’n Nuwe politieke nar, en ou krisisse wat erger word

WOENSDAG MET WILLEM

’n Nuwe politieke nar, en ou krisisse wat erger word

WILLEM KEMPEN wonder hoe ons verby ons neuse gekyk gaan kry as dit by die klimaat kom, ANNELIESE BURGESS sê opeenhopings by die land se hawens is 'n krisis wat nie gemors moet word nie, en soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 22 November 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die parlement se staande komitee oor finansies het gevra dat die sogenaamde tweepot-aftreestelsel wel reeds in Maart volgende jaar in werking gestel word, in weerwil van 'n aanbeveling van die nasionale tesourie dat dit tot 2025 uitgestel word. Groot kommer heers in die tesourie, die Inkomstediens en die aftreefondsbedryf oor die haalbaarheid van vroeëre inwerkingstelling.

2. Die gespesialiseerde handelshof in Middelburg het die saak teen die voormalige Eskom-baas Matshela Koko en ander van die rol geskrap. Die hof het bevind daar was onredelike vertragings in die korrupsiesaak van R2,2 biljoen teen Koko en sy medebeskuldigdes, het News24 berig. Die hof het gevra dat die nasionale direkteur van openbare vervolgings skriftelik bevestig wanneer die saak gereed is vir verhoor, sodat dit weer op die rol geplaas kan word.

3. Bafana Bafana se 530 dae lange onoorwonne lopie het met 'n nederlaag van 2-0 in die Huye-stadion in Butare teen Rwanda tot 'n einde gekom.

4. Sibanye-Stillwater se markwaarde het gister met meer as 20% gedaal nadat die mynmaatskappy die uitreiking van $500 miljoen se omskepbare effekte aangekondig het om sy onlangse verkryging van die Amerikaanse metaalherwinner Reldan te finansier en bedryfskapitaal te bekom, het Business Day berig. 

5. Die Sweedse maatskappy Northvolt het glo 'n deurbraak gemaak met 'n natrium-ioonbattery wat vir energieberging in onder meer elektriese voertuie gebruik kan word. Die tegnologie benodig nie litium, kobalt of nikkel nie, wat laer pryse en minder afhanklikheid van China kan beteken, het die Financial Times berig.

6. Die swartmark-waarde van Argentinië se peso het gister met byna 10% gedaal in reaksie op Javier Milei se verkiesing as die land se nuwe president. Milei se radikale planne vir die ekonomie sluit in om die peso op te skort en die Amerikaanse dollar as geldeenheid te aanvaar, sowel as om die land se sentrale bank te sluit.

7. Die sangeres Shakira loop op sosiale media deur nadat sy 'n skikking met Spaanse owerhede bereik het oor haar beweerde belastingontduiking van €14,5 miljoen. Kritici sê die boete van €20 miljoen, wat ook beteken sy hoef nie tronkstraf uit te dien nie, is te min en wys dat ander reëls vir rykes en beroemdes geld.


Die hittegolf duur voort oor die grootste deel van die land, en daar is ’n waarskuwing oor swaar donderbuie in dele van Limpopo en Mpumalanga. Skadelike golwe kan tussen Tafelbaai en Plettenbergbaai voorkom en skadelike wind en ’n hoë brandgevaar word vir dele van die Noord- en Wes-Kaap voorspel. Buie en donderbuie word wyd verwag, behalwe in die Kaapprovinsies.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 34°C • Johannesburg 33°C • Mahikeng 37°C • Mbombela 34°C • Bloemfontein 35°C • Polokwane 34°C • Kimberley 35°C • Upington 38°C • Kaapstad 23°C • Gqeberha 27°C • Oos-Londen 26°C • Durban 29°C.


Anneliese Burgess | Transnet en hawens: Ons moenie ’n goeie krisis mors nie

Die krisis in die land se vervoernetwerk en hawens bou nou al minstens 15 jaar lank op, het verskeie kenners hierdie week benadruk. En net soos met byna elke staatsinstelling is die aanloop tot die inploffing ’n kombinasie van swak bestuur (wat uitloop op ’n gebrek aan langtermyn-beplanning), staatskaping, en onderbesteding aan instandhouding en infrastruktuur (want Transnet moes onder meer die Guptas se sakke volstop, soos regter Raymond Zondo bevind het).

Durban is ons belangrikste en besigste hawe, en dit is hier waar die grootste krisis nou is. Teen gister was daar 22 houerskepe wat buite die hawe gewag het. Elkeen van hulle kan duisende skeepshouers aan boord hê, wat verklaar hoekom die totale agterstand in Durban 55 084 houers is, in Gqebera 10 720 en in Kaapstad 1 359.

Durban se hawe gebruik hystoestelle wat as buidelwaens (“straddle carriers”) bekend staan. Die hawe is ontwerp om 108 van hulle te hê. Tans is daar, op ’n goeie dag, 62 wat werk – en verlede week was daar een dag net 51 wat operasioneel was. Dít is wat veroorsaak dat die hawe eenvoudig nie die volume kan hanteer nie.

“Dit is ongelooflike duur toerusting hierdie,” sê Juanita Maree, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Vragversenders. “En dit moet konstant onderhou, gediens en opgeknap word.” Dit is nie gedoen nie; basies ’n gebrek aan vlootbestuur en 'n spieëlbeeld van wat by Eskom gebeur het. 

My gesprekke vandeesweek met verskeie belanghebbendes oor hoe hierdie diepliggende probleem opgelos kan word, het geëggo wat Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye-Stillwater, my ’n paar weke gelede vertel het – dat die regering geen kapasiteit meer oor het om enige krisis op te los nie. En dat dít die regering vir die eerste keer  ontvanklik maak vir hulp van die privaat sektor; hulp wat hulle voorheen om ideologiese redes nooit regtig wou aanvaar nie (want: “bevoegte staat” en al daai ander mooi praatjies wat nie so mooi uitgewerk het nie).

Die mense in die vervoersektor met wie ek gister gepraat het, sê die enigste silwer randjie aan hierdie groteske drama met ons in- en uitvoer is dat daar uiteindelik geen ander oplossing gaan wees as om konsessies aan privaat operateurs toe te staan nie. Want daar is eenvoudig nie geld in die staatskas vir enige ander opsie nie. 

“Ons moenie ’n goeie krisis mors nie,” was een kenner se wrang opmerking. “Miskien moet ons maar aanvaar dat hierdie die prys is wat ons moet betaal vir ’n langtermyn-oplossing waar die privaat sektor uiteindelik mag hand bysit.”


Kos op die tafel vanaand, of ’n buitekans op beter weer môre en oormôre?

“World facing ‘hellish’ 3°C of climate heating, UN warns before Cop28,” verklaar The Guardian gister in sy voorblad-hoofopskrif in die aanloop tot die VN se 28ste klimaatberaad, wat volgende week in die Verenigde Arabiese Emirate begin.

’n Paar aanhalings uit die storie daarby:

“[...] today’s carbon-cutting policies are so inadequate that 3°C of heating would be reached this century.”

“Temperature records have already been obliterated in 2023, and intensifying heatwaves, floods and droughts have taken lives and hit livelihoods across the globe, in response to a temperature rise of 1.4°C to date. Scientists say far worse is to come if temperatures continue to rise. The secretary general of the UN, António Guterres, has said repeatedly the world is heading for a ‘hellish’ future.”

Ook Guterres:

“Present trends are racing our planet down a dead-end 3°C temperature rise. This is a failure of leadership, a betrayal of the vulnerable, and a massive missed opportunity. Renewables have never been cheaper or more accessible. We know it is still possible to make the 1.5 degree limit a reality. It requires tearing out the poisoned root of the climate crisis: fossil fuels.”

In reaksie op The Guardian se voorblad skryf die Britse aktivis Matthew Todd:

“If The Guardian is the only paper [in the UK] to front page this, then I can’t see how we can make it. People with influence need to urgently call out the [Daily] Mail and The Sun and their suppression of the climate change reality – or the public will never demand what’s necessary. This situation is madness.”

Ek dink nie dis soseer ’n geval van “suppression” nie, meer dat dit so moeilik is om oor klimaatsverandering te berig op ’n manier wat die massa van lesers gaan laat belangstel. Wie gaan nou die soveelste VN-verslag oor ’n paar grade warmer weer op die voorblad sit ten koste van iets oor Gaza of Eskom of die chaos in Durban se hawe of nog een van ’n duisend ander onmiddellike krisisse? En as jy wel die slag die klimaat op die voorblad sit, maar drasties minder mense lees dit as ander stories, hoekom sal jy dit wéér wou doen?

John Ryley het onlangs ná 17 jaar uitgetree as hoof van Sky News. Hy is een van die redakteurs van die boek Toxic News? Covering Climate Change, wat gaan oor presies hierdie verskynsel. Hy gee ook toe sy eie pogings het misluk om Sky News beter dekking aan klimaatsverandering te laat gee. Waarom, as hy dan die baas was?

“I failed … I failed because, I hope, I ran things in a consensual way, and often the newsdesk was reluctant to pursue the story, saying ‘Oh, we know that, John. We know the planet is heating up.’

“Newsdesks, in my experience, are rather reluctant to pursue climate change stories because they feel they know the answers – that the planet is heating up – and there’s no news story in it.

“It needs to be on the front burner otherwise people will just think ‘Oh we’re all fine’. It’s not fine. And this year is on track to be the hottest year on record.”

Wat moet ’n mens maak van daai “in a consensual way”? Die antwoord kan tog nie méér outokratiese besluitneming wees nie, want dit kan net lei tot einste die soort kortsigtige leierskap wat ons dieper in die moeilikheid gaan laat beland: meer Trumps, meer Bolsonaro’s, meer Boris Johnsons, meer Gwede Mantashe’e, meer mense soos Javier Milei, die populis en politieke nar wat pas as president van Argentinië verkies is.

Milei glo klimaatsverandering is ’n “sosialistiese leuen”, en dít in ’n land waar droogtes van historiese omvang en rekordhoë temperature – meer as 40°C is die afgelope jaar verskeie kere in Buenos Aires aangemeld – bygedra het tot ’n ekonomie wat op sy knieë is. Omgewingskwessies is in ’n presidensiële verkiesingsdebat vroeër vandeesmaand vir ’n totaal van 22 sekondes bespreek.

En tog, kan jy mense kwalik neem dat hulle stem vir ’n leier wat belowe om te help dat hulle vanaand kos op die tafel kan sit, teenoor een wat dink dis belangriker om te probeer keer dat dit nie volgende jaar nog ’n bietjie warmer as vanjaar gaan wees nie?


Oor die afsterwe van ’n man van ons groot stad

’n Man van ons stad het glo gister gesterf
terwyl hy besig was om te veg vir sy bestaan
in ’n hoekie vir eensames langs die straat.
Die mense rondom was glad nie juis aangedaan

oor die gebeurtenis tussen hulle nie,
het net meewarig en met ’n skewe glimlag
gekyk na die potplantjie wat hy teen hom vasgeklem het.
Dit moet snaaks wees om die eensaamheid só te sien blom.

Die mense het geglimlag oor sy afsterwe en omgedraai
en elkeen het voortgegaan om te veg vir ’n staanplek
onder die vaal son van hierdie stad.
Iemand anders sou weldra die dooie se plek inneem.

Die wit grafstene leun al teen mekaar,
want die ruimte is só beperk, en die grond.
Die stadsvaders beplan lugwaarts, verlig!
Kyk hoe troon die wit verligte grafstene oor ons stad.

- George Weideman

Uit: Pella lê ’n kruistog vêr

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.