Dit ís nou volksmoord

MAANDAG MET MAX

Dit ís nou volksmoord

Benjamin Netanyahu en van sy kabinetslede en generaals behoort van oorlogsmisdade aangekla te word, meen MAX DU PREEZ. Hy skryf ook oor die lot van sy harige bure en soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 13 November 2023
  • Daagliks
  • 12 min om te lees

Goeiedag!

1. Die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, stel 'n ingrypende hersiening van wette en regulasies oor immigrasie en burgerskap voor wat die regte en voorregte van asielsoekers sal verminder en dit moeiliker sal maak om Suid-Afrikaanse burgerskap te bekom. Die voorstelle is vervat in 'n witskrif wat Vrydag gepubliseer is en Motsoaledi sê dit sal die “fout” regstel wat in 1994 gemaak is deur bloot die Verenigde Nasies se protokolle te volg.

2. Die landbou-ekonoom Wandile Sihlobo het gister gesê die status quo rakende Suid-Afrikaanse landbou-uitvoere na die Europese Unie bly in plek en dat boere steeds volledige toegang tot dié mark sal hê. Hy het gereageer op 'n berig in Rapport met die opskrif: “Wit boerderye mag nie uitvoer, sê staat.”

3. Die DA se nuut verkose leier in die Wes-Kaap, Tertius Simmers, het in 'n klaarblyklike politieke oorveeg gemik teen Bonginkosi Madikizela, die kandidaat wat hy verslaan het, verklaar: “I am his leader, and he will now follow the leader. That’s how it works.” Hy het bygevoeg dat daar nie kwade gevoelens is nie, maar dat daar dissipline in die party is.

4. Die Skotse premier, Humza Yousaf, eis dat die Britse minister van binnelandse sake, Suella Braverman, bedank nadat sy pro-Palestynse betogers “hate marchers” genoem en die polisie gekritiseer het omdat hulle dié protesoptredes goedkeur. Verskeie politici en kommentators meen haar uitlating het tot Saterdag se gewelddadige teen-betoging deur verregses gelei. Yousaf se skoonouers is Palestyne wat laas week uit Gaza kon vlug.

5. Die kos en drank vir die 18 gaste aan boord van pres. Cyril Ramaphosa se vliegtuig wat verlede jaar van die begrafnis van koningin Elizabeth teruggevlieg het, het R24 000 per kop gekos, het Rapport gister berig.

6. Die winkelgroep Makro adverteer 'n 50 jaar oue bottel Glenfiddich-whisky vir R600 000.

7. Tom Curry, flank van die Engelse rugbyspan wat in die Wêreldbeker-halfeindstryd teen die Springbokke verloor het, sê die Springbok-haker, Bongi Mbonambi, het hom beslis 'n “white cunt” genoem. “Ek het gehoor wat ek gehoor het,” het hy aan die Daily Mail gesê. Mbonambi self hou vol hy het die Afrikaanse word “kant” gebruik: “Ek dink dit is hartseer dat as jy in 'n Eerste Wêreldland woon, jy kan dink die res van die wêreld praat Engels. Hulle kon op die internet 'n  woordeboek gaan kry het en die woord in Afrikaans opgesoek het.”


Daar is 'n waarskuwing oor 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord-Kaap, Noordwes en die Vrystaat. Buie en donderbuie word oor die grootste deel van die land verwag met die uitsondering van die Noord- en Wes-Kaap, waar dit baie tot uiters warm kan word.

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 34°C • Mbombela 18°C • Kaapstad 26°C • Durban 20°C • Kimberley 32°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 21°C • Upington 36°C • Gqeberha 23°C • Oos-Londen 21°C.


Max du Preez | Kan ons dit nou iets anders as volksmoord noem?

Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, en van sy kabinetslede en generaals behoort deur die Internasionale Strafhof van oorlogsmisdade aangekla te word.

Israeli’s en die internasionale Jodedom behoort nou ook te besef dat die grootskeepse slagting van sowat 12 000 Palestynse burgerlikes in 38 dae, die beleg van Gaza wat grootskeepse hongersnood en lyding tot gevolg gehad het, asook die vernietiging van duisende huise en geboue, net 'n verskerping van internasionale haat jeens Israel en 'n nuwe vlaag anti-Semitisme tot gevolg kan hê.

Selfs al kan die Israelse magte Hamas se leierskap en militêre infrastruktuur uitwis – wat deur die meeste militêre kenners betwyfel word – gaan Israel nie maklik weer die relatiewe vrede van voor 7 Oktober sien nie.

Die leiers en vegters van Hamas wat die Israelse aanslag oorleef, behoort natuurlik ook uitgerook en van massamoord en ontvoering aangekla te word. Al is hulle nie 'n staatsentiteit nie, is die moord op 1 400 Israeli’s en die ontvoering van 240 burgerlikes beslis ook ernstige oorlogsmisdade.

Die staat Israel is oor die jare bekend daarvoor dat hy die Ou-Testamentiese edik in Eksodus 21 volg: “'n lewe vir 'n lewe, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand.”

Maar sedert Hamas se afgryslike aanval op 7 Oktober is dit nou eerder “’n duisend lewens vir 'n lewe, 'n duisend oë vir 'n oog, 'n duisend tande vir 'n tand en 'n duisend hande vir 'n hand”.

Relatief tot die bevolkingsgroottes van Israel en Gaza is 12 000 sterfgevalle die ekwivalent van 52 000 Israeli’s. In 38 dae. En tussen 'n derde en die helfte is kinders.

Gister het selfs die Westerse internasionale media met hulle pro-Israelse vooroordeel skokkende berigte oor die haglike toestande in Gaza geplaas.

Die bloedbad in Gaza begin nou die afmetings van die volksmoorde in Bosnië en Herzegovina in 1992, Darfur in 2003 en Rwanda 30 jaar gelede aanneem.

Ek was Saterdagoggend 'n waarnemer van die protesoptog van meer as 10 000 mense in die Kaapstadse middestad wat teen Israel se vernietiging van Gaza beswaar gemaak het. In Londen het sowat 300 000 mense 'n protesoptog gehou en elders in die wêreld het meer as 'n miljoen ander mense so geprotesteer.

Die Amerikaanse en van die Europese staatshoofde het Israel se vergrype in die laaste paar dae skerp begin veroordeel, maar die geskiedenis sal aanteken dat die eerste vier weke se aanvalle op Gaza met hulle ondersteuning en aanstigting plaasgevind het.

Die Suid-Afrikaanse minister van internasionale betrekkinge, Naledi Pandor, het gister met reg in 'n meningsartikel in die Sunday Times verklaar: “A peace process initiated by the UN must commence urgently. Our common humanity dictates that all human lives matter and the time for the international community to act is now.”

Pandor het gesê alle voorsiening van wapens aan Israel en gewapende Palestynse groepe behoort onmiddellik gestaak te word. “A just and lasting peace will not be achieved through the use of force by the occupying power, nor through armed resistance by the Palestinians.”

Pandor se departement het die Israelse ambassadeur verlede week amptelik geroskam en in gister se artikel verklaar sy dat die Internasionale Strafhof lasbriewe vir die inhegtenisneming van Netanyahu en van sy kollegas behoort uit te reik.

Die Suid-Afrikaanse regering het egter nie veel geloofwaardigheid wanneer dit by dié konflik kom nie.

Pretoria het goeie bande met Iran, 'n bloeddorstige fundamentalisties-Islamitiese staat wat nie net Hamas bewapen en finansier nie, maar in hulle eie land oorlog teen vroue maak. Die Iranse staatshoof bring vroeg volgende jaar 'n staatsbesoek aan Suid-Afrika.

En dan het Pretoria natuurlik ook 'n warm verhouding met die aggressor in Oekraïne, Rusland se Vladimir Putin. Hoe kan jy oor die totale verwoesting van Gaza-stad kla as jy nooit die totale verwoesting van Mariupol verdoem het nie?


My harige bure en verlangse neefs

Een van die mees aangrypende, ontstellendste ervarings wat ek in 'n lang tyd gehad het, was verlede week toe ek 'n bobbejaanwyfie gesien het wat haar dooie kleintjie 'n hele dag lank styf teen haar lyf vashou en aggressief raak toe besorgde mense haar van die kleinding wou verlos.

Ek het vroeër die dag op ons bobbejaan-WhatsApp-groep gehoor daar is 'n kleintjie dood – en toe sien ek die ma van my dek af.

Ek het nader gestap. Die bobbejaan was duidelik hoogs ontsteld, met oë wat heen en weer geflits het. Haar bewegings was stokkerig en senuagtig.

Sy is van die Waterval-trop in die berg bokant my huis in Simonstad. Ek het byna daagliks met hulle te doen, en so een maal 'n week kom maak lede van die trop 'n draai in my tuin (en op my stoep en op my dak). Ek hou hulle graag dop – as jy jou honde toemaak, kan jy lank tussen hulle sit en hulle gedrag observeer. Hulle is glad nie aggressief nie.

Ek is amper 100% seker ek het die spesifieke bobbejaanma met die kleintjie voorverlede week in my tuin dopgehou. As jy genoeg tyd saam met hulle deurbring, kan jy begin om individue te onderskei – hulle lyk nie almal eenders nie en hulle gedragspatrone is ook individualisties.

Daar was geen twyfel nie: Die bobbejaanma was diep getraumatiseer. Sy het geweier om te aanvaar dat haar kleintjie dood is. Sy was in rou. Dit was hartverskeurend.

Ek is seker van julle wat hier lees, sou vir my wou sê ek maak my aan antropomorfisme skuldig – ek dig menslike karaktereienskappe aan diere toe.

Dit is 'n komplekse storie. Daar is inderdaad baie diereliefhebbers wat hieraan skuldig is, maar ek sou 'n saak wou uitmaak dat daar wel diere met selfbewussyn is, wesens wat kan dink en voel eerder as om net instinktief te reageer.

Ek is 'n spesieïs. Ek glo diere soos primate, walvisse en dolfyne moet anders as diere soos muise of dassies of selfs bokke, skape en beeste gesien en behandel word.

(Honde is ook op my lys van “meerdere” spesies. En dalk perde en donkies. En lede van die kraaifamilie. Ek sal by 'n ander geleentheid daaroor skryf.)

Alle diere, glo selfs visse en reptiele, kan blykbaar pyn voel. Maar ek wil vandag praat oor diere met emosies, met ingewikkelde sosiale strukture, selfs “kultuur” in die breedste sin van die woord.

Ek is nie net op 'n WhatsApp-groep vir bobbejane nie (dis meestal om ons te waarsku om ons deure en vensters toe te maak as hulle in jou omgewing is), maar ook op 'n plaaslike walvis- en dolfyngroep. Ek gryp soms tot vier, vyf keer 'n dag my verkyker as deelnemers laat weet daar is walvisse, dolfyne of orcas in Valsbaai. Ons deel ook nuus van die jongste navorsing op die groep.

So het ek kennis geneem van 'n orcakoei met die naam J35, deur plaaslike mense Tahlequah gedoop, wat in 2018 haar dooie kalf 17 dae lank op haar neus bo die water gehou  en honderde kilometers ver in die noordwestelike Stille Oseaan so geswem het.

Daar is 'n oorvloed van navorsing wat bewys dat seesoogdiere komplekse sosiale strukture het, kennis en sosiale gedrag aan mekaar kan oordra en individuele persoonlikhede het. Veral walvisse kommunikeer oor lang afstande met mekaar en gebruik verskillende dialekte.

Daar is ook baie navorsing en anekdotes van wilde dolfyne wat persoonlike verhoudings met mense opgebou het, of selfs van dolfyne wat mense van verdrinking of aanvalle deur haaie gered het.

(En wat van my mede-Simonstadter, Craig Foster, wat 'n persoonlike verhouding met 'n seekat opgebou het? Sy bekroonde dokumentêr, My Octopus Teacher, is net om die draai van my huis af gemaak. Kyk gerus na die lokprent.

Hier is baie mense in my buurt wat die bobbejane haat en as 'n verpesting sien. 'n Vrou hier naby my het selfs onlangs 'n bobbejaan in haar werf doodgeskiet.

Hulle kan inderdaad baie skade aanrig as hulle in jou huis inkom. Van ons restaurante het ook al probleme met hulle gehad.

Maar met enkele uitsonderings van mense wat hier gebore is, het al die inwoners van Simonstad (en die naburige Kommetjie en Scarborough waar daar ook baie bobbejane is) hier kom huis koop met die wete dat ons en die bobbejane saam moet leef. Die bobbejane was al hier voordat homo sapiens eens ontwikkel het.

Soos ek die bobbejaanhaters gereeld toesnou: As jy die bobbejane nie kan verduur nie, trek na 'n plek waar daar nie bobbejane is nie.

Vir my was dit een van die aantrekkingskragte van die suidelike Kaapse skiereiland: ons lewe op die urban edge, waar menslike nedersetting en die natuur aan mekaar grens. 'n Trop tarentale slaap snags in my tuin, daar is 'n Kaapse kobra wat in die bosse voor my huis woon, hier is gereeld ystervarke wat snags na iets soek om te peusel, hier is baie pikkewyne en dassies en bokkies en so nou en dan sien ons ook 'n rooikat.

Al hoekom die bobbejane die woonbuurte binnevaar, is omdat dit makliker is om 'n vullisdrom of kombuis te besoek om iets te ete te bekom as om alewig vir uintjies te hoef te grawe. Ek is seker uintjies, bessies en wortels kan baie boring raak as jy dit eke dag moet eet.

Ons weet almal hoe slim sjimpansees, bonobo’s, gorillas en ander groot ape is; hoe hulle van werktuie gebruik maak en hoe goed hulle in toetse vaar wat hulle intellektuele vaardigheid toets.

Maar wat van die nederige chacma-bobbejaan?

As die sjimpansee 'n proto-mens genoem kan word, sou ek sê die bobbejaan is 'n proto-grootaap.

Hulle is dalk nie heeltemal so intelligent soos sjimpansees nie, maar hulle het komplekse sosiale strukture en is baie slinks. Streetwise. En groot vermaak.

In my boek is die bobbies net sulke Simonstadters soos ek. O, en die toeriste is mal oor hulle.

Primaatgroete
Max


Oranje, blanje, don’t get any on ye

Hipster, wat soe diep in ouma en oupa
se vintage kaste grawe
en dink jy kan ie oud wee niet maak
Wies careful dat jy nie kom kry
dai Voortrekkerrokkie fit jou figure nie
Dat dai bonnet te mooi jou gesiggie frame ie
Moenie dat dai strooihoed te lekke die son yt jou oë hou nie
Wan who the cap fit let him wear it
Onthou is makliker virre Son of Gondor
omme ring of power te dra
narie flame pits of Mordor
as virre wit man om sy
oupa se suit an te trek
sônne om yt te vind
dattit hom pas

- Nathan Trantraal

Uit: Oolog

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.