Van alle kante: Dit woel by Transnet, Reserwebank

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Van alle kante: Dit woel by Transnet, Reserwebank

DEBORAH STEINMAIR word geroer deur snare wat meeding op pad wenpaal toe, WILLEM KEMPEN kies kant teen die wittes, en soos gewoonlik is daar ook sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 24 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

1. Kuben Naidoo, adjunkpresident van die Reserwebank, het aangedui dat hy uit dié pos wil bedank, het Vincent Magwenya, woordvoerder van die presidensie, gister bevestig. Naidoo was in sy 10 jaar by die SARB onder meer hoof van die omsigtigheidsowerheid en ’n lid van die beleidskomitee oor monetêre sake.

2. In die jongste van ’n rits bedankings by Transnet gaan Ali Motala, bedryfshoof van die steenkool-uitvoerlyn, ook die pad vat, het bronne in die groep aan Lisa Steyn van News24 gesê. Ander onlangse hoëprofiel-bedankings sluit in Portia Derby as uitvoerende hoof van die Transnet-groep, Nonkululeko Dlamini as die groep se finansiële hoof, en Sizakele Mzimela as uitvoerende hoof van Transnet Freight Rail (TFR).

3. Einste TFR het gister aangekondig dat planne om aan privaat ondernemings toegang tot dele van sy spoor-infrastruktuur te gee, moontlik in die gedrang is nadat ’n kontrak met die gekose bieër, Traxtion Sheltam, gekanselleer is. TFR het toegee dat ’n projekbeperking van twee jaar “moontlik ontwikkeling langs die Oos-Londen-spoorwegkorridor belemmer het”, het Business Day berig.

4. Vasco da Gama, voormalige DA-speaker van die Johannesburgse metroraad, sê ’n enkele sitting van dié finansieel uitgeputte raad kan tot R600 000 kos, met spyseniering wat die grootste deel van die koste uitmaak. Driegang-maaltye kos glo sowat R800 per persoon vir die 270 raadslede sowel as gaste tydens spesiale vergaderings. Colleen Makhubele, huidige speaker, het volgens News24 egter gesê die laaste raadsvergadering, aan die begin van Augustus, het die stad minder as R400 000 gekos.

5. Julius Malema, EFF-leier, het ’n beroep op Moslems gedoen om op te hou om vir die ANC te stem omdat die regerende party weier om die Israeliese ambassade te sluit, al is hulle by magte om dit te doen. Malema het gister 'n optog ter ondersteuning van Palestina na Israel se ambassade in Pretoria gelei. “Die Moslem-gemeenskap wat saam met Palestina staan, moet stem vir ’n regering wat onbeskaamd saam met die mense van Palestina sal staan," het Malema gesê.

6. Die Israeliese regering het by monde van ’n woordvoerder aan AFP gesê die Gaza-strook “sal nie deur Hamas regeer word teen die tyd dat hierdie oorlog verby is nie”. Terwyl Israel klaarblyklik vir ’n grondoffensief regmaak, is die dodetal daar volgens Gaza se Hamas-beheerde ministerie van gesondheid nou al meer as 5 000.

7. Die Engelse skeidsregter Wayne Barnes is aangewys om Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd tussen die Springbokke en die All Blacks te hanteer.


Gauteng, Limpopo en Mpumalanga is vandag deels bewolk en warm tot baie warm. Dis ook baie warm in Noordwes en die Vrystaat. Die Wes- en Oos-Kaap en KwaZulu-Natal kan enkele buie verwag. 

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 34°C • Johannesburg 32°C • Mahikeng 35°C • Mbombela 30°C • Kaapstad 20°C • Durban 23°C • Kimberley 31°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 33°C • Upington 31°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 20°C.


Willem Kempen | In ons kontrei kies ons nie cunt vir die Engelse nie

Die storie word vertel van die Afrikaanse outjie wat sonder sy Engelse meisie by 'n troue was, en toe ná die tyd die bruid se rok vir haar moes beskryf – wat nogal 'n moeilike opdrag kan wees as die term “lace" nie in jou woordeskat is nie. Om te sê “The dress was white, with some lovely, um... kant around the edges" roep nie noodwendig 'n akkurate prentjie van die betrokke couture in almal se verbeelding op nie.

'n Mens vermoed iets soortgelyks het gebeur in die geval van die Springbokhaker Bongi Mbonambi wat deur die Engelse flank Tom Curry verkla is omdat die Suid-Afrikaner hom 'n “white cunt" sou genoem het. Nou kyk, dis sekerlik nie onmoontlik dat Mbonambi hom in die hitte van die stryd iets toegesnou het nie, maar dis bitter onwaarskynlik dat dit enige rassekonnotasie sou gehad het. Daar is 'n lang lys van heel onskuldige verklarings vir wat Curry dínk hy het gehoor, waarvan die meeste te doen het met die blote feit dat die Engelse in wit truie speel. In Afrikaans, en meer spesifiek in Springbokrugby se skrums en lynstane, wemel dit ook van die kante:  hulle kant, ons kant, aan kant, onkant, vaskopkant, loskopkant, bokant, onderkant, kantlyn, kantskop, kleinkant, grootkant, steelkant; so gaan dit aan.

Kante net waar jy kyk (en luister), sou mens kon sê.

Nog 'n beter rede om Mbonambi se kant te kies, as 't ware, is dat hierdie Springbokkamp meer waarlik Suid-Afrikaans is as enige ander groep uit ons rugbygeskiedenis. Dis eenvoudig ondenkbaar dat 'n ordentlike ou soos Mbonambi die afrigspan en sy wit vriende, spelers soos Eben Etzebeth en Steven Kitshoff, sou beledig deur 'n opponent se velkleur by te sleep in 'n skellery op die veld. Dit sou indruis teen alles wat ons van hierdie Springbokke weet. En in elk geval haal “cunt" beslis nie die top-10 van waarskynlike woorde wat 'n swart Suid-Afrikaner sal kies wanneer hy iemand wil beledig nie.

Maar die heel, heel beste van alles: Is dit nie die allermooiste ironie hoe wit Suid-Afrikaners saam met hulle swart landgenote tot die verdediging kom van 'n swart Springbok wat deur 'n wit Engelsman van anti-wit-rassisme beskuldig word nie?

Man, we've come a long way, soos hulle glo nooit daar in die Engelse cuntryside sê nie.


Image: ANGELA TUCK

Laat die snare jou streel en oprui

Dit was ’n besige sportnaweek waar Suid-Afrika die Britse Ryk twee maal opgedons het – eers in krieket, oortuigend, en toe in rugby – nie uit verdienste nie, maar suiwer uit genade.

Sondag ry ons Johannesburg toe – voorheen het ’n mens maklik tussen Pretoria en Joburg rondgekuier, maar sedert die inperking het ons wêreld gekrimp – ook omdat daar soveel maniakke op die pad is en sekere dele lewensgevaarlik voel wanneer die son sak en beurtkrag inskop. Dus was dit ’n okkasie: Ons gaan na die Dante-strykkwartet in Wits se Linder-ouditorium luister.

Die lug voel anders in Johannesburg. Langs die ouditorium, ironies, is daar ’n Centre for Deaf Studies. Binne gewaar ek Tobie Cronjé – hom loop ’n mens altyd by musiekuitvoerings raak – en sy suster. Voor ons sit ’n ma en pa met vier klein kindertjies wat mooi soet luister of slaap.

Die kwartet bestaan uit twee mans en twee vroue, twee uit Suid-Afrika: Zoë Beyers en Ian Watson, albei op viool. Dan is daar Richard Atkinson op tjello; hy is lank en lenig met skitterende sneeuwit hare wat hang en bons saam met die note; en Carol Ella op viola.

Hulle speel eers Joseph Haydn se “String Quartet in B Flat Major, Op. 76 nr. 4”. Dit begin teer en vol verwagting en teen die finale is dit asof die snare meeding op pad wenpaal toe.

Dis moeilik om te glo dat daar soveel klankverskeidenheid uit twee viole, ’n viola en ’n tjello getoor word. Dis nog meer verstommend om te weet dat dieselfde lug wat jy op hierdie oomblik inasem deur die vibrasies van hierdie vier stelle snare geroer word. Ons sit redelik voor en ek sit my versienbril op om die musikante se gesigsuitdrukkings dop te hou; hoedat hulle die note en die verskuiwende luime van die musiek ervaar en hoedat hulle lywe saam interpreteer.

Daarna is dit my vriend Louis se gunstelingkomponis: Die jong Amerikaner Caroline Shaw se “Plan and Elevation: The Grounds of Dumbarton Oaks”. Shaw is die jongste Pulitzer-pryswenner vir musiek tot nog toe. Dumbarton Oaks is deur die digter T.S. Eliot verewig in sy “Four Quartets”. Dis ’n historiese woning in Washington DC wat uit 1801 dateer. Die titel is ontleen aan argitektuur – die “plan” is ’n blik van bo en die “elevation” ’n syaansig wat meer detail wys. Zoë Beyers besig ’n paar woorde vooraf en laat ons weet om ons oor te spits vir die “Herbaceous Border”, die “Orangery” en dat die stuk eindig by Shaw se gunstelingplek in die tuin, die “Beech Tree”. Dit was fenomenaal, iets om toe-oog te beleef.

Dan volg ’n stuk van die eerste Afro-Amerikaner wat ’n Pulitzer-prys in musiek gewen het, George Walker se “Lyric for Strings”. Dit wissel ruie harmonieë en sterk solostukke af en wys watter wye verskeidenheid van klanke ’n strykorkes kan voortbring.

Ná pouse was dit Beethoven se beurt en dit was my mins gunstelingdeel van die program. “Wat is dit tog met Beethoven,” sê Louis toe ons uitstap. “Nou gaan sy wysies weer heeldag in my kop vassit.” Die “String Quartet in F, Opus 59 no. 1” eindig triomfantelik op ’n Russiese noot.

Ek het 'n klein bietjie verlang na 'n klavier.

Die lug lyk anders toe ons uitstap: sagter, tydloos, ryk. Wat ’n wonderbaarlike ervaring.


google photos: laaste foto

daar is 'n lig-lek-filter op die laaste foto
waarin ons gelukkig lyk, nagebootste
son, vervalste losloperlig deur 'n onwerklike spleet
ingesluip, vlek wat dreig om ons kuiltjies uit te dof
en jou gesig tot geheim te verbleek

die defek van my blydskap bly op rekord
spook

– Bibi Slippers

(Uit: Soekenjin)

 VWB 


Lees die afgelope week se Boeke-stories:

Image: ANGELA TUCK

NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.