Oppas vir Gaza-propaganda en gee net om vir die mense wat ly

MAANDAG MET MAX

Oppas vir Gaza-propaganda en gee net om vir die mense wat ly

Hoe gaan jy in die maande voor die algemene verkiesing weet of ’n politikus lieg? Kyk net of sy/haar lippe beweeg, skryf MAX DU PREEZ. En moenie kant kies vir Israel of Hamas nie, sê hy, maar skaar jou eerder aan die kant van die burgerlikes, die kinders, die vroue, die ouer mense. Soos gewoonlik is daar ook sewe goed wat jy wil weet.

  • 27 November 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiedag!

1. Meer as ’n derde van al die ANC se plaaslike takke kon nie daarin slaag om kandidate vir volgende jaar se verkiesing aan te wys nie, berig die Sunday Times.

2. Twee jaar gelede het 12 Durbanse strande Blouvlagstatus gehad. Vanjaar kwalifiseer nie een strand daarvoor nie omdat die eThekwini-munisipaliteit nie sy rioolwerke op peil kon kry nie.

3. Regter Gayaat Salie, gewese vrou van John Hlophe, die uitgeskopte regter-president van die Wes-Kaap, is gister tydens ’n spoggeleentheid in Muizenberg met die Portugese sakeman Mauro da Silva getroud.

4. Die Wêreldbank het in ’n verslag bereken dat misdaad Suid-Afrika elke jaar sowat 10% van sy bruto binnelandse produk, of R700 biljoen, kos.

5. Die uitvoerende hoof van Solidariteit, Dirk Herman, verskyn vandag voor die VN se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie in Genève. Hy gaan op die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming fokus wat hy glo tot groot werksverliese onder Indiër-, bruin en wit mense kan lei.

6. Die oorlog van die drones: Rusland sê hy het 19 Oekraïniese drones oor onder meer Moskou afgeskiet. Oekraïne het Saterdag 74 van 75 drones op pad na Kyiv afgeskiet.

7. Terwyl die skietstaking tussen Israel en Hamas die naweek nog gehou het en die uitruil van aangehoudenes voortduur, het Israelse soldate agt Palestyne in die Wesoewer doodgeskiet. Dit bring die aantal Palestynse ongevalle in dié besette gebied op 239 sedert 7 Oktober te staan. Hamas is nie in beheer van die Wesoewer nie.


Uiterste brandgevaartoestande kom voor in dele van Limpopo en die Kaapprovinsies en ’n hittegolf heers in dele van die Oos- en Noord-Kaap, Limpopo, Vrystaat en Noordwes tot môre, en vandag in Mpumalanga en Gauteng. Uiters warm toestande word voorspel vir die Wes-Kaapse binneland en die Noord-Kaap. Buie en donderbuie van vanmiddag af in Gauteng, Mpumalanga, Noordwes en Pietermaritzburg in KZN.

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 34°C • Johannesburg 32°C • Mahikeng 37°C • Mbombela 32°C • Kaapstad 27°C • Durban 28°C • Kimberley 40°C • Bloemfontein 38°C • Polokwane 32°C • Upington 42°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 27°C.


Max du Preez | Belowe die maan en die sterre vir 2024, maar lewer fase 8

Hoe gaan jy in die maande voor die algemene verkiesing weet dat ’n politikus lieg? Kyk net of sy/haar lippe beweeg.

Vir die regerende ANC, vir die opposisiepartye, vir die sakegemeenskap en vir elkeen van ons as burgers is 2024 die belangrikste maak-of-breek-verkiesing in 30 jaar.

Soos ’n slang wat eers aktief word as hy in die son gelê het, is dit tydens die verkiesingsveldtog dat politici begin lewe kry.

Moenie ’n bleddie woord glo wat hulle belowe nie.

Gister lees ek die trae, onderweldigende minister van arbeid, Thulas Nxesi, wil nou R15 biljoen van die Werkloosheidversekeringsfonds blaas om in die volgende vier maande twee miljoen werksgeleenthede te skep.

Verskoon my sinisme, maar ek sal stomgeslaan wees as hy 1 000 werksgeleenthede teen Maart geskep het.

Die naweek luister ek na die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, wat blitstreine tussen Johannesburg en Limpopo en die uitbreiding van die Gautrein se dienste na ander gebiede belowe. Lesufi het onlangs belowe dat hy elke maand 6 000 werksgeleenthede tot in Julie volgende jaar gaan skep. Ja, right.

Pres. Cyril Ramaphosa was verlede week in KZN, die provinsie wat die laaste dekade skerp agteruitgegaan het, met die ou grap dat die ANC “a good story to tell” het.

Die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het verlede week selfs die base in Luthulihuis laat bloos met haar verklaring dat die sakesektor probeer om die land te sink. En dit terwyl die staat hom nou tot die privaat sektor wend om die hawens en spoorvervoer weer op dreef te kry.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, se belofte dat beurtkrag teen volgende week oor en verby sou wees, was skaars koud toe word ons met fase 6 – eintlik fase 8 – geslaan. Ek sal ’n hele paar rand daarop verwed dat die ANC in die maande wat kom nog baie keer die einde van ons kragprobleme gaan aankondig.

Julius Malema se resep om steun te werf is om die minderhede te beledig en te dreig, en dié strategie begin nou ook nuwe momentum kry.

Die ANC se verkiesingsbeloftes het in die verlede nogal aftrek gekry. Dit is nie meer waar in laat-2023 nie. Hulle geloofwaardigheid is nou op fase 8.

***

Naskrif: Vrye Weekblad het in 2022 en 2023 heerlike Boekefeeste in Stilbaai in die Suid-Kaap gehou. Die persoon wat dit vir ons georganiseer het, het nou besluit om haar bande met ons te breek en die fees op haar eie aan te bied.

Stilbaai is ’n lieflike plek met wonderlike mense; ons hoop die fees gaan ’n groot sukses wees.

Vrye Weekblad vat nou sy fees Onrus toe, die plek langs Hermanus met ’n lang en ryk geskiedenis van Afrikaanse kreatiwiteit: Dink aan groot geeste soos Uys Krige, Jan Rabie, Gregoire Boonzaaier, Katinka Heyns.

Dit gaan ’n vroliker en meer ambisieuse fees wees, waarskynlik die laaste naweek in Maart of vroeg in April. Ons sal binnekort die besonderhede bekend maak sodat jy dit solank in jou dagboek kan aanteken.


Kom ons staan by die mense, nie die geweldenaars nie

Suid-Afrikaners is erg verdeeld oor wat in Israel/Gaza aangaan. Mense kies kant vir Israel of die Palestyne en steun dan dié kant blindelings, eet al die propaganda vir soetkoek op, en versprei dit dan ywerig verder.

Gemoedere loop hoog, veral op sosiale media, maar ook in openbare plekke. Ek was Saterdag (saam met duisende toeriste) by Kaapstad se Waterfront en is by drie plekke met luide pro-Palestynse betogings begroet.

Die aaklige Hamas-aanval op Israel en die gevangeneming van gyselaars het 50 dae gelede plaasgevind. Sowat 1 400 Israeli’s is doodgemaak. Sedertdien het Israel groot dele van Gaza met die grond platgevee en in die koers van 14 000 mense het al gesterf, omtrent almal burgerlikes en meer as 5 000 van hulle kinders.

Soos die bloedbad in New York en Washington op 11 September 2001 waarin 2 977 mense gesterf het, 9/11, gaan 7 Oktober 2023 en sy nasleep in die geskiedenis as ’n waterskeidingsoomblik opgeskryf staan. Die Midde-Ooste, bron van soveel onstabiliteit oor die dekades heen, gaan nooit weer dieselfde wees nie.

Dit beteken ons gewone mense, waar ons ook al is, moet hieroor nadink en ’n mening daaroor vorm.

Ek sou wou sê almal van ons moet ons sienswyse hieroor grond op die heilige beginsel dat elke menselewe ewe veel waarde het.

In die Judaïsme staan dit as b’tselem Elohim bekend: Alle mense is na die beeld van die Skepper geskape, soos die Christendom dit ook uit Genesis 1:27 aanvaar: “En God het die mens geskape na sy beeld.”

As ons nie dié beginsel en sy logiese konsekwensies aanvaar nie, gaan ons self ’n bietjie van ons menslikheid prysgee.

Die regering van Benjamin Netanyahu en baie Joodse aktiviste en hulle geesgenote, nes die leiers van Hamas, baie Moslemaktiviste en hulle geesgenote, sien dit duidelik nie só nie. Palestyne/Jode is per definisie inherent boos en behoort uitgeroei te word.

Dit is dié soort houding wat volksmoorde moontlik maak: die Tamils in Sri Lanka, die Tutsi’s in Rwanda, die Moslems in Bosnië en Herzegovina, die Darfuri in Sudan, die Rohingya in Myanmar en die Uyghur in China.

As jy hier lees, is jy waarskynlik een van die dieper-nadenkende mense in ons samelewing. Ek meen dit is mense soos ons se rol om balans na die Israel/Palestina-debat te bring.

Ons hoef nie “kant te kies” vir Israel en sy Amerikaanse/Europese ondersteuners of vir Hamas, Islamitiese Jihad, Iran of Isis nie.

Ons moet ons eerder aan die kant van die mense van Israel en die Palestynse gebiede skaar; die burgerlikes, die kinders, die vroue, die ouer mense.

Hamas se aanval op 7 Oktober was brutaal, barbaars en onvergeeflik, al het dit, in die woorde van die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, nie in ’n vakuum en sonder historiese konteks gebeur nie.

Israel se kollektiewe bestraffing van die mense van Gaza in reaksie op die aanval was ook brutaal, barbaars en onvergeeflik, al aanvaar ’n mens dat Israel nie die aanvanklike aanval ongestraf kan laat bly nie.

Ons hoef nie een dié twee kante te kies nie; ons behoort net die kant van die mense te kies.

As jy in Suid-Afrika lewe, is dit moeilik. Die Westerse (Engelstalige) media waarop ons vir ons internasionale nuus afhanklik is, laat ons elke dag subtiel verstaan dat ’n Joodse lewe kosbaarder as ’n Palestynse lewe is. Die Jode self herinner ons aan die Holocaust, so asof dit ’n lisensie vir wreedheid geslagte later gee.

Die ANC, EFF, Al Jama-ah, die vakbonde en die hardste Moslem-stemme wil ons weer laat glo dat alles wat met Israel te make het, ook die plaaslike Jodedom, van die duiwel besete is en dat Jode verdien om te boet.

Vir twee maande al hoor ons daagliks hoe boos die Palestyne is deur tonnels onder hospitale te bou om daarvandaan te opereer. En verlede week moes ons van die oud-Israelse premier, Ehud Barak, hoor dat die tonnels destyds deur die Israeli’s self gebou is. Nie dat dit Hamas die reg gee om onder hospitale te skuil nie.

CNN, Sky News en BBC World het die laaste paar dae vir ons roerende tonele gewys van die Israelse gyselaars wat vrygelaat en deur hulle geliefdes verwelkom word. Ek was saam met hulle bly.

Maar ons het niks gesien van die Palestynse aangehoudenes wat met hulle geliefdes verenig is nie – die Israelse weermag het dit nie toegelaat nie. Die minister van sekuriteit het verklaar dat mense wat die Palestynse vrygelatenes verwelkom, ook as terroriste gesien sal word.

Die meeste van die Palestyne op die lys van 300 mense wat vrygelaat moet word, is self ook niks anders as gyselaars nie. Hulle is in Palestynse gebiede gevange geneem en sonder verhoor in Israelse tronke aangehou.

Volgens die Israelse regering self was 15 van die eerste 39 vrygelate Palestyne minderjarig; 10 van dié jeugdiges is nooit verhoor nie; 24 was vroue, van wie net een ooit verhoor is.

Daar is tans 8 300 Palestyne in tronke in Israel. Meer as 3 000 van hulle word ingevolge “administrative detention” aangehou, wat beteken hulle word nie formeel aangekla nie en het nie regshulp nie. 

@cnn

CNN's Nima Elbagir explains why Palestinian families who have had their family members released as part of the hostage deal with Israel may be too scared to celebrate their return. #CNN #News #Israel #Palestinians

♬ original sound - CNN

Hier ter plaatse het ons die EFF wat wil hê die Joodse skool in Kaapstad, Herzlia, moet gesluit word; ons het die oudburgemeester van Johannesburg, Thapelo Amad, met ’n aanvalsgeweer op sosiale media gesien waar hy die vernietiging van Israel bepleit het; ons het die leier van Al Jama-ah, Ganief Hendrickse, wat in die parlement gevra het dat die Israelse ambassade opgeblaas en die Israelse vlag verbied word.

Albei “kante” is skuldig aan kru propaganda en disinformasie. Ek kyk na CNN, Sky en BBC, maar ook na Al Jazeera, wat weer ’n Palestynse vooroordeel het. Ek gaan soek my inligting op plekke wat nie deel is van die propaganda-oorlog nie. Die Israelse Sentrum vir Menseregte, B’Tselem, is een so ’n bron: www.btselem.org.

Kom ons stuur die godsdienstige fundamentaliste, die ultra-nasionaliste, die magsugtiges, die ideoloë, die geweldenaars en die haatsmouse na die warm plek toe, en gee net om vir die mense wat in dié konflik ly.


Die koms van Ligia

Ligia bel en sê sy kom
en ek moet op die kerktrappies wag
om te wys waar is my huis, ons
bly langs die kerk êrens, i klein groen huisie nommer ses.
Ligia bel en sê sy kom môre
Ma & Pa sê ek sy's portugees
rooms-katoliek en donker & lig & lieg ineen
oor sewe seë het sy gekom, môre kom sy
na ons klein pistachio-huisie nommer ses

- Gert Vlok Nel

Uit: om te lewe is onnatuurlik

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.