Nog ’n grootkop vas by Fort Hare, en Biden word oudste VSA-president

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Nog ’n grootkop vas by Fort Hare, en Biden word oudste VSA-president

DEBORAH STEINMAIR wens besige-kop-Byatt 'n sagte rus toe, WILLEM KEMPEN wonder wat sit agter die minister in die presidensie se verdagmakery van die privaat sektor, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 21 November 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Margaret Arnolds van die African Independent Congress (AIC) is onbestrede verkies as speaker van die Johannesburgse metroraad in die plek van Colleen Makhubele, wat ’n week gelede uit Cope geskors is.

2. Isaac Plaatjies, die Universiteit van Fort Hare se direkteur van ondersoeke en keuringsdienste, het die mees onlangse werknemer geword wat in hegtenis geneem is in verband met ’n reeks misdade by dié universiteit. Hy sou gister in die landdroshof in Alice verskyn, het News24 berig.

3. Die voormalige Springbok-slot Hannes Strydom is Sondagaand in ’n motorongeluk in Mpumalanga dood. Hy was ’n lid van die 1995-Bokspan wat die Wêreldbeker gewen het.

4. OpenAI, ontwikkelaars van ChatGPT, het Emmett Shear as tussentydse uitvoerende hoof aangewys in die plek van die uitgeskopte Sam Altman, wat hom intussen by Microsoft aangesluit het. Shear het gister ontken dat OpenAI se direksie Altman afgedank het weens ’n twis oor die veiligheid van kragtige nuwe aanwendings van kunsmatige intelligensie.

5. Die uitgesproke libertyn Javier Milei het Argentinië se presidentsverkiesing gewen deur 56% van die stemme op hom te verenig, teenoor Sergio Massa se 44%. Milei het beloof om werk te maak van ’n rits ekonomiese krisisse, soos inflasie van 143% en dat vier uit 10 Argentyne in armoede leef, het Reuters berig.

6. Lede van Jemen se Houthi-beweging, wat ’n bondgenoot van die Iranse regering is, het in die suide van die Rooisee “beslag gelê” op die vragskip Galaxy Leader, wat gedeeltelik deur ’n Israeliese maatskappy besit word. Israel het die voorval beskryf as ’n “Iranse daad van terrorisme” met gevolge vir internasionale maritieme veiligheid. Die regering in Japan, van waar die skip bedryf word, onderhandel met die Houthi’s om die bemanning vry te laat, het Reuters berig.

7. Pres. Joe Biden het gister 81 geword, wat van hom die oudste bekleër van dié pos tot nog toe maak. Meningspeilings wys dat die meeste Amerikaners bekommerd is dat Biden te oud is om herkies te word, het Reuters berig.


’n Hittegolf met buie en donderbuie word tot Vrydag verwag oor Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, die weste van KZN, en Noordwes. Die Oos- en Sentraal-Vrystaat sal ook tot Vrydag uiters warm wees, en die westelike binneland van die Oos-Kaap tot môre. Daar is ’n hoë brandgevaar in dele van Limpopo en die Noord-Kaap. Die Wes-Kaap sal deels bewolk wees met ligte reën by George.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 34°C • Johannesburg 33°C • Mahikeng 35°C • Mbombela 38°C • Kaapstad 21°C • Durban 31°C • Kimberley 35°C • Bloemfontein 34°C • Polokwane 35°C • Upington 32°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 27°C.


Willem Kempen | Die sondebok blêr nie veel nie, al wink die slagpale

Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie en deesdae gereelde woordvoerder vir die kabinet, reken gister die privaat sektor “has no interest in the development of this country”. Dit nou na aanleiding van die Britse multinasionale bank Standard Chartered se skulderkenning oor manipulasie van die rand-dollar-wisselkoers so lank as 16 jaar gelede. Die ondersoek daarna het meer as agt jaar geduur en het minstens 28 plaaslike en internasionale banke betrek.

Dié manipulasie, sê Ntshavheni, wys dat die privaat sektor “engineer and do machinations to ensure that the government collapses”.

Die vraag is dalk nie waarom sy sulke snert kwytraak nie, maar wat sy daarmee probeer bereik. En spreek dit net van haar eie onkunde, of praat sy ook namens kabinetslede soos Enoch Godongwana en die president self, wat van beter behoort te weet? Het sy daardie dinge ook op die kabinetsvergadering gesê, en het iemand haar toe gewys op al die voorbeelde waar die privaat sektor die enigste rede is waarom die staat nié selfs nader aan ineenstorting is nie?

Soos om die staat te help om die chaos by die land se hawens en spoorvervoer te beëindig, sodat besighede weer kan in- en uitvoer. Soos die myne en ander privaat ondernemings wat elektrisiteit opwek omdat die staat nie kan byhou nie. Soos om die Nasionale Vervolgingsgesag te help met bykomende geld en kundigheid om hulle werk behoorlik te kan doen. (Lees ook weer Anneliese Burgess se onderhoud met Neal Froneman.) Soos om groot bedrae kapitaal aan die staat se Covid-noodfonds te skenk om die pandemie te beveg, net om te sien hoe dit óók gestroop en geplunder word.

As Ntshavheni onlangs – of selfs al ooit? – die finansiële resultate van ’n JSE-genoteerde maatskappy gelees het, of die bankstate van een van die kleiner besighede waaroor die regering voorgee om so besorg te wees, sou sy dalk beter verstaan watter geweldige prys “die privaat sektor” vir ’n wankelende staat betaal. En dat die slagoffers van ’n onbeholpe staat nie net besighede is nie, maar ook elkeen wat weens onvoldoende opleiding nie ’n kans het om iewers ’n werk te kry nie, of wat meer moet betaal om elke dag veilig by die werk uit te kom, of meer moet betaal aan privaat mediese sorg as hulle siek word, of om privaat sekuriteitsmaatskappy te betaal om hulle teen misdadigers te beskerm.

En verstaan sy dat vir elke besigheid of entrepreneur wat minder wins maak, daar minder belasting ingevorder word wat kan betaal vir al die maatskaplike toelaes en ander gawes wat uitgedeel word om op te maak vir die staat se eie mislukkings? Verstaan sy die verskil tussen ’n land soos China wat entrepreneurs koester én werk skep (lees wat JP Landman verlede week daaroor skryf), en ’n land soos Suid-Afrika wat entrepreneurs en besighede se rol misken en verdag maak, en nié werk skep nie?

As Ntshavheni wel al hierdie dinge verstaan, waarom het sy dan gesê wat sy gesê het? Is dit omdat die privaat sektor maar net weer ’n sondebok gemaak word sodat die ANC nog 'n verkiesing kan wen? Of is sy vasgevang in ’n staat van ontkenning?


Image: ANGELA TUCK

Die djin en die nagtegaal het gaan slaap

Een van my gunstelingskrywers is oorlede: dame Antonia Susan Duffy DBE HonFBA, oftewel A.S. Byatt. Sy was so oud soos my ma, 87.

Sy is in Sheffield gebore as Antonia Susan Drabble. Haar suster is die skrywer Margaret Drabble. Margaret was die mooi sussie en Antonia die beter skrywer, reken ek. Antonia het ’n amper androgiene voorkoms gehad, veral later, soos vele Britse vroue; no-nonsense en intellektueel.

Ek weet veel van die susters omdat ek, toe ek baie jonk was, al hulle boeke gelees het, waarin elemente van hulle jeugjare neerslag gevind het. Margaret en Antonia het vir jare nie met mekaar gepraat nie weens daardie outobiografiese gegewens.

Byatt se eerste twee boeke is uitgegee net nadat sy klaargemaak het by Cambridge. Toe het sy getrou en ’n onderwyspos aanvaar om te help betaal vir haar 11-jarige seun se opvoeding. ’n Dag nadat sy die pos aanvaar het, is hy deur ’n dronkbestuurder doodgery. Sy het ’n simboliese 11 jaar lank skoolgehou en toe voltyds begin skryf. 

The Virgin in the Garden was die eerste boek van ’n kwartet, die volgende was Still Life, Babel Tower en A Whistling Woman. Ek het hulle almal verslind en hulle het my paradigma help vorm. Die kwartet het ’n droewe, verskeurde ondertoon. Soos alle skrywers was sy ’n diep ongelukkige kind. Sy het met die hand eerder as op ’n rekenaar geskryf.

Sy was ook ’n voortreflike kortverhaalskrywer. The Djinn in the Nightingale's Eye is 'n bundel feëverhale. Haar roman Possession handel oor die verhouding tussen twee hedendaagse akademici en die 19-eeuse digters wat hulle navors. Dit het die Booker-prys in 1990 gewen en is verfilm.

Oor skryf het sy gesê:

I think of writing simply in terms of pleasure. It's the most important thing in my life, making things. Much as I love my husband and my children, I love them only because I am the person who makes these things. I, who I am, is the person that has the project of making a thing. Well, that's putting it pompously – but constructing. I do see it in sort of three-dimensional structures. And because that person does that all the time, that person is able to love all these people.

Haar mentor was dame Iris Murdoch, oor wie se werk sy twee kritiese studies geskryf het. Sy sê oor Murdoch:

Because I actually didn't want a mentor, I found the friendship very difficult to handle ... she simply used you as material. She loved you very much but she would take you out to lunch and just fire questions at you like a clay pigeon shoot.

Sy het ’n talent vir vriendskap gehad en jonger Britse skrywers aangemoedig. Sy wou hê dat mense nie slegs oor gevoelens skryf nie, maar oor idees.

Sy was, natuurlik, ’n geweldig belese bloukous. ’n Hele biblioteek het afgebrand met haar heengaan. Rus sag, besige-kop-Byatt.

Lees hier wat Joan Hambidge onlangs in die Republiek van Boeke oor Byatt geskryf het.


The Moods

Time drops in decay,
Like a candle burnt out,
And the mountains and the woods
Have their day, have their day;
What one in the rout
Of the fire-born moods
Has fallen away?

- W. B. Yeats

Uit: The Collected Poems of W.B. Yeats

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.