VSA maak nuwe geluide oor Gaza; EFF maak amok oor kitskonstabels

DINSDAG MET ANESCA SMITH

VSA maak nuwe geluide oor Gaza; EFF maak amok oor kitskonstabels

ANESCA SMITH skryf oor die dood van Alexei Navalny en die belang van die rouproses. WILLEM KEMPEN wonder hoeveel die minister van finansies se eie mening gehoor gaan word wanneer hy môre sy begrotingsrede lewer. Daar is ook weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 20 Februarie 2024
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

Jy sal moet spring as jy nog nie 'n VWB-intekenaar is nie – ons spesiale Februarie-aanbod staan einde se kant toe. Kliek hier om in te teken.

1. Panyaza Lesufi se provinsiale rede is gister ontwrig toe lede van die EFF onder meer beswaar gemaak het teen die teenwoordigheid van sogenaamde Amapanyaza buit die Nasrec-konferensiesentrum. Lede van die gehoor het mekaar met waterbottels en ander voorwerpe gegooi en sommige mense het later uitgeloop terwyl Lesufi nog met sy toespraak besig was.

2. Die Spesiale Ondersoekeenheid (SIU) is deur die president gemagtig om bewerings van ernstige wanadministrasie en korrupsie oor byna 20 jaar met die uitreiking van permitte en visums deur die departement van binnelandse sake te ondersoek.

3. Die ANC het gistermiddag net voor 17:00 die spertyd gehaal om dokumente oor kaderontplooiing aan die DA te oorhandig. Die DA het onderneem om als te publiseer sodat die publiek ook toegang daartoe kan kry.

4. Pres. Cyril Ramaphosa moes sy persoonlike geldsake aan die ANC se verkiesingskomitee uiteensit voordat hy goedkeuring gekry het om weer aan die spits van die party se verkiesingsveldtog te staan, het News24 berig. Die komitee is gelei deur oudpres. Kgalema Motlanthe en is glo deel van 'n poging om nog 'n verleentheid soos Phala Phala te voorkom.

5. Die VSA het 'n alternatiewe konsepresolusie van die VN se Veiligheidsraad voorgestel wat vra vir 'n tydelike skietstilstand in die Israel-Hamas-oorlog. Die resolusie is ook gekant teen 'n groot Israeliese grondoffensief in Rafah in die suide van Gaza, het Reuters gistermiddag berig.

6. Eskom se sogenaamde energie-beskikbaarheidsfaktor is steeds naby aan rekord-laagtepunte, het Netwerk24 berig. Dié syfer dui op die deel van Eskom se totale opwekkingsvermoë wat op 'n gegewe tydstip beskikbaar is, en was verlede week so laag as 53%. Die laagtepunt van 48,6% is in die eerste week van vanjaar aangeteken.

7.  'n Konferensie met die tema “Oplossings vir Suid-Afrika se platteland" vind vandag en môre op Nampo-park buite Bothaville in die Vrystaat plaas. Meer as 60 kritieke rolspelers woon die konferensie by, wat deur Landbouweekblad en Senwes gereël word. 


Daar is 'n waarskuwing vir 'n hoë brandgevaar vir dele van die Kaapprovinsies, Noordwes en die Vrystaat met uiters warm temperature wat verwag word, insluitend hittegolftoestande. Buie en donderbuie kan in Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en KwaZulu-Natal verwag word. Ligte reën word vir dele van die Oos-Kaap voorspel.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 32°C • Johannesburg 31°C • Mahikeng 35°C • Mbombela 29°C • Kaapstad 26°C • Durban 28°C • Kimberley 39°C • Bloemfontein 36°C • Polokwane 29°C • Upington 43°C • Gqeberha 30°C • Oos-Londen 29°C.


Willem Kempen | Begroting 2024:
Ons gaan almal saam vir die gelag betaal

Daar is maar min tekens dat die staatsbegroting wat môre deur die minister van finansies in die parlement ter tafel gelê moet word, enigiets anders as die regerende party se eie oorlewingsdrang gaan weerspieël. “Kom ons red eers die ANC, dan kan ons die ekonomie probeer red as daar ná die verkiesing dalk nog geld oor is."

Behalwe dat die geld reeds op is, en dat die ANC nie meer gered kan word nie.

'n Mens kan ook maar net bespiegel oor watter stem in die regerende party die hardste gehoor is toe die staat se begrotingsprioriteite vir die volgende 12 maande bepaal is. Die president? Gwede Mantashe? Dalk selfs Fikile Mbalula, veral op die dae dat die wag voor sy mond op AWOL is? Paul Mashatile, 'n man wat die kuns vervolmaak het om sy persoonlike geldsake foutloos in gelid met dié van die regerende party en die staat te laat marsjeer?

Hoeveel gewig dra Enoch Godongwana se eie stem, of het hy ook nou maar opgegee? Luister iemand na Lesetja Kganyago van die Reserwebank, soos wanneer hy waarsku teen die gevare daarvan om reserwebates te verkoop om die staat se boeke te laat klop?

Dis die president van die land se plig en verantwoordelikheid om al hierdie dinge behoorlik te oorweeg en rigting te gee oor die pad wat ons almal saam vorentoe moet loop. Maar wat doen hy? Hy maak in die parlement grappies oor dinge soos die nasionale gesondheidsversekering, ten spyte van al die legitieme waarskuwings dat dit op nóg 'n ramp afstuur.

Tog is die president “convinced" dat die ANC weer die verkiesing gaan wen; selfs dat dit 'n “decisive victory" gaan wees. Wat 'n jammerte dat daar in omtrent niks anders wat hy doen dieselfde conviction en decisiveness is nie.


Oor Alexei Navalny en doodsrituele

Daar was iets ontroerends aan om te hoor hoe die moeder van die Russiese opposisieleier en politieke gevangene, Alexei Navalny, die regering die afgelope naweek moes gaan vra vir sy liggaam. Net om van Pontius na Pilatus gestuur te word.

Eers is sy na die strafkamp waar hy Vrydag ná ’n wandeling glo net dood neergeval het. Ná twee ure se wag doen 'n amptenaar uiteindelik die moeite om uit te kom. Nee, die liggaam is vervoer na ’n nabygeleë dorp, Salekhard, word sy ingelig. By die lykshuis in Salekhard aangekom, hoor sy en Navalny se prokureur die liggaam is ook nie daar nie. Die staat gaan eers ondersoek na sy dood instel voordat die liggaam aan die familie oorhandig sal word.

Dit sal gelowiges laat dink aan 'n oomblik in die Bybel toe ’n ryk man, Josef van Arimatea, na Pilatus gegaan het om ná die kruisiging van Jesus Christus vir sy liggaam te vra. Josef wou glo nie dat die liggaam oornag aan die kruis hang nie en wou seker maak Jesus kry ’n eerbare begrafnis. Hiermee sou hy die Jode se godsdienstige wette verbreek het, wat voorskryf dat ter dood veroordeeldes geen eerbare begrafnis kry nie.

Dít moes moed gekos het, dink jy as gelowige dan. Net soos dit die 47-jarige Navalny moed gekos het om keer op keer teen die obsene mag van iemand soos Vladimir Putin op te staan. Politici soos hy is dun gesaai. Mense soos hy is dun gesaai.

Soos een plakkaat van ’n Navalny-roubeklaer Saterdag gelui het: “It was murder in slow motion.” Want die Russiese regime het al in 2020 probeer om Navalny te vergiftig. Ná suksesvolle behandeling in Duitsland besluit hy om tóg na sy tuisland terug te keer. Jy het toe al geweet: daar loop 'n dooie man.

Talle van ons het al met boelies in ons lewe te make gehad. Uit sommige se kloue ontsnap jy deur uit ’n huwelik te stap. Of van werk te verander. Putin is nie daardie soort boelie nie. Hom kry jy nie van jou rug af deur sanksies in te stel of kontak te verbreek nie. En die enigste land in Europa wat dít klaarblyklik goed besef, is Pole wat – hoor ek die naweek oor die nuus – besig is om vinnig en onvermoeid die grootste militêre mag in Europa te bou. Miskien weet hulle ook dat dit nie die laaste Putin gaan wees nie, want ons leef nie in ’n era van vredemakers nie.

Ek hoop Navalny se liggaamlike oorskot word binnekort aan sy familie oorhandig. Nie omdat ons regtig gaan uitvind wat die oorsaak van sy dood is nie, maar omdat die liggaam en die rituele rondom die afskeid – om dit op ’n eervolle manier te doen – so ’n belangrike deel van die rouproses is.

Ek onthou 2014 – ’n jaar nadat ek in Nederland kom woon het – toe Russiese magte vlug MH17 bo Oekraïne neergeskiet het. Ek onthou die trein wat vyf dae ná die ramp uit Oekraïne vertrek en deur die nag oor lande heen gespoed het om die liggame van die slagoffers huis toe te bring.

Want om die liggaamlike oorskot van iemand nog vir oulaas by jou te hê bring nie net die realiteit van die persoon se dood tuis nie, maar ook hoe ons in die toekoms ’n nuwe verhouding met die persoon gaan bou.

Mooi week.

Anesca


Dis ’n jammerte, ons was so ’n goeie uitvindsel

Hulle het ons bene
By die heup afgesit.
Wat my aanbetref
Is hulle almal snydokters. Almal van hulle.

Hulle het ons ontmantel
Van mekaar vervreem.
Wat my aanbetref
Is hulle almal ingenieurs. Almal van hulle.

Dis 'n jammerte.
Ons was so 'n goeie
En liefdevolle uitvindsel.
'n Vliegmasjien geskep uit man en vrou.
Met vlerke en ieder al.
Ons het bo die aarde gesweefhang.

Ons het selfs 'n bietjie gevlieg.

– Yehuda Amichai (soos vertaal deur Bester Meyer)

Van: Versindaba

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.