Groen lig vir nuwe 3-in-1-Eskom, en optrede teen 4 LP’s

WOENSDAG MET WILLEM

Groen lig vir nuwe 3-in-1-Eskom, en optrede teen 4 LP’s

WILLEM KEMPEN vra meer openheid en eerlikheid oor beurtkrag, en vertel die storie van Jack Parow en die Egiptiese haarkappers. Plus sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 29 November 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Wêreldbank het as een van Eskom se grootste krediteure toestemming gegee vir die onderneming se ontbondeling in drie entiteite – opwekking, transmissie en verspreiding. Dit beteken onder meer dat 'n maatskappy nou gestig kan word wat vir nasionale transmissie verantwoordelik sal wees.

2. Die parlement het aanbevelings van tugoptrede van die gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange teen vier LP's aanvaar. Hulle is Dipuo PetersBheki Cele en Nomsa Kubheka van die ANC, en Floyd Shivambu van die EFF. Die swaarste straf is vir Peters, wat geskors is uit alle parlementêre debatte en sittings, komiteevergaderings, funksies en bedrywighede vir die res van die oorblywende maande van die sesde parlement. Sy behou haar salaris. Dit spruit uit haar betrokkenheid by staatskaping toe sy nog minister van vervoer onder Jacob Zuma was.

3. Naasbestaandes van die 11 werknemers van Impala Platinum in Rustenburg wat Maandagaand dood is toe 'n kabel gebreek het wat 'n hysbak laat val het, het gister by skag 11C byeengekom om afskeid te neem. 'n Verdere 75 mense is beseer en in vier hospitale in die omgewing opgeneem, het Business Day berig.

4. ArcelorMittal SA (Amsa), die land se grootste staalprodusent, het gewaarsku dat sowat 3 500 werkers afgedank kan word weens 'n besluit om 'n deel van sy besigheid uit bedryf te stel met die oog om dit dalk later te hervat. Die maatskappy gaan met 'n artikel 189a-proses begin en “sal voortgaan om regstreeks met die regering in gesprek te tree gedurende hierdie proses”. Amsa se aandeleprys is tans sowat 70% laer as wat dit aan die begin van die jaar was.

5. Die Wes-Kaapse regering het 'n amptelike geskil verklaar met die nasionale regering. Die Wes-Kaap wil hê die nasionale tesourie moet bydra tot die koste van salarisverhogings in die staatsdiens waarvoor die provinsie nie begroot het nie. Die dispuut is verklaar ingevolge die Wet op die Raamwerk vir Interregeringsverhoudinge.

6. Die houerkaai in die Kaapstadse hawe het teen gister die grootste deel van die agterstand in vraghantering ingehaal, het Transnet Port Terminals aangekondig. Teen gistermiddag was daar glo net een vragskip wat nog voor anker gewag het.

7. Reddingswerkers in Indië het ál 41 die konstruksiewerkers wat vir 17 dae in 'n ineengestorte tonnel in die Himalajas vasgekeer was, in veiligheid gebring.


Daar is 'n waarskuwing oor 'n hoë brandgevaar in die Noord-Kaap, Vrystaat en Limpopo, asook oor swaar donderbuie oor KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga. Die grootste deel van die land kan steeds baie warm toestande en buie en donderbuie verwag, behalwe vir die Wes-Kaap, waar dit baie warm maar net deels bewolk sal wees.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 28°C • Mahikeng 32°C • Mbombela 30°C • Bloemfontein 31°C • Polokwane 32°C • Kimberley 32°C • Upington 37°C • Kaapstad 26°C • Gqeberha 23°C • Oos-Londen 23°C • Durban 23°C.


Willem Kempen | Desperate ANC hoop om met Steak nog ’n verkiesing te wen

Vir dié wat nie weet nie: “Steak" staan vir Sideshows, Tricks En Ander Kak. Steak is al strategie wat die eens magtige bevrydingsbeweging oor het.

Die beste van die lang lys voorbeelde hiervan is beurtkrag. Dit was nog altyd ontwrigtend en onwelkom, maar dit was darem ook 'n manier om die krisis te bestuur en het 'n mate van beplanning moontlik gemaak. Nou is dit nie eens meer dit nie. Nou spring ons binne ure sommer met twee fases, as dit nie eintlik nog meer is nie.

Die een oomblik sê ons “minister van elektrisiteit" die een ding, die volgende oomblik sê die ANC se komieklike Sergeant-at-arms die teenoorgestelde. Tussendeur het Eskom se direksie ook nog soms 'n eiertjie te lê; dis nou as hulle nie hard aan die werk is aan hulle “rebranding" nie.

Lees bietjie hierdie van Kgosientsho Ramokgopa: “That is why unit 2 of Kusile is important and unit 5 is important. We are targeting unit 2 to come on line at the end of the month and unit 5 by the third week of December. Once you build that buffer, the rate at which we intensify load-shedding might not be as severe.” 

The rate at which we intensify load-shedding might not be as severe.

G'n prysgeld vir watter deel van Steak dié sinnetjie verteenwoordig nie.

Ons weet Eskom produseer tans op die allerbeste dag – en ons het baie lanklaas so 'n dag gesien – ongeveer tweederdes van die elektrisiteit wat in 2002 moontlik was. Ons weet ons moes vanjaar meer beurtkrag hanteer as in enige vorige jaar. Ons weet daar is nie maklike of vinnige oplossings nie, maar asseblief: Hou minstens op om vir ons te lieg.

Maar dan weer, waarom ophou lieg as dit so goed werk? As die president kamtig trots langs 'n nuwe waterkraan in KZN kan gaan staan as 'n goeie voorbeeld van “A better life for all"?

Of as die premier van Limpopo skaamteloos spog met die rye en rye nuwe voertuie wat aan die provinsie se “Senior Traditional Leaders" oorhandig is, nogal ewe gemerk met #LeaveNoOneBehind en #LetsGrowLimpopoTogether. Kan daar enige ander verklaring wees vir duur presente uit die staatskas vir bakkies vir mense wat alreeds 'n salaris van die staat kry as dat dit is om hulle om te koop om “hulle" mense sover te kry om nogmaals vir die ANC te stem?

Hoe lank gaan hulle almal nog aanhou sluk aan die ANC se Steak?


Kappit cooler as ekke by die haarsalon

As dit kom by materiaalwinkels, tandartse, rybewys-toetssentrums en haarkappers, lyk dit my daar is 'n algemene gevoel dat die bestes van hulle nooit nader as 50km van jou eie huis af te vinde is nie. Die nodige ervaring, kundigheid, verskeidenheid van produkte, ingeligtheid oor die nuutste giere en tegnieke, en algemene begrip vir ander mense se pyndrempel is net beskikbaar as jy bereid is om 'n entjie te ry. Daarom kom jy dikwels op pad na een van daardie plekke iemand van voor af teë wat naby jou woon en al weer op pad is terug huis toe.

In die geval van haarkappers is daar 'n verdere dimensie: Hulle woon om een of ander rede dikwels nie naby hulle werkplek nie, afgesien nou van dié wat van die huis af werk. Dit beteken daar is mense wat in dieselfde straat as hulle haarkappers woon, maar hulle dan op 'n dag 'n uur se ry weg van daar in dieselfde haarsalon bevind, as kapper en gekapte.

Ek self wil nie moeite doen om ver te ry vir 'n haarkapper nie. Ek wil ook nie baie geld daarvoor uithaal nie. Ek wil dit net agter die rug kry, en ek is altyd vies oor mens nie betaal word vir die hare wat hulle afsny en sommer vir hulleself vat nie. Bowenal verpes ek die praatjies wat haarkappers blykbaar as deel van hulle dagtaak beskou.

Daarom was ek 'n jaar of drie gelede baie bly toe 'n nuwe haarkapper in die plaaslike mall oopgemaak het, een wat mans se hare sny maar terselfdertyd nie lyk of hulle al hulle style in Full Metal Jacket afgekyk het nie. Hier word jou hare gesny deur een van 'n pa of twee seuns wat hulle pas tevore van Egipte af hier kom tuismaak het en omtrent nie 'n woord Engels verstaan nie, wat nog te sê Afrikaans. Dus: geen praatjies nie, net 'n paar wedersydse gebare wat die vaagste van vrae en versoeke probeer oordra. Verdere bonus: Minstens twee van die drie se noemnaam is Mohammed, wat dit baie makliker maak om voor te gee dat jy een van hulle se naam onthou van die vorige keer dat jy daar was.

Ek het destyds gewonder hoeveel van die boere en die Boere hier in my omgewing hulle hare deur 'n Mohammed sal laat kap, maar watwou: Vrydagmiddae staan die manne selfs soms buite die deur in 'n tou en wag tot die gebede verby is. (Dalk is daar iets voor te sê om jou hare te laat sny deur iemand wat voor die tyd eers bid.) 

Die ander ding wat ek gedag het die omgewing se mense van die Egiptenare sou afsit, is die Arabiese halfspoed-rapmusiek wat hulle onophoudelik in die salon speel. Mý pla dit nie; rap is dikwels eintlik beter as mens nie verstaan wat hulle sê nie, en dis selfs soms lekker om betekenis te probeer uitmaak tussen al die vreemde woorde, veral as Mohammed en sy broer saggies saamsing.

Dis in einste so 'n situasie wat ek my bevind toe ek Maandag weer daar in die stoel sit. Die Arabiese musiek vloei uit die luidspreker op die toonbank, en terwyl 'n pa vir een van die Mohammeds verduidelik hoe sy seuntjie se hare gesny moet word, laat hoor die broer (of was dit Mohammed?) uit die bloute die eerste Afrikaanse woorde wat ek nog ooit uit sy mond gehoor het: “Sny alles af!"

Almal in die salon lag lekker saam vir dié onverwagse humor, en dit gee ook 'n vrou wat eenkant in 'n hoek sit die moed om versigtig iets te vra wat sy duidelik al lank brand om te vra: “Can you please play some English or Afrikaans music?"

Die broers kyk so vir mekaar en glimlag; die een haal sy foon uit en kies iets anders. Die volgende oomblik skater dit in die salon terwyl die onmiskenbare stem van Jack Parow oor die luidspreker blom.

Die vrou lag saam, maar sy lyk nogal verleë, en ek sweer sy moes hard baklei teen die drang om te sê: “Ag, in that case, please put your own music back on."


To the Miscodeed

Sweet pink of northern wood and glen,
E’er first to greet the eyes of men
In early spring — a tender flower
Whilst still the wintry wind hath power.
How welcome, in the sunny glade,
Or hazel copse, thy pretty head
Oft peeping out whilst still the snow,
Doth here and there, its presence show
Soon leaf and bud quick opening spread
Thy modest petals — white with red
Like some sweet cherub — love’s kind link,
With dress of white, adorned with pink

- Jane Johnston Schoolcraft

Uit: The Sound the Stars Make Rushing Through the Sky: The Writings of Jane Johnston Schoolcraft

* Miscodeed is 'n klein blommetjie

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.