Oral styg die kwik, want dis wit mense net waar jy kyk

DONDERDAG MET MERCY

Oral styg die kwik, want dis wit mense net waar jy kyk

MERCY KANNEMEYER meen mens kan nie sommer so lukraak vir iemand staan en vra hoekom hulle wit is nie. WILLEM KEMPEN kry baie, baie warm... En dan is daar weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 29 Februarie 2024
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

LAASTE KANS - ons spesiale Februarie-aanbod verstryk vandag. Kliek hier om in te teken.

1. Vodacom wil na die Konstitusionele Hof appelleer teen die beslissing van die Appèlhof oor die uitbetaling wat aan die “Please Call Me"-uitvinder Nkosana Makate gedoen moet word. Vodacom het gister in 'n verklaring gesê die bedrag, wat volgens Business Day soveel as R69 biljoen kan wees, kan 'n wesenlike invloed hê op die maatskappy se werknemers en kliënte sowel as sy bydrae tot die staatskas. Die Appèlhof se beslissing was “fundamenteel gebrekkig”, meen die maatskappy.

2. Die geskil het gister uitgekring oor 'n staatsaangestelde advokaat wat glo geweier het om om aan 'n regter te verduidelik waarom daar geen swart prokureurs was in die swartbemagtigingsaak wat hy aangevoer het nie. Adv. Tembeka Ngcukaitobi het ook sy stem gevoeg by oproepe dat adv. Johan Brand SC se optrede op wangedrag neerkom en ondersoek moet word.

3. Michelle Phillips, waarnemende uitvoerende hoof van Transnet, is voltyds in dié pos aangestel. Sy vervang Portia Derby, wat in September verlede jaar bedank het.

4. Die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings het gister die ongewone besluit geneem om 'n vergadering in camera te hou op versoek van minister Pravin Gordhan, wat gesê het hy kan nie belangrike dokumente in die SAL-Takatso-transaksie sonder meer openbaar maak nie.

5. Ronna McDaniel, voorsitter van die Republikeinse Party se nasionale komitee (RNC), het uit dié pos bedank, vermoedelik weens druk deur Donald Trump. Sy sal waarskynlik vervang word deur iemand wat graag verkondig dat Trump die 2020-verkiesing gewen het. 

6. Trump se opmars het waarskynlik ook 'n rol gespeel in Mitch McConnell se besluit om uit te tree as leier van die Republikeine in die Senaat nadat hy dié rol vir byna 17 jaar vervul het, langer as enige ander partyleier in die Senaat se geskiedenis.

7. ’n New Yorkse man het skuld erken op aanklagte dat hy onwettig met sekere seldsame vlinders en ander insekte handel gedryf het. 'n Boete van $30 000 gaan waarskynlik aan hom opgelê word, en hy moes meer as 'n duisend skoenlappers, motte en ander insekte aan die owerhede oorhandig, het AP berig.


Daar is 'n waarskuwing vir swaar donderbuie met moontlike hael vir dele van die Noord-Kaap, skadelike windtoestande langs die kus tussen Plettenbergbaai en Koffiebaai, asook 'n hoë brandgevaar vir die Noord- én Wes-Kaap. Baie warm toestande word ook voorspel vir dele van die Klein-Karoo en die Oos-Kaap. Die grootste deel  van die binneland is bewolk en warm, met moontlike buie en donderbuie in Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 27°C • Johannesburg 26°C • Mahikeng 28°C • Mbombela 23°C • Kaapstad 29°C • Durban 26°C • Kimberley 35°C • Bloemfontein 34°C • Polokwane 27°C • Upington 39°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 28°C.


Willem Kempen | Fokkitma’riswarm 

Google sê ek moenie 'n ice pack langs my laptop sit om dit te probeer afkoel nie, maar ek gaan in elk geval. Ek het al klaar 'n ekstra waaier aan die gang, maar met die afgelope weke se hittegolf was dit ook nie genoeg nie en dan gaan staan die ding feitlik. Nes my kop.

Vandag is dit eintlik koel hier waar ek sit; dis net 28°C, die laagste vroegmiddag-temperatuur in meer as 'n week. Uit Kaapstad laat weet iemand dis 42° daar; dis 37° in Somerset-Wes, 'n onverwags koel 24° in Melville, Johannesburg en aansienlik koeler as die versengende afgelope twee weke in Pretoria (27°). Dis rof, maar ek hoef darem nou ook nie êrens in die son 'n trekker op 'n mielieland te bestuur of 'n stukkende waterpyp reg te maak nie.

Ek bly in die enigste provinsie in die land waar daar nou amptelik meer mense sonder werk as met een is. En dis volgens die baie eng definisie van werkloosheid, die werklikheid is veel erger. Ons ken iemand wat ten spyte van 'n goeie matriek so drie jaar gelede net by 'n plaaslike pizza-franchise 'n stabiele werk met enige hoop op beter vooruitsigte kon kry. Sy kry iets soos R400 vir 'n skof, wat dikwels beteken sy moet lang ure langs die warm oonde staan en werk. Daar is nie lugversorging vir die personeel nie, net vir die klante terwyl hulle vir hulle pizza's sit en wag. Tensy daar load shedding is, dan kry almal warm.

Verlede naweek ry ons in die hitte van die dag naby Magaliesburg oor 'n spoorwegkruising waar daar duidelik jare laas 'n trein geloop het. 'n Man met 'n karwagfrokkie is besig om die onkruid en gras tussen die treinspore op die teerpad met 'n stuk skerpgemaakte metaal uit te haal, vermoedelik in die hoop dat een van die motoriste wat so nou en dan daar verbykom hom iets in die hand sal stop. Maar ek sien ook links en regs van hom twee ander mans tussen die langer gras staan. Ek waag dit nie om te stop nie, want sê nou dis 'n lokval?

Eugene “Veldbrand" Bezuidenhoudt het in 1996 in Die Radiators se “Somerslied" gesing:

Lente is oor, somer is terug, fokkitma'riswarm in Johannesburg.

Dissie hitte wat pla, ons moet kortbroek dra, fokkitma'riswarm in Suid-Afrika

Hy was nie verkeerd nie. En fokkit, dit raak erger.


Image: ANGELA TUCK

Die r-woord verg nadenke

In ’n Sondagkoerant (mal daaroor dat ons na ’n Sondagkoerant verwys terwyl ons almal weet dat ons van Rapport praat), lees ek van ’n regter se “bisarre ras-eis”. Die volledige opskrif was: Regter se bisarre ras-eis: ‘Hoekom is julle almal wit? Verduidelik!' (Haal asem, tel tot tien).

Nou moet ek bieg – die kop het klaar nie lekker met my gesit nie. En aangesien ek ons lesers hier as van my beste en getroue vriende sien, kan ek mos maar eerlik wees. Wanneer koppe of mense of selfs ’n caption op Instagram ras op so ’n manier stel dat dit lyk asof dit ’n negatiewe konnotasie by het, staan my afro penorent.

Ons land is (on)gelukkig steeds op ’n te brose, sensitiewe, in-ons-ontwikkelingsfase plek vir ons om ligtelik om te gaan met die woord ras en alles wat daarmee gepaard gaan. Gaan stry met jouself oor hoe ons al 30 jaar in ’n demokrasie leef. Oh-my-word-Mercy-kom-net-oor-dit, en die-chip-op-jou-skouer-is-al-’n-aartappelplaas, Mercy. Soveel soos wat ons almal aan die nuwe Suid-Afrika wil bou, soveel soos wat ons ’n post-ANC-Suid-Afrika in ons leeftyd wil sien, moet ons die misdrywe van die verlede te alle tye vierkantig in die oë kyk en ’n ding op sy naam roep.

Os. Jas.

Art. 9 van die Grondwet word deur regter Mandlenkosi Motha voorgehou as die rede vir sy vraag oor waarom die regslui wat voor hom verskyn, nie divers genoeg is nie. Art. 9 gaan oor gelykheid: “Elkeen is gelyk voor die reg en het die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg.”

Subart. 3 van Art. 9 lui: “Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte.”

En dan spring subart. 5 uit met: “Diskriminasie op een of meer van die gronde in subart. (3) vermeld, is onbillik, tensy daar vasgestel word dat die diskriminasie billik is.”

En weet julle wat is FANTASTIES van ons Grondwet? Dis vooruitstrewend, beslis, swart op wit, en nie onduidelik oor ons regte en verantwoordelikhede nie. ’n Hooggeregshof wat die Grondwet verontagsaam? Brand die hele plek af.

Heel wroegend probeer ek toe nou Sondag met die bisarre rasding deal. Lees deur die hofsaak. Soek die stuk in ander publikasies. Google konsepte wat ek nie verstaan nie. Regspraak lees nou juis nie soos die instruksies op ’n papboks nie. Wroeg, wroeg, wroeg en wremel – HOKAAI. Ras het min met dié saak te make. Verstaan my mooi, my mede- sosiale geregtigheidswarriors en vyfde vlaag veministe (wink-emoji), spaar die goeie bra’s vir ’n ander dag se bra-brandery. Motha se vraag oor waarom die regspan wit is, het geen plek in die saak wat aangehoor moet word nie. Verstaan my nóg mooier. Ek het Kimberlé Crenshaw en interseksionaliteit sowel as kritiese rasteorie so diep bestudeer (in my MA-tesis), dat ek met my bors uitgestoot híér op hierdie Donderdag in die jaar van onse Heer 2024 vir julle kan sê – ras het niks met die saak tussen PERI Formwork Scaffolding Engineering en die Kommissie vir Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging te doen nie.

Ek vra graag waarom sekere situasies (soos panele, rade van plekke, verhoogproduksies, redaksies, flieks en so) slegs wit mense bevat. Ek vra dit met die hoop op ’n gesprek oor transformasie en inklusiwiteit. En, baie belangrik, ek vra dit wanneer dit saak maak. ’n Mens kan nie sommer so lukraak vir mense staan en vra hoekom hulle wit is nie. Relevansie. Tydsberekening. Grasie. ’n Verstaan van mekaar of 'n poging om mekaar te verstaan-houding. Alles trefwoorde vir wanneer ons oor die r-woord wil gesels.


Autumn song

Now the leaves are falling fast,   
Nurse's flowers will not last;
   
Nurses to the graves are gone,
   
And the prams go rolling on.
   
Whispering neighbours, left and right,
   
Pluck us from the real delight;
   
And the active hands must freeze
   
Lonely on the separate knees.
   
Dead in hundreds at the back
   
Follow wooden in our track,
   
Arms raised stiffly to reprove
   
In false attitudes of love.
   
Starving through the leafless wood
   
Trolls run scolding for their food;
   
And the nightingale is dumb,
   
And the angel will not come.
   
Cold, impossible, ahead
   
Lifts the mountain's lovely head
   
Whose white waterfall could bless
   
Travellers in their last distress.

– W.H. Auden

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.