G’n immuniteit vir Trump, en SA het nou 27,4 miljoen kiesers

WOENSDAG MET WILLEM

G’n immuniteit vir Trump, en SA het nou 27,4 miljoen kiesers

WILLEM KEMPEN dink die Mededingingskommissie moet iets nuut kry om hulle mee besig te hou, en wonder waarom Mpumalanga se steenkool-heavies glo nie meer Suid-Afrikaners vertrou om hulle te beskerm nie. Soos gewoonlik is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 07 Februarie 2024
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het in die tweede en laaste registrasienaweek 1,2 miljoen mense by die kieslys gevoeg. Die totaal staan nou op 27,4 miljoen. Die verkiesingsdatum sal deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig word ná konsultasie met die OVK, en waarskynlik in môreaand se staatsrede.

2. Die Appèlhof het Vodacom beveel om 'n nuwe vergoedingsbedrag vas te stel vir die “Please Call Me"-uitvinder Nkosana Makate. Die nuwe bedrag moet binne 'n maand gefinaliseer word nadat die hof Shameel Joosub, Vodacom se uitvoerende hoof, se vorige bedrag van R47 miljoen as “onredelik" bestempel het.

3. Die magdom nuwe politieke partye wat later vanjaar aan die verkiesing gaan deelneem, sal min effek hê op die ondersteuning wat die ses groot politieke partye (die ANC, DA, EFF, IVP, ActionSA en VF Plus) geniet, blyk uit 'n peiling wat laat verlede jaar deur die Inclusive Society Institute gedoen is. Die ANC sal volgens dié peiling ’n massiewe afname in gewildheid beleef, maar sal die party met die grootste steun bly.

4. Bafana Bafana het gister die slegte nuus gekry dat Thapelo Maseko nie aan die res van die stryd om die Afrikabeker sal kan deelneem nie nadat hy sy dyspier in die kwarteindstryd teen Kaap Verde getrek het.

5. Die Springbokke het bevestig dat Rassie Erasmus nou amptelik as hoofafrigter sal dien tot aan die einde van 2027 se Wêreldbekertoernooi in Australië.

6. Voorlopige data van die Sentrale Energiefonds dui op verdere stygings in die prys van alle grade brandstof in Februarie. Die AA het in kommentaar op die data gesê die verligting wat motoriste die afgelope drie maande geniet het, is vir eers verby.

7. 'n Federale hof het beslis dat Donald Trump nie presidensiële  immuniteit teen vervolging het op aanklagte dat hy die uitslag van 2020 se verkiesing omver probeer werp het nie. Dit beteken 'n ongekende strafsaak teen 'n voormalige president sal kan voortgaan, het Reuters berig.


Die Weerdiens waarsku weer oor 'n uiters hoë brandgevaar vir dele van die Noord- en Oos-Kaap, asook Vrystaat, Noordwes en Limpopo. Hittegolf-toestande word tot en met Donderdag oor Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en Vrystaat verwag. Buie kan in die Noord- en Oos-Kaap, Mpumalanga, Limpopo, Vrystaat en KwaZulu-Natal verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 35°C • Johannesburg 33°C • Mahikeng 37°C • Mbombela 31°C • Bloemfontein 33°C • Polokwane 33°C • Kimberley 34°C • Upington 34°C • Kaapstad 24°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 32°C • Durban 32°C.


Willem Kempen | Hou tog nou op om julle eie rand-gat dieper te wil grawe

Dit lyk kompleet of die Mededingingskommissie besig is met 'n soort omgekeerde Stalingrad-strategie as dit kom by banke se beweerde manipulasie van die rand se ruilwaarde – hou aan met vervolging selfs al word die gate in jou saak keer op keer uitgewys. Hopelik is die ooreenkoms met die Zuma-manier van doen toevallig ...

Die nuutste is dat die Kommissie nou die Konstitusionele Hof wil vra om die Mededingingsappèlhof (CAC) se beslissing van Januarie om te keer. Die CAC het die saak teen 14 buitelandse en drie groot Suid-Afrikaanse banke uitgegooi, en hoofsaaklik die sake laat oorbly waarin buitelandse handelaars reeds in 2015 skuldig bevind is nadat hulle deur die Amerikaanse departement van justisie aangekla is.

In die byna nege jaar sedertdien is nog feitlik niks gevorder om enigiemand suksesvol te vervolg nie. Inteendeel: Die CAC het in Januarie gesê die Kommissie het nie net misluk om sy saak te bewys nie, maar het basiese feite verkeerd gehad, en hulle het sommige banke aangekla waar daar geen bewyse was dat personeel betrokke was by enigiets onreëlmatig nie. Om duistere redes het die Kommissie selfs besluit om 21 banke van 'n “enkele, oorkoepelende sameswering" aan te kla, iets wat nie net baie moeiliker is om te bewys as afsonderlike misdade nie, maar waarvan daar nooit regtig sprake was nie. Nog belangriker is dat die Kommissie nie kon bewys dat die manipulasie wat wel plaasgevind het, hoegenaamd die Suid-Afrikaanse ekonomie wesenlike skade aangedoen het nie.

In die geval van die betrokke buitelandse banke, waaroor die appèl na die Konstitusionele Hof hoofsaaklik gaan, doen die meeste van hulle glad nie eens sake in Suid-Afrika nie. Kommissaris Doris Tshepe sê: “This appeal will provide the Constitutional Court with an opportunity to pronounce on whether the SA competition authorities have jurisdiction to investigate and prosecute firms that are based outside the republic whose anticompetitive conduct affects the SA economy.” Huh?

Die Kommissie sê in 'n verklaring oor die appèl: “South Africans will not rest until they are provided with answers whether or not these banks colluded and fixed the price of the rand-dollar currency pair between the years 2007 and 2013."

Nee, dis juis die Kommissie wat moet “give it a rest". As daar iets is wat nog ondersoek moet word, veertien jaar gelede of verlede week, laat dit oor aan die Reserwebank, waar kundige mense verstaan hoe valutamarkte werk en hoe om oortreders vas te vat. Enigiets anders is 'n verdere mors van tyd, geld en energie.


And let slip the Coal War dogs

Ek verneem op bedenklike gesag dat minstens sommige van die steenkool-warlords van Hoëveldse Mpumalanga deesdae hulle neuse optrek vir Suid-Afrikaanse “bodyguards" (eintlik maar huursoldate). Diés uit iewers in Wes-Afrika is glo baie beter opgelei en meer betroubaar, al is hulle soms ook duurder, veral as hulle ingevoer moet word.

My bron hiervoor, wat ek dadelik sal toegee nie ten tyde van ons gesprek volkome nugter was nie, vertel my hy kom onlangs na sy bakkie aangestap waar dit reg langs 'n plaaslike steenkoolbaas se donkerruit-spogmobiel geparkeer staan. Dis nou in een van daai dorpies wat eintlik nog net bestaan uit potholes en 'n Cash Loan en die laaste reste van 'n kragstasie (en als wat daarmee saamgaan). Een van daai dorpies waaroor Gwede Mantashe so besorg is.

In elk geval, twee parate ystervleise met body armour en urban camo en swart berets en aanvalsgewere en so 'n Stallone-houding staan wag buite Steenkoolbaron se vuur-by-vuurwa. Dalk is die res van die security detail in een van die winkels saam met die baas, wie weet. Dalk is hierdie storie getrouer aan die atmosfeer van die gebeure as aan die akkuraatheid van die detail, wie weet.

My vriend, synde iemand wat 'n stewige klap moedswilligheid weg het, kom toe ook agter dat die gebruiklike karwag nêrens te siene is om getip te word nie. 'n Geleentheid wink, dag hy.

Hy haal die kleingeld wat vir die karwag bedoel was uit sy sak en loop met sy arm uitgestrek daarmee in sy hand na wat vir hom lyk na die junior van die twee steenkoolsoldate. “Thank you!" sê hy, dalk op daardie unieke manier waarop Suid-Afrikaners dankbaar probeer klink vir iets wat hulle in die eerste plek nie wou gehad het nie maar nogtans bereid is om voor te betaal.

Junior lyk verward, maar voor hy die geld kan vat of iets kan sê, is Stallone Senior tussenbeide: “We are not car guards," in 'n afgepiste toon en 'n aksent wat Nigeries kan wees.

Ons soek nie jou kleingeld nie, by implikasie.

Maar Junior, wat hom vermoedelik effens laer af op die paramilitêre loonskaal bevind, se beginsels is minder rigied: “You can bless me if you want?"

My vriend het 'n oomblik gewonder oor die moontlike implikasies daarvan om dié soort gap cover sommer so in die oopte te betaal, en mens weet nooit of die mynbaas wat opgepas word 'n Chinese konneksie ook het nie, want dan is die rules of engagement weer heel anders.

Maar hy betaal die man toe maar. Hy hét immers aangebied.

En dalk kom dit eendag handig te pas om in die goeie boekies te wees van iemand wie se werk dit is om 'n Hoëveldse steenkoolbaas aan die lewe te hou. Wie weet?


First frost

A girl is freezing in a telephone booth,
huddled in her flimsy coat,
her face stained by tears
and smeared with lipstick.

She breathes on her thin little fingers.
Fingers like ice. Glass beads in her ears.

She has to beat her way back alone
down the icy street.

First frost. A beginning of losses.
The first frost of telephone phrases.

It is the start of winter glittering on her cheek,
the first frost of having been hurt.

- Andrei Voznesensky

Uit: Antiworlds

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.