SA gaan op Woensdag 29 Mei na die stembus

WOENSDAG MET WILLEM

SA gaan op Woensdag 29 Mei na die stembus

ANNELIESE BURGESS skryf oor die konferensie op Nampopark buite Bothaville waar 'n hele rits organisasies planne maak om die land van ondergang te red. WILLEM KEMPEN meen dié ding is nie net nog 'n gier nie, en soos gewoonlik is daar sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 21 Februarie 2024
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

Jy sal moet spring as jy nog nie 'n VWB-intekenaar is nie, want ons spesiale Februarie-aanbod verstryk amper. Kliek hier om in te teken.

1. Pres. Cyril Ramaphosa het gisteraand die verkesingsdatum aangekondig: Woensdag 29 Mei.

2. In 'n internasionale operasie wat deur die FBI en Brittanje se National Crime Agency gelei is, is verskeie lede van die berugte Lockbit-kuberbende in hegtenis geneem, het Reuters berig. Lockbit is glo agter verskeie prominente kuberaanvalle wêreldwyd waarin groot maatskappye en staatsinstellings se rekenaarnetwerke gekaap is waarna 'n losprys geëis is om dit weer beskikbaar te stel.

3. Die jongste data van Statistieke SA wys dat die werkloosheidskoers in die vierde kwartaal van verlede jaar tot 32,1% gestyg het vanaf 31,9% in die vorige kwartaal. Die aantal mense met 'n formele werk het met 22 000 tot 16,7 miljoen gedaal.

4. Die eerste menslike pasiënt in wie 'n Neuralink-breinskyfie ingeplant is, het glo ten volle herstel en kan reeds 'n rekenaarmuis beheer deur slegs breinfunksie (gedagtes) te gebruik, het Elon Musk op X gesê.

5. Die Konstitusionele Hof het eenparig geweier om die saak aan te hoor waarin die Appèlhof Jacob Zuma se private vervolging van die staatsaanklaer Billy Downer en die joernalis Karyn Maughan ongeldig verklaar het. Selfs met die mees verbeeldingryke regspleging kan die saak nie nou verder deur die howe vorder nie.

6. Gauteng se provinsiale regering het ’n staatsinstelling genader om die geld te leen wat nodig is om sy deel van die nuwe finansieringsmeganisme vir die Gautengse snelwegopgradering te dek sodra die e-tolstelsel geskrap is. Dié stelsel sal oplaas op 31 Maart heeltemal iets van die verlede wees, het premier Panyaza Lesufi gesê. Hy het gister erken die onderhandelinge hieroor was “moeilik”.

7. Pres. Cyril Ramaphosa het die Spesiale Ondersoekeenheid (SIU) gemagtig om die ondersoek by Prasa uit te brei. Dit gaan onder meer oor die toekenning van 'n tender in 2015 wat gelei het tot die verkryging van onvanpaste lokomotiewe sowel as die betaling van spookwerknemers.


Hittegolf-toestande duur voort oor dele van die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes. Daar is ook 'n hoë brandgevaar vir dele van die Wes- en Noord-Kaap. Dit word egter vandag baie warm oor meeste dele van die land, hoewel buie en donderbuie ook oor die binneland verwag word asook die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 34°C • Johannesburg 31°C • Mahikeng 35°C • Mbombela 27°C • Bloemfontein 38°C • Polokwane 32°C • Kimberley 38°C • Upington 38°C • Kaapstad 24°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 26°C • Durban 29°C.


Anneliese Burgess | Oplossings vir die platteland. Oplossings vir Suid-Afrika.

’n Merkwaardige byeenkoms van 77 organisasies van regoor Suid-Afrika wat op een of ander manier ingespring het om te doen wat die regering behoort te doen, vind tans buite Bothaville in die Vrystaat plaas. Water. Paaie. Behuising. Elektrisiteit. Riool. Vullis. Skole. Kinderhuise. Sopkombuise. Groentetuine. Sportspanne. Landelike innovasie. Boerdery-samewerking.

Een só ’n projek gebeur in Frankfort in die Vrystaat toe ’n paar inwoners in 'n stadium in 2015 besluit het genoeg is genoeg – as daar langer gewag word, gaan die dorp se infrastruktuur heeltemal uitmekaar val. Hans Pretorius was een van die leiers van die plattelandse revolusie wat hulle van stapel gestuur het: “Suid-Afrika se platteland kan nie wag vir die regering nie, want daar is geen politieke wil of geld nie. As gemeenskappe nie betrokke raak nie, is daar eenvoudig geen hoop nie.”

En so het hy ’n aandeelhouer geword in 'n sonplaas wat op sy plaas gebou is om die dorp van beurtkrag te “bevry”. 

Jannie Schabort is vyfde generasie-boer, en staan vandag aan die hoof van die Mafube Business Forum (MBF), ook een van die uitvloeisels van die Frankfortse gemeenskap se besluit om op te hou wag vir die regering om gehoor te gee aan die behoeftes van plattelandse gemeenskappe.

Die MBF het begin as ’n protesaksie van die plaaslike boerevereniging teen die munisipaliteit se skerp verhogings van heffings op landbougrond. Met geen munisipale dienste om van te praat nie, verklaar hulle 'n dispuut met die munisipaliteit en betaal die belastinggeld in ’n trustrekening. Dit word toe gebruik om munisipale dienste weer aan die brand te skop in die vier dorpies wat deel van die Mafube-munisipaliteit is. Vandag staan die MBF aan die voorpunt van verandering in dié dorpe en sorg hulle dat basiese dienste – van vullisverwydering tot die regmaak van slaggate en voorsiening van skoon water – weer gebeur.

Dit was een van byna tagtig projekte wat by die konferensie bespreek is. Die doel is om ervarings te deel sodat die projekte oor die land gerepliseer kan word. “Ons wil 'n bloudruk hê vir hoe ons Suid-Afrika gaan red," sê Chris Burgess, een van die organiseerders. “Ons land is gebreek, en die oplossings gaan nie van ons regering kom nie, die oplossings gaan van ons kom. En as ons die platteland red, red ons die land."

Of, in die woorde van Jannie de Villiers, 'n vorige uitvoerende hoof van GraanSA, op wie se Nampopark-perseel die konferensie vandag voortgaan: ­“Hoop is 'n werkwoord. Ons mag nie aan mediocre gewoond raak nie."



AI-jaaijaai, waar gaan dit alles eindig? 

Iewers in 'n China Mall in Johannesburg is daar nog agter in 'n stoorkamer bokse en bokse vol onverkoopte fidget spinners, daardie vreemde speelgoed van 'n klompie jare gelede waarvan niemand ooit regtig die gewildheid verstaan het nie. Daar in 2017 se koers was fidget spinners 'n internasionale sensasie. “Groepsdruk" is dalk die naaste aan 'n rasionele verklaring daarvoor, want niemand het ooit regtig geglo dat 'n fidget spinner jou help om te konsentreer of van stres ontslae te raak nie. 

Een van die eerste tekens dat 'n gier aan die oorwaai is, is as dit in korporatiewe geskenkpakkies begin opduik. Ons moes geweet het selfs iets wat op 'n tyd baie nuttig was, soos 'n memory stick, se dae was getel toe die corporate gifting crowd dit verniet saam met 'n botteltjie “mineraalwater" by launches begin uitdeel het.

Maak nie saak hoe groot die nuutste gier is nie, daar is áltyd iemand wat van die begin af sê dis nonsens, dit gaan nie hou nie, bladiebla. En “I told you so", 'n paar maande later.

Of nie, soos in die geval van giere wat nog steeds nie oorgewaai het nie: geplaveide strate, die binnebrandenjin, wisselstroom-elektrisiteit, binnenshuise toilette, die iPhone, en so aan.

En Microsoft. Nie so lank gelede nie nog het mense gesê Bill Gates se eens magtige korporasie se einde is in sig. Die maatskappy van Windows en Office het daai tyd nie juis skouspelagtige verbruikersprodukte verkoop nie, en die baas is 'n onrehabiliteerbare nerd, selfs as jy dink hy het Covid in sy studeerkamer bekook.

Maar Microsoft is nou weer kookwater. Die maatskappy het groot belê in wolkberging toe dit nog nie veel meer as die volgende groot gier was nie, maar is nou die internasionale markleier daarin. Verlede jaar het Microsoft sowat $111 biljoen uit wolkdienste verdien, meer as die helfte van die maatskappy se totale inkomste. Microsoft is konsekwent saam met Apple en Saudi Aramco – ja, daardie toonbeeld van amper-uitgediende tegnologie – die drie grootste maatskappye ter wêreld, maak nie saak wat jou maatstaf daarvoor is nie.

Microsoft is danksy Open AI ook een van die leiers van die huidige Big Thing op Wall Street: Ay-Aai, ook bekend as skeppende of generatiewe kunsmatige intelligensie. En soos wat jy in die dae van die dotcom-borrel bloot “.com" agter jou besigheid se naam kon sit om miljoene dollar se kapitaal te werf, of die woord “crypto" of “coin" nadat Bitcoin die lig gesien het, is 'n verwantskap met die letters A en I deesdae genoeg om die biljoene te laat inrol.

Die beste voorbeeld is Nvidia, wat vir baie lank as 'n relatief vervelige tegnologiemaatskappy bekend was wat grys goeters soos grafiese verwerkers ontwikkel het. Met die opkoms van ChatGPT en soortgelyke produkte het Nvidia egter ook bekend geword as een van die belangrikste verskaffers van die tegnologie waarop generatiewe kunsmatige intelligensie gebou is. Die resultaat is dat die maatskappy se aandeleprys die afgelope twaalf maande meer as 300% duurder geword het.

As jy dink kunsmatige intelligensie is net nog 'n gier wat gaan oorwaai, kyk gerus onder na Sora, die teks-na-video-tegnologie wat Open AI verlede week bekend gemaak het. Dis maklik net so 'n groot AI-oomblik as die publieke beskikbaarstelling van ChatGPT in 2022.

Verstommend soos wat hierdie soort tegnologie is, is dit ook vreesaanjaend. Want as jy dink Sora of Gemini (voorheen Bard) of ChatGPT is nóú ongelooflik, wag tot jy sien wat hulle vólgende week sal kan doen...


Sophie se wêreld

Vir Sophie Sihlenge

Reuke van veld, wol en goiing
draal in ’n pakskuur van die mathandelaar
waar haar ma bedags ou matte langnaald
afrond met soom en fraiings.
Ná skool, haar boeksak en skoene eenkant,
bondel en drapeer sy gebedsmatjies tot tent –
verbeel haar ’n nomade, reisend
oor sand en einders –
tot slaap haar oorval in ’n wêreld
van jasmyntee en verhale van kinderhande
wat elders fyn en vaardig weef en knoop
aan die sagte weelde ondervoets.

- Eunice Basson

Uit: By die dag

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.