Voëlvry in die suburbs

BOERGEOIS GEDAGTES

Voëlvry in die suburbs

Terwyl hy met swaar gedagtes oor die nuus van die rocker Piet Botha se pankreaskanker in sy voorstedelike matrasgraf om en om draai, voel die vryheid waarna hy gesmag het na ’n naïewe joke, sê DANIE MARAIS. Hoe kom jy los uit ’n lewe wat geld blykbaar as die enigste geldige betaalmiddel en grootste gesag aanvaar?


NOU die nag lê ek wakker in ’n koorsige mengsel van geldkommer en swaar gedagtes oor Piet Botha wat pankreaskanker het. My kop karring heen en weer en later raak die droef oor Piet verstrengel met die geldpaniek en helder herinneringe aan die ou Grand Central-klub in Kerkstraat, Pretoria, en Johannes Kerkorrel.
Ek het nog net een religious experience op hierdie blou aarde gehad en dis toe Piet Botha se elektriese kitaar die eerste keer vlak voor my en in my afgegaan het in Grand Central se rokerige kelderklub. (En nee, ek dink nie mens kan ’n “religious experience” binne die Christelik-Nasionale konteks lekker in Afrikaans vertaal nie, want godsdienstige ervarings en ervarings van godsdiens het ek baie gehad, op veldskool byvoorbeeld, en dis iets heeltemal anders.)
Maar daardie aand toe ek net-net 16 was en Piet Botha se Jack Hammer “Fort Lauderdale (Ballad of André Stander)” deur my gejaag het saam met hulle dodelike cover van ZZ Top se “La Grange” met daardie über-riff, is my voorstedelike DNS nuut geskommel en is ek finaal bekeer tot rock ’n roll.Ek is daardie nag vervul met ’n gevoel wat my verander het en ek wou hê daardie gevoel moet iets beteken en dat alles as gevolg daarvan moet verander soos ek sweerlik verander is.Bob Dylan het gesê: “Hearing Elvis for the first time was like a jailbreak – and I didn't even know I was in jail.” Piet Botha was my gewaarwording dat die noodlot ’n groot fout begaan het deur my in die voorstede van Pretoria te probeer aanhou.
Donker, donker land
Nie lank nadat ek Piet die eerste keer in Grand Central beleef het nie, was dit Johannes Kerkorrel en sy Gereformeerde Blues Band wat my en twee vriende daar in die donker, ses voet onder die sypaadjie van Kerkstraat, op 'n skoolaand getref het.
Kerkorrel het die algemene wrewel en opstandigheid wat ek gevoel het, polities ingekleur. Dit was 1988 en dit was waaragtig ’n donker, donker land en ek het daardie mense van “Ons ry ’n BMW” so goed geken, want ek het tussen hulle gewoon en tog was ek oortuig ek sou nooit eendag met hulle verwar word nie. My lewe sou een groot, gul regstellende aksie wees.
Maar vannag draai ek in my voorstedelike matrasgraf om en om, deurtrek van volslae middelklasvrese oor mediese fondse en ander geneuke.
Vroeër in die dag het ek gelees hoe Piet in ’n onderhoud na aanleiding van sy kankerdiagnose sê die “rock & roll-idioom” is “eintlik maar soos meeste ander goed bietjie van ’n joke. ’n Joke wat terugslaan op jou. Maar dis great, want jy hoef nooit vir ’n baas te werk nie. Jy leer om met baie min geld klaar te kom. En dis nie moeilik nie, as jy nou nie hoef te worry oor smart goed, materiële goed nie.”  
Ek vryskut al omtrent 14 jaar en het dus baie lanklaas ’n regte outydse baas gehad, maar nou moet ek toegee my ou vriend Francois was reg: As jy vir jou self werk, werk jy eintlik maar vir ’n poephol.
Die beton van geld
Vannag voel die vryheid waarna ek gesmag het inderdaad na ’n naïewe joke. Nou weet ek nie meer hoe om my los te koop uit ’n lewe wat geld blykbaar as die enigste geldige betaalmiddel en grootste gesag aanvaar nie. Al my rock ’n roll-fantasieë het gebyt op die beton van geld, wat my nou so ekonomies verneder en diep bevoorreg tegelyk laat voel.
In hierdie nag wonder ek of Piet Botha se dogters draadjies gehad het en wie daarvoor betaal het, terwyl ek besef dis seker vreeslik bourgeois om jou daaroor te bekommer dat jou kinders se tande nie netjies in ’n ry wil staan nie.
Vannag wil ek bid vir my en Piet en meer geld en meer rock ’n roll, maar ek weet nie hoe nie. So, toe staan ek op en gaan drink water en kyk na die agterplaas in die maanskyn. Wie’t nou ook gedink ’n mens kan so lief raak vir jou eie, van-die-bank-geleende jaart.
As ek sien hoe romanties die fietse en die Weber in die maanskyn lyk, moet ek bely ek wil regtig hierdie jaart met my vrou en ons kinders daarin bekostig. O, die skone nagtelike nagloed van eeue se brutale geweld, dink ek, en onthou Cynthia Huntington se gedig “Oh California”, waarin sy saam met die maan oor die buurt se nagkontoere en tuine streel en ten slotte die maan aanroep: “oh moon, lean down and tell me the meaning of money.”
In “Kom ons braai” sing Valiant Swart: “ek gee maar vir die keiser wat hom skynbaar toekom / al rym dit met fok hom en hoekom” / kom ons braai / terwyl ons nog kan”. En toe bars hierdie gedig wat al lankal binne sweer:
Voëlvry in die suburbs
ons ry nie ’n BMW nie
ons sal jou nie heeltemal fokol gee nie
ons sweet in ’n promosie-relegasie-wedstryd iewers tussen weelde en ellende
ons lê wakker oor die astronomiese koste van moderne tandheelkunde en ortodonsie ons boer op geduldige dryfsand stilletjies
paniekerig skuins agteruit oftewel ons eet al minder rooivleis en aftrede begin na ’n onbekostigbare vakansie lyk
en eintlik weet ons nooit of ons die regte kar ry nie –
in die “goeie buurt” sien jy
die stukkende agterlig
en ’n intree-model, maar
wanneer jy die huishulp ’n lift na die taxi rank gee
is jy bietjie verlig oor die agterlig
voel jy grand op ’n melaatse manier
hier ontsnap niemand die skande van te veel
of die skande van te min
die vuil erfskande van geld nie
is almal verdag of deel van die buurtwag
bly almal nog op die ewige Oosgrens
voëlvry
soos Coenraad Buys vat jy wat jy kan
solank jy kan
ons kon net sowel ’n BMW
of ’n ossewa gery het
***
En toe slaap ek natuurlik eers sleg.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X