Die marteling van irriterende wanklanke wat in jou kop weergalm

MISOFONIE

Die marteling van irriterende wanklanke wat in jou kop weergalm

Dryf die geluid van iemand wat hul naels knip jou tot raserny? Dan ly jy miskien aan misofonie, dalk die algemeenste-maar-onbekendste nie-amptelike gemoedsteuring ter aarde. SYBRANDUS ADEMA, ’n self-gediagnoseerde ligte lyer, het agter die *&^%! irriterende kap, kap, kap van die byl probeer kom. En dis geen simfonie nie.

Image: ANGELA TUCK

JY’S rustig aan’t kuier in ’n restaurant. Dan sag-sypel-wurm ’n klank jou brein binne: Iewers op die agtergrond is iemand besig om gans te sma(a)klik oopmond te eet met ’n smak ... smak! ... smak!! wat elke paar sekondes tydmaatloos opklink. Jou eetgenote lyk argeloos; jy probeer dit ignoreer, praat harder, maar niks werk nie; iets in jou skouers wag half angstig op die volgende geluid. Wanneer kom dit? Daar’s dit weer! Smak!!! ... Smak!!!! ... SMAK!!!!! Dis ’n gekners van tande, klem in die kaak, net sodat jou kop nie uithaak nie. En voor jy nog “‘smak” kan sê, word die groot V’s geaktiveer: veg of vlug.

Welkom by misofonie, vriend van Chinese watermarteling en familie van fonofobie, oftewel vrees vir harde klanke. Die naam van die sindroom misofonie is afgelei van die Grieks “miso” (haat) en “fonie” (klank/stem). Dit is ’n toestand wat perdalks tot 20% van die planeet se bevolking in ’n mindere of meerdere mate raak. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal hou dit kort en kragtig: misofonie (mi-so-fo-nie) s.nw. Toestand waar bep. geluide heftige gevoelens laat ontstaan of ’n buitengewone reaksie ontlok.


Read this article in English:


Kitsfeite oor klankwoede

Misofonie – voorheen bekend as selektiewe geluidsensitiwiteitsindroom (of “klankwoede” in die volksmond) – is ’n afwyking van verminderde verdraagsaamheid teenoor spesifieke geluide of hul gepaardgaande stimuli, verduidelik Wikipedia. Hierdie “snellers” word as onaangenaam of ontstellend ervaar en is geneig om sterk negatiewe emosionele, fisiologiese en gedragsreaksies te ontlok wat nie by die meeste ander mense gesien word nie. Uitermatige misofonie kan selfs die vermoë om lewensdoelwitte te bereik en sosiale situasies te geniet, nadelig beïnvloed.

Dit is vir die eerste keer in 2001/2002 erken, bewoord en beskryf hoewel dit nie in byvoorbeeld die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging se DSM-5-TR (2022), dié internasionale geloofskrif oor gemoedsteurnisse, of enige soortgelyke handleiding opgeneem is nie. Nog nie, is my kommentaar.

Die reaksies op die snellers wissel van ergernis tot woede, en die reaksies word nie deur die hardheid van die klank ontlok nie, maar eerder deur die spesifieke patroon of betekenis daarvan vir die hoorder. Snellers is gewoonlik herhalende stimuli en is hoofsaaklik – maar nie uitsluitlik nie – verwant aan die menslike liggaam, soos kou, eet, lippe klap, slurp, hoes, keel skoonmaak, snuif en sluk. Tikkende horlosies, blaffende honde en temende geTikTokkers is egter ook hoog op die lys. Sodra ’n sneller opgespoor word, kan mense met misofonie probleme ondervind om hulself van die stimulus af te lei, en kan hulle lyding, nood en/of belemmering in sosiale, beroeps- of akademiese funksionering ervaar.

Sommige mense met misofonie is bewus daarvan dat hul reaksies op die snellers nie in verhouding tot die omstandighede is nie. Wat dit byna erger maak: Ek wéét ek oorreageer, maar ek kan dit nie help nie.

Die alfabet van klankkunde

Daarom dat ek my ore uitleen aan dr. Natalie Buttress van NB Hearing in Kaapstad. Met drie dekades se ervaring, indrukwekkende internasionale kwalifikasies in klank én eens self ’n lyer, is misofonie ’n spesialisgebied van dié oudioloog.

“Wat ons moet verstaan, is dat jou gehoor die laaste sensoriese modaliteit is wat uitsny wanneer ons sterf,” verduidelik sy. “Dit vorm ’n primêre deel van die manier waarop ons ons omgewing monitor. Dit is ’n 360-grade-ervaring, moeilik om af te sluit en boonop gekoppel aan die limbiese stelsel.” Hierdie verwante stelsel van breinstrukture wat rondom die middelharsings geleë is, word beskou as die setel van emosies, motivering en sekere aspekte van die geheue.

“Daar is dus ’n baie sterk verband met veiligheid en oorlewing. En dít is die interessante sleutelpunt oor misofonie: Dit gaan oor klank, een van die sensoriese ervarings waaroor ons geen beheer het nie,” sê Buttress. “Selfs as jy bewusteloos is, kan ons met skandeerders jou breingolwe lees soos dit op klanke reageer. En terwyl jy slaap, wil jou liggaam via die gehoor bewus wees van enige moontlike gevare.”

Geluide betree ons ore waar dit reeds in verskillende toonhoogtes van frekwensies verdeel word en die intensiteitsgraad van sag tot hard gebeur. “Maar daar is verskeie belangrike terreine al die pad van die oor tot in die ouditiewe korteks,” beskryf dié klankkenner die gehoorproses. “En dan selfs verder, waar die proses van klankinligting, oorvleuelings, verbintenisse en herinneringe plaasvind. Want as ons niks gehad het om betekenis te verbind aan die geluid wat ons hoor nie, sou daar geen begrip wees nie; dit sou net ’n sintuiglike ervaring wees.”

Dr Natalie Buttress.
Dr Natalie Buttress.
Image: © NB HEARING

En toe was daar die woord

Soos Buttress se loopbaan gevorder het, het haar belangstelling van die rand van klank (in die oorskulp self) na die gevorderde deel, hoe mense die inligting verwerk, geskuif. “Naas die patologie in die sentrale ouditiewe verwerking van geluide waardeur mense dit nie kan verwerk en betekenis daaruit kan put nie, is daar ook drie terreine wat verband hou met abnormale persepsie of verwerking van klank.” Dit is tinnitus (die persepsie van ’n geluid wat nie ’n eksterne bron het nie; slegs jy hoor dit), hiperakoesie (algemene hipersensitiwiteit vir sekere klankfrekwensies en -volumes) asook misofonie (irritasie/woede/frustrasie gekoppel aan spesifieke klanke).

“Ek en my broer het dit self ontwikkel toe ons jonk was,” vertel Buttress. “In ons geval was dit omdat ons pa dit gehad en op sekere klanke oorreageer het. Hy het dit weer van sý ouers gekry. Ons het dit dus gou met erge negatiwiteit en angs verbind. So, jy ontwikkel ’n tipe kondisioneringsiklus van spesifieke klanke; jy raak al hoe meer bewus van hulle en hoe meer jy daarvan bewus raak, hoe groter word jou emosionele reaksie daarop. En die reaksie word net boser soos die tyd aanstap.”

Die laaste strooi was toe haar man aan tjips agter ’n kasdeur in die kombuis geknaag het. Vanuit die slaapkamer het sy haar só liederlik vererg dat hy haar finaal aangesê het om ’n oplossing te vind. En vind, dit het sy. “Destyds was daar nog nie eens ’n woord hiervoor nie en daar was so baie in my familie wat hieraan gely het,” onthou sy. “Maar dit was gelukkig die eeuwending en misofonie het groter aandag begin kry.” Nie net het sy haarself suksesvol behandel nie, maar dit was ook die wegspringplek om ander te behandel.

Geneties vs. omgewingsfaktore

Tans is neuroloë, sielkundiges en oudioloë die ene ore vir hierdie groeiende fenomeen aangesien die oorsake in die brein, psige en/of oor te vinde is – ’n klassieke geval van genetiese en/of omgewingsfaktore. “Danksy ons toetse weet ons dit is duidelik nie ’n gehoorprobleem nie, maar ’n ouditoriese prosesseringsprobleem,” sê Buttress. “Ons gaan nog baie hieroor leer; wat ek dus ook al nou sê, kan in die toekoms anders lyk. Waarvan ons wel aanduidings sien, is dat daar ’n oorontwikkelde deel in die misofonie-lyer se brein is. Daar is ook ’n genetiese skakel, maar weereens is dit moeilik om die “nature vs. nurture”-argument uitmekaar te hou: Jy is dalk met die probleem gebore, maar word dan waarskynlik in ’n huis groot waar ’n sekere negatiewe gedrag aan sekere klanke gekoppel word.”

Soos hiperakoesie vir veral outistiese mense ’n uitdaging is, word ook misofonie veral opgemerk onder neurodiverse mense. “As jy neurodivers is, is jy baie meer geneig om sensoriese weersinne te hê; jy is baie meer geneig om aangeleerde, negatiewe reaksies te hê,” verduidelik Buttress.

“Daar is twee groot stelsels in jou brein. Aan die een kant die verstekmodus-netwerk wat ons help om te ontspan, aan die ander kant die prominente netwerk wat hoë vlakke van aandag gee aan ’n spesifieke ding, wat inzoem op iets. Met laasgenoemde is jy hiperparaat. Vir neurodiverse mense raak dit baie moeilik om net vir sekere dinge waaksaam te wees. En as dit in die klankarena is, is daar ’n groter kans dat dit misofonie is.”

Volgens haar gee jou brein dan ’n opdrag om adrenalien aan die stelsel te lewer wat jou uiteraard gespanne laat voel. “Dit is vir oorlewing bedoel, maar jy is eintlik in ’n situasie waar jou lewe nie bedreig word nie. Ook is dit meer opmerklik as die stimulusklank deur ’n ander persoon gemaak word; jy voel daardie persoon dring jou persoonlike ruimte binne. As dit byvoorbeeld ’n horlosie is, pla dit jou dalk minder; jy kan nie sommer kwaad word vir ’n horlosie nie. Dis ook erger as jy byvoorbeeld op werk moet fokus of juis wil ontspan.”

En die voorkoms hiervan in Suid-Afrika?

“Nóg hier, nóg elders het ons al genoeg data,” antwoord Buttress. “Maar anekdoties, gegewe my eie ervaring, kan ek jou sê dat ’n groot aantal mense hier aan misofonie ly, veral as jy in neurodiverse omgewings begin werk. En hoe meer ons in ’n wêreld woon waarin mense ongelooflike toegang het tot negatiewe inligting, oor sake wat hulle nie kan beheer nie, hoe erger sal dit word,” is haar voorspelling.

“Dit hou baie verband met spanning en is soms net tydelik. Dit help egter nie om jou weg te sluit van die geluide wat jou pla nie, want dan word dit selfs erger as jy weer daaraan blootgestel word. Jy moet leer om jou interaksie daarmee te beheer, en daarvoor het jy in die begin ’n gids (soos sy) nodig.”

So, daar is hoop?

“Oukei, daar is nie ’n pil of enige ander kitsoplossing nie,” benadruk Buttress. “Dit is ook ’n uiters geïndividualiseerde proses omdat die oorsake so verskil. Boonop het party mense dit ook net tydelik, gewoonlik gekoppel aan spesifieke spanningsfaktore in hul lewe. En een van die redes waarom mense aan misofonie ly, is dat hulle buite beheer voel. Jy kan beheer leer, jy kan die manier waarop jy dinge hanteer, verander.”

Hoe dit tans gediagnoseer word, is te omslagtig om hier te beskryf, maar ’n organiese evaluering vind plaas as ander gehoorkwessies uitgeskakel is. “Ek vind dit veral nuttig om my pasiënte te help om hul kerngeloof te vind oor die klanke waaroor hulle geïrriteerd is. Daar is omtrent altyd ’n soort traumagebeurtenis waaraan dit gekoppel kan word.” Soms is dit ’n molshoop wat mettertyd ’n berg gebaar het – een spesifieke klank wat iemand geïrriteer het wat eindelik ’n reeks klanke word wat die aanhoorder laat kop verloor. “Soos misofonie ontwikkel, is daar boonop baie komplekse lae van wanaangepaste reaksies en toenemende paraatheid wat langs die pad plaasvind.” ’n Ongesonde lyf en gees, asook spanning help ook nie.

Ek vra haar oor Doritos wat vandeesmaand die “Doritos Silent”-toepassing bekendgestel het, ’n baanbrekende “knarskansellerende” tegnologie waarmee gamers hul tjips kan verorber – met die mikrofoon aan – sonder om ander spelers se aandag af te lei. Vir hierdie groot irritasie is 5 000 knarsklanke ontleed. “Dis ’n tipiese wanaangepaste reaksie,” reken Buttress. “E-spelers beleef kunsmatige stres wat beteken hulle skei adrenalien af. Geen wonder hulle is so reaktief nie!”

Kognitiewe gedragsterapie

Minder spanning, ’n gesonder lewenstyl, ontspanningstegnieke en veral kognitiewe gedragsterapie (KGT) is tans die beste behandeling vir misofonie. “Ek kan dikwels my pasiënte help om te delf in die gedagtes wat vóór die emosie kom, om só ’n narratief oor die geluidstimulusse te vorm. As ons iets daaromtrent kan doen, kan ons die denkpatrone verskuif. Ja, die hond blaf, maar dis dalk omdat iemand by die hek verbystap; dus beskerm hy jou eintlik ook,” sê Buttress. “Daardie tipe sistematiese sensitisering, om hande te sluit met die geluide, help mense om die klanke te normaliseer.”

KGT, wat verskeie komponente insluit, is die mees gebruikte en doeltreffende behandeling vir die vermindering van misofonie-simptome, het ’n internasionale studie – gegrond op ’n lukrake proefneming en verskeie gevallestudies/reekse – vanjaar bevind. Dit is egter nie altyd die oplossing nie. “As ek voel dat die stresreaksie met groot sielkundige kwessies verband hou, sal ek saam met ’n sielkundige of psigiater werk,” beklemtoon Buttress. “Sommige pasiënte benodig medikasie; ander intensiewe kliniese sielkundige berading.

“Dit is beslis ’n beheerbare probleem vir die meeste mense – jy moet jou net tot die proses verbind, minstens ’n paar sessies oor ’n paar maande. Mense moet besef daar is hoop; jy hoef nie so met die veg- of vlugreaksies te lewe nie.”

Wat beteken jy kan rustig in die restaurant sit, toondoof vir die smakkers en slurpers en naelknippers, terwyl julle vurig gesels oor ... wel, byvoorbeeld misofonie.

  • ’n Paar eenvoudige misofonie-hanteringstrategieë
  • Chinese watermarteling of ’n “drupmasjien” is ’n psigies pynlike proses waarin koue water vir ’n lang tydperk stadig op die kopvel, voorkop of gesig gedrup word. Die proses veroorsaak vir die onderwerp vrees en psigiese agteruitgang. Die patroon van die druppels is dikwels onreëlmatig, en die koue sensasie telkens ’n skok, wat angs veroorsaak as ’n persoon probeer om die volgende druppel te verwag. Hierdie vorm van marteling is die eerste keer in rondom die 1500’s deur Hippolitus de Marsiliis in Italië beskryf.

Aanvullende bronne:

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.