Kodwa hoop appèl keer Bok-verleentheid oor vlag en volkslied

WOENSDAG MET WILLEM

Kodwa hoop appèl keer Bok-verleentheid oor vlag en volkslied

Is Gwede Mantashe moedswillig of net clueless, wonder WILLEM KEMPEN, wat ook fantaseer oor 'n besoek aan die Galápagos van Afrika. En daar is vandag weer sewe goed wat jy wil weet.

  • 11 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre


1. Volgens verlede jaar se sensusopname is Suid-Afrika se bevolking nou 62 miljoen, wat 10 miljoen meer is as waarop die vorige sensus in 2011 gedui het. Lees hier meer daaroor.

2. Die IMF het sy groeiprojeksie vir die Suid-Afrikaanse ekonomie vir vanjaar van 0,6% tot 0,9% opgestoot, en minder as die verwagte beurtkrag in die tweede kwartaal as die hoofrede hiervoor aangegee. Dit is steeds heelwat minder as die projeksies vir al die lande in Afrika suid van die Sahara wat na die IMF se raming met gemiddeld 4% gaan groei.

3. Watervoorsiening in Johannesburg is onder druk, maar is nie in gevaar om in duie te stort nie, het Joburg Water gister volgens Business Day gesê.

4. Ben O’Keeffe van Nieu-Seeland is as die skeidsregter aangewys vir Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd tussen die Springbokke en Frankryk in Parys. Intussen het die minister van sport, Zizi Kodwa, bevestig dat Suid-Afrika geappelleer het teen ’n besluit van die Wêreldagentskap teen die Gebruik van Verbode Middels (Wada) om die land te straf vir die versuim om wetgewing oor verbode middels betyds aan te pas. Die appèl sal hopelik genoeg wees sodat Suid-Afrikaanse sportspanne wel die landsvlag mag vertoon en die volkslied by internasionale geleenthede mag sing. Kodwa het gesê die betrokke wetsontwerp is goedgekeur en sal in die parlement ter tafel gelê word.

5. Die DA sê Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die nasionale vergadering, het LP’s mislei in die proses wat gelei het tot die 70%-salarisverhoging vir Xolile George, sekretaris van die parlement.

6. Israel het gister die felste lugaanvalle op die Gazastrook in die 75 jaar van die konflik met die Palestyne van stapel gestuur. Hele distrikte is in puin gelê ondanks ’n dreigement deur Hamas dat ’n gevangene doodgemaak sou word vir elke huis wat getref word. Volgens die VN het byna 200 000 mense, sowat ’n tiende van die bevolking, sedert die begin van vyandelikhede uit hul huise in Gaza gevlug.

7. ’n Ondersese gaspypleiding en ’n telekommunikasiekabel wat Finland en Estland onder die Oossee met mekaar verbind, is beskadig in wat moontlik ’n opsetlike daad kon gewees het, het die Finse regering gister gesê. Albei lande is lede van Navo, en dié organisasie het in reaksie onderneem om hulle te ondersteun om die voorval te ondersoek, het Reuters berig.


Daar is waarskuwings oor swaar donderbuie oor dele van die Vrystaat en KwaZulu-Natal, asook oor 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord- en Oos-Kaap, Noordwes en die Vrystaat. Die grootste deel van die land kan buie of donderbuie verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 31°C • Mbombela 26°C • Bloemfontein 32°C • Polokwane 27°C • Kimberley 34°C • Upington 32°C • Kaapstad 20°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 22°C • Durban 27°C.


Willem Kempen | Hardloop sommer saam met die muise weg, Gwede Mantashe

Is Gwede Mantashe net moedswillig, of verstaan hy regtig nie waarom Eskom nou nog sonder 'n voorsitter ook sit nie?

Ingeval van laasgenoemde, meneer die minister, hier is drie moontlike redes waarom Mpho Makwana bedank het:

Eerstens omdat daar sewe maande ná André de Ruyter se vertrek steeds nie 'n opvolger as uitvoerende hoof aangewys is nie.

Tweedens, net ingeval die eerste rede nie frustrerend genoeg is nie, is die Eskom-direksie se voorstel vir 'n opvolger vir De Ruyter van die hand gewys, met die flou verskoning dat daar nie net een naam op die lys mag wees nie. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het gesê daar sal “dalk” teen die einde van die jaar ’n plaasvervanger aangestel wees. Makwana moes dus verduur hoe die kandidaat waarop die direksie onder sy leierskap besluit het, deur Gordhan van die hand gewys is – en dis boonop afgesien van die vraag of die minister hom hoegenaamd met die aanstelling behoort te bemoei.

En derdens, die kans is baie goed dat Makwana, soos die res van die land, steeds nie begryp waar hy staan ten opsigte van die nuwe pos van minister van elektrisiteit wat ná De Ruyter se bedanking geskep is nie. Kgosientsho Ramokgopa klink die een oomblik of hy eintlik De Ruyter se rol oorgeneem het, dan die volgende oomblik asof hy namens Eskom se direksie praat.

Dis eintlik 'n wonderwerk dat Makwana nou eers bedank het: twee ministers bo hom wat albei op sý terrein inmeng, maar terselfdertyd nie die bedryfshoof onder hom aangestel kry wat hy dringend nodig het nie.  

Maar Mantashe verstaan dit skynbaar nie. Hy wil “agterkom" wat agter die uittog sit, kompleet met paternalistiese klein vertellinkie:

“As mynwerker is dit my agtergrond. As jy ondergronds is en jy sien muise hardloop, gaan jy nie kyk waarvandaan hulle hardloop nie. Jy moet saam met hulle hardloop, want hulle loop waarskynlik van metaan af. As daar 'n uittog van leiers is, moet ons verstaan wat die metaangas is waarvoor hulle vlug,” het Mantashe volgens Khulekani Magubane van Business Day aan verslaggewers by die Afrika-olieweek in Kaapstad gesê, klaarblyklik heel ernstig.

Die res van ons kan maklik dink aan 'n paar moontlike bronne vir daai soort gas, meneer Mantashe. En niemand gaan in jou pad staan as jy saam met die muise wil weghardloop nie.

Die land se geduld met Pravin Gordhan is ook aan die opraak, want dieselfde soort leierskapskrisis bestaan ook by omtrent elke ander onderneming in staatsbesit, waarvan Transnet, Denel en die SAL maar net boaan die lys is. Elkeen van hierdie organisasies kort bekwame leiers – waaraan daar terloops geen tekort in die land is nie, maar wat doelbewus misgekyk word deur almal wat tog so lekker onder die ANC se nat kombers mekaar se gasse lê en ruik.


Van draakbloedboom tot peuselverske

Ek wil iewers op 'n eiland gaan bly. 'n Afgeleë fantasiewêreld, soos Walter Battiss se Fook Island, waar die vrugte wild groei aan bome met name soos peuselverske en mamaja en kiesang. Waar mense van wolkbrode leef wat saans op oop vure gebak word. 'n Plek waar die reënwater nooit meer of minder is as wat die landerye nodig het nie.

'n Plek sonder kerke of barakke of grensposte of presidensiële paleise. En ook sommer sonder goud of diamante of steenkool of enigiets anders wat van diep onder die grond uitgegrawe hoef te word. Ditto kragsentrales, hoewel ek die internet nogal sal mis.

Natuurlik is daar nie so 'n plek nie, in elk geval nie op enige van die huidige lys van bewoonbare planete in die omte nie, maar wat is die naaste wat mens daaraan kan kom?

So af en toe gaan soek ek op Google Earth na plekke wat dalk 'n paar van die boksies tiek, of sommer net omdat mens so min hoor van wat daar aangaan, of wat besonder moeilik is om by uit te kom.

Soos Mongolië, byvoorbeeld. Is daar 'n ander land wat so selde die internasionale nuus haal? Toegegee, dit lyk van ver af nie of daar baie redes is om Mongolië te besoek nie. Hulle het wel so 'n klompie jare gelede 'n baie imposante standbeeld van Genghis Khan op sy perd daar iewers opgerig, wat half sin maak as jy daaraan dink dat 'n stewige proporsie van die wêreld se mans hulle Y-chromosoom na dié besige knaap kan terugspoor.

Ander moontlikhede op my lys is Bora Bora (idillies, maar te veel toeriste en nog steeds te naby aan Australië), en Andorra, 'n piepklein Europese landjie ('n prinsipaliteit, as jy wil) tussen Frankryk en Spanje wat omtrent net per helikopter uit die buitewêreld bereik kan word. 

Maar Bora Bora en Andorra is eintlik maar speeloorde vir die rykes; iets wat mens nie kan sê van die nuutste plek op my fantasielys nie: Sokotra, 'n eilandgroep oos van die Horing van Afrika wat soos alles in daai geweste die bron van hewige twiste is. Minstens Jemen, Somalië, die Verenigde Arabiese Emirate en Saoedi-Arabië het een of ander aanspraak op Sokotra, sover ek kan agterkom.

Draakbloedbome.
Draakbloedbome.
Image: FOTO REGS: @TJEERD001

Daar bly maar iets soos 60 000 mense, en Sokotra is al beskryf as “the most alien-looking place on Earth”. Die landskappe lyk inderdaad soos iets uit 'n ander wêreld, met spierwit sandduine en 'n hele rits plante wat danksy die geografiese isolasie nêrens anders ter wêreld voorkom nie. Soos die draakbloedboom, wat sy naam kry van die besonderse kleur van sy sap, en wat lyk of daar iewers 'n pterodaktiel tussen sy takke kan skuil.

Vir 'n rukkie was Sokotra – “die ander Galápagos" – op pad om die volgende droombestemming vir nuuskierige toeriste te word, maar die politieke onstuimigheid het vir eers 'n einde aan sulke planne gemaak. Dalk is dit beter so, want daardie ongeskondenheid sal waarskynlik nie busvragte vol besoekers oorleef nie.

Helaas beteken dit ook ek sal nooit self kan gaan kyk of daar peuselverskes en mamajas en kiesangs tussen die draakbloedbome groei nie.


Decolonialish Self-Portrait

I remember myself;
—a chair, turning—
a desperate blue tunnel
crossing the mirror
in the lavender hour.
I remember myself;
a corner of sunlight
on the bed sheet rotating
a violence, words that die
before meaning:
relentless shredded threads.
I remember myself;
sky chained to torture,
futurity chokes:
an ancient throat melts
in my posing.
I remember myself;
a swipe in the dust
on my dresser, a drawer full
of rotten Christian teeth.

– Sara Borjas

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.