TV om nóú te kyk: Daar ís lewe na ‘Game of Thrones’

MOENIE HANDDOEK INGOOI

TV om nóú te kyk: Daar ís lewe na ‘Game of Thrones’

ALBERTUS VAN WYK skryf oor die kyk-dilemma van fanatiese aanhangers van GoT en stel televisiereekse voor wat jou in die hersteltydperk kan help.

Het jy onttrekkingsimptome van Game of Thrones?
YSTERTROON ... Het jy onttrekkingsimptome van Game of Thrones?
Image: HBO

DIE afgelope twee weke dwaal jy in die huis rond ...  Die reuk van draakparaffien en geskroeide mensvleis hang nog in die voorkamer. Een of twee keer het jy die televisie aangeskakel en met ’n afwesigheid agter jou ooglede rondgeklik tussen reekse en flieks en kanale. En dan het jy die kassie maar weer afgeskakel.

Moenie summier handdoek ingooi nie. Dit raak mettertyd beter. Vir nou moet jy eers net babatreetjies gee met kort grepe televisie per dag.

En skaal jou verwagtinge af. Jy moet maar vrede daarmee maak dat jy waarskynlik nie in jou leeftyd weer ’n fantasiereeks op dieselfde vlak as Game of Thrones gaan sien nie.

Maar daar is hoop in ander genres. Gee misdaad en spanningsrillers ’n kans. Meer tradisionele vorme van wetenskapsfiksie kan dalk ook werk. Hier is ’n lysie van opsies van televisiereekse, dokumentêre en flieks op Showmax en Netflix vir die post-Game of Thrones-hersteltydperk.

'n Toneel uit Undercover.
BELGIESE MISDAADREEKS ... 'n Toneel uit Undercover.
Image: NETFLIX

Undercover

Netflix

As jy oud genoeg is om die heerlik oorgeklankte Europese misdaadreekse van die beginjare van Suid-Afrikaanse TV te onthou – soos Derrick, Blitspatrollie, Misdaad en Baasspeurder Faber – dan gaan die Belgiese misdaadreeks Undercover jou verras.

Daar’s min karakters wat meer tot my spreek as ’n swetende, papgevreet- Belgiese pilsmokkelaar wat in ’n karavaanpark bly, soos die hoofkarakter Ferry Bouman (Frank Lammers). Afrikaanse televisiekykers behoort sterk aansluiting hierby te vind, want as daar een ding is waarvan die reeks jou oortuig, is dat Vlaminge net so zef kan wees soos sommige wit Afrikaners.

Net soos met baie van die ouer Afrikaanse reekse is die begroting duidelik nie in die klas van True Detective of Fargo nie, en daarom moet die storielyn en die gehalte van die toneelspel die wa deur die drif trek. En hoewel die storie maar so-so is, word jy nie in die steek gelaat deur die akteurs nie.

Undercover.

Tom Waes en Anna Drijver, speurders Bob en Kim, wat vermom as ’n paartjie in die karavaanpark intrek om naby die groot dwelmbende-booswig te kom, het net genoeg ware-lewe-grinterigheid om ’n mens te boei.

As jy nog ander redes soek om die reeks te kyk: Dis vet pret om die kru Belgiese uitdrukkings wat “gotverdomme” vrylik vloei in die Engelse onderskrifte te volg, en die Maltese skootpoedel wat rondgedra word deur Ferry se vrou, Danny, se naam is Khaleesi!

Billions

Showmax

Die komiese akteur Paul Giamatti het die meeste van sy vroeër rolle te danke aan sy klap-my-gesig. Hy lyk soos daai irriterende klein twak wat jy telkens op skool ’n oorveeg wou gee, selfs al was jy nie ’n boelie nie.

Maar soos Bill Murray, en selfs Jim Carrey, kom sy veelsydigheid en diepte ál meer na vore soos hy ouer word. In die reeks Billions, wat nou al in sy vierde seisoen is, speel hy ’n rol vir wie min akteurs die gravitas het – die siniese en moeë ou staatsamptenaar-kolos. Giamatti is Chuck Rhoades, ’n prokureur-generaal in New York met ’n obsessie oor die witboordjieskelm Bobby Axelrod, gespeel deur die ewe talentvolle Damian Lewis. Lewis is ’n Britse akteur wat bekend geword het in HBO se Band of Brothers en veral as maj. Nick Brody in die eerste paar seisoene van Homeland.

Rhoades wil Axelrod agter tralies sien, en hy sal byna enigiets doen, al is dit onwettig. Soms is Rhoades se pogings om Axelrod vas te pen selfs minder moreel as Axelrod se skelmstreke. Dis ’n vieslike spul karakters wat mekaar om elke hoek en draai bevark. Boonop is die lot dekadent genoeg om die NG Kerk se Algemene Sinodale Kommissie in hulle middagtee te laat stik. Een van my vriende noem die reeks ’n “guilty pleasure”. Dis presies wat dit is.

Billions met Damian Lewis en Paul Giamatti.

ReMastered: The Lion’s Share

Netflix

Die meeste Suid-Afrikaners wat destyds die storie gevolg het van die joernalis en skrywer Rian Malan se soeke na die oorsprong van die liedjie “Mbube" van die Zoeloe-musikant Solomon Linda, het dit as ’n soort sprokiesverhaal ervaar.

Mbube" het in die weste bekend geraak as “The Lion Sleeps Tonight" en het uiteindelik een van die mees opgeneemde liedjies in die geskiedenis geword. Dit het miljoene dollars vir verskeie kunstenaars en platemaatskappye en ook uiteindelik vir Disney gemaak nadat dit in die fliek The Lion King gebruik is.

Malan het besef Linda se kinders het geen finansiële voordeel daaruit getrek nie. Sy artikel in die tydskrif Rolling Stone in 2000 en ’n dokumentêre film – A Lion’s Trail wat in 2002 in Amerika uitgereik is – het uiteindelik gelei tot ’n hofsaak teen Disney in 2006.  Drie van Linda se dogters het daarna ’n uitbetaling gekry.

Sam Cullman se nuwe dokumentêr, Remastered: The Lion’s Share, is gegrond op ’n onderhoud met Malan en Linda se drie dogters. Dit onthul dat die storie toe nie werklik ’n sprokiesverhaal was nie. Dit was baie meer kompleks, soos met alles in Suid-Afrika.

Die dokumentêr is inderwaarheid ’n soort mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse storie sedert 1994. Daar is ’n welmenende liberale joernalis wat arm swart mense wou help aan wie ’n onreg gedoen is. Uiteindelik het hy hulle soort van gehelp, maar ander mense het hulself ook gehelp, die armes is nog steeds arm en kwaad, die liberale joernalis voel soos ’n doos, en ’n klomp wit mans het geld gemaak uit die storie. Klink dit bekend?

Kyk dit as jy wil lag én huil.

The Lion's Share.

Die Spreeus

Showmax

Vroeër jare het ’n mens min of meer presies geweet wat om te verwag van tuisgemaakte Afrikaanse televisiereekse. Selfs die beter reekse het maar ’n sepie-agtige kwaliteit gehad en die stories en produksie w­as meestal so-so. Te oordeel na ’n paar nuwe Afrikaanse flieks en reekse is daai jare gelukkig agter ons. Die fliek Kanarie is nie net een van die beter Afrikaanse flieks nie, maar ook een van die beste flieks wat ek tot nog toe gesien het.

Die reeks Die Spreeus is iets tussen die Amerikaanse gruwel-genre en outydse Suid-Afrikaanse spookstories. Die eerste storie en episodes is glo juis gegrond op C.J. Langenhoven se kortverhaal Die Bouval op Wilgerdal.

Die heerlik om die akteur Chris Vorster in die rol van ’n ouer, eksentrieke speurder, Bas Koorts, te  sien. Die tragedie van soveel akteurs wat in Afrikaans werk, is dat hulle almal maar iewers vir ’n paar jaar in 7de Laan moet speel net om liggaam en siel aan mekaar te hou.

Chris is ’n groot talent. Toe hy jonger was, het hy jaarliks sommer vier produksies tegelyk as akteur en regisseur op kunstefeeste behartig. Sy medespeurder in die reeks is Beatrice Mack, gespeel deur die wonderlike Monique Rockman. Die spanning en “chemistry” tussen die ouer Afrikaanse man en die jonger swart Afrikaanse vrou is heerlik.

Soms het ek gevoel die bonatuurlike insidente word te letterlik aangebied – asof die reeksmakers jou wil oortuig van die werklikheid daarvan. Die beste paranormale reekse, soos die ontwykende The OA, of flieks soos The Sixth Sense, laat ’n mens altyd wonder of die bonatuurlike insidente regtig gebeur en of dit net ’n figment is van die hoofkarakter se verbeelding of psigose.

Dis egter klein punte van kritiek. Die reeks is boeiend, soms skrikwekkend en gereeld snaaks. Die verskyning van ’n Schalk Bezuidenhout of Albert Pretorius is altyd goed vir die lagspiere.

Vreesaanjaend en bonatuurlik.

A Very English Scandal

Showmax

Hierdie minireeks is geheel en al die moeite werd as jy van Britse televisie hou. Dit is gegrond op John Preston se boek oor die skandaal in die 60's oor die leier van die Liberal Party, Jeremy Thorpe, se verhouding met die model en stalkneg Norman Josiffe/Scott.

Ons almal behoort die televisie- en filmgode te bedank dat Hugh Grant nie sy gesig soos soveel ander akteurs vol botox en plastiek gepomp het nie, want sy waarde as ’n klassiek opgeleide Engelse akteur kom nou eers na vore.

Die reeks beeld die Engelse uit in hulle volle glorie as die hekwagters van die beskawing, maar ook as die grootste en wreedste ondermyners van dieselfde beskawing.

Die beste van Britse TV.
A VERY ENGLISH SCANDAL ... Die beste van Britse TV.
Image: BBC

True Detective

Showmax

Die meeste televisieslawe het die derde seisoen van HBO se True Detective seker al kafgedraf. Die derde seisoen neem meer toewyding om aan vat te kry omdat dit meer kompleks is en stadiger beweeg as die eerste twee seisoene.

Dit speel in drie verskillende tye af, met die meeste karakters teenwoordig in al drie tye. Ek is nog nie by die einde van die reeks nie, want ek het van die middelste episodes weer gekyk om te probeer om presies te verstaan wat aangaan. Wat ek nou al kan sê, is dat Mahershala Ali een van die beste Amerikaanse akteurs van sy generasie is. Boonop is die reeks ’n greep van beelde en houdings en karakteurs uit drie verskillende eras van kleindorpse Amerikaanse wetstoepassing.

Dié seisoen het nou wel nie die plofbare gehalte van ’n Matthew McConaughey en Woody Harrelson saam op die skerm nie, maar dit is die aandag en die rykdom aan detail wat dié seisoen die moeite werd maak.

True Detective

Our Planet

Netflix

’n Tienjarige kind het ’n probleem as dit by televisiekyk kom. As jy tien is, is jy te oud vir al die wonderlike kinderreekse soos Phineas and Ferb en Sponge Bob wat deur die BBC en ander netwerke gemaak word. Jy is egter te jonk vir die fantastiese reekse met ’n ouderdomsbeperking van 13 jaar wat op die streaming dienste uitgesaai word.

Dit is dus bykans onmoontlik om saam met jou pa of ma televisie te kyk. As jou kind van diere en plante hou, soos my tienjarige, is ’n reeks soos Our Planet ’n gawe oplossing.

Our Planet is ’n natuurlewe-reeks van agt episodes om sir David Attenborough se 107de verjaardag en sy 75ste jaar in die uitsaaidiens te gedenk. Nee, ek jok sommer, sir David is nou maar eers 93 en slegs 67 jaar lank ’n uitsaaier.

Die reeks is die resultaat van samewerking tussen die World Wildlife Fund en sir David. Dit het vier jaar en 600 spanlede in 50 lande geneem om te skiet en redigeer. Dit het dieselfde gehalte van fotografie en kommentaar as sir David se talle wonderlike reekse in samewerking met die BBC.

Die storie wat sir David in elke episode vertel, het effens meer van ’n formule as voorheen. Die reeks is duidelik gemaak om kykers bewus te maak van die beroerde toestand waarin die planeet hom bevind.

Omtrent driekwart deur elke episode sal sir David jou herinner hoe min moordwalvisse daar byvoorbeeld nog in die see is, en hoekom dit min of meer jou skuld is. Jy sal ook beeldmateriaal sien van grusame dinge soos bloederige dooie dolfyne wat in visnette vassit.

Ons moet hierdie dinge sien, want daarsonder sal niks verander nie. Dit raak egter 'n bietjie uitputtend om elke aand vir jou kind te moet verduidelik hoekom daar soveel gekke en dwase is.

Natuurlewe-reeks vir die hele gesin.
OUR PLANET Natuurlewe-reeks vir die hele gesin.
Image: NETFLIX

After Life

Netflix

As jy so baie hou van Ricky Gervais soos ek, moet jy beslis nie After Life mis nie. Dis die storie van Tony, ’n dorpskoerantjoernalis met beperkte ambisie, se lyding na sy geliefde vrou se dood aan kanker.

Tony besluit om nie selfmoord te pleeg nie, maar om voortaan te sê en te dink net wat hy lus het, sonder om hom te bekommer oor die gevolge. Hy sien dit as ’n soort superkrag.

Tony begin byvoorbeeld om heroïen te rook saam met ’n hawelose en beledig die advertensiebestuurder by die koerant voor die hele redaksie. Tot sy verbasing ontferm mense hulle oor hom en probeer hom help.

Getrou aan sy aard is die reeks vol absurde, histeriese en skreeusnaakse tonele. Maar dis ook die eerste keer wat mens Ricky Gervais in ’n ernstiger en meer empatiese rol sien.

Ricky Gervais is die ster van dié reeks.
AFTER LIFE ... Ricky Gervais is die ster van dié reeks.
Image: NETFLIX

Leaving Neverland

Showmax

Toe Leaving Neverland vroeër vanjaar uitgereik is, het dit ’n opskudding veroorsaak. Dis die oortuigende vertellings van twee mans –­ Wade Robson en James Safechuck –­ wat onderskeidelik as sewejarige en tienjarige in ’n jare lange verhouding met die popster Michael Jackson was. As ’n mens die stories kan glo wat Robson en Safechuck vertel, en ek kan aan geen rede dink hoekom ’n mens dit nie kan glo nie, het die wêreld dekades lank toegelaat dat ’n volwasse man openlik as pedofiel ’n verhouding met ’n hele reeks seuns gehad het en hulle seksueel gemolesteer het.

Die wêreld het 25 jaar lank gesien hoe Jackson met ’n kind aan die hand geloop het, en die feit dat Jackson saam met kinders in sy bed geslaap het, word deur niemand betwyfel nie, nie eens Robson en Safechuck se ouers nie. Dit is ’n baie moeilike maar nodige dokumentêr om te kyk.

'n Stille revolusie in die televisiemedium.
CHEF'S TABLE ... 'n Stille revolusie in die televisiemedium.
Image: NETFLIX

Chef’s Table

Netflix

Chef’s Table is niks nuuts nie, maar ek voel tog dit is belangrik genoeg om kykers daarvan bewus te maak. Dit is meer as bloot ’n program oor kos of bekende sjefs; dit is ’n stille revolusie in wat moontlik is vir die televisiemedium. Dit het beter idees, fotografie, kinematografie, musiek en redigering as enige ander televisieproduksies tot nou toe.

Kyk dit, selfs al stel jy nie in kosmaak belang nie. Dit fokus in elke program op slegs een sjef, en dit bied die persoon aan op ’n holistiese vlak van menslikheid wat nog min gesien is.

’n Goeie plek om te begin is die reeks oor vier Franse sjefs, of die episode oor Jeong Kwan, ’n Suid-Koreaanse Boeddhistiese non wat New Yorkse topsjefs soos derderangse koshuiskokke laat lyk.


NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.