Inflasie styg weer, en ’n maand sonder salaris vir Juju

DONDERDAG MET MERCY

Inflasie styg weer, en ’n maand sonder salaris vir Juju

MERCY KANNEMEYER meet deesdae hoe lank dit vat om dinge by staatsdepartemente gedoen te kry. WILLEM KEMPEN dink baie van die histerie oor die manipulasie van die rand spreek van onkunde. En soos gewoonlik is daar sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 23 November 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre!

1.  Cas Coovadia, uitvoerende hoof van Business Unity SA (Busa), sê dis “net nie waar nie" dat die privaat sektor nie in die toekoms van die land belangstel nie, of die regering in duie wil laat stort, soos wat Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, Maandag beweer het.

2. Die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gaan by die nasionale vergadering aanbeveel dat afgetrede regter Nkola Motata en geskorste Wes-Kaapse regterpresident John Hlophe van die regbank verwyder word. Die ANC- en DA-lede van die komitee het hieroor saamgestem, maar Busisiwe Mkhwebane, wat deur die EFF na die komitee ontplooi is nadat sy as openbare beskermer uitgeskop is, het daarteen gestem. 

3. Jaarlikse verbruikersprysinflasie (VPI) het in Oktober onverwags tot 5,9% gestyg van 5,4% in September. VPI is nou op die hoogste vlak sedert Mei en sal een van die faktore wees wat die Reserwebank  sal oorweeg met die oog op vanmiddag se aankondiging oor rentekoerse. Die konsensus onder ekonome voordat die nuutste VPI-syfer bekend gemaak is, was dat die sleutelkoers onveranderd op 8,25% sal bly, met verligting eers in die tweede of derde kwartaal van volgende jaar.

4. As straf vir hulle ontwrigting van die staatsrede in Februarie moet Julius Malema en ander EFF-leiers pres. Cyril Ramaphosa om verskoning vra, 'n maand se salaris prysgee, en sal hulle nie toegelaat word om volgende jaar se staatsrede by te woon nie. Die parlement se magte-en-voorregtekomitee het dié straf gister opgelê aan Malema, die EFF-adjunkpresident, Floyd Shivambu, sekretaris-generaal Marshall Dlamini, asook Vuyani Pambo, Mbuyiseni Ndlozi, en woordvoerder Sinawo Thambo, nadat hulle skuldig bevind is aan minagting van die parlement.

5. Israel en Hamas het ingestem tot 'n skietstilstand in Gaza vir minstens vier dae sodat hulpwerkers die enklawe kan binnegaan, en ook sodat minstens 50 gyselaars wat daar aangehou word, bevry kan word in ruil vir minstens 150 Palestyne wat in Israel in aanhouding is, het Reuters berig.

6. Sam Altman is terug in sy pos as uitvoerende hoof van OpenAI nadat hy Vrydag deur die direksie afgedank is. OpenAI, ontwikkelaar van ChatGPT, het ook 'n nuwe direksie bekendgemaak, met onder andere Bret Taylor van Salesforce, Larry Summers, voormalige Amerikaanse minister van finansies, en Adam D'Angelo as lede. D'Angelo was 'n lid van die direksie wat Altman afgedank het.

7. 'n Bottel van die mees gesogte Skotse whisky ter wêreld, 'n Macallan Adami 1926, is vir byna £2,2 miljoen (meer as R50 miljoen) deur Sotheby's in Londen verkoop ná 'n bodoorlog tussen voornemende kopers. Dis 'n veilingsrekord vir 'n bottel wyn of sterk drank. Net 40 bottels van The Macallan 1926 is in 1986 gebottel nadat dit 60 jaar lank in sjerrievate verouder is. Twaalf van die bottels, waaronder die een wat Saterdag verkoop is, het etikette wat deur die Italiaanse skilder Valerio Adami ontwerp is.


Daar is 'n waarskuwing oor swaar donderbuie, moontlik met hael, oor dele van die Noord-Kaap, Noordwes en die Vrystaat, asook 'n uiters hoë brandgevaar in dele van onder meer die Wes- en die Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal. Baie warm toestande met buie en donderbuie duur voort oor die grootste deel van die land.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 34°C • Johannesburg 33°C • Mahikeng 38°C • Mbombela 33°C • Kaapstad 23°C • Durban 30°C • Kimberley 39°C • Bloemfontein 37°C • Polokwane 33°C • Upington 41°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 25°C.


Willem Kempen | Stadig oor die rand se triljoene en triljoene klippertjies

'n Klomp mense wat nie lekker weet waarvan hulle praat nie, het die laaste paar dae mond uitgespoel oor al die aaklige banke wat die rand gemanipuleer het en nou uiteindelik daarvoor gestraf word. Dit help nie dat tussen die banke en die Mededingingskommissie niemand juis gretig is om besonderhede oor die minstens agt jaar lange ondersoek te verskaf nie.

Moontlik die grootste onsin wat al oor die saak verkondig is, was gister in The Star: “According to media reports, the country lost R1 trillion a day due to the effects of this practice while calls for the banks to be criminally charged grew."

Ons sal seker nooit weet hoe hulle by daai som uitgekom het nie, of van watter “media reports" hulle praat nie, of wie dit sou wees wat dink daar kan strafregtelike vervolging van die banke wees nie.

Die waarheid – waarskynlik, volgens wat bekend gemaak is en waarvoor daar oënskynlik bewyse is – is dat die manipulasie van die rand-dollar-wisselkoers “die land" in die groter prentjie nie veel gekos het nie. Daar is geen ingeligte sprake of bewyse dat enigiets anders gebeur het as dat 'n klompie individuele handelaars by die altesame 28 betrokke banke 'n gebrek aan behoorlike toesig misbruik het om vir baie kort tydjies die wisselkoers in een of ander rigting te skuif nie.

Wat tipies gebeur het, gegrond op wat die ondersoek aan die lig gebring het, is dat handelaars vooraf en informeel onder mekaar sou gesels oor watter sprei (die verskil tussen die koop- en die verkoopprys van die rand-dollar-paring op 'n gegewe oomblik) om later op die formele platforms aan te bied. Daardie gemanipuleerde pryse sou dan die perke vorm waarbinne wisselkoerstransaksies kan plaasvind, tipies namens bankkliënte wat by in- en uitvoer betrokke is. Dit sou net prakties moontlik gewees het om dié perke met 'n breuk van 'n persentasie na enige kant toe te manipuleer, en slegs vir 'n paar minute op 'n slag, en selfs dan was dit waarskynlik feitlik onmoontlik om dit te onderskei van hoe die mark in elk geval sou funksioneer het.

Met die groot bedrae geld waarvan ons hier praat, is 'n breuk van 'n persentasie genoeg dat 'n paar handelaars waarskynlik groot geld gemaak het, en oor 'n lang tyd. Hulle sou wel ook dikwels aan die verloorkant van sulke transaksies gewees het, maar dit kom daarop neer dat hulle die winste op daardie sprei in hulle eie sakke gesit het, en die verliese onder mekaar se werkgewers verdeel het. Ek raai die verleentheid oor waarmee die handelaars weggekom het, en dat baie van die banke se kliënte effens meer vir transaksies betaal het as wat andersins nodig was, is die eintlike rede dat twee banke nou maar skuld erken het en bereid is om boetes te betaal.

Was dit als weens 'n groot sameswering onder die banke? Waarskynlik nie. Die risiko van reputasieskade en 'n verlies aan kliënte as so iets aan die lig kom, is daarvoor heeltemal te groot, en die potensiële beloning in die vorm van onregmatige winste heeltemal te klein.

Het dit veroorsaak dat die rand oor 'n lang tyd beduidend swakker was as wat andersins sou gebeur het? Nee, hoegenaamd nie. Die waarde van 'n land se geldeenheid word bepaal deur markkragte wat oneindig kere groter en sterker is as enigiets wat 'n groepie handelaars onder mekaar kan bekonkel. Selfs die mees berugte aanval op 'n land se geldeenheid, toe George Soros in 1992 die Bank of England en die pond laat steier het, sou nie moontlik gewees het as die onderliggende markkragte nie daarna gemaak het nie. En Soros het terloops niks onwettigs gedoen waarvan ons weet nie. Oneties en moreel verwerplik, dalk, maar nie onwettig nie.

Het die Suid-Afrikaanse ekonomie nogtans 'n groot prys betaal vir die manipulasie wat hier plaasgevind het? 'n Gróót dalk-ja, maar daar is soveel veranderlikes en bewegende teikens dat so 'n som feitlik onmoontlik is om te maak.

Moet al die skuldiges behoorlik gestraf word? Ja, natuurlik. Maar gegewe byvoorbeeld die voortstrompelende ondersoek na Markus Jooste en Steinhof, of die enkele individue wat al in die loop van byna 140 jaar aan binnehandel op die JSE skuldig bevind is – albei oortredings wat veel makliker is om te bewys as valuta-manipulasie – is daar 'n groter kans dat hierdie hele ding net stilweg gaan verdwyn, ondanks al die opportuniste wat nou 'n geraas maak.


Image: ANGELA TUCK

Daar is hoop, al is dit soos ’n mosterdsaad

Sommige stelsels in hierdie land is dodelik doeltreffend. Gister is ek in ’n haas na die visumkantoor in Johannesburg – want, soos wat julle hierdie brief lees, is ek op pad na Amsterdam – om my visum op te tel vir my opkomende reis. Dit het my ’n totale 2 minute en 40 sekondes geneem om my visum op te tel, en ja, ek het dit ge-time! Dis ’n nuwe speletjie wat ek speel wanneer ook al ek met goewermentsake te doene kry. Ek stel ’n timer op my foon en kyk hoe lank dit gaan neem om dit wat gedoen moet word, gedoen te kry.

Die pas afgelope naweek moes ek herregistreer om te stem omdat ek van Stellenbosch (waar ek laas gestem het) na Johannesburg getrek het. Die tydsduur wat dit my geneem het om te herregistreer? ’n Totale 5 minute en 16 sekondes.

Bel die bank om hulle te laat weet ek gaan my kredietkaart oorsee gebruik. Die oproep duur 3 minute. Op die kop. (Ek moet seker nie sulke inligting hier verklap nie, nè?)

Gaan in die bank in en maak euro’s. Oukei, dit het bietjie langer geneem, maar dit was steeds doeltreffend.

Moes iets gaan sertifiseer by die polisiestasie. ’n Totaal van 4 minute. Dit het so lank geneem omdat die polisieman eers dik geselsies met my aangeknoop het.

Sommige stelsels in hierdie land is werklik dodelik doeltreffend. Natuurlik is hierdie nie almal se ervaring nie. En natuurlik is álle stelsels nie so doeltreffend soos wat dit moet wees nie. Lang toue word gereeld by binnelandse sake gesien; by die verkeersdepartement staan jy soms ’n dag en ’n nag lank om gehelp te word; staatshospitale is oorvol en ons hoor gereeld rillerstories van hoe pasiënte nie betyds gehelp kan word nie wat dan katastrofiese nagevolge het; sommige skole is oorvol en gehalte-onderrig kan nie oral plaasvind nie; Eskom kan nou maar eenmaal net nie behoorlik funksioneer nie; sommige plekke sit sonder water; en, dan is daar die regering.

Ons leef binne ’n wanfunksionele staat, gedryf deur ’n president en regeringsamptenare wat menige van ons eenmaal in die beterskap van hierdie land laat glo het (die president, nie noodwendig sy posse nie).

Die lys van dinge wat nie werk nie, is langer as die lys van dinge wat wel werk. En in die gevalle waar die stelsels nie werk nie, moet die spanne bietjie gaan inloer daar waar dit goed gaan. Hierdie klink alles seker geweldig naïef, maar dit voel nodig om nou so bietjie op ons sterkpunte te fokus. Dit gee ook so bietjie hoop; al is die hoop so klein soos ’n mosterdsaad. Met die verkiesingsjaar wat aanbreek, is dit nodig om deeglik in oënskou te neem wat werk, wat nie werk nie, en wat ek en jy gaan doen om seker te maak ons bly doeltreffende en aktiewe landsburgers.


Sand from the urns

Green as mould is the house of oblivion.
Before each of the blowing gates your beheaded minstrel turns blue.
For you he beats his drum made of moss and of harsh pubic hair;
With a festering toe in the sand draws your eyebrow.
Longer he draws it than ever it was, and the red of your lip.
You fill up the urns here and nourish your heart.

- Paul Celan

Uit: Selected Poems

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.