Duane sê koebaai, en Aussies sit ure lank sonder internet

DONDERDAG MET MERCY

Duane sê koebaai, en Aussies sit ure lank sonder internet

MERCY KANNEMEYER sê Mamokgethi Phakeng se ondersteuners moes nie hulle vertroue in haar gestel het net omdat sy swart en ’n vrou is nie. WILLEM KEMPEN dink Bheki Cele is deel van die land se misdaadprobleem, nie van die oplossing nie. En soos altyd is daar sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 09 November 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die veteraan-agtsteman Duane Vermeulen gaan uit Springbokrugby tree ná ’n roemryke loopbaan wat 76 toetse oor 11 seisoene ingesluit het. Dis nog onseker of Vermeulen sal voortgaan om franchise-rugby te speel.

2. Floyd Brink is voorlopig steeds Johannesburg se stadsbestuurder nadat verlof tot appèl toegestaan is teen Dinsdag se beslissing deur die Gautengse hooggeregshof in Johannesburg dat sy aanstelling  ongrondwetlik, onwettig en ongeldig was.

3. Dis reeds taamlik seker dat vanjaar gemiddeld warmer gaan wees as enige vorige jaar sedert betroubare temperatuurlesings bygehou word, het wetenskaplikes van die Copernicus-klimaatveranderingsdiens aan The Guardian gesê. Verlede maand was wêreldwyd ook die warmste Oktober wat geboekstaaf is, met temperature  wat 1,7 °C hoër was as wat Copernicus vermoed dit gedurende die gemiddelde Oktober in die laat 1800's was. Die VN se Cop28-klimaatberaad begin einde vandeesmaand in Dubai.

4. Byna die helfte van die Australiese bevolking was gister ure lank  sonder enige internet- of telefoondienste toe Optus, die land se naasgrootste telekommunikasie-operateur, se netwerk ineengestort  het. Byna 10 miljoen mense van Sydney tot by Perth en oral tussenin is geraak. Dit het chaos veroorsaak met dinge soos treinkaartjies wat nie bespreek kon word nie en besighede wie se betaalmasjiene van lyn af was.

5. Dit lyk of Demokrate en voorstanders van aborsieregte goed gevaar het in 'n aantal Amerikaanse verkiesings, waaronder in die konserwatiewe Ohio en Kentucky. In Ohio, waar Donald Trump in 2020 se presidentsverkiesing 8 persentasiepunte meer stemme as Joe Biden gekry het, het kiesers 'n grondwetlike wysiging goedgekeur wat aborsieregte waarborg.

6. Ivanka Trump het gister in Donald Trump se siviele bedrogsaak in New York getuig dat sy nie besonderhede onthou van eiendomstransaksies waaraan sy by haar pa se maatskappy gewerk het nie. Sy het, soos haar broers Donald junior en Eric, probeer om haarself te distansieer van die twyfelagtige waardasiemetodes wat reeds deur die regter as bedrieglik bestempel is.

7. Die Sweedse dorp Lulea het 'n veldtog begin om sy sowat 80 000 tradisioneel introverte inwoners aan te moedig om mekaar te groet en geselsies aan te knoop. “Om vir jou bure hallo te sê is 'n klein ding, maar navorsing toon dat dit sosiale bande kan sterker maak en 'n positiewe uitwerking op gesondheid, veiligheid en algemene welstand kan hê," het AFP berig.


Dis vandag bewolk met miskolle en ligte reën in verskeie dele van die Oos-Kaap. Dis ook deels bewolk in dele van Limpopo en Gauteng. Dit word baie warm in dele van die Wes-Kaap en Noordwes. Enkele buie word in Mpumalanga en KwaZulu-Natal verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 26°C • Mahikeng 31°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 24°C • Durban 22°C • Kimberley 33°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 23°C • Upington 35°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 20°C.


Willem Kempen | Skop-skiet-en-Cele help niks teen ons misdaadprobleem nie

Bheki Cele verstaan sy werk net-net goed genoeg om nie in die openbaar polisielede aan te moedig om te “shoot to kill" soos Susan Shabangu in 2008 gedoen het nie. Nee, hulle moet eers “terúgskiet" – nie net skiet nie – as daar eerste op hulle geskiet is, en hulle hoef eers agterna vrae te vra oor wat ook al.

Tipiese leë, betekenislose Cele-bravade. Die fraksie van die land se polisielede wat hoegenaamd as deel van hulle dagtaak van aangesig tot aangesig met gewapende misdadigers kom – in teenstelling met die meerderheid wat verklarings afneem en ander kantoorwerk doen – moet noodwendig die wet goed genoeg ken om te weet wanneer hulle mag en nie mag skiet nie. Niks wat Cele daaroor sê, kan die geringste verskil maak aan hoe polisiebeamptes in 'n noodsituasie mag optree nie. Ook nie as hulle agterna in 'n hof hulle optrede moet regverdig nie. Dieselfde geld lede van die publiek.

Dis seker te veel gevra dat Cele liewer vir ons dinge verduidelik soos waarom die minister van vervoer en haar lyfwagte Maandag op die N3 in 'n lokval gelei en beroof is, ondanks die polisie se begroting van byna R2 biljoen per jaar vir BBP-beskerming. Dít vir 'n klein groepie uitverkorenes van omtrent 200 mense wie se lewe 'n groter prioriteit vir die polisie is as omtrent enigiets anders.

Cele sal seker ook niks sê oor waarom daar nog nie vordering gemaak is om die moordenaars van lt.kol. Frans Mathipa van die Valke in Augustus vas te keer nie. Dit behoort tog sekerlik 'n nasionale polisieprioriteit te wees om vas te stel of lede van die land se weermag by daardie moord betrokke was, soos vermoed word?

As die moord op 'n senior polisielid soos Mathipa nie eens behoorlik ondersoek word nie, dan verstaan mens waarom Action Society pas 'n hofaansoek gebring het om Cele en die polisie te dwíng om die moord meer as twee jaar gelede op ds. Liezel de Jager te ondersoek. Action Society het so ver gegaan as om ondersoekbeamptes en bevelvoerders in die polisie by name uit te sonder omdat hulle net mooi niks doen om die moordenaar aan te keer nie.

Gisteroggend is twee staatsgetuies reg buite die Randburgse landdroshof doodgeskiet voordat hulle kon getuig in die saak teen vier polisiemanne wat daarvan aangekla word dat hulle 'n verdagte gemartel het. Wie moes dan hier op wie terugskiet, “generaal" Cele?

Al vier hierdie gevalle wys dat Cele reg is wanneer hy sê “misdadigers in Suid-Afrika het oorlog verklaar", maar dit wys nog veel meer dat hy as minister van polisie nie 'n benul het wat om daaraan te doen nie.


Image: ANGELA TUCK

’n Moeilike gesprek oor teleurstellende rolmodelle soos Mamokgethi Phakeng

Something is rotten in the state of our universities …

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) vroeër vanjaar onder administrasie geplaas. Wanadministrasie, korrupsie en allerlei bestuursuitdagings word as van die redes voorgehou. Unisa het dié besluit egter in die hooggeregshof beveg, en Nzimande het bloedneus in die hof gekry.

Nefie-gate aan die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n stille dood gesterf, want as daar nou een ding is wat die Afrikaner goed kan doen, is dit om dinge onder die mat in te vee.

Aan die Universiteit van Kaapstad (UK) is ’n verdoemende verslag uitgereik ná ’n ondersoek na die leierskapskrisis aan dié instansie ná die drama met prof. Mamokgethi Phakeng wat daartoe gelei het dat sy ’n vroeë aftreepakket moes vat; sowel as die ongerymdhede rondom senior akademici wat op ’n streep bedank het.

Bogenoemde drie instellings is natuurlik nie die enigstes wat kommer wek oor die toestand van hoër onderwys in ons land nie. Vervalste grade, nepotisme, magsmisbruik, boeliegedrag, rassisme, seksisme, korrupsie en dies meer plaag ons kampusse. En terwyl akademici en senior bestuur aan die baklei is, kry die studente swaar.

Vir my is die toppunt in die universiteitsirkus op die oomblik egter die Phakeng-sage. Fab Academic. Deputy Mother. Black Girl Magic. Sommige se eie Beyoncé Queen B (as Beyoncé ’n hele klompie grade en ’n haelgeweer gehad het).

Die raad van die UK het ’n onafhanklike paneel gekry om ondersoek in te stel na die bestuur van die universiteit, en in kommunikasie aan die universiteitsgemeenskap en belanghebbendes vra die universiteit om verskoning dat hulle dié soort ondersoek nie vroeër al gedoen het nie.

“Council acknowledges the past governance failures. We regret not acting sooner and apologise unreservedly,” skryf die nuwe raadsvoorsitter, Norman Arendse, op die UK se webtuiste.

Die raad is so spyt dat hulle nie vroeër die saak probeer beredder het nie, maar kón hulle? Sou hulle iets kon doen met Phakeng en die gewese raadsvoorsitter, Babalwa Ngonyama, aan die stuur van daai skip? Nope. Titanic (metafoor, met respek aan almal wat hulle lewe op die skip verloor het).

So kom ons staan vir ’n wyle stil by Phakeng. Vir my was dit moeilik om die positiewe prentjie wat ek in my kop van haar gevorm het, soos ek haar leer ken het, te konsolideer met die beeld wat na vore gekom het tydens haar problematiese gedrag by die UK. En die manier waarop sy haarself handhaaf nou dat sy by die UK weg is.

Aanvanklik was ek ’n “yaaaaas queen” vir Phakeng. Sy het gelyk soos hierdie in-touch-met-die-studente-tipe-VC: Sy’t vir studente KitKats uitgedeel tydens hulle eksamens, sy het selfies saam met hulle geneem, sy het op sosiale media gereageer op studente wat haar aandag wou hê, en sy het haarself werklik immerse in die studente se ervaringe. Sy was konstant teenwoordig. Die meeste wat ek al vir Wim de Villiers van die US gesien het, was tydens my gradeplegtighede.

Toe Phakeng se boeliegedrag aan die lig begin kom het, en inligting oor hoe sy en Ngonyama glo senior kollegas tot stilte geboelie het, het my en menige van haar voormalige ondersteuners se gevoel oor haar begin verander.

Maar wag gou! Voor ek daaroor praat! Nadat die verslag uitgereik is, het Phakeng op Twitter aangedui dat sy die verslag saam met haar regspan sal deurwerk en die nodige stappe doen. ’n Paar tweets daarna kondig sy aan dat sy binnekort ’n opwindende aankondiging gaan doen … Die aankondiging sou Dinsdag om 13:00 gedoen word. Ek was op die punt van my stoel om te kyk wat die aankondiging sou wees … en julle, dit was die grootste let-down van die afgelope eeu! Die aankondiging was bloot dat sy nou tot die handelsbedryf toetree in vennootskap met Exness Trading Company… En hier dag ek die opwindende aankondiging sou wees dat almal reg was oor haar, en dat sy bietjie introspeksie gaan doen en daarna na die akademie sal terugkeer. Of ten minste dat sy die UK hof toe gaan vat, of so iets! Nou nie dat sy ’n voet sou hê om op te staan nie, maar ja. Let down.

Iedergeval. Waar was ek?

Phakeng en Ngonyama het mense stief behandel, en hulle is al twee weg by die UK. En nou is Phakeng se gedrag op sosiale media totaal en al unhinged.

Iets wat my dwars in die krop steek, is hoe sy rassekwessies hanteer het. Deur dinge te sê soos dat sy die enigste regte swart persoon in die universiteit se uitvoerende bestuur is, onder meer omdat haar hare kroeser is as dié van haar destydse kollega prof. Loretta Feris, wat ook as swart identifiseer. En dat daar te veel bruin en Indiër-personeel in topposisies sit. Dit is nie net uiters teleurstellend nie; dit is ook geweldig fucked up.

Bottom line is this: Phakeng was nie geskik om die visekanselier van die UK te wees nie. Ja, sy is geleerd; sy is slim; sy is miskien moerse toeganklik vir party mense, maar ’n leier is sy gewis nie.

En, hier’s my finale punt, om iemand op te hemel omdat hulle iets verteenwoordig wat jy graag in ’n sekere ruimte wil sien, moet maar sterk heroorweeg word. Vir baie mense het Phakeng transformasie en ’n gedekoloniseerde figuur binne die ivoortorings van stokou, wit universiteite verteenwoordig. Ons wat haar ondersteun het, het misluk deur ons vertroue in haar te stel net omdat sy swart en ’n vrou is. Ons moes haar kwalifikasies en haar vermoë om die job gedoen te kry as kriteria gebruik het.

Dis ’n moeilike gesprek, want representation matters! Maar, eish, ek weet nie hoeveel keer ek nog teleurgestel kan word en dit omdat ek aan ideologie vashou nie. Ek het my teleurstellingskwota vir die jaar bereik. Let’s circle back in the new year.


The Arid Land

There will be willows plunging
Their bloodless roots in air
And the hard crooked flying
Of buzzards circled there.

About the treeless wastes
No sand may ever heap
With water, nothing will run
And nothing creep.

Arid, desolate, defiant
Under its iron band
Of sky, we yet may love
This so sunny land.

- Lynn Riggs

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.