Kom ons praat reguit oor rassisme

HOOR DIE KREET

Kom ons praat reguit oor rassisme

'n Student vra in 'n brief vir 'n gesprek oor rassisme. Eerlik, reguit, sonder om mekaar die mond te snoer. Wat sê dit van haar, van hierdie land, vra ANASTASIA DE VRIES, wanneer ’n jong kind met soveel pynlike sekerheid kan weet dat sy brief met ‘kokende woede, sarkasme, ongeloof en ontkenning’ begroet sal word?

TERWYL jy hierdie brief lees, haal diep asem. Skep ruimte vir my stem in die diepste van jou wese. Luister. Luister met liefde, ’n liefde wat vereis dat jy kyk na die dele van jouself wat moontlik pyn en verskrikking kan veroorsaak. Wees stil.

Dit is die trant van ’n brief wat Timothy Nel, ’n nagraadse student in die regte aan die Universiteit van Wes-Kaapland, die afgelope Maandag op die webwerf van ’n ander nuusverskaffer aan “Liewe wit Suid-Afrikaner” gerig het. Sy brief kom as ’n uitnodiging, skryf hy, ’n uitnodiging tot gesprek ná dit waarna hy keurig verwys as die “urinevoorval”. Ons moet praat, sê hy, oor rassisme, reguit en eerlik, oor die noodsaak om die eie te verdedig, om verskonings te soek en te vind vir die eie se ontmenslikende gedrag teenoor ’n ander mens, oor wit gevoeligheid en ongemak wanneer rassisme en vooroordeel en bevoordeling uitgedaag word, oor sogenaamde kleurblindheid wat vir hom nog te dikwels lyk na ’n blindstaar teen die rassisme om hom, oor die pyn en die seer van die aanhoorders aan die ander kant van dit alles. Daaroor moet ons praat, skryf hy. Eerlik, reguit, sonder om mekaar die mond te snoer.

Ek ween. Ek weeklaag. Ek is skuldig. Sy brief word ’n bitter aanklag teen my, teen die Suid-Afrika waaraan ek hom, en ’n kind soos hy wat dit goed gedink het om in die jaar 2022 op ’n ander mens se kind se besittings te urineer, help uitlewer het. Wetend of onwetend. Ek is skuldig. Dit is daar, die aanklag, agter die woorde waarmee hy, soos die Nederlanders sê, homself probeer “verman”. Wat sê dit van my, van hierdie land, wanneer ’n jong kind met soveel pynlike sekerheid kan weet dat sy brief met “kokende woede, sarkasme, ongeloof en ontkenning” begroet sal word, dat iemand gaan sê hy het ’n chip op sy skouer, dat hy meen alle wit mense is rassiste, want het van hulle dan nie swart familie of vriende nie en wat weet ’n born-free soos hy, wat soos alle born-frees ongeag ras of kleur in onskuld ontvang en gebore is, in elk geval van apartheid en rassisme? Voorspelbare patrone, skryf hy...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.