Rentekoerse, apologieë, en Woord van die Jaar

DONDERDAG MET MERCY

Rentekoerse, apologieë, en Woord van die Jaar

Ons is nou in Nee-vember, het MERCY KANNEMEYER besluit, WILLEM KEMPEN dink die Proteas gaan oplaas ook 'n wêreldbeker wen, plus daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 02 November 2023
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die regering beplan om staatsbesteding te besnoei, meer lenings aan te gaan en belastingkoerse te verhoog om te vergoed vir 'n verwagte daling van R57 biljoen aan inkomste uit belasting, asook vir ander verhoogde uitgawes, het Enoch Godongwana gister in sy mediumtermyn-begrotingstoespraak aan die parlement gesê. “Hierdie beleidsverklaring sit ons strategie uiteen om ’n fiskale krisis te vermy en die opbou van sistemiese risiko’s vir die ekonomie te voorkom,” het die minister van finansies gesê.

2. Die Federale Reserweraad het gisteraand (SA tyd) aangekondig dat die Amerikaanse sleutel-uitleenkoers onveranderd gelaat word.

3. Prof. Mamokgethi Phakeng, voormalige rektor en visekanselier van Ikeys, en Babalwa Ngonyama, voormalige voorsitter van die universiteit se raad, het ernstige bestuursoortredings begaan deur die universiteit “op 'n leuenagtige wyse te mislei" oor die bedanking van 'n kollega, het 'n onafhanklike paneel van ondersoek onder voorsitterskap van regter Lex Mpati bevind. Adv. Norman Arendse, huidige raadsvoorsitter, het “onvoorwaardelik” om verskoning gevra aan personeellede wat onder Phakeng gely het. Sy het die universiteit in Maart met 'n goue handdruk van R12 miljoen verlaat.

4. Die hooggeregshof in Pretoria het Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, beveel om 'n kennisgewing waarvolgens Unisa onder administrasie geplaas is, terug te trek. Dit was nadat die universiteit vroeër ’n dringende aansoek oor die kennisgewing by die hof ingedien het.

5. Pres. Frank-Walter Steinmeier van Duitsland het gister sy “skaamte” uitgespreek oor misdade wat tydens Duitsland se koloniale bewind in Tanzanië (destyds deel van Duits-Oos-Afrika) gepleeg is. “Ek wil om vergifnis vra vir wat Duitsers hier aan julle voorvaders gedoen het,” het Steinmeier tydens 'n besoek aan die Maji Maji-museum in die suidelike stad Songea gesê. Hy het sover bekend niks oor reparasie gesê nie.

6. 'n Eerste groep burgerlikes is gister uit Gaza ontruim en na Egipte geneem ingevolge 'n ooreenkoms wat met Qatar se bemiddeling bereik is. Intussen het nóg 'n ontploffing Jabalia, Gaza se grootste vlugtelingkamp, gister geskud, 'n dag nadat minstens 50 mense dood en 150 gewond is in 'n Israeliese lugaanval. Israel sê 'n Hamas-bevelvoerder het ook in die aanval gesterf.

7. Die woordeboekuitgewers Collins het “AI", die Engelse afkorting vir kunsmatige intelligensie, as hulle Woord van die Jaar aangewys.


Daar is 'n waarskuwing oor 'n hoë brandgevaar vir dele van die Noord-Kaap waar daar ook, soos in Noordwes, Vrystaat en KwaZulu-Natal, buie en donderbuie verwag word. Die res van die binneland, asook die Wes- en Oos-Kaap, is vandag deels bewolk tot bewolk.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 24°C • Mahikeng 28°C • Mbombela 26°C • Kaapstad 32°C • Durban 23°C • Kimberley 30°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 24°C • Upington 36°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 22°C.


Willem Kempen | Rugby 4, Krieket 1?

Met die Proteas aan die opmars in Indië, en gister se behoorlike loesing vir die Kiwi's, verwag mens so half dat iemand gaan beswaar maak dat Marco Jansen te lank is, of Keshav Maharaj te kort, of kla dis nie in die gees van die spel dat Quinton de Kock in die beste vorm van sy loopbaan is al beplan hy om ná die toernooi uit eendagkrieket te tree nie. Of hoe onregverdig dit is dat 'n vernietigende kolwer soos Aiden Markram opgestap kom as jy al klaar vyf ander Suid-Afrikaners uitgemaak het. En dalk gaan ons eers vandag hoor van 'n Suzie iewers in 'n hotel wat met die Nieu-Seelanders se kos gepeuter het.

Maar eintlik, as dit kom by krieket se Wêreldbeker, is óns gewoonlik die ouens wat die verskonings maak: Iemand se somme was nie reg nie, dis Duckworth-Lewis se skuld, of ons het nogmaals sommer net gechoke toe die oomblik te groot was.

Dit voel steeds effens onwerklik dat 'n Suid-Afrikaanse span nog nooit krieket se wêreldkampioene kon word nie. Vir lank het ons gedink ons krieket was ons rugby ver voor as dit kom by dinge soos transformasie en internasionale blootstelling. Nou trek rugby al by vier trofeë, en krieket se kas is steeds leeg.

Die Proteas se prestasie tydens vanjaar se toernooi is uitstekend, as mens natuurlik daai ou glipsie teen Nederland uit die storie los: 428 lopies teen Sri Lanka, 311 teen Australië, 399 teen Engeland, 382 teen Bangladesj, gister se 357 teen Nieu-Seeland.

Daar is geen goeie rede om nóú spoed te verloor nie.


Image: ANGELA TUCK

Van (f)Oktober na ‘No’-vember – is Mercury in retrograde?

Kom ons sit die “No” in November. Dit is daai tyd van die jaar. (f)Oktober is verby. En nou strek ons ons uit na die eindstreep.

Ewe selfvoldaan het ek twee weke gelede met my verjaardagnuusbrief geskryf:

As jy weet wanneer om te quit, sal dit jou lewe radikaal verander. Quit gereeld en quit graag. Dis ’n sterk punt om te weet wanneer om “nee” te sê.

Met ’n skok besef ek gedurende die beplanning van vandag se brief dat ek dalk die grootste leuenaar op aarde mag wees. Laat ek kontekstualiseer. Aan die begin van hierdie jaar het ek vir myself gesê ek gaan vir so veel as moontlik geleenthede probeer ja sê, mits die geleenthede my werklik gelukkig maak en/of geld inbring. Wel. Hier by die middel van vanjaar was my Nuwejaarsvoorneme in sy moer, en het ek vir byna alles begin ja sê. Sommige geleenthede het geld ingebring, maar te veel van daardie geleenthede het eintlik maar net my tyd gemors. En dít is hoe ’n mens (ek!) in ’n (f)Oktober beland, waar dit voel asof die jaar nou nie gou genoeg kan klaarkry nie.

Ongelukkig is daar nog heelwat wat moet gebeur voordat ons die Kersbome kan begin hang. Alhoewel party baie voorbarige winkels alreeds met hulle Kersversierings begin het! Maak my sommer befok. Elk geval. Ek wil uitkom by hoe ons almal heel in 2024 kan uitkom. In November moet ons almal wat tans afgemat voel, net begin nee sê. Van die geringste tot die grootste. Hiermee ’n paar voorstelle vir dinge waarvoor ons kan nee sê of waarvoor mense in die samelewing onlangs eerder net nee voor moes gesê het:

  • Cyril moes nee gesê het toe sy raadgewers of wie ook al voorgestel het dat hy nou se Maandagaand die land toespreek ná die Bokke se wen. Hy het eerstens moeg gelyk, en tweedens niks van waarde gesê nie. Dit het opportunisties voorgekom, en ek wou die heeltyd skree: “Read the room, Cyril!”
  • Sê nee as jou baas jou in November vra om ekstra skofte te werk of werk te doen wat nie in jou posbeskrywing is nie.
  • Sê nee vir partytjies (behalwe as dit vir jou werklike vrede gaan bring).
  • Britney Spears moes nee gesê het toe haar publicist en PR-span voorstel sy bring haar boek The Woman in Me nou tyd uit. Britney Spears-fans het net-net herstel ná die skokkende onthullings van hoe haar familie haar behandel het, en die nuus van haar egskeiding is skaars koud – hier verskyn Britney met ’n boek. Slegte tydsberekening.
  • Die delivery-ouens op motorfietse moet in Desember nee sê as hulle gevra word om weer, soos laas jaar, soos Kersvader aan te trek wanneer hulle aflewerings doen. Dis Desember en gaan heel waarskynlik warm wees. En ’n Kersvader op ’n motorfiets is te veel inligting om in te neem.
  • Ek moes nee gesê het toe iemand my onlangs iets hoogs persoonlik gevra het, want hulle het al weer vergeet wat hulle gevra het, en ek sit en dink weke later nog daaroor.

As jy weet wanneer om te quit, sal dit jou lewe radikaal verander. Quit gereeld en quit graag. Dis ’n sterk punt om te weet wanneer om “nee” te sê.

Oef, ek is negatief en belas vandag! Is Mercury in retrograde?


Woordverklaring

Kaar. ’n Mooi ou Dietse woord
vir iets waarin mens kan vergaar
heuning, vis, yswater; in ’n skuit
’n bak vir lewendige paling
of ’n byekorf gevleg van Spaanse riet,
stingels brem en langstrooirog;
’n nis deur sneeu uit ’n splits geslyt
aan die bopunt van ’n gletsergeut
met onderaan ’n keteldal
waar, op ’n vloer van swerfsteen,
’n dorp kan aanslib teen ’n meer.
’n Tregter sonder voet
waardeur die koring
op die meulsteen stroom;
ook die mond van Sint Ambrosius
as kind waar die bye in- en uitravot
soos stille aforismes –
de bono mortis, de fuga saeculi.
’n Vers, dink ek, waarvan mens deur
die vlegwerk loer, deur deksel,
wolke, dooie neerslag –
om vóór die wyn, die brood,
die droë vis, die kiem,
die gis, die suur te kry; die gevaar
van vinne, ander spore, vars verskrik
soos van Gervasius en Protasius
of van ’n klank soos minne, orewoet,
doupunt en furore. In ’n kaar
wil ek begrawe word,
geen vuur, geen kis.

- Marlene van Niekerk

Uit: Kaar

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.