MY VROU is bekommerd oor Saterdag.
“Dit sal seker nie soos verlede jaar wees nie, of hoe?” het sy vroeër die week gesê.
“Natuurlik nie,” het ek gerusstellend geantwoord.
Sy het nie oortuig gelyk nie, soos die vrou van ’n weerwolf wat nie oortuig is nie wanneer hy haar probeer wysmaak dat hierdie volmaan anders sal wees, en dat dit onnodig sal wees om hom in die kerker toe te sluit totdat dit verby is.
“Miskien moet ons maar die wedstryd los,” het sy gesê.
“My liefling,” het ek gesê, “jy weet dit is nie ’n opsie nie.”
“My vriende kom kuier.”
“Moenie bekommerd wees nie.”
“Dis net ... Fran en Mark is Engels, so ...”
En toe sy dit sê, het ek ’n krieweling by my nekvel voel afgaan, soos ek veronderstel ’n weerwolf sy maanhare voel rys en sy snoet voel langer word en sy slagtande voel groei soos die volmaan agter ’n wolk uitkom.
“Dit sal oukei wees,” het ek gesê, terwyl ek na die horison staar en my stem normaal probeer hou. “Dit sal oukei wees.”
Arm Afrikaans, arm Engels
Toe ek nog ’n seuntjie was, het ek my pa gevra: “Is ons Engels?”
Hy het na my gekyk met ’n uitdrukking wat ek nog nooit tevore gesien het nie. “Nee,” het hy gesê.
Ek was teleurgesteld. Ek was besig om Enid Blyton-boeke te lees en Engeland het gelyk soos ’n betowerende, opwindende plek waar al die kinders dapper en aantreklik en slim was. En avonture beleef het en piekniekmandjies gehad het en geweet het hoe om in klein bootjies na geheimsinnige eilande te seil. Niks hiervan was waar van die Bluff in Durban waar ek elkeen van die ses jaar van my lewe tot op daardie stadium deurgebring het nie, en niks daarvan het waar gelyk oor ons nie.
Wie was ons, ons Engelssprekende Suid-Afrikaners? Watter letterkunde het ons gehad, watter tradisies, watter geskiedenis, watter sin vir humor, watter gemeenskap, waar het ons behoort? Al wat ons was, was dit wat ons nie was nie – ons was nie swart nie, ons was nie bruin of Indiër of Afrikaans nie, ons het niks gedoen om op trots te wees nie, ons was nie eers besonder interessant nie.
“Ek wens ons was Engels,” het ek gesê.
Hy het opgevlieg, woedend, soos ek my voorstel die Times se rugbyskrywer Stephen Jones is wanneer die Springbokke wen. “Moet dit nooit weer sê nie,” het hy in ’n gefolterde stem gesê.
My pa is in Pretoria gebore, maar sy ouers het in die 1920’s van Engeland af hier aangekom, platsak, net betyds vir die Groot Depressie. Die 1930’s was ’n moeilike tyd vir almal in Suid-Afrika. My pa se weergawe was om ’n arm Engelse kind in ’n buurt vol arm Afrikaanse kinders te wees. As hy die huis wou verlaat, moes hy sy pad na buite en weer terug met sy vuiste oopbaklei. Hy het nie die Afrikaanse kinders blameer nie – dit was maar hoe dinge daardie tyd was, en hulle het net hulle job gedoen. Hy het die ander Engelse kinders blameer, wat hom nooit gehelp het nie.
My ouma aan die ander kant, my ma se ma, het van ’n ryk familie in die Kaapse Constantia gekom. Sy is in Suid-Afrika gebore en het haar hele lewe hier gewoon, maar sy het met ’n vreemde namaaksel van ’n Engelse aksent gepraat en na Engeland verwys as home. My pa het nie haar goedkeuring weggedra nie, en toe my ma met hom trou, het sy hulle onterf en geweier om ons selfs in haar huis te ontvang.
“Daar’s niks wat ons daaraan kan doen nie,” het my pa vir my gesê, “daar is Engelsheid in ons bloed, soos ’n fyn kraak deur ’n fyn porseleinbak. Ons kan nie daarvan ontslae raak nie, maar ons hoef nie daaraan toe te gee nie. Paraatheid, my seun. Dit verg lewenslange paraatheid.”
My pa is in 1981 oorlede, net ná die Springboktoer na Nieu-Seeland, ek kon nie die 1984 Engeland-toer na Suid-Afrika saam met hom kyk nie. Dit het ek het alleen gedoen, op ons Sony Trinitron TV-stel met vals houtpanele aan die kante, terwyl ek in my pa se La-Z-Boy kunsleer-leunstoel sit. My bene was nie heeltemal lank genoeg om by die voetstut te kom nie.
Danie van Despatch
Daar was twee toetse en Danie Gerber het vier drieë gedruk. Ek onthou hoofsaaklik twee dinge: Hoe Engeland se wit truie hul bloed feller gewys het, en Danie se swenk verby Dusty Hare aan die regterkant om sy eerste drie op Boet Erasmus te druk. Dit was pragtig; dit was gewelddadig, selfs al was daar geen kontak nie.
Danie het nooit ritme verloor nie, nooit stadiger of vinniger geword nie – hy was nie ’n bliksemstraal soos Cheslin wat in 2019 verby Owen Farrell seil nie, hy was ’n Zambezi-haai, hy was ’n Karoorivier in vloed ná die reëns. Dusty Hare het soos ’n ou man gelyk, soos ’n voëlverskrikker, soos ’n boomstomp. Hy skrik seker nou nog wakker uit donker nagmerries waarin hy op ’n middernagtelike vlakte staan met iets blitsig en angswekkend wat by hom verby suis. Dusty Hare was die eerste en laaste Engelsman vir wie ek ooit jammer gevoel het.
“Dit is nie genoeg om Engeland te klop nie,” het my pa eenkeer gesê. “Jy moet altyd spyt voel dat jy hulle nie verder geklop het nie.”
Ons het nog nooit ’n wedstryd teen Engeland verloor as ek kyk nie. Ek het nie in 1998 gekyk toe Engeland ons op Twickenham geklop het om Nick Mallett se rekord van 17 agtereenvolgende oorwinnings te breek nie. Ek het nie in 2002 gekyk toe hulle ons met 53-3 vermorsel het en Jannes Labuschagne afgestuur is sonder dat hy eens daarin geslaag het om Jonny Wilkinson te beseer. Ek was jonk en ek het nog nie die las van my verantwoordelikhede aanvaar nie: Paraatheid. Lewenslange paraatheid.
Op die dag van die halfeindstryd teen Engeland verlede jaar, is ek en my vrou na ’n troue in ’n ryk deel van Londen genooi.
“Ek kan nie gaan nie,” het ek gesê. “Ek moet die wedstryd kyk.”
“Kan jy dit nie opneem en later kyk nie?” het sy gesê, wat teleurstellend was, want jy dink iemand ken en verstaan jou en aanvaar jou vir wie jy is, en dan staan en sê hulle so iets.
Uiteindelik het ons uitgewerk dat die troue die middag was, en die onthaal was by ’n deftige plek in Farringdon. Ek sou kon wegglip om die wedstryd te kyk.
Ek het reeds die oggend die omgewing gaan verken en ’n kroeg naby die lokaal opgespoor. Maar selfs die belangrikste lede van ’n wenspan kan ’n konsentrasieglipsie hê; selfs Pieter-Steph sal soms ’n duikslag mis. Ek het op een of ander manier die Suid-Afrikaanse afskoptyd met die Engelse tyd in Londen verwar.
Daar was ’n oop kroeg by die troue en ’n oop kroeg is nog ’n verantwoordelikheid wat ek baie ernstig opneem. So ek was halfpad deur ’n dapper en verstommende solo-dansvertoning op Gnarls Barkley se Crazy – ek wil nie spog nie, maar die ander gaste het ’n ruimte rondom my oopgemaak om beter in bewondering te kon staar – toe ek skielik my fout besef het.
Ek het halfpad deur die liedjie van die dansvloer af gevlug, deur die nat en mislike strate gehardloop en by die Fox & Anchor ingebars, so wild en woedend soos die donker noordewind. Dit was reeds die 58ste minuut van die wedstryd!
’n Paar posh poepholle sit in ...
Daar was ’n ry posh Engelse poepholle wat smalend na die TV kyk. Die telling was 15-6 vir Engeland. Toe ek aankom, het Kurt-Lee Arendse ’n bal vyf meter van ons doellyn aangeslaan, en Owen Farrell het gebrul en sy vuis gepomp.
“Groot games soos hierdie is gemaak vir Owen Farrell,” het die Engelse kommentator op die TV gegrinnik.
Ek het hard in Afrikaans gevloek, en die naaste Engelsman het sy poephol-tjommies gestamp en hardop gesê: “Slegte aand om Suid-Afrikaans te wees.”
Het jy al ooit gehoor hoe dit klink as ’n ry posh Engelse poepholle hulle verkneukel? Dit is ’n geluid wat enige normale man net daar en dan ’n wolf se slagtande en kwispelende stert laat groei.
Ek het na die poepholle gedraai en, terwyl ek baie hard en met waardigheid probeer het om nugter te klink, gesê: “Menere, julle lyk baie selfversekerd, maar ek is ook seker van myself. Ek is seker dat julle sal verloor, want julle is Engels, en nóg God nóg die onsigbare lukrake botsings en gebreekte uurwerke van die heelal is lief vir die Engelse.”
Dit was min of meer die strekking daarvan.
Ons het terug na die skerm gedraai. Die Engelse het in ’n aanvallende skrum gesak. “As Engeland hier druk,” het die kommentator gereken, “bespreek hulle hul kaartjies vir die finaal.”
Toe Ox vir Kyle Sinckler in die helfte buig – sywaarts, soos ’n strooitjie in ’n vanielje-melkskommel – en die Springbokke die strafskop kry, het ek begin skree. Ek is nie trots op die goed wat ek geskree het nie of op die feit dat ek nie ophou skree het tot en met die eindfluitjie nie. Maar ek is ’n bietjie trots daarop dat toe Handré Pollard die finale strafskop skop, ek op die kroegtoonbank geklim het om my solo-dansvertoning van Gnarls Barkley se Crazy te voltooi.
“Ek wil hê julle moet weet,” het ek aan die Engelse poepholle verduidelik, “dat ek nie net bly is dat ons gewen het nie – ek is bly dat ons julle gewen het.”
Dit was net my geluk dat hierdie posh rugby-kykende Engelse poepholle was, en dus minder geneig tot terloopse geweld as hul sweetpakdraende sokkerkykende broeders, maar dit was steeds ’n goeie verloop van omstandighede dat my vrou my op daardie punt opgespoor en uit die Fox & Anchor gered het.
“Hou op om vir hulle om verskoning te vra!” het ek geskree terwyl sy my by die deur uitworstel. “Hulle verdien dit alles en meer!”
Sy vertel my dat ’n Skotse kêrel my goedkeurend op die skouer geklop het toe ons loop en gesê het: “Sjoe, man, en ek het gedink ons hou nie van die Engelse nie,” maar ek het geen herinnering daarvan nie.
Dis nie laster as dit waar is nie
Die tyd het aangekap. Dinge het na normaal teruggekeer. Tot laas Maandag. Toe, uit die bloute, terwyl ons ontbyt eet, hoor ek myself sê: “Kan jy jou ’n speler van enige ander span voorstel wat in die middel van ’n wedstryd na die skeidsregter toe gaan en teem dat iemand op hom gevloek het? Kan jy jou Jasper Wiese dit sien doen? Of Ardie Savea? Of Peter O'Mahony?”
“Uhm, nee ...?”
“As ’n Springbok dit sou doen, sou ek spontaan van skaamte aan die brand geslaan het.”
“Wag 'n bietjie ...” het sy stadig besef. “Speel die Bokke Saterdag teen Engeland?”
“Het Bongi Mbonambi vir Tom Curry genoem wat Tom Curry beweer Bongi Mbonambi hom genoem het? Natuurlik het hy. Maar dis nie laster as dit waar is nie!”
“O nee,” het sy gesê. “Nie weer nie.”
Ek het verduidelik hoe die Engelse vra dat die 7-1-verdeling van reserwes verban moet word. Hoe hulle net nie kan ophou om daarop aan te dring dat Springbok-sukses slegs aan dom spiere en barbaarse krag te danke is nie, selfs al is ons voorry dieselfde grootte as hulle s’n, selfs al is ons agterste drie se gesamentlike gewig dieselfde as een van hul senters, selfs al druk ons drieë wat deur digters besing word en deur engele in vlug opgedroom is. Steeds weier hulle om die werklikheid te erken.
“Asseblief moenie dit voor Fran en Mark doen nie.”
“Weet jy waar dit vandaan kom? 1899! Die Boere-oorlog!”
“Ek dink deesdae word dit die Suid-Afrikaanse Oorlog genoem.”
“Hul poniekoerantjies het karikature gehad van die brutale lae kolonialiste, onbeskaaf, onverfynd, gekenmerk deur dierlike krag en uithouvermoë met niks wat na vernuf of skranderheid of strategie lyk nie. Dis steeds hoe hulle dink. Mens kan nie met hierdie mense praat nie. Jy kan nie met hulle redeneer nie. Al wat ons kan doen is om hulle oor en oor te klop totdat dit insink. As hulle nie wil luister nie, dan moet hulle voel.”
Sy het gesug, soos die vrou van ’n weerwolf sug en weet daar's niks aan te doen behalwe om te wag tot die koors verby is nie.
“Jy onthou tog,” het sy moeg gesê, “dat ek ’n Engelse burger is.”
“Ek weet,” het ek gesê. “En ek is baie lief vir jou. En solank die Bokke aanhou wen, sal dit nooit ’n probleem wees nie.”
- Hierdie artikel is die eerste keer op 15 November 2024 in VWB gepubliseer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.