’n Bot in jou brein in die Era van Onaanspreeklikheid

DONDERDAG MET MERCY

’n Bot in jou brein in die Era van Onaanspreeklikheid

MERCY KANNEMEYER het 'n nuwe naam vir die tye waarin ons leef. WILLEM KEMPEN dink 'n aankondiging oor Elon Musk se Neuralink is dalk die begin van vele mediese deurbrake. En soos altyd is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 28 September 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. ’n Oorsig deur die Nasionale Beplanningskommissie van die Suid-Afrikaanse regering se prestasie oor die afgelope dekade betreffende die nasionale ontwikkelingsplan toon dat nie 'n enkele teiken wat daardeur gestel word, gehaal is nie, het News24 berig. In die meeste gevalle was daar trouens agteruitgang ten opsigte van sleutelkwessies soos om werkloosheid, armoede en ongelykheid te beveg, het die kommissie gevind. Die volle verslag is hier, maar wees gewaarsku: Dis nie vir sensitiewe lesers of voornemende beleggers in Suid-Afrika nie.

2. Golwe van tot 5 meter hoog kan die kus van KwaZulu-Natal tref, het die departement van samewerkende regering en tradisionele sake in die provinsie gewaarsku. Rampbestuursentrums is geaktiveer in munisipaliteite aan die kus in 'n gebied wat strek van Port Edward in die suide tot Richardsbaai in die noorde.

3. Die polisie gaan op hoë vlak 'n ondersoek doen na 'n voorval Dinsdagoggend in Calcutta naby Hazyview in Mpumalanga toe vier of vyf mans 'n vragmotor op die R40-pad aangeval het. Die 45-jarige vragmotorbestuurder Petros Jay Magagula van Matsulu is doodgeskiet en twee ander insittendes beseer. Hierna het omstanders volgens IOL op die wrak van die vragmotor toegeslaan en  van die vrag gebuit terwyl die vermoorde Magagula nog agter die stuur was en die ander twee mans hulpeloos in die kajuit gesit het sonder dat iemand hulle te hulp gesnel het.

4. Julius Malema en ander EFF-lede wat in Februarie die podium tydens pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede bestorm het, gaan aan 'n amptelike parlementêre ondersoek onderwerp word. Sou hulle skuldig bevind word, kan hulle vir 'n tydperk van hoogstens 30 dae sonder betaling geskors word. Hulle kan ook beboet word met 'n bedrag wat nie die ekwivalent van 'n maand se salaris oorskry nie.

5. Hui Ka Yan, voorsitter en stigter van die China Evergrande Group, is volgens Bloomberg onder polisiebewaking geplaas. Evergrande, 'n eiendomsontwikkelaar, is diep in die moeilikheid, met totale laste van meer as $300 biljoen. Dit het reeds gelei tot 'n ongekende  likiditeitskrisis in China se eiendomsektor, wat ongeveer 'n kwart van die land se ekonomie uitmaak.

6. Republikeinse strateë sê die tyd raak min om Donald Trump te keer  om die party se amptelike benoeming as presidentskandidaat te beklink. Trump is volgens die meeste peilings meer as 40 persentasiepunte voor sy naaste teenstander, en het nogmaals besluit om nie aan gister se Republikeinse debat in Simi Valley, Kalifornië, deel te neem nie.

7. Die Afrikanasiesbeker-sokkertoernooi sal in 2027 gesamentlik deur Kenia, Uganda en Tanzanië aangebied word. Marokko sal die toernooi in 2025 aanbied, het die Konfederasie van Afrika-sokker (CAF) gister aangekondig.


Daar is 'n waarskuwing oor 'n hoë brandgevaar vir die Namakwa-streek in die Noord-Kaap. Dis vanoggend mistig oor die grootste deel van die land, behalwe vir die Noord- en Wes-Kaap en Noordwes. Buie en donderbuie word oor die grootste deel van die land verwag, behalwe in Noordwes en die Kaapprovinsies.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 21°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 26°C • Mbombela 21°C • Kaapstad 27°C • Durban 23°C • Kimberley 26°C • Bloemfontein 25°C • Polokwane 22°C • Upington 30°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 20°C.


Willem Kempen | Groot dinge wag as jou brein en Elon se masjiene mekaar ontmoet

As dit van Elon Musk alleen afgehang het, het Neuralink al in sy eerste bestaansjaar in 2016 met proewe van sy brein-rekenaar-koppelvlak-tegnologie (BCI) op mense begin. Sewe jaar, dís hoe lank dit gevat het om net tot op hierdie punt te kom, met al die goedkeurings en ondersoeke en voorwaardes van die Amerikaanse Food and Drug Administration (FDA) wat eers verkry of gedoen of nagekom moes word. En selfs noudat die proewe op mense mag begin, is algemene gebruik van die tegnologie nog jare en selfs dekades in die toekoms.

Dis goed en reg so. BCI-tegnologie het die potensiaal om 'n nuwe era van mediese deurbrake in te lui, maar ook om rampspoedige en vernietigende gevolge te hê. Die FDA is ver van volmaak, maar dit bly die naaste wat die mensdom het aan 'n oop, onafhanklike en  gesaghebbende owerheid wat Neuralink en ander sulke innoveerders kan dwing om te hou by die beginsels van goeie, eties verantwoordelike wetenskap en gesonde verstand.

Image: ANGELA TUCK

Baie dinge word moontlik as 'n kragtige rekenaar regstreeks met die menslike brein kan kommunikeer: kunsledemate kan alles en meer doen wat natuurlike arms en bene sou kon doen; dramaties beter behandeling vir dinge soos Parkinson se siekte, epilepsie en rugmurgbeserings is moontlik; selfs vir obesiteit, outisme, depressie en skisofrenie.

Neuralink se aanvanklike studie is veel minder ambisieus: Plaas 'n Bluetooth-gekoppelde BCI-toestel met 'n chirurgiese robot in 'n deel van die menslike brein waar die voorneme om te beweeg beheer word, en kyk dan of daardie mens aksies op 'n rekenaarskerm kan beheer deur slégs hul gedagtes te gebruik. Neuralink het dit al klaar met sjimpansees reggekry; kyk hier:

Die robot wat die inplantings doen, staan bekend as Implant/r1. Een  van die groot redes waarom FDA-toestemming so lank gevat het, was omdat Neuralink eers moes bewys dat Implant/r1 die operasies  betroubaar en veilig kan uitvoer sonder om die omliggende breinweefsel te beskadig, of om infeksie, bloeding, inflammasie en letsels te veroorsaak, en ook nie met ander breinfunksies in te meng of ongewenste newe-effekte te veroorsaak nie. Daar was ook 'n hele afsonderlike ondersoek om seker te maak die sjimpansees is goed behandel en het geen onvoorsiene probleme opgedoen weens die chirurgie nie.

Daar is ander gevare ook: Die ingeplante toestel moet bestand wees teen kuberkrakers, die battery moenie kan oorverhit of selfs ontplof nie, en dit moet lank genoeg hou om alles die moeite werd te maak. Die FDA het selfs daarop aangedring dat Neuralink bewys dat hulle die toestel in 'n noodgeval ook weer veilig en vinnig kan verwyder.

Met al dié boksies nou tot die FDA se bevrediging getiek, kan Neuralink begin skryf aan die volgende hoofstuk. Die kans is goed dit gaan 'n baie opwindende een wees.


Image: ANGELA TUCK

In die Era van (On)aanspreeklikheid skyn die lig op die horison ál dowwer

Die Verligting (Age of Enlightment) was in die 17de- en 18de-eeuse Wes-Europa ’n tydperk gefokus op rede bo bygelowe. Die Romantiese era, beïnvloed deur die Franse revolusie, is gekenmerk deur ’n fokus op skoonheid, die natuur, die sintuie, emosie bó rede. Die Elisabethaanse era – geïnspireer deur Koningin Elizabeth en wyd en syd gebruik as momentum vir ’n menigte literêre werke wat vandag steeds relevant is.

Só kan ons aan en aangaan en deur die eeue werk ten einde vas te stel wat vir die publiek, sowel as die intelligentsia van die tyd, belangrik was.

In watter era sal julle skat leef ons tans? Veral hier in Suid-Afrika? In ag genome ons gebrekkige demokrasie, swak dienslewering op te veel plekke, werkloosheid, patetiese leierskap, toekomsloosheid, ’n afwesigheid van visie, en min tot geen water en elektrisiteit in groot dele van ons land. Ons sit letterlik en figuurlik in die donker. As ’n mens oor al hierdie dinge gaan nadink – en glo my, ek haat dit om so doemprofeties te wees, maar ons land laat my met geen ander opsie nie – dan is dit veilig om te sê ons leef in die Era van (On)aanspreeklikheid.

Image: ANGELA TUCK

Klein voorbeeld. Vroeër die week het ek ’n fout by een van my werke begaan (ja, ek is ’n onvolmaakte mens, oukei!), en een van my ander kollegas het dit opgemerk. Iemand wou toe weet wie se skuld dit was. Die kollega wat dit opgemerk het, het onmiddellik gesê dis nie hulle skuld nie. Hande in die lug gegooi: “It wasn’t me!” Voordat ek kon weet wat aangaan, het my ander kollega gesê: “Dit was Mercy.” Ek stel ondersoek in en besef toe ja, dit was ek. Vra om verskoning. Neem aanspreeklikheid vir my fout. En dis toe verby.

In 2016 kla oudpres. Jacob Zuma in die parlement oor hoedat elke keer wanneer hy in parlement kom, hy sleg behandel word. Askies, my guy, maar jy was in daardie stadium letterlik die president van die flippen land! Nou moan jy oor hoe jy sleg behandel word, terwyl ons almal weet jy’t selde jou werk gedoen.

Mense wat aanspreeklikheid wil vryspring, speel te dikwels die slagoffer.

Het pres. Cyril Ramaphosa al aanspreekliheid gevat vir daai geld wat in sy bank was?! Gaan Zuma ooit tronk toe?

Hier om die draai van my in Tshwane met die voortslepende staking staan dienslewering vir weke al stil. Die munisipale werkersvakbond Samwu sê dis nie hulle lede wat geweld in die metro pleeg nie, en dit terwyl hulle die mense is wat die hele flippen staking begin het. Weereens, geen aanspreeklikheid nie.

In die Era van Aanspreeklikheid is die doel nie om skuld uit te deel en mense kak oor hulleself te laat voel nie. Die doel hier moet bloot wees om verantwoordelikheid vir ons besluite en ons dade te neem.

Ongelukkig leef ons in onaanspreeklikheidstye. En begin die lig wat eens op die horison geskyn het, al hoe dowwer word.


gedig vir Jien

niemand kan teen die nag in
praat nie,
                    al het jy die hóé lief

lampe gaan lateraan dood, soos rose
– ek sien dit – as ek die bewende lig in die nag maak
grrts-grrts met 'n vuurhoutjie
                                          wat nie wil vat nie
die nag is 'n vrou soos ons
vroom van klank en betroubaar

sy sê vir my: wees nie bevrees nie
ek antwoord haar nie

ons verkies dit so,
ons twee

– Petra Müller

(Uit: om die gedagte van geel)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.