Oor sonskywe en swart koffie, en oorloë wat plaaslike sakke raak

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Oor sonskywe en swart koffie, en oorloë wat plaaslike sakke raak

DEBORAH STEINMAIR onthou die digter Trienke Laurie, WILLEM KEMPEN vra vir ’n bietjie realisme, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 10 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre

1. Syfers wat deur Al Jazeera bygehou word, het teen gistermiddag op die volgende gedui oor die bloedige konflik in die suide van Israel: Gaza: minstens 560 sterftes en minstens 2 900 beseer. Wesoewer: minstens 16 dood en minstens 80 beseer. Israel: minstens 800 sterftes en minstens 2 243 beseer.

2. Internasionale oliepryse het gister met gemiddeld 4% gestyg tot sowat $87 per vat weens vrese dat die gebeure in Israel olievoorsiening uit die Midde-Ooste kan beïnvloed. 'n Amerikaanse dollar het gister om 15:10 vir R19,41 verhandel.

3. Regter Daniel Thulare het die destydse ondersoek na die dood in 1970 van imam Abdullah Haron omgekeer en bevind dat hy dood is ná marteling deur die destydse veiligheidspolisie omdat hy hom teen apartheid verset het.

4. Die Suid-Afrikaanse DJ Black Coffee se uitverkoopte optrede by Madison Square Garden in New York is gister as 'n geskiedkundige oomblik vir plaaslike kuns en musiek bestempel.

5. Byna 250 transitorooftogte het al vanjaar plaasgevind, het die Cash-In-Transit Association of SA aan eNCA gesê. Dit verteenwoordig 'n toename van 30% vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

6. Nissan in Suid-Afrika beplan om ongeveer 'n kwart van sy plaaslike werksmag van 1 600 af te lê omdat 'n plaasvervanger nie gevind kan word vir die NP200-bakkie nie. Nissan gaan produksie van die NP200 in Maart volgende jaar staak, maar sou deur 'n “gedeelde platform in Rusland" 'n plaasvervanger aanhou vervaardig. Die geopolitieke situasie in Rusland het egter beteken dat hierdie model nie meer lewensvatbaar was nie weens aansienlik verminderde volumes," het die maatskappy aan News24 gesê.

7. Vanjaar se Nobelprys vir ekonomie is aan Claudia Goldin van Harvard toegeken vir haar werk oor die oorsake van loon- en arbeidsmark-ongelykhede tussen mans en vroue.


Daar is waarskuwings oor swaar reën wat tot oorstromings kan lei langs die Oos-Kaapse kus tussen Port Alfred en Port Edward. Swaar donderbuie met sterk wind en hael word oor dele van die Vrystaat en Noordwes verwag. Dan is daar 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes. Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal kan buie en donderbuie verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 31°C • Johannesburg 28°C • Mahikeng 34°C • Mbombela 23°C • Kaapstad 25°C • Durban 23°C • Kimberley 35°C • Bloemfontein 33°C • Polokwane 26°C • Upington 35°C • Gqeberha 18°C • Oos-Londen 18°C.


Willem Kempen | Kom tog terug aarde toe

Kgosientsho Ramokgopa sê ’n dag sonder beurtkrag is ’n “major victory”: “We are not out of the woods, but we are turning the corner.”

Nee maar reg, al is ons taamlik seker die “lower demand” weens ’n wankelende ekonomie speel ’n veel groter rol in die verminderde onderbrekings as die agterstand met onderhoud wat Eskom probeer uitwis, of kragopwekking wat effens herstel het.

“The energy availability factor is sustaining close to 60%, and then we will return three Kusile units. There is going to be a significant improvement in the energy situation.”

Ons is al vantevore vertel dat beurtkrag nie hoër as dié of daai fase gaan wees nie, of selfs heeltemal iets van die verlede is. En as ons weer sien, dan is die ligte maar weer af en kom produksie in fabrieke en werkswinkels en op myne en plase nogmaals tot stilstand, soms meer as een of twee keer per dag. Wat anders kan mens doen as beplan vir die ergste en hoop vir die beste?

Kgosientsho Ramokgopa
Kgosientsho Ramokgopa
Image: ANGELA TUCK

Dit sou nogtans nogal gaaf wees het as iemand soos Panyaza Lesufi ’n bietjie meer begrip getoon het vir wat dit verg om daardie fabrieke en werkswinkels en myne en plase aan die gang te hou. Pleks dáárvan het die Gautengse premier verlede week gedreig met een of ander kwotastelsel sodat Suid-Afrikaners voorrang kan kry wanneer nuwe aanstellings in die provinsie gedoen word.

Nuwe aanstellings? Nie eens in die beskermde omgewing van die staatsdiens is daar geld om te investeer in nuwe aanstellings nie, wat nog te sê in fabrieke en werkswinkels en op myne en plase – almal probeer net oorleef teen die aanslae van alles wat Eskom, Transnet, lae kommoditeitspryse en hoë rentekoerse oor hulle pad gooi. In daardie kringe gaan die gesprekke meer dikwels oor hoe om te keer dat nog mense afgedank moet word, allermins oor hoeveel aangestel kan word.

Minder mooi beloftes is dalk te veel gevra met minder as ’n jaar oor voor die verkiesing, maar hoe lyk dit met net so ’n bietjie meer realisme?


Image: ANGELA TUCK

Notas teen 03:48 voormiddag

Hoe slaap mens, asseblief?

In die donkerste hoek van die nag bly slaap my ontglip soos ’n skadu oor die werf. Ons speel wegkruipertjie en ek weet ek moenie loer nie; hou jou ongeërg, sien haar gestalte net uit die hoek van jou oog, terloops. As jy maak of jy nie omgee nie, gaan sy jou uit die bloute oorrompel. Hopelik.

Maar daar is te veel woorde, ná ’n dag van lees. Beelde dring hulle op. Herinneringe is prente.

In die ou huis in Brixton waar ek en Jeanne Goosen gewoon het, was die badkamer ver, anderkant die kombuis. Sy het in die nag ’n piepot gebruik. Ek het een keer daaroor geskryf: At night she squats over a chamber pot / A stone idol in the full moon / that pales in the light of her ample backside.

Die herinnering bring ’n stortvloed woorde:

hurk jurk kurk skurk
koos boos broos doos
pie knie vlie sie tjierie
papier nier vlier wier
skirt flirt nerd dirt turd

Ek roer die loom leemgrond van vaak. My hand hang oor die afgrond. My wyswinger skryf patrone in ’n Koi-dam êrens in ’n tuin in Japan, waar haikoes sidder soos vlinders. My kop swetterjoel; ’n boom vol vinke. Ek dink aan stilte.

Buitelyne begin vervaag, woorde los op – alfabetsop. Beelde doem op, my bewussyn gee skiet. Aan die buitewyke van slaap gewaar ek die wese van my geliefde: ’n hoë huis op ’n heuwel. Vele wonings en wolke wat stapel.

Dan: ’n Sarsie geweerskote knal deur die nag. Niks klink soos skote nie. Beelde vervaag, woorde tree weer aan. Gedagtes groei soos selle in ’n byekorf. Hoe verdwyn ek onder die oppervlak? Slaap verdwyn skalks agter ’n struik. Ek begin weer tel.

’n Herinnering meld aan. Ek is bitter jonk, in Potchefstroom. Platsak. In die mik van ’n groot vyeboom in die Totius-museum se tuin smul ek aan die vrugte. Opeens hoor ek hoëhakskoene oor plaveisel: tip-tip-tip. Iemand praat onder my: “Totius het hierdie boom nog sélf geplant.” (Tóó-tie-jus.) Hoe gaaf, dink ek, ’n toergids boonop. Ek eet verder. Weer die stem: “Ons wil nie hê mense moet in die boom klim nie, want dis so oud.” O, oukei. Ek spring af, staan, pluk en eet verder. Agter my die stem, nou met ’n soom van desperaatheid: “Dis verbóde vir die publiek om die vye te eet.” O, oukei, sê dan so. So clueless was ek, so verlore in die wêreld, eens.

***

Skildery links: “Die vereboodskap”. Regs: “My vrede gee ek julle”.
Skildery links: “Die vereboodskap”. Regs: “My vrede gee ek julle”.
Image: ANGELA TUCK

Trienke Laurie is verlede week oorlede. Ongelukkig is die eerste ding wat mense oor haar sê dat sy D.J. Opperman se dogter was. Ek het haar een keer ontmoet, saam met Reinet Kemp, N.P. van Wyk Louw se dogter. Ons verloor ons pa’s se vanne. Mooi vroue vol lig. Laurie het gedig:

Ek het die duisendpoot opgetel
en kyk, dit was lank uitgestrek
- ’n naelstring om ’n stok of fallus.
Toe rol hy op in ’n naeltjie, word vrou en vagina.

Slaap sag, Trienke Laurie; jy het ’n feetjienaam, jou naam is ’n klingel, ’n ringtone, en jou woorde is speels. Jy was ’n sonskyf.

***

Image: ANGELA TUCK

Die Nobelprys vir Letterkunde is aan die veelsydige Noorweegse skrywer Jon Olav Fosse toegeken vir sy innoverende dramas en romans wat die onsegbare verwoord. Hy skryf ook gedigte, essays en kinderstories en is in meer as 50 tale vertaal. Ek sal gaan soek na hom.


Seekat op Minoaanse amphora

(Die kus van Zakros)

Haar oë is twee swart eilande
wat diepkyk in jou hart
Haar arms amper swagtelende sluiers.
Suiers stippel die ranke pote
– vrolike staccato’s voortgesit in borrels.
Sy is ’n sierlike Minoaanse prinses
met perdebymiddeltjie en golwende lyf.
Twee arms omlyn haar grootoogkop
terwyl die ander pote ’n ritmiese dans uitklop
Hierdie ongewone ongrillige seekat op die amfora,
prikkel die sintuie – sy wikkel jou tone; die seekatjie dans
sy dans ’n Salome sekskat-riel, sowaar!

– Trienke Laurie

(Van: www.versindaba.com)

 VWB 


Lees hierdie hele week se uitgawe

Image: ANGELA TUCK

NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.