’n Springbok-vakansiedag en goedkoper brandstof

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

’n Springbok-vakansiedag en goedkoper brandstof

DEBORAH STEINMAIR skryf oor sport wat die nasionale purgasie is, WILLEM KEMPEN skryf oor Siya Kolisi wat sy klas wys, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 31 Oktober 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre

1. Vrydag 15 Desember sal 'n openbare vakansiedag wees ter viering van die Springbokke se Wêreldbeker-sege, het pres. Cyril Ramaphosa gisteraand aangekondig. Die span kom vanoggend om 10:55 uit Frankryk op OR Tambo aan en begin Donderdag met 'n toer van vier dae om ondersteuners te groet. Op 2 November is dit Pretoria, Johannesburg en Soweto se beurt; op 3 November Kaapstad; op 4 November Durban; en laastens Oos-Londen op Sondag 5 November. 'n Paar Wêreldbeker-syfers: Die Springbokke het nou al 50% (vier uit agt) van die toernooie gewen waaraan hulle deelgeneem het; Nieu-Seeland net meer as 30% (drie uit 10); Australië 20% (twee uit 10); en Engeland 10% (een uit 10). Een van elkeen van Nieu-Seeland en Australië se oorwinnings was boonop makliker omdat Suid-Afrika nie onder hulle teenstanders was nie.

2. Brandstof is van môre af weer effens goedkoper: In Gauteng sal 95  oktaan loodvrye petrol R23,90 per liter kos, wat die goedkoopste sedert Augustus sal wees. Aan die begin van die jaar was dit R21,40 per liter. Die groothandelprys van diesel daal met tussen 82c en 85c per liter afhangende van die swaelinhoud.

3. Vanjaar se matrieks het gister hul eerste vraestel (Engels) van die eindeksamen geskryf. Meer as 900 000 leerlinge gaan vanjaar probeer om die nasionale senior sertifikaat te verwerf.

4. MTN gaan appelleer teen 'n besluit deur Nigeriese belastingowerhede dat hy 'n bedrag van sowat R1,4 biljoen aan BTW daar verskuldig is, het Business Day berig.

5. Die TikTokker Matthew Lani, wat hom na bewering as 'n mediese dokter voorgedoen het om meer volgelinge te kry, is Sondagaand by die Helen Joseph-hospitaal aangekeer nadat hy die perseel deur die hoofingang betree het, het Gauteng se departement van gesondheid gesê. In Kaapstad gaan die DA ondersoek instel na een van die party se proporsionele wykraadslede, Abdulkader Elyas, wat na bewering gelieg het oor sy mediese kwalifikasies, het News24 berig.

6. Die hooggeregshof in Durban het beslis teen 'n groep belastingbetalers wat onder die vaandel van die Westville Ratepayers Association (WRA) die oorbetaling van heffings van die eThekwini-metro weerhou het in protes teen swak dienslewering. Dit beteken die metroraad mag nou dienste afsluit waarvoor betaling nie ontvang is nie. Die WRA staan ook bekend onder die naam eThekwini Ratepayers Protest Movement (ERPM) en sluit minstens 13 burgerlike groepe in.

7. Pres. Joe Biden sou na verwagting gister 'n uitvoerende bevel (executive order) uitvaardig om strenger regulering van kunsmatige intelligensie in die VSA moontlik te maak. Dit vereis onder meer dat die ontwikkelaars van stelsels wat potensiële risiko's vir Amerikaanse nasionale veiligheid, die ekonomie, openbare gesondheid of veiligheid inhou, eers die resultate van veiligheidstoetse in ooreenstemming met die Defense Production Act met die Amerikaanse regering moet deel voordat dit aan die publiek beskikbaar gestel mag word.


Daar is waarskuwings oor swaar donderbuie met sterk wind en hael in die ooste van Noordwes en Gauteng, asook swaar reën in Mpumalanga wat tot oorstromings kan lei. Toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou, kan in dele van die Noord- en Wes-Kaap voorkom. Die res van die land kan weer nat en koue toestande verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 12°C • Johannesburg 11°C • Mahikeng 15°C • Mbombela 14°C • Kaapstad 29°C • Durban 17°C • Kimberley 18°C • Bloemfontein 16°C • Polokwane 16°C • Upington 29°C • Gqeberha 20°C • Oos-Londen 20°C.


Willem Kempen | Vriendskappe wat wys hoe om brûe te bou en grense af te breek

Mens kan so half verby die suurgatgeit van sommige Kiwi's (en die Engelse) kyk as jy die video sien van die All Black-flank Ardie Savea en Siya Kolisi wat by Wêreldrugby se toekenningsaand Sondag gesels oor die hegte vriendskap tussen hulle; een wat gebou is op wedersydse respek en 'n gedeelde besef van die simboliese waarde wat sport kan hê om brûe te bou en iets positiefs voor te hou aan gemeenskappe waar hoop soms 'n seldsame ding is.

Kyk hier daarna as jy dit nog nie gesien het nie, of kyk dit sommer weer:

Dis lekker om te sien. Daar is 'n klompie sulke vriendskappe tussen andersins groot opponente in internasionale sport: destyds Ian Botham en Viv Richards in krieket, meer onlangs Virat Kohli met verskeie Suid-Afrikaners, onder wie AB de Villiers en Dale Steyn. In tennis is daar die ere-Suid-Afrikaner Roger Federer en Rafael Nadal; Chris Evert en Martina Navratilova; John McEnroe en Björn Borg is goeie vriende ondanks die drama wanneer hulle teen mekaar gespeel het.

Selfs in 'n bloedige en gewelddadige sport soos boks is daar soms hegte vriendskappe buite die kryt. Een van my gunsteling-voorbeelde hiervan is die aandete wat destyds gereël is – dit staan bekend as “Dinner With The Champs" – waar vyf voormalige swaargewig-bokskampioene saam om 'n tafel sit en skerm en skerts en wys dat hulle tonge so rats soos hulle vuiste is: Muhammad Ali, Joe Frazier, Larry Holmes, George Foreman en Ken Norton (en met die bofbal-legende Reggie Jackson as gasheer). Die agting en bewondering wat hulle vir mekaar het, is iets om te aanskou.

Ali was toe al ernstig siek met Parkinson se siekte, maar elke nou en dan kom daar nog iets van sy briljante verstand deur:

Ali en Frazier was later soort van vriende, maar dit was eers nadat hulle mekaar vir dekades gehaat het (meer daaroor hier).

Dis mooi dat vriendskappe soos dié tussen Kolisi en Savea, en ook die ander wat ons die afgelope weke op programme soos Hanyani Shimange se uitstekende Boks Office gesien het, nog daar is om ons te herinner dat verbete vyande op die sportveld agterna beste vriende kan wees en kan bly. Is daar enige rede waarom ons nie in ons politiek ook meer vriendskap oor partygrense heen kan sien nie?

'n Laaste vraag, in die gees van vriendskap, natuurlik: Wat is die onregverdigste voorsprong wat die Springbokke in die afgelope Wêreldbekertoernooi gehad het?

Die antwoord: Hulle was die enigste span wat nie teen Suid-Afrika hoef te gespeel het nie.


Image: ANGELA TUCK

Het jy geval?

Ek is beenmoeg. Die Wêreldbeker eis sy tol, ook van rusbankpatattas. Jy lê nie net nie, jy belê emosioneel, jy projekteer, jy bou jou wankelrige geluk op iets heeltemal buite jou beheer. Jy beleef intens, gil jou keel rou en sak uiteindelik in uitgeputte ekstase neer, met kloppende hart en stresvlakke teen die plafon.

My Apple-horlosie se skermpie het Saterdagaand in ’n stadium, toe ek drie dinge tegelyk doen: in die lug opspring, my hande een maal hard klap, en soos ’n viswyf gil, ’n besorgde boodskap geflits: Did you fall? En ’n noodnommer om met ’n enkele kliek te skakel. Ek het dit geïgnoreer omdat my oë op die TV-skerm was, en later wil die horlosie weer weet: Did you fall?, met twee opsies: I fell, but I’m all right en I did not fall. Dankie, Siri. Ons hét nie geval nie.

Sondagoggend was ons maar dof, ná soveel adrenalien en vonkelwyn. Ons is mos verslaaf aan hoop en, die hemel weet, ons het die oorwinning so nodig gehad. Ons het nodig gehad om trots te wees, te vier en fuif, kele nat te maak en te dans asof niemand ons dophou nie. Trevor Nyakane se danspassies druk ons verrukking so elegant uit.

Dit was ’n katarsis. Ons het saam met Cheslin Kolbe gesnik, en uiteindelik saam met Rassie onaantreklik gehuil. Faf is toe glad nie so kort nie, lees ons, maar hy begewe hom tussen reuse, takel vleispaleise, en bollemakiesie halsoorkop eenkant toe. Pieter-Steph het ’n blouoog en Handré se wang kort steke. Dit was oorlog, maar die enigste fatale slagoffers was die Kiwi’s se ego’s.

Cyril was vir my ’n vals noot: Ná soveel leë beloftes en besluiteloosheid het hy glad nie koninklik gelyk in die Springboktrui, soos Mandela destyds nie, eerder onatleties met tone wat binnetoe wys soos ’n duif. Those whose names were never called when choosing sides for basketball, om Janis Ian aan te haal. Maar selfs ons teleurstelling in hom kon nie die oomblik bederf nie.

Sport het ons uitlaatklep geword, ons nasionale purgasie. Wanneer ons span duidelik op pad is om te verloor, sê ek altyd vir my geliefde: “Dis oukei; ons geluk hang nie hiervan af nie. Ons lewe is steeds goed.” Maar die teleurstelling is intens, ’n wrang bitterheid in die klein verhemelte.

Daar is darem altyd die troos om die ref te kan blameer, en die ander span se slinkse vuilspel in die losgemaal. Soos Nieu-Seeland nou doen. Suur druiwe is uiters onaantreklik. Soos oordrewe patriotisme en leedvermaak seker ook, maar ag wat. Ek is ’n redelik goeie verloorder maar ’n swak, ongrasieuse wenner.

Nou gaan ek weer naweke omlees. Ja, daar is nog die Wêreldbeker-krieket, maar vir onafgetredenes is selfs ’n eendagwedstryd darem te tydrowend.

Ek is so mal oor Max se woorde gister dat ek dit hier herhaal: “Nee, die ANC gaan nie skielik beter regeer en ophou steel nie, maar ons is ’n slag daaraan herinner waartoe ons as ’n nasie in staat is.”

Sit Rassie en Nienaber in die kabinet, maak Siya president en laat ons vir die wêreld ’n punt wys. Niemand in ons huidige parlement het nog ooit so hard gewerk soos Cheslin, Kurt-Leigh, Libbok, Mbonambi en die ander nie. ’n Kabinetsposisie, soos ’n plek in die span, moet immers verdien word en aanhou verdien word en nie bloot beloning wees vir stryd in die struggle nie.


Die dag op Nuweland

hoera en boland en haak vrystaat
skree ons van die pawiljoen
vir die rugbyspelers
wat soos gestreepte haaie rondduik
en na mekaar se boudvleise hap
en ons kou grondboontjies en ons kake gaan
op en af
op en af
'n maer meisie van swellendam
brei mansokkies
en soos ons boland en haak vrystaat skree
brei sy al vinniger
sodat ek senuweeagtig word
oor die spoed
waarmee sy die wol
oor haar dun dun voorvinger stoot
en ek my tong raakbyt
oral op die pawiljoen
spring mannetjies
regop en die planke wip
hulle weer terug
en dan weer regop
en ons kou grondboontjies en ons skree
hoera boland haak vrystaat
soos die rugbyspelers
nou met toenemende venyn na mekaar gryp
en alles later bloederig word
en die gras mislikgroen regop staan
dit begin reën
en die blou reën was die bloed dieper
in die gras
die dag is pers en die son skyn oor alles
toe die eindfluitjie blaas
brul en skud die hele pawiljoen
sodat die potsierlike hoedjies
teen 'n ontstellende spoed op en af
op en af
wip
en die rugbyspelers dra die stukkende held
skouerhoog en die held gryns
en die meisie van Swellendam
bêre haar breiwerk in 'n sneeuwitdoekie
en krap in haar neus
die rugbyspelers dra die stukkende held
tot voor my

– Jeanne Goosen

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.