Om anderkant die onreg en die woede te kom

MAANDAG MET MAX

Om anderkant die onreg en die woede te kom

MAX DU PREEZ kan die situasie in Gaza nie anders stel nie as om te sê: Dit ruik na volksmoord. ANNELIESE BURGESS sê Suid-Afrika verdien beter as die siniese, selfsugtige getjommel wat die ANC geword het. En soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 06 November 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiedag!

1. Eskom het verlede week “die bal laat val” toe onbeplande onderbrekings tot meer as 17 000 MW opgeskiet het, het Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, gister gesê as deel van 'n opdatering oor die regering se energie-aksieplan. Dinge behoort darem van vandag af weer te stabiliseer.

2. Die Proteas het met 'n allemintige 243 lopies teen Indië in Kolkata verloor, hul grootste nederlaag tot nog toe in 'n internasionale eendagwedstryd. Suid-Afrika was almal uit vir 83, maar hulle kan steeds die Wêreldbeker wen.

3. Wes-Kaapse wetstoepassers het hulle teenwoordigheid in die Kaapstadse woonbuurt Valhallapark verskerp nadat die vermeende 28's-bendelid Noor Stanfield Stephanus Saterdagmiddag in Angelastraat doodgeskiet is, het News24 berig.

4. Hulpagentskappe het gister steeds probeer om die ontruiming van beseerde inwoners van Gaza en buitelandse burgers via die Rafah-kruising na Egipte te hervat. Die opruiming is Saterdag opgeskort ná 'n dodelike aanval op 'n ambulans, het Egiptiese, Amerikaanse en Qatari-amptenare gesê.

5. Naledi Pandor sal na verwagting vandag in Pretoria gesprek voer met Dmytro Kuleba, Oekraïne se minister van buitelandse sake. Pandor gaan ook na verwagting môre die nasionale vergadering toespreek oor die konflik in die Midde-Ooste.

6. Groot Amerikaanse regsfirmas is besig om landwyd swart vroue te werf vir 'n moontlike klas-aksie teen minstens 'n dosyn kosmetiekmaatskappye wat sogenaamde “hair straighteners" verkoop het wat chemikalieë bevat wat moontlik die risiko verhoog het om baarmoederkanker te ontwikkel, maar kopers nie teen dié gevaar gewaarsku het nie. L'Oréal en Revlon is onder die maatskappye teen wie eise moontlik ingedien kan word, maar albei het aan Reuters gesê hulle produkte word aan streng veiligheidstoetse onderwerp en dat meer navorsing nodig is.

7. Julius Malema het op die party se “Ground Forces Forum" in Gauteng gesê die EFF verwerp die Springbokke as 'n simbool van apartheid. We support rugby, not e ya Maburu," het Malema gesê. “We do not have an issue with rugby. We do not [however] support Mabokoboko, die Bokke. The Springboks or die Bokke is a symbol of apartheid.”


Waarskuwings oor erge donderstorms met sterk wind, swaar reënval en groot haelkorrels oor dele van die Noord-Kaap, Noordwes, die Vrystaat en oostelike dele van die Wes-Kaap. Buie en donderbuie word vir Gauteng voorspel. ’n Uiters hoë brandgevaar bestaan in dele van die Noord-Kaap en Noordwes. Die grootste deel van die binneland sal warm tot baie warm wees, maar koel tot matig in die Kaapprovinsies. Deels bewolk en warm tot baie warm oor dele van KZN met geïsoleerde buie en donderbuie vanmiddag. Motreën vanoggend in Kaapstad en Oos-Londen.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 29°C • Mahikeng 33°C • Mbombela 30°C • Kaapstad 20°C • Durban 29°C • Kimberley 34°C • Bloemfontein 31°C • Polokwane 31°C • Upington 32°C • Gqeberha 19°C • Oos-Londen 24°C.


Anneliese Burgess | Net toe ons gedink het die reënboognasie is oorle ...

Ek praat vanoggend weer rugby. Want hoe anders kan mens nié ná die ongelooflike tonele wat hulle hierdie week in Suid-Afrika afgespeel het nie met die Springbokke se segetoer deur die land? Dit was 'n ontploffing van vreugde en trots. Maar daar is ook iets anders. Dit voel asof die hart van nasiebou tot terug in die lewe geskok is, en of Arch Desmond Tutu se konsep van 'n  reënboognasie terug is op life support.

Die Sunday Times se hoofberig gister praat van “a remarkable exchange" tussen Siya Kolisi en Cyril Ramaphosa toe die span deur die president en kabinet by die Uniegebou ontvang is. “Diversity is our strength in South Africa," het Siya vir die prez gesê. “I want to encourage [you], Mr President, and the cabinet, we need to use our diversity a bit more. It is a powerful force that a lot of countries don't have, that we can use."

Dit is 'n kragtige boodskap vir 'n land wat verval het in die dryfsand van mislukking, en waar politieke partye te gereeld ons rasserowe afkrap om die aandag van hulle gebreke af te lei. 

Mondli Makhanya, die redakteur van City Press, stel dit só: “The events of the past six weeks are an incredible tribute to the transformation of a symbol that once represented raw Afrikaner nationalism and power to one that is currently the strongest glue of a nation.

“We should now not go back to our old ways but use this moment to resume the project of nation-building, nonracialism and cohesion that we have been paying partial attention to."

Die vet weet. Ja! Ons verdien beter as die siniese, selfsugtige getjommel wat die ANC vir ons daarstel as 'n toekoms. En ons is tot beter in staat. Daar is 'n klein moment op Siya Kolisi se Instagram-bladsy wat vir my die moontlikhede van #strongertogether (as 'n nasie) onderstreep. Die span verlaat hulle hotel in Frankryk. Hulle loop af met die trappe. En hulle sing 'n gwijo, 'n vorm van kollektiewe “call and response"-sang wat diep in die Suid-Afrikaanse Xhosa-kultuur ingebed is. Die hele span sing uit volle bors. Eben Etzebeth ululeer.

Hier is 'n paar van kommentare onderaan:

Bethuna who taught Elizabhedi to ululate??😂😂😂😂😂😂😂😭

White Africans singing Xhosa songs to celebrate their black captain. Stop it. You’re making me cry. It’s too beautiful 🥲

Jessie coming through with the vocals 😍😍 and the vala at the end 🤣🤣🤣

Elizabediii with the ululation ...

I watched this about 5 times 🥹 Dunno what’s making me cry more our white brothers leading igwijo, Elizabethiii ululating or that “vala” at the end 😭❤️ It’s so Beautiful being South African 🇿🇦

Dit is wie ons kan wees. #strongertogether.

Hier is die video. Kyk bietjie self. 


Ons is gevangenes van ons verontwaardiging

Die South African Friends of Israel het my genooi om môre ’n vertoning van gru-beelde van Hamas se aanval op Israelse burgerlikes op 7 Oktober by te woon.

Ek hoef dit nie by te woon nie, want ek het al heelwat van dié ontstellende beeldmateriaal, meestal van Hamas-vegters se eie kameras, op YouTube en elders gesien.

Toe ek op sosiale media my besorgdheid oor die veiligheid van joernalistieke kollegas in Gaza uitgespreek het – minstens 35 joernaliste is in die afgelope vier weke daar dood – het verskeie fanatiese Israel-ondersteuners van die video’s en foto’s vir my aangestuur. Meestal met die beskuldiging dat ek ’n Jodehater/pedofiel/rassis/monster is.

Die Hamas-aanval daardie dag was allerverskriklik. Bloeddorstig, wreed, barbaars, wys die video’s en foto’s. Absoluut onvergeeflik. Kinders en volwassenes is soos diere doodgeskiet terwyl die moordenaars Allahu Akbar geskreeu het.

Hoe uiter ’n mens “God is die grootste” terwyl jy onskuldige burgerlikes koelbloedig afmaai? In watter soort monster van ’n god glo jy dan?

Ek het Maandagoggend 9 Oktober die eerste keer in Vrye Weekblad oor die bloedbad in Israel/Gaza geskryf. “Die Hamas-vegters se doodskiet en ontvoering van Israelse burgerlikes Saterdag is beslis moreel totaal veragtelik,” het ek geskryf nog vóór die barbaarsheid van die aanval duidelik geword het.

En toe kom die Israelse weermag se reaksie. Tienduisende missiele en bomme wat groot dele van Gaza in puin gelê het. Mense se blyplekke, hospitale, skole en die Al-Azhar-universiteit is vernietig. Gaza is afgesny van alle elektrisiteit, water, medisyne en kos.

Kollektiewe bestraffing.

Die ekwivalent in die geskiedenis sou wees as die Britte die meestal Katolieke Noord-Ierlandse stad Londonderry met missiele platgevee het na ’n gru-bomaanval deur die IRL in die 1980’s. Of die ou SAW wat Mamelodi of Soweto ná die Kerkstraat-bom in Pretoria in 1983 sou gebombardeer het.

Soos ek hier skryf, is die name van meer as 9 500 burgerlikes wat in dié aanvalle gesterf het, gepubliseer. Rondom 700 was babas onder drie jaar oud. Minstens 72 VN-werkers is dood.

Gaza se bevolking word op ’n skamele 2,2 miljoen geskat.

Ek kan dit nie anders stel nie: Dit ruik na volksmoord.

Dit sou natuurlik vir my baie beter gewees het as ek óf nie ’n woord oor die konflik gesê/geskryf het nie, óf saam in die koor van blindelingse ondersteuning van alles wat Israel doen en sê, gesing het.

Ek het verskeie goeie ou Joodse en ander vriende verloor omdat ek dit nie gedoen het nie.

’n Joodse kollega, ’n nasionale rubriekskrywer en radio-aanbieder, het op sosiale media verklaar dat hy nou alle respek vir my verloor het, dat ek nou die “vyand” geword het. ’n Afgetrede media-professor het my op sosiale media ’n “Jew-hating imbecile” en ’n “lover of babykillers” genoem. Op Twitter is ek as ’n “Hamas-apologeet” en, natuurlik, kommunis/verraaier/linkse uitgekryt.

Mense wat Israel haat, selfs ’n getroue Vrye Weekblad-leser, het my weer daarvan beskuldig dat ek “sag” is op Israel; dat ek te banggat is om regtig teen “die Jode” op te staan; dat ek deurgaans geweier het om my agter die pro-Palestynse beweging Boycott, Divestment and Sanctions (BDS) te skaar.

Soos oudpres. Barack Obama dié week oor die onderwerp gesê het: “We are confining ourselves to our outrage.”

Die konflik in Israel/Gaza het die wêreld nou skerp verdeel. Massiewe, hoogs emosionele betogings teen Israel se bombardering is die afgelope week oral in die wêreld gehou. TikTok en YouTube is vol jong Moslems in die Weste wat dreig om nou ook djihadi’s te word. Anti-Semitisme en Islamofobie neem oral toe.

Kyk gerus na dié onderhoud met Obama oor die geweld in Gaza. “If there’s any chance of us being able to act constructively to do something, it will require an admission of complexity,” sê hy. “Maintaining what on the surface may seem contradictory ideas – that what Hamas did was horrific and there’s no justification for it, and what is also true, is that the occupation and what’s happening to the Palestinians is unbearable.”

Ja, natuurlik was Hamas se aanvalle die sneller vir die jongste orgie van geweld.

En ja, Hamas se leierskap is duidelik ’n klomp bloeddorstige, outokratiese Moslem-fundamentaliste.

Weereens, die kompleksiteit. Soos die sekretaris-generaal van die VN, António Guterres, tereg gesê het: Die Hamas-aanval het nie in ’n vakuum plaasgevind nie.

Israel en Sioniste wêreldwyd het nou, vier weke ná die Hamas-aanval, met ’n internasionale propagandaveldtog begin om die wreedheid van dié aanval onder mense se aandag te bring, daarom die vertoning van die beeldmateriaal.

Dit is moeilik om dit as enigiets anders te sien as ’n poging om die dood van by die 10 000 Palestyne in Gaza te regverdig. Waar gaan dit eindig – 20 000? 30 000?

As die regering van Israel hulle land onmiddellik ná die aanval beveilig het en toe vir ’n oomblik gewag het om die beste moontlike reaksie daarop te bedink, sou hulle dalk besef het dat ’n ingehoue, nie-gewelddadige reaksie die wêreldmening, ook dié van die meeste Moslem- en Arabiese state en selfs die meeste Palestyne, skerp teen Hamas sou gedraai het.

Maar toe, met die aanvanklike aanporring van die Weste wie se politici hulle meer aan hulle binnelandse gewildheid as menseregte steur, laat hulle die hel op Gaza losbars met hulle Amerikaans-gefinansierde militêre oormag.

Dalk gaan Israel daarin slaag om die meeste senior Hamas-leiers en hulle infrastruktuur te vernietig.

Maar dit gaan die lewe van waarskynlik nog tienduisende Palestynse burgerlikes kos. Israel gaan vir dekades onveiliger wees as voor 7 Oktober. Israel gaan met groter passie as ooit tevore gehaat word.

Die gebeure gaan ’n letsel op almal van ons se menslikheid laat.

Die Palestynse begeerte tot vryheid, menswaardigheid en die teruggawe van hulle grondgebied kan nie met missiele vernietig word nie.

Die moord op 1 400 Israeli’s op 7 Oktober was ’n daad van verfoeilike terreur.

Maar, en ons moet dit elke dag oor en oor vir onsself sê, die lewe van ’n Israeli en die lewe van ’n Palestyn is ewe veel werd.

Gegroet
Max


Petra Müller

Om te lewe is om te brand
Andrea Voznesenski

Dit was 'n wilde nag toe ek weer luister
na die aanhoudende ritmes van jou tikmasjien
hoekom fladder jou hande deesdae soos vlerke
luister jy alweer na kraaie se geritsel in die riete
of engele stroom oor wilde heuwels
'n vreemdeling brand die vlerke van jou gedigte

My weemoed vlug na herfs in die riet se bos
riet en rietbos dra geel aan die melancholiese aronskelke.

- Melanie Grobler

Uit: Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik ('n huldiging)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.