Godongwana sê vandag oor staat se geld-pad vorentoe

WOENSDAG MET WILLEM

Godongwana sê vandag oor staat se geld-pad vorentoe

WILLEM KEMPEN dink nie mooipraatjies oor die stand van die land gaan ons uit die verknorsing kry nie, en bekyk 'n app wat jong kiesers probeer help met die keuse van watter politieke party om voor te stem. Soos gewoonlik is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 01 November 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre


1. Verskeie internasionale media het gisteraand berig dat honderde mense in Gaza dood is toe Israel bomme op 'n woonbuurt om die Jabalia-vlugtelingkamp in die noorde van die enklawe laat val het.

2. Duisende mense het die Springbok-rugbyspan 'n helde-ontvangs gegee toe hulle gisteroggend op OR Tambo geland het.

3. Die staat se mediumtermyn-begrotingsraamwerk word vandag aan die parlement voorgelê. Business Unity SA (Busa) het 'n beroep gedoen op Enoch Godongwana, minister van finansies, om “diep en wesenlike" besnoeiings in staatsbesteding aan te kondig om te keer dat die staatskas teen Maart volgende jaar leeg sal wees.

4. Eskom het in die boekjaar tot einde Maart 5% minder elektrisiteit verkoop en sy netto verlies ná belasting van R12 biljoen tot R24 biljoen verdubbel. Beurtkrag in een of ander fase is op 280 dae gedurende die jaar ingestel, vergeleke met 65 dae in die vorige jaar, het Business Day berig. Die goeie nuus is dat Eskom op koers is om eenheid een van Koeberg vroeg volgende maand weer aan die werk te hê.

5. Busisiwe Mkhwebane, uitgeskopte openbare beskermer, sal as 'n EFF-LP in die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste dien. Dié komitee hou onder meer toesig hou oor haar opvolger, Kholeka Gcaleka.

6. Die nasionale vervolgingsgesag het alle aanklagte teruggetrek teen Matthew Lani, wat daarvan beskuldig is dat hy hom as 'n dokter voorgedoen het. Lani sê hy het nooit pasiënte gesien of andersins mediese werk gedoen nie, en dat hy bloot vir vermaak op TikTok gemaak het asof hy 'n dokter is.

7. 'n Alliansie van 40 lande, bekend as die International Counter Ransomware Initiative, is onder leiding van die VSA gestig om kuberaanvalle te bestry. Die lidlande gaan onderneem om nooit 'n losprys aan kubermisdadigers te betaal nie sodat sulke aanvalle nie verder aangemoedig word nie.


Daar is waarskuwings oor swaar reën en donderbuie oor dele van Limpopo wat tot oorstromings kan lei. Verspreide buie en donderbuie word ook in Mpumalanga en KwaZulu-Natal verwag. Die res van die binneland sal bewolk en koel wees. Dis vandag meestal warm in die Kaapprovinsies, maar baie warm in die Noord-Kaap en uiters warm in dele van die Wes-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 24°C • Mbombela 18°C • Bloemfontein 23°C • Polokwane 16°C • Kimberley 24°C • Upington 31°C • Kaapstad 29°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 21°C • Durban 21°C.


Willem Kempen | Ag wat, kom ons vat nog ’n dag af

Siya Kolisi se kort toespraak gister met die Springbokke se aankoms op OR Tambo was meer presidensieel as enigiets wat ons die afgelope maande uit die eintlike president van die land se mond gehoor het. Dalk is ons te gretig vir goeie nuus en maak ons te veel van sukses op die sportveld, maar minstens op topvlak het Suid-Afrikaanse rugby iets reggekry wat die res van die land telkens ontwyk: om 'n omgewing te skep waar oop en eerlike gesprekke gevoer kan word oor ras en ongelykheid en ons bittere geskiedenis van onderdrukking en miskenning en bevoorregting. Sonder daardie soort gesprekke is onderlinge vertroue tussen spanlede en die spanbestuur nie moontlik nie, en sonder daardie vertroue is daar nie veel kans op sukses nie, of dit nou op die rugbyveld of in Eskom se raadsaal is.

Kolisi en die res van die Springbokkamp het 'n belangrike punt aan die land bewys, en dis ook 'n politieke punt: dat ware transformasie nie net noodsaaklik is nie, maar 'n voorvereiste vir sukses. En dat dit gedoen kán word.

Dis moeilik om nié Kolisi se inspirerende woorde te vergelyk nie met die siniese manier waarop Cyril Ramaphosa die vorige aand die aankondiging oor die openbare vakansiedag op 15 Desember misbruik het om 'n paar partypolitieke punte te probeer aanteken. Die president se aansprake oor dinge soos werkskepping en ekonomiese herstel en dat die ergste vir Eskom agter die rug is, sou soveel makliker gewees het om ernstig op te neem as hy ook erkenning gegee het aan sake soos die chaos in Transnet, die land se groeiende skuldlas en die gapende tekorte in die staat se begroting.

En besef die president die ironie daarvan om nóg 'n vakansiedag te verklaar in 'n land waar werkloosheid die grootste enkele probleem is?


Om die mooiste bed op te maak vir ’n politieke blind date


Ek het gister op Yoh, Vote gaan kyk waaroor die bohaai gaan. Baie interessante idee, dié van 'n “dating app vir politieke partye". As jy nie weet vir wie om te stem nie (of dalk glad nie verstaan waarom dit belangrik is om te gaan stem nie), dan gaan antwoord jy 'n klompie vrae, en op grond van jou antwoorde match die app jou dan met 'n spesifieke party. En daar is inligting soos waarom dit belangrik is om te gaan stem en watse dokumente en goeters jy gaan nodig hê om as 'n kieser te registreer.

Yoh is gemik op jongmense wat nie dink partypolitiek is die pad na 'n oplossing vir hulle probleme nie, as ek reg verstaan.

Van wat ek kan agterkom, is die site heel neutraal en is daar nie sprake van partye wat onbillik bevoordeel word nie. Die klagtes oor Yoh kom ook min of meer ewe veel van ondersteuners van al die groot partye saam met wie jy die politieke opsitkers kan gaan aansteek, by wyse van spreke: Die ANC, ActionSA, die DA, die EFF of die IVP. Helaas geen Rise Mzansi nie, geen Build One South Africa nie, geen Patriotic Alliance of enige van die ander kleiner partye nie.

Goed, dalk word die lys later langer, of dalk was dit 'n onbegonne taak om met 'n paar vragies te probeer onderskei tussen die beleid van sommige van hulle. Die app is sekerlik nie gemik op gesofistikeerde kiesers wat wil kibbel oor die fynere beleidsverskille tussen sê ActionSA en die DA nie, maar terselfdertyd skiet sommige van die vrae en moontlike antwoorde heeltemal te wyd.

Soos dié een:

Regarding land reform, which statement do you feel best represents your views?

1. Support land reform but not expropriation without compensation
2. Land reform should be sensitive to the needs of traditional leaders

Daar is mos darem 'n menigte moontlike standpunte tussen hierdie twee opsies, of hoe?

In elk geval, ek was nuuskierig om te sien watter soort date op my wag as ek met die EFF gematch sou word, daarom kies ek toe op 'n plek die antwoord “Expropriation without compensation with [the] state owning all land". En ja, dit het die ding gedoen, en daar kry ek toe my afspraak: “Congratulations, comrade, based on your policy views, you've matched with the EFF. Now it's time to get ready for your date."

As jy instem – “Let's go!" – dan beland jy op Yoh se eie EFF-blad, waar hulle jou 'n opsomming gee van waaroor die party gaan, met woorde soos: “So, what's our deal? We're all about communism and African nationalism, with a mission to take on global imperialism and kick it to the curb." 

Scroll jy dan al die pad ondertoe, kry jy die boodskap: “Ready to take things further?"

Ah, die opwinding van 'n eerste afspraak wat verby home base vorder! Tyd om seker te maak jy het skoon politieke onderklere aan, want as jy ja sê, vat die app jou na die EFF se eie webwerf.

Nou moet ek bieg, dit was die eerste keer dat ek op die EFF se werf beland het, en dis nogal indrukwekkend op 'n manier. Julius en sy maats het 'n onberispelike aanvoeling vir politieke branding, en hulle weet watter snare om te kielie. Daar is selfs 'n Essay Competition waar jy R50 000 kan wen as jy “... poetically write about ‘the 10 years of EFF existence'".

As jy dan ook, soos ek gedoen het, op “Documents" kliek, en dan op “EFF Book Club" en dan “Manifesto", dan kom jy af op 'n hele arsenaal beleidsdokumente vir vorige verkiesings en vir verskillende regeringsvlakke. Ek gaan toe na die dokument vir 2021 se plaaslike verkiesings vir my provinsie en plaaslike distriksmunisipaliteit, en ...  sjoe!

Ek kan my indink dat die soort beloftes wat mens dáár aantref, al menige politieke maagd oortuig het om alle aspirasies tot kuisheid na die wind te werp en pens en pootjies tussenin die EFF se rooi satynlakens in te duik.

Tog is ek bevrees dit gaan nie maklik verby 'n one-night stand vorder nie, want die EFF maak die fout om datums te koppel aan wanneer al hierdie politieke klimaksering volbring gaan word, en ook om nie die onvervulde beloftes stilletjies in die toilet te gaan afspoel terwyl die nuwe verleideling nog salig in die nagloed baai nie.

'n Paar voorbeelde:

“The EFF municipality will build quality and spacious houses with flushing toilets in Sonderwater in Ward 9, Extension 9 Ward 4, and Hlala Ward 16 by September 2022."

“The EFF municipality will complete sportsgrounds in Sarafina Ward 18 by September 2023."

“The EFF municipality will build a swimming pool in Ward 10 by June 2023."

“The EFF municipality will establish a monthly farmer's market to ensure that all small-scale farmers promote and sell their produce."

Ek weet nie watter een is erger nie: vir 'n politieke party om aan desperate kiesers te lieg dat jy vir hulle dinge soos 'n swembad sal bou as hulle vir jou stem, of dat hulle dit hoegenaamd nodig vind om sulke beloftes te maak om 'n regerende party uitgestem te kry wat te useless is om iets heeltemal haalbaar soos 'n maandelikse mark vir kleinboere te reël.

Tussen dié twee opsies weet ek nie of dit veel gaan help om kiesers te probeer opvoed oor hogere sake soos die verskil in grondbeleid tussen die ANC en die EFF nie ...


– hunter s voorsien sy dood

hy sterf veral buite birmingham
agter die stuur van 'n jaguar supersonic
hy hou reguit op die pas se laaste draai en hang
papierlig bo die maste van 'n raffinadery au naturale
op wieke van red heart sy kap is afgeslaan sy kattebak
vol springstof sy middae 'n steeds reiner distillaat

– Tom Dreyer

(Uit: Nou in infrarooi)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.