Trump 2.0 gaan erger wees, en Musk is op die oorlogspad

MAANDAG MET MAX

Trump 2.0 gaan erger wees, en Musk is op die oorlogspad

MAX DU PREEZ vertel van sy pa, ’n stoere Afrikaner-nasionalis, se verhouding met Jode en Boere-Jode in sy kinderjare, ANNELIESE BURGESS sê dis tyd om die smiles van die ANC se bakkies af te vee, en soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 20 November 2023
  • Daagliks
  • 11 min om te lees

Goeiedag!

1. Australië is vir die sesde keer krieket se wêreldkampioene nadat hulle Indië gister in Ahmedabad met ses paaltjies geklop het.

2. Elon Musk het gedreig om vanoggend “wanneer die howe oopmaak” ’n “thermonuclear lawsuit” in te stel in reaksie op stappe deur verskeie groot Amerikaanse maatskappye om hulle advertensies op X te staak omdat dit glo langs anti-Semitiese inhoud geplaas is. Die waghondgroep Media Matters for America het vroeër gesê hulle het advertensies van onder andere IBM en Apple in die nabyheid gevind van Hitler- en Nazi-materiaal.

3. Die kabinet het planne goedgekeur om ’n deel van die $12,5 biljoen (sowat R225 biljoen) aan finansiering van die Just Energy Transition Investment (JET-IP) te gebruik om die land se elektrisiteitsinfrastruktuur op te gradeer, het Kgosientsho Ramokgopa gister gesê. Hy het bevestig dat Koeberg se eenheid 1 ná byna ’n jaar nou weer aan die kragnetwerk gekoppel is, hoewel dit ook beteken dat eenheid 2 nou vir soortgelyke opgraderings ontkoppel kan word. Vyf ander eenhede elders sou ook na verwagting gisteraand weer aanlyn gebring word, wat dalk minder  beurtkrag vir die komende week beteken.

4. Die parlement het nege personeellede geskors ná ’n eksterne ondersoek na die brand van 2 Januarie verlede jaar. ’n Belangrike bevinding in die verslag is dat indien die parlement nie in daardie vakansietyd verlof aan sy eie veiligheidspersoneel toegestaan het nie, die brand heel waarskynlik nooit sou ontstaan het nie, het News24 berig.

5. Amerikaanse bemiddelaars is glo hoopvol dat ’n ooreenkoms tussen Israel en Hamas gou bereik kan word om tientalle vroue en kinders wat in Gaza as gyselaars aangehou word, te bevry in ruil vir ’n vyf dae lange staking van vyandighede, het The Washington Post berig. Hewige gevegte het steeds gisteraand in veral die noorde van die enklawe gewoed.

6. Argentyne het gister na die stembus gegaan om ’n nuwe president te kies terwyl die land die ergste ekonomiese krisis in twee dekades beleef, het Reuters berig. Die keuse is tussen Sergio Massa, dienende minister van ekonomie,  en die radikale libertynse buitestander Javier Milei, wat volgens die meeste peilings net-net die gunsteling is om te wen.

7. Wees gewaarsku: ’n Tweede termyn vir Donald Trump gaan erger as die eerste wees, skryf The Economist in sy jongste uitgawe: “A second Trump term would be a watershed in a way the first was not. It would show his most destructive instincts. His plans would encounter less resistance. And since America will have voted him in knowing the worst, its moral authority would decline.”


Waarskuwings is uitgereik oor skadelike winde wat vervoer kan affekteer in die grootste deel van die Wes-Kaap en die Namakwa-distrik van die Noord-Kaap, asook see-navigasie tussen Saldanhabaai en Kaap Agulhas. Daar is ’n hoë brandgevaar oor dele van die Kaapprovinsies en Limpopo en ’n hittegolf oor die grootste deel van die Oos-Kaap, dele van die Laeveld van Mpumalanga en Limpopo, die weste van KZN, en die verre noorde van Tshwane. Deels bewolk tot bewolk oor die grootste deel van die land met buie en donderbuie, en ligte reën in die Kaap.

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 33°C • Johannesburg 32°C • Mahikeng 35°C • Mbombela 36°C • Kaapstad 21°C • Durban 28°C • Kimberley 36°C • Bloemfontein 35°C • Polokwane 35°C • Upington 37°C • Gqeberha 27°C • Oos-Londen 28°C.


Anneliese Burgess | Die ANC smile en wave, want dis mos kieserregistrasietyd

Die twee vroue sit gister by ’n klein, wankelrige tafel by die ingang tot die “blou skool” hier op in die pad van my huis. Uitgevat in ANC-kleure – kraakvars stukke geel lap met die ANC-embleem is om hulle skouers geknoop. Onder ’n geel sambreel met ANC-embleme op. Te feestelik. Want #kieserregistrasienaweek.

Op bladsy vier van die Sunday Times is ’n mooi foto van ons president. Hy dra ’n groot glimlag en ’n geel ANC-T-hemp. Hy het ’n oulike klein meisietjie met vlegsels in sy arms. Die meisietjie hou ’n pienk unicorn vas. Te oulik. Om hom is vrolike, glimlaggende mense. Want #kieserregistrasienaweek.

Op die voorblad van dieselfde koerant is algeheel minder vrolike nuus. ’n Massiewe vervoerkrisis is besig om ons invoer en uitvoer by die knieë af te sny. Ons hawens werk nie. Daar is chaos op die paaie. En natuurlik is Transnet basies in sy maai.

Maersk, een van die wêreld se grootste verskepings- en houervervoermaatskappye, het aangekondig hulle gaan nou sommer verby Kaapstad hou Mauritius toe en daar hulle houers aflaai. Dit sal dan met kleiner skepe na Suid-Afrika gebring word. Ander groot maatskappye, waaronder Hapag-Lloyd en CMA CGM, sê hulle gaan nou bybelasting hef vir Suid-Afrikaanse aflewerings, want die gesloer by ons hawens ontwrig hulle internasionale skedules.

In Durban gaan dit geensins beter nie. Vrydag was die gemiddelde wagtyd vir skepe by Pier 2 van die houerterminaal 457 ure – of 19 dae. Dit volgens Transnet. By Durban se veeldoelige terminaal was dit 15 dae. Vrydag was daar 16 skepe wat buite die hawe gewag het om ingelaat te word.

Invoerders vlieg nou maar eerder hulle goedere Suid-Afrika toe. Met padvervoer gaan dit ook taamlik beroerd. By die Lebombo-grenspos is daar op die oomblik ’n 37 km lange wagtou. By Richardsbaai is daar op enige gegewe dag 2 000 trokke wat wag om steenkool af te laai.

Die blou skooltjie (die ou houtklaskamers is poeierblou geverf) waar die ANC-tannies vandag gesit het, is ’n gehawende ou plaaskool wat uit sy nate bars omdat kinders van heinde en ver ingebus word. Die klaskamers val uitmekaar. Honderde kinders daag elke dag op vir wat basies ’n vertoning van skoolgaan is, want geen kind kan hier ’n opvoeding kry wat hulle enigsins ’n kans in die lewe gaan gee nie. Reg langsaan lê die fondamente van ’n nuwe skool wat die departement van onderwys so drie jaar gelede begin bou het. En toe raak die geld op. Hierdie week het die kontrakteurs al hulle opslaan-geboue kom afbreek. Duidelik is die geld steeds op.

Maar die tannies smile en wave onder die geel ANC-sambreel. En Cyril smile en wave in Jozi.

Dit is tyd om die smiles van die ANC se bakkies af te vee. Hierdie land het dringend ’n alternatief nodig.


’n Ode aan die Boere-Jode

Toe ek ’n week of wat gelede op X my besorgdheid uitspreek oor die ontstellende getal Palestyne wat in Gaza sterf en die benarde toestande wat nou daar heers, het ’n kwaai man my toegesnou: “Tipies van julle Afrikaners wat die Jode so haat.”

Het die man maar besef dat, te oordeel na die hoofstroom- en sosiale media, wit Afrikaners die bevolkingsgroep in Suid-Afrika is wat Israel die sterkste ondersteun.

Ek wou vir hom die storie vertel van my pa, ’n stoere Afrikaner-nasionalis, se verhouding met die Jode.

Ek was nog op skool toe die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 tussen Israel en verskeie Arabiese state uitgebreek het. Ons gesin het, soos die gebruik was, vir middagete almal aan tafel gesit en my pa het na die nuus oor die “Afrikaanse diens” geluister toe daar berig is hoe Israel die Arabiere bloedneus gee.

My pa was baie ingenome met dié nuus. Ek het uiteraard as skoolseun min van die Midde-Ooste geweet, maar ek wou seker my pa beïndruk (soos seuns graag doen) of dalk was dit net ’n klein rebellie teen gesag, maar ek het opgemerk dat dit darem ’n baie ongelyke stryd was.

My pa het sy mes en vurk hard in sy bord neergesit en my kwaai aangegluur. In my huis, het hy driftig gesê, sê niemand ’n slegte woord oor die Jode nie. As ek sulke goed wil kwytraak, is ek nie welkom aan sy etenstafel nie, waarop ek na my kamer verban is.

Ek het eers baie later die agtergrond hiervan te wete gekom. My oupa en ouma was verarm nadat hulle Ladybrand-plaas deur die Britte verwoes is en my oupa boonop twee jaar in ’n krygsgevangenekamp aangehou is – o, en hy was wéér in die tronk as ’n plaaslike rebellieleier in 1914. Hy is in 1919 aan die Groot Griep dood, kort voor my pa se geboorte.

My pa het gesukkel om in die nadraai van die Groot Depressie werk te kry en hom en sy ma te onderhou. En toe neem oubaas Goldblatt van Goldblatt Wholesalers in Kroonstad my pa in diens, lei hom op en plaas hom op ’n baan wat hom uiteindelik stewig in die middelklas besorg het.

Oubaas Goldblatt, soos my pa hom genoem het, was duidelik ’n soort vaderfiguur vir my pa.

Ek het baie jare later vir my pa gevra hoe rym sy liefde vir die Jodedom met sy simpatie vir die Ossewabrandwag tydens die Tweede Wêreldoorlog (dit was dalk meer as simpatie, maar hy wou nie daaroor praat nie). Sy kriptiese verduideliking was dat die meeste Ossewabrandwag-ondersteuners nie teen die Jode was nie, net teen deelname aan die oorlog aan die kant van die Britse empire.

(Ek het nooit werk gemaak van my voorneme om meer van die oubaas te wete te kom nie. Oppervlakkige navorsing dui daarop dat hy die William Goldblatt kon gewees het wat in 1889 in Kroonstad gebore is. Dié Goldblatt is met Cornelia Johanna Greyvenstein getroud.)

Goldblatt was ’n Boere-Jood.

Die aanvanklike Boere-Jode, meestal Jiddisj-sprekende Asjkenasiese Jode (Ashkenazim), het vroeg in die 19de eeu na Suid-Afrika geïmmigreer en hulle meestal in die Afrikaanse platteland gevestig en gou Afrikaans leer praat – hulle was nie Engels magtig nie. Die eerste sinagoge is al in 1841 gestig. Tot daar rondom 1930 het groter getalle Jode uit veral Rusland en Litoue hier aangekom.

Die Boere-Jode was veral smouse, maar het ook oral op die platteland klein sakeondernemings begin. Van die Groot Trek-dae af en tydens dekades voor en ná die Anglo-Boereoorlog het dié smouse in ossewaens en donkiekarre goedere aan afgeleë of rondreisende gemeenskappe verskaf – klere, rok- en gordynmateriaal, kruideniersware, tabak, brandewyn, konsertinas en mondfluitjies, skoene, selfs Bybels.

Sowat 300 Jode het in die Anglo-Boereoorlog aan Boerekant geveg en omtrent 100 van hulle was krygsgevangenes.

Joel Duveen, wat in genl. Christiaan Beyers se Waterberg-kommando gedien het, het swartwaterkoors opgedoen en in die hospitaal daarop aangedring om op die vloer te lê “want ek slaap nie in ’n Engelsman se bed nie”.

Van die Jodesoldate se name is verafrikaans, soos Sascha Schmahmann wat sommer Jan Snyman die Jood genoem is, en die dapper Vrystaatse kryger wat as Jakkals Segall bekend gestaan het.

Die Joodse smouse was, volgens al die vertellinge wat ek oor die jare daaroor gelees het, baie geliefd onder die Afrikanergemeenskappe. Hulle het maklik krediet aan sukkelaars toegestaan en ’n oop hand vir die armstes gehad.

Daar is ’n gedenkplaat ter ere van die Joodse smouse in Graaff-Reinet wat lees: “Ter ere van die baanbrekende Joodse bondeldraers, bekend as smouse, wat in afgeleë gebiede handel gedryf het. Hulle het hul klante van menige lewensmiddel voorsien. In die loop van hulle handeldrywe het hulle ’n bydrae tot ons land se ekonomiese ontwikkeling gemaak.”

’n Paar Boere-Jode het landbouers geword. Israel Lazarus van die destydse Oos-Transvaal was bekend as die Mieliekoning en het veel gedoen om die produksie van mielies te moderniseer.

Een van my gunsteling-landgenote, myns insiens ’n nasionale skat, is die nageslag van Boere-Jode: die sanger/liedjieskrywer/komponis David Kramer. Sy oupa, toe nog met die van Karabelnik, het in 1899 uit Litoue hier aangekom en was ’n smous in die Boland. David het in Worcester grootgeword.

Maar vroeg in die 20ste eeu het van dié Boere-Jode ook sakeondernemings op die platteland begin stig, soos Goldblatt Wholesalers in Kroonstad. ’n Goeie voorbeeld is Samuel Krupp en Hendrik van Niekerk wat Van Niekerk & Krupp, ’n maatskappy wat landbou-werktuie verkoop het, in Piketberg gestig het. Dit bestaan vandag nog as Piket Implements.

Vandag is daar maar tussen 50 000 en 70 000 Jode in Suid-Afrika oor, bitter min van hulle op die platteland – nie een van die vele sinagoges funksioneer meer nie, en baie van die ou sinagogegeboue huisves nou winkels.

Miskien moet ek werk aan ’n artikel oor die ryk geskiedenis van die Jode in Suid-Afrika.

Shalom!
Max


slot

Die leuse van my vader wil ek herhaal:
hy wat versuim om sy lewe
en dié se plek noukeurig te ondersoek,
het die Skrywer van sy verhaal gefaal.

My pen tree vir my lewe in die bresse
en teken aan die tye van rose
en mirte tot nou waar koue
en stilte lê langs rye sipresse.

Dié is saamgestel uit wat dagboeke
en briewe rep: nie alles is waar nie –
ek moes baie jok en verkort, maar
so pas dit beter tussen ander tekste
wat self sal praat of verwerp in die web.

– Antjie Krog

(Uit: 'n Vry vrou)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.