Soldaat se vlammedood wys hoe VSA se Gaza-verset groei

WOENSDAG MET WILLEM

Soldaat se vlammedood wys hoe VSA se Gaza-verset groei

WILLEM KEMPEN probeer sin maak van teenstrydighede oor Aaron Bushnell, en wonder hoe die Rothschilds onthou gaan word. Soos gewoonlik is daar weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 28 Februarie 2024
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

Jy sal moet spring as jy nog nie 'n VWB-intekenaar is nie want ons spesiale Februarie-aanbod verstryk amper. Kliek hier om in te teken.

1. Pres. Cyril Ramaphosa het adjunkhoofregter Mandisa Maya as die land se volgende hoofregter benoem. Die pos van hoofregter word op 31 Augustus vakant wanneer Raymond Zondo se termyn tot 'n einde kom.

2. Die kredietgraderingsagentskap Fitch het die geloofwaardigheid van verlede week se staatsbegroting in twyfel getrek. Fitch meen die inkomste-projeksies was dalk te optimisties, en dat al die moontlike kostes van steun aan staatsondernemings nie in berekening gebring is nie.

3. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het wysigings aan die Strafproseswet bepleit wat aan polisiebeamptes meer mag sal gee om hul vuurwapens te gebruik wanneer hulle hulself in 'n gevaarlike situasie bevind. Masemola was een van die sprekers by 'n nasionale konferensie in Boksburg oor 'n geïntegreerde strafregstelsel en hersienings van die Strafproseswet.

4. Die Inkomstediens het 'n skadevergoedingseis van byna R5 biljoen plus rente en kostes teen Sasfin Bank ingestel. Dit is omdat Sasfin dit glo vir die Inkomstediens onmoontlik gemaak het om sekere belastings en boetes van voormalige valuta-kliënte in te vorder. Dié kliënte was glo betrokke by 'n kriminele sindikaat wat met sommige van die bank se werknemers saamgespan het om geld onwettig uit die land te neem, het Business Day berig.

5. Edward Kieswetter se ampstermyn as kommissaris van die Inkomstediens is met twee jaar verleng nadat hy en pres. Cyril Ramaphosa 'n ooreenkoms daaroor bereik het. Kieswetter se vyfjaartermyn verstryk in Mei, maar sal nou verleng word.

6. Die groeiende woede binne die Demokratiese Party oor pres. Joe Biden se hantering van Israel en Gaza het sy herverkiesingsveldtog onkant betrap, berig Reuters. 'n Groeiende aantal Demokrate wil glo hê Biden moet vir 'n permanente skietstilstand vra.

7. Die plaaslike owerheid in Himley in sentraal-Engeland het opdrag gegee dat 'n 18de-eeuse pub wat verlede jaar op raaiselagtige wyse afgebrand het, met dieselfde skewe en krom afmetings as die oorspronklike herbou moet word. Die kuierplek was as Crooked House bekend weens die skuins mure en kantelende fondament.


Daar is 'n waarskuwing vir skadelike wind tussen Tafelbaai en Plettenbergbaai, asook 'n hoë brandgevaar vir dele van die Noord- en Wes-Kaap, te midde van uiters hoë temperature. Dis bewolk oor meeste dele van die land, koel in die noordelike gebiede maar warm in die sentrale gebiede. Ligte reën word in Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 23°C • Mahikeng 28°C • Mbombela 23°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 27°C • Kimberley 33°C • Upington 38°C • Kaapstad 37°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 26°C • Durban 25°C.


Willem Kempen | Waar pas Aaron Bushnell in by hoe ons voel oor Gaza?

Soos seker baie ander mense was my instinktiewe reaksie op die beelde van die jong Amerikaanse soldaat wat homself voor die Israeliese ambassade in Washington DC aan die brand steek, om dit te probeer inpas by wat ek reeds oor Gaza voel en dink. Dis 'n bitter moeilike ding om te doen. Die teenstrydighede is oorweldigend.

Aaron Bushnell het intussen aan sy wonde beswyk. Hy is nou 'n martelaar, en ek weet nooit mooi wat om van martelaars te dink nie. My eerste gevoel is om wantrouig te wees oor die motiewe van enigiemand wat bereid is om vir 'n saak te sterf, veral as niemand anders se lewe onmiddellik daardeur gespaar word nie. Dis mos anders as jy bereid is om dood te gaan sodat sê maar 'n geliefde kan bly leef, as om bereid te wees om dood te gaan omdat jy nie kan saamleef met die onreg wat in jou naam gepleeg word nie. Of is dit?

Maar dan kyk ek na MSNBC se stuk oor Bushnell se dood. Die insetsel is net 46 sekondes lank. Op een van die skerms agter die aanbieder wapper die Israeliese vlag terwyl sy praat van Bushnell se “apparent protest against the Israel-Hamas war". Aan die einde van die insetsel wys hulle die noodnommers vir 'n “Suicide & Crisis Lifeline".

En dít maak my die bliksem in. Om Bushnell en wat hy gedoen het op dié manier te kan reduseer tot die optrede van net nog 'n malletjie; om wat in Gaza aan die gang is voor te kan hou as net nog 'n oorlog tussen vegtende soldate aan albei kante, maak dit soveel makliker om te verstaan dat Bushnell gedink het daar was geen ander manier waarop na hom geluister sou word nie. En dan word ek nóg meer die bliksem in, want dit voel nou vir my ek beloon Bushnell vir sy daad as ek na sy boodskap luister. En nóg meer en nóg meer die bliksem in dat die stem van 'n Amerikaanse soldaat wat homself om die lewe bring, harder gehoor word as al die ander stemme wat bloot elke dag aan Israel vra: Op watter punt gaan julle nou genoeg wraak geneem het vir alles wat op 7 Oktober aan julle gedoen is? Op watter punt gaan genoeg onskuldige mense dood of vermink of dakloos wees wat niks weet van Hamas of tonnels of gyselaars of van enigiets anders as dat Amerikaanse bomme uit Israeliese vliegtuie op hulle val nie?

Maar wat my die meeste van alles die bliksem in maak, is dat Joe Biden, die één mens wat Benjamin Netanyahu kan dwing om 'n skietstilstand te verklaar, dit steeds nie doen nie. Op watter punt gaan dít verander, of is dit te veel gevra?


Sonder die Rothschilds sou die geskiedenis anders (en beter?) verloop het

Die Britse finansier lord Jacob Rothschild is Maandag in die ouderdom van 87 oorlede. As die mees senior oorlewende lid van Europa se magtigste bankiersfamilie is dit nie 'n verrassing dat hy fabelagtig ryk was nie, maar hy was – waarskynlik – nie “die rykste mens ter wêreld" soos opgewonde kommentaar-krygers op sosiale media dit wil hê nie.

(Dis moeilik genoeg om die rykdom van 'n individuele entrepreneur soos Jeff Bezos of Elon Musk te probeer vasstel gegrond op hulle aandeelhouding in genoteerde en ander maatskappye, maar mens moet gewoonlik heelwat spekuleer oor die ware fortuin van 'n familie soos die Rothschilds. Die mees waarskynlike ramings is in die omgewing van $1 biljoen vir die familie as geheel, en dis versprei oor baie vertakkinge en individue. Dit kan ook heelwat meer as dit wees...)

Onder al die effens onverwagse dinge wat sedert Maandag oor Jacob Rothschild gesê is, is dat hy die inspirasie was vir The Simpsons se Charles Montgomery Plantagenet Schicklgruber, oftewel Mr. Burns. Is dit regtig so? Dalk, dalk nie.

Nog 'n voorbeeld is 'n gewaande numeroloog wat op X wil weet of nog iemand die aardskuddende betekenis van Jacob Rothschild se sterfdatum insien: As jy die twee en ses van die dag in Februarie by die tweede maand van die jaar tel en dan ook die vier syfers in 2024, dan kom jy by 18 uit, wat dan weer optel na ... ja, die demoniese, apokaliptiese Nege! Wys jou net.

Die punt is, die blote noem van die naam Rothschild laat mense groter as gewoonlik dink en laat verbeeldings op loop sit.

Daar was ook nie die afgelope week 'n tekort aan Facebook-profete en ander heldersiendes wat een van die oudste en hardnekkigste samesweringsteorieë oor dié skatryk Joodse familie herhaal het nie: Dat Nathan Rothschild ná die Slag van Waterloo op 18 Junie 1815 'n fortuin gemaak het deur heel eerste die nuus van Napoleon se nederlaag amptelik in Londen te kon aankondig en aandele kon koop wat by dié nuus baat gevind het.

Die joernalistiek-akademikus Brian Cathcart het in 2015 in die Britse koerant Independent die oorsprong van dié teorie teruggespoor na 'n pamflet wat meer as drie dekades ná Waterloo op verskeie plekke in Europa gedruk en versprei is. Die pamflet, Histoire édifante et curieuse de Rothschild Ier, roi des juifs, is deur ene Georges Dairnvaell onder die self-in-voet-skietende skuilnaam “Satan” geskryf.

Onder die opskrif “The Rothschild Libel: Why has it taken 200 years for an anti-Semitic slur that emerged from the Battle of Waterloo to be dismissed?" het Cathcart verskeie aspekte van die storie as versinsels uitgewys. Nathan Rothschild was byvoorbeeld glad nie op daardie dag eens naby Waterloo nie.

Wat wel waar is, is dat Mayer Amschel Rothschild sy vyf seuns, insluitend Nathan, in die 18de en 19de eeu strategies oor Europa versprei het, dat hulle sodoende ons moderne bankstelsel geskep het, en dat die familie in die proses skouspelagtig ryk geword het. 'n Goeie voorbeeld van die familie se invloed is dat 'n Rothschild-lening die Britse regering in 1875 in staat gestel het om die Suez Canal Company se grootste aandeelhouer te word.

Die ander groot vraag wat altyd oor die Rothschilds gevra word, is oor hulle rol in die Balfour-verklaring van 1917 en die totstandkoming van Israel ná die Tweede Wêreldoorlog en die Holocaust. Kyk onder wat Jacob Rothschild daaroor gesê het:

Hulle is dalk nie meer die wêreld se héél rykste familie nie, maar dis moeilik om te dink aan 'n enkele ander naam wat 'n groter invloed op die verloop van die geskiedenis gehad het as dié van die Rothschilds.


insulien, ’n klein mitologie

op eilandjies ver van Griekeland
speel 'n intrige in die kleine af,
'n stryd om grondstowwe en skatte,
onderhandel boodskappers,
storm troepe uit Trojaanse perde,
veg ridders verbete,
meng gode lukraak in –

helde met spies en swaard bring
soet verligting
en tydelik is daar oorvloed
en fees, klink Pan
se fluite op en rus Achilles
op sy louere, verbeel hom
van sy swakheid genees.

- Ilse van Staden

Van: Versindaba

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.