie vir my nie.

Kolonialisme en apartheid het die geskiedenis ontken deur meestal net wit helde met plekname te vereer. En as die argument is dat ou name moet bly omdat dit die geskiedenis weerspieël en dat die morele en etiese oorwegings van wie dié mense was, geïgnoreer behoort te word (dink Verwoerd, Strijdom, Vorster), dan moet hulle ook aanvaar dat William Nicol nou Winnie Mandela-rylaan heet.

Sy het immers ’n baie prominente rol in ons geskiedenis gespeel.


Eindeloos dink ek aan die Romeinse ryk


Luister hier manne, “Quam saepe cogitas de Imperio Romano?"

Toe ek gister gaan opsoek hoekom dié vraag – die Latyn vir “Hoe gereeld dink jy aan die Romeinse ryk?" – deesdae elke nou en dan (in Engels) iewers oor my pad kom, het ek weer besef hoe agter die tyd ek is as dit by internet-giere kom (dit het my jare gevat om te besef wat “Netflix ’n' chill" beteken).

Dit blyk die vraag oor die Romeine is deel van 'n meem (die woord wat ons glo in Afrikaans vir 'n meme moet gebruik) wat verlede jaar in Swede ontstaan het, en 'n rukkie gelede in die VSA nuwe lewe gegee is. Eers het ene Saskia Cort op Instagram haar volgers aangemoedig om aan hulle manlike vriende dié vraag te vra. Heel dikwels, was baie van die mans se antwoord, selfs twee of drie keer per dag.

Huh?

Vroeër vanjaar het 'n Amerikaanse liefhebber van Romeinse geskiedenis wat as @gaiusflavius op Instagram bekend is, die draad opgetel en gevra: “Ladies, many of you do not realize how often men think about the Roman Empire. Ask your husband/boyfriend/father/brother, you will be surprised by their answers!"

En miljoene der miljoene mense kyk op TikTok en Instagram na daai antwoorde.

Image: ANGELA TUCK

Een teorie oor waarom mans – ten minste in Europa en Noord-Amerika – dan so dikwels oor dié deel van die geskiedenis sou nadink, en vroue bitter selde, is dat mans een of ander ding het met oorloë en belangrike oorwinnings op die slagveld en magtige keisers soos Julius Caesar; terwyl vroue hulle liewers bemoei met meer onmiddellike dinge, en nie so maklik verval in 'n verromantisering van oorlog en magtige diktators soos wat mans maak nie.

Mmm, ek weet darem nie.

Dani di Placido probeer in Forbes ook by 'n verklaring uitkom:

“Our male ancestors lived and died by the sword, in stark contrast to the sedentary life of the modern man, who risks injury [only] from sitting too long, hunched over his computer reading Wikipedia articles about the ingenuity of Roman aqueducts."

Sy noem die voorbeelde van Richard in Friends se obsessie met die Amerikaanse Burgeroorlog, en Mark Zuckerberg wat een van sy kinders August genoem het, na die Romeinse keiser Augustus. Elon Musk het ook verlede week op X grappies gemaak oor die onderwerp.

Wat van Suid-Afrikaanse mans? Dink ons ook so gereeld oor die Romeine, of dalk oor iets nader aan die huis soos Mzilikazi of Shaka of Isandlwana? Of het mens meer historiese afstand nodig, soos ná die Romeinse tyd?

Ek self kan nie sê dat ek gereeld aan die Romeine dink nie, ook nie aan enige plaaslike ekwivalent nie, en beslis nie twee of drie keer per dag nie. Maar aan die ander kant, as ek weet my antwoord gaan dalk op TikTok wees, dan gaan ek sê: Daar gaan omtrent nie 'n oomblik verby dat ek nié aan daai ouens dink nie.

Dis maar net soos ons mans is.


Skull song

A sea-god, whose father had been a mortal, becomes a skeleton.

The skin of the sea was thick, to-night,
And the tone of the sea was dull;
When I found by the edge of the sullen sea
The half of a sea-god’s skull.

Half of a sea-god’s skull was there,
Half of a sea-god’s tail.
When I dug them out of the clutch of the sand
The peering moon went pale.

The peering moon went pale, because
Her other eye had seen
The other half of the sea-god’s bones
Ten thousand fathom green ...

Ten thousand fathom green with sea,
The sea-god’s other bones
Swayed in a dead sea-goddess’s arms
On a pile of sea-washed stones.

The skin of the sea was thick, to-night,
And the tone of the sea was dull,
While I buried away from the sinister sea
All the mortal part of a skull.

– Genevieve Taggard

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.